Lukas 12:22-34

Ek is ’n jaar jonger as my broer. Toe hy in graad 1 was, het ek eendag saam met my ma gery om hom by die skool op te laai. Ek het in die kar gehuil en vir my ma gesê: ‘Hoe gaan ek leer om te lees?’ My ma het my verseker dat die onderwyser my mooi sal leer.

Is ons nie partykeer so wanneer dit by geld kom nie? Maar ons is angstig vir niks. Dit is die les wat Jesus ons in hierdie gedeelte wil leer.

 

1. Angs maak dat jy die punt mis (v.22-23)

John MacArthur vertel van ’n proefpreek wat hy tydens sy studiejare moes lewer. Die studente en dosente het daar gesit, maar hy het slegs een dosent se goedkeuring gesoek. Na die preek, toe sê die professor: ‘MacArthur, you missed the entire point of the passage.’

So ook mis die angstige mens die punt van die lewe. Jesus het vir sy dissipels gesê om nie te lewe asof alles oor geld gaan nie (v.22, 15). Rykdom beteken niks wanneer jy doodgaan nie (v.20-21). “Daarom sê Ek vir julle, moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle sal eet, of oor julle liggaam, wat julle sal aantrek nie.” (v.22). Dit is jammer dat hierdie woorde nie by ons insink nie. Jy raak angstig as jy voor die yskas staan en daar net water en blaarslaai oor is. Jy dink die Here sal nie voorsien nie. Jy is soos die hawelose man wat ’n boks koffie, suiker, Milo en beskuit vir Kersfees gekry het. Hy het die hele nag gesit en eet asof hy nooit weer iets gaan kry nie. Vir ’n gelowige om angstig te wees, is onnodig. Die Here voorsien altyd vir sy kinders. Ek weet dit, omdat ons nog hier is.

Is jy angstig dat jou groeiende kinders nie skoolklere of klere vir die winter sal hê nie? Is dit nie so dat die Here nog elke keer vir jou voorsien het nie? God is goed en Hy verander nie (Jak. 1:17). Sal die Here vir jou lewe gee, maar nie die kos wat jy nodig het om aan die lewe te bly nie? Sal Hy jou liggaam skep, maar nie die klere voorsien wat jy benodig om jou liggaam warm te hou nie (v.23)? Die lewe gaan oor meer as kos en klere (v.23). ’n Kas vol kos en klere sonder die ewige lewe help niks. Daarom dat Jesus sê:

“‘Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat hou tot in die ewige lewe. Dit sal die Seun van die Mens vir julle gee, want op Hom het God die Vader sy seël geplaas.’ Hulle het Hom gevra: ‘Wat moet ons doen sodat ons die werke kan verrig wat God wil hê?’ En Jesus het hulle geantwoord: ‘Dít is die werk van God: Dat julle glo in die Een wat Hy gestuur het… Ek is die brood van die lewe. Wie na My toe kom, sal nooit honger word nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors word nie.’” (Joh. 6:27-29, 35, vgl. Jes. 55:1-2).

 

2. Angs maak dat jy vergeet wie jy is (v.24)

Buite Cradock is daar baie kraaineste op die telefoonpale. Hoekom is daar kraaineste? Want daar is kraaie. Hoekom is daar kraaie? Want daar is kos. Waar kry die kraaie kos? By die Here. Hy voer die kraaie en hulle kleintjies (v.24, Gen. 8:7, Job 39:3 [ESV: 38:41], Ps. 104:27-29, 145:15-16, 147:9). Anders as die ryk dwaas in v.18 gaar die kraaie nie op nie (v.24). Hulle stres nie oor die toekoms nie. As jy stres, vergeet jy dat jy meer werd is as voëls (v.24, 6-7). Jy vergeet dat jy na God se beeld gemaak is en hulle nie (Gen. 1:26-27). Jy vergeet dat Jesus vir mense gesterf het en nie vir kraaie nie (Gal. 2:20). Sal God vir die voëls sorg en nie ook vir sy kinders nie?

 

3. Angs maak niks beter nie (v.25-26)

Soms gebruik mense mate om lewensduur mee te beskryf. Ons sê nie dat iemand 80 km oud is nie, maar as iemand 80 word, sê ons dat hy ’n mylpaal bereik het. In Engels praat ons van iemand se ‘lifespan’. Dit is presies wat Jesus in v.25 doen: “Wie van julle kan, deur hom te bekommer, een el [45 cm] by sy lewe voeg?”

Om jou oor kos, klere en geld te bekommer, maak niks beter nie. Dit sit nie kos op die tafel of klere aan jou lyf nie. Al wat stres doen, is om jou van God en gebed af weg te hou (Fil. 4:6). Angs verkort jou lewe. Dit laat jou bloeddruk styg en lei tot hartaanvalle en beroertes. As angs nie eers ’n paar minute by jou lewe kan voeg nie, wat help dit om oor kleiner dinge soos kos en klere te stres: “As julle nie eers so ’n klein dingetjie kan regkry nie, waarom bekommer julle julle oor die res?” (v.26).

 

4. Angs is sonde (v.27-28)

Volgens Psigiaters word angs deur ’n chemiese wanbalans in die brein veroorsaak. Dit is iets wat jy nie kan help nie; iets wat jou oorval. Volgens Jesus is angs ongehoorsaamheid en kleingeloof; dit is iets wat jy dóén. Xanax, Valium en ander medikasie kan die simptome van angs onderdruk, maar dit los nie die probleem op nie. Die oplossing vir angs lê by God. Maurice Roberts sê:

‘It is our folly that we allow ourselves to look at life’s problems as if they were somehow isolated from God… The mere thought of God should end all anxiety… If God be God, then no insoluble problems exist… There is in God just exactly what is needed to solve every riddle of life… Panic is the sinful failure to apply our knowledge of God to particular problems. Peter looks at the waves and begins to sink… Panic is possible only when God is obscured from our thoughts by visible circumstances… There is no situation in life too hard for God… The impatient urge to resign and run away when times are trying is unworthy of the sons of God… life’s secret very largely consists in holding [God] in our thoughts as much as possible and especially in times of fear and need.’1

Bely jou angs as sonde en ontvang die Here se vergifnis (1Joh. 1:9). Kyk na die detail van ’n blom se kleure, patrone en ontwerp. Nie eers skatryk koning Salomo was soos die blomme geklee nie. Sal die Here ’n blom so klee en nie vir sy kinders klere gee nie (v.27-28)? Rig jou gedagtes op die Here as jy angstig raak; dink aan sy grootheid, goedheid en liefde (Fil. 4:8, Kol. 3:1-2). Hy sal jou angstige gedagtes rustig maak (Jes. 26:3, Fil. 4:7, 9).

Verder is dit belangriker dat jy hard en eerlik werk (Ef. 4:28). Werk is ’n manier van stresontlading. Dit gee jou ook vrymoedigheid om vir jou behoeftes te bid. Die Here aanvaar nie as jy Lukas 12 voor sy gesig gooi, maar lui is om te werk nie. Iemand wat lui is en nie kos het nie, behoort te stres. Die Here wil hê hy moet werk: