Coram Deo Cover Image

Coming soon...

18 July 2014

Moeilike mense en God se genade

Angry people

Charles Spurgeon het gesê dat moeilike mense God se staalwol is om ons blink te hou.  In Genesis 29-30 sien ons hoe God moeilike mense en omstandighede gebruik het om Jakob te verander.

 

Jakob se troue (29:1-30)

Na ‘n lang reis het Jakob Haran bereik.  ‘n Paar herders met hulle skape het by ‘n put gesit.  Daar was ‘n baie swaar klip oor die put om te keer dat die water sou verdamp, sand inwaai, of skelms die water sou steel.  Dit sou moeite wees as elke skaapwagter die klip moes wegrol en weer terug skuif.  Buitendien kon nie elke herder die klip alleen skuif nie.  Daarom het hulle gewag totdat al die herders byeen was, voordat hulle water geskep het om hulle vee te laat drink (29:1-3).  God het belowe om vir Jakob te lei (28:15), en in 29:4-12 bring Hy hom reguit tot by Ragel en Laban.  Jakob was ‘n sterk man en het sonder enige hulp die klip geskuif.  Hy het dit seker ook gedoen om vir Ragel te beïndruk!  Na al die probleme by sy huis was hy verlig om familie te sien, en het gehuil.  Hy het vir Ragel gesoen (soos die Arabiere mekaar vandag op beide wange soen) en homself as haar neef voorgestel.

 

Ragel het vir haar pa gaan sê.  Toe Laban die nuus hoor, het hy vir Jakob verwelkom en hom ingenooi (29:12-13, cf. 24:29-31).  Toe Laban die storie van Esau hoor, het hy gesê:  ‘Waarlik, jy is my been en my vlees.’ (29:13-14, cf. 2:23).  Sy bedoeling was meer as net:  ‘Ons is familie.’  Hy het bedoel dat hy, net soos Jakob, lieg en bedrieg.

 

Toe Jakob ‘n maand daar was het Laban vir hom ‘n salaris aangebied.  Jakob het een ‘salaris’ in gedagte gehad:  Laban se aantreklike dogter Ragel.  Lea was die oudste, maar haar oë was dof.  Die Hebreeuse woord kan ‘sag’ of ‘swak’ beteken.  Die implikasie is dus dat sy baie mooi en sagte oë gehad het, maar dis al wat sy gehad het.  Of dit kan beteken dat sy swak oë gehad het; dat sy in ons tyd ‘n baie dik bril sou moes dra.  Ragel was mooi gebou en het ‘n mooi voorkoms gehad.  Hy wou háár hê.  Vir hom was dit glad nie moeite om sewe jaar te werk om haar te kry nie (29:15-20).

 

Toe die sewe jaar verby is, het Laban ‘n groot huweliksfees gehou.  Volgens gebruik het die vrou ‘n sluier aangehad en ‘n slavin (Silpa) as trou-geskenk gekry (24:59, 65).  In die donker nag het Jakob sy nuwe vrou in sy tent ingevat en met haar geslaap (29:21-24).  Toe hy in die oggend wakker word was dit nie Ragel nie, maar Lea!  In hfst.27 het hy sy pa bedrieg om te dink hy is die eersgeborene.  Nou het Laban hom met sý eersgeborene bedrieg.  Jakob moes sy eie bitter medisyne drink.  Laban het ooreengekom om vir hom Ragel ook te gee.  ‘n Week later het hy met haar getrou (sy het Bilha as slavin gekry), maar hy moes sewe jaar terugwerk.  Hy was liewer vir Ragel as vir Lea (29:25-30).  Laban het hom ingedoen, maar ook hiérin was God vír Jakob.  God sou vinnig die belofte van 28:14 vervul, en vir hom baie kinders gee.  Hy het binne sewe jaar 12 kinders gehad (hfst.30)!

 

Het die Here moelike mense oor jou pad gebring:  ‘n moeilike huweliksmaat, kinders, ouers, broers, susters, skoonfamilie, kollegas, bure?  As jy ‘n Christen is, doen die Here dit omdat Hy vír jou is.  Hy sal hierdie mense gebruik om jou soos Jesus te maak:

 

  • Josef se broers het hom as slaaf verkoop. Hulle wou téén hom wees, maar op die einde het God dit vir hulle en sy voordeel gebruik. Hy het Josef Egipte toe gestuur om baie mense uit die hongersnood te red (50:20).
  • Paulus het in die tronk beland omdat hy die evangelie gepreek het. Dáár het hy kans gekry om vir die wagte van Jesus te vertel. Skielik het ander gelowiges moed gekry om die evangelie te deel. Selfs sy vyande het begin om Jesus te verkondig, omdat hulle Paulus dieper in die moeilikheid wou bring (Filippense 1:12-18).
  • In 2 Korintiërs 12:7-9 sê Paulus: “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie. Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.” ‘n Engel van Satan het gekeer dat Paulus hoogmoedig word. Die woord ‘engel’ beteken ‘boodskapper’ en verwys in 11:13-15 na die vals leraars. Die doring in Paulus se vlees was dus die vals leraars wat die lewe vir hom moeilik gemaak het. Hy het gevra dat die Here hierdie mense uit die kerk sou verwyder, maar die Here het hulle daar gelos om vir Paulus te laat groei.
  • Judas, Pilatus, die Jode, die Romeine, Herodes, en die soldate was teen Jesus en het Hom gekruisig. God het hulle boosheid vír ons gebruik om ons te red.
  • Martin Luther het gesê dat hy nooit so ‘n groot teoloog sou word as die duiwel en die Pous nie teen hom was nie.
  • In Rusland het die kommuniste ‘n pamflet laat druk met Bybelverse in. Hulle wou wys hoe dom en vol foute die Bybel is. Baie mense het daardeur tot bekering gekom.
  • In die vroeë kerk was daar baie vals leraars. In reaksie teen hulle het die apostles die Nuwe Testament geskryf.
  • In die vroeë kerk het vals leraars die wese van God, die Persoon van Christus, en die boeke van die Bybel bevraagteken. Die kerk moes ‘n geloofsbelydenis hieroor neerpen, en kon die Drie-Eenheid, Godheid van Christus, en 66 boeke van die Bybel deurdink en uitspel.
  • Ongelowige teologie-dosente het vir David Brainerd uit Yale Universiteit geskors. Brainerd het ‘n sendeling geword. Hy het joernaal-inskrywings gemaak. Na sy dood is sendelinge soos Henry Martyn, William Carey, en Jim Eliot daardeur geïnspireer.
  • In Frankryk is die Protestante (Hugenote) vervolg. Van hulle het Suid-Afrika toe gevlug en die evangelie saamgebring.

 

Hierdie voorbeelde onderstreep die waarheid van Romeine 8:28, 31:  “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is... Wat sal ons dan van hierdie dinge sê?  As God vír ons is, wie kan teen ons wees?”

 

Jakob se kinders (29:31-30:23)

God het gesien dat Lea ongeliefd was en het haar bejammer.  Hy het Ragel se moederskoot gesluit en vir Lea kinders gegee.  Die Messias is uit háár nageslag gebore.  Ruben was die eersgeborene.  Sy naam beteken seun, want in ou Israel was dit ‘n groot voorreg om seuns te hê.  Simeon beteken hoor, want die Here het gehoor dat Jakob haar nie liefhet nie.  Levi beteken geheg, want sy het gehoop dat sy en haar man nou aan mekaar geheg sou wees.  Juda beteken lof, want sy het die Here geprys dat sy vier seuns gekry het (29:31-35).  Sy het opgehou baar.

 

Ragel was jaloers en het vir Jakob gesê:  ‘Gee vir my kinders of anders sterf ek.’ (30:1).  Haar woorde is tragies vervul toe sy Benjamin gebaar het en daarna dood is (35:16-19).  Jakob het geweet dat net God kinders kan gee en het sy vrou bestraf (30:2).  Sy het haar slavin vir Jakob gegee, sodat sy deur Bilha kinders kon hê (hfst.16!).  Bilha het twee seuns gebaar (30:3-8).  Dan beteken oordeel, omdat die Here tussen Ragel en Lea geoordeel het.  Naftali beteken stoei, omdat sy met Lea gestoei en oorwin het.  Lea was jaloers en het Silpa vir Jakob gegee, sodat dié namens haar kinders kon baar.  Bilha het twee seuns gehad.  Gad beteken voorspoed, omdat baie kinders ‘n bewys van voorspoed was.  Aser beteken gelukkig, omdat nóg ‘n seun haar bly gemaak het (30:9-13).

 

Ruben het tydens die koringseisoen liefdesappels gekry en dit vir sy ma gebring (30:14).  Die plant het donker groen blare, pers blomme, en oranje vrugte gehad wat soos tamaties lyk.  Antieke mense het geglo dat die skerp en soet aroma van die ‘appels’ vrugbaarheid bring en jou seksdryf laat toeneem (Hooglied 7:13).  Toe Ragel dit sien wou sy daarvan hê.  Lea was bitter:  “Is dit nie genoeg dat jy my man geneem het nie, dat jy ook my seun se liefdesappels wil neem?” (30:15).  Poligamie (om meer as een vrou te hê) veroorsaak altyd probleme.  God se oorspronklike plan was dat elke man een vrou moet hê (2:24).  Ragel het gewoonlik by Jakob geslaap, maar het gesê dat Lea, in ruil vir die liefdesappels, met hom kon slaap (30:14-16, 25:31).  Arme Jakob is amper soos ‘n prostituut uitverhuur.  Dit het gou duidelik geword dat God, en nie liefdesappels nie, ‘n mens vrugbaar maak.  Selfs met die hulp van ‘n plant het Ragel nie swanger geword nie.  Met die hulp van die Here (sonder ‘tower appels’) het Lea nog twee seuns gehad.  Issaskar beteken huur, omdat sy vir Jakob met liefdesappels gehuur het.  Sebulon beteken eer, omdat sy gehoop het dat haar man haar nóú sou eer (nadat sy ses seuns vir hom gebaar het).  Sy het ook ‘n dogter gebaar:  Dina (30:17-21).

 

Ragel het besef dat haar man reg was:  die Here gee kinders.  Sy het gebid en swanger geword met Josef.  Sy naam beteken wegvat, omdat die Here haar vernedering weggevat het (in Bybelse tye was dit ‘n skande om nie kinders te hê nie).  Josef se naam kan ook byvoeg beteken, want sy het gevra dat die Here nóg ‘n seun vir haar moes byvoeg.  God het haar verhoor en in 35:19 vir Benjamin in die lewe gebring (30:22-24).

 

Was jy al soos Lea:  jy het hard gewerk om ‘n goeie verhouding met jou maat, ouer, kind, broer, suster, skoonfamilie, kollega te hê, maar is verwerp?  Dank God dat jy in hierdie opsig soos Jesus is, want Hy is ook deur sy familie en skepsels verwerp (Jesaja 53:3, Johannes 1:11, 7:5).  God sal jou aanvaar in Jesus, selfs al verwerp mense jou (Johannes 6:37, Hebreërs 13:5).

 

Jakob se voorspoed (30:25-43)

Toe Josef gebore is het Jakob die tweede siklus van sewe jaar voltooi, en wou hy huistoe gaan (30:25-26).  Pa en skoonseun het besef dat God Laban vir Jakob se onthalwe geseën en verryk het.  Skelm Laban wou nóg ryker word en het vir Jakob gevra om nog ‘n rukkie te bly (30:27-30).  As betaling wou Jakob al die bont vee hê.  Hy was bereid om eerlik hiervoor te werk (dis ironies, omdat Jakob voorheen ‘n bedrieër was).  Laban was al te bly, omdat hy geweet het daar was nie baie bont vee nie.  Die paar wat daar was het hy, sonder Jakob se wete, onders sy seuns se sorg geplaas en hulle weggestuur (30:31-36).

 

Jakob het stokke gevat en wit stroke daarin geskil.  Hy het dit voor die drinkbakke neergesit, sodat die vee dit kon sien as hulle paar (hulle het by die drinkbakke gepaar).  Jakob het geglo dat die vee die strepe sou sien, en bont kleintjies sou hê (30:37-39).  Omdat God se hand in die saak was, het die vee bont kleintjies gehad (31:10-12).  Jakob het die bont vee eenkant laat wei, sodat hulle nie weer sou uitbaster nie.  Wanneer die gesonde diere gepaar het, het hy die stokke neergesit.  Hy het dit weer weggeneem as die swakker diere gepaar het.  Sy plan was nie skelm nie, maar slim.  Oor ‘n tydperk van ses jaar het Jakob skatryk geword (30:40-43, 31:41).

 

Het iemand jou met geld gekul?  Dalk is jy beroof?  Iemand het leë beloftes gemaak en met jou geld verdwyn?  Iemand het aspris ‘n stukkende produk of kar aan jou verkoop?  Jou baas skuld jou geld?  ‘n Skelm maatskappy of mediesefonds sê jy skuld hulle geld en het jou aan die prokureurs oorhandig?  Iemand het bedrog met jou bankkaart gepleeg?  ‘n Werker het geld uit die besigheid gesteel?  Jou huishulp steel by jou?  God is vír jou en sal vir jou veg.  Dalk sal jy nie in hierdie wêreld vir die skade vergoed word nie.  Maar God sal jou in die hemel vergoed.  Een uur in die hemel sal opmaak vir al die verlies wat jy op aarde gely het.

Kategorieë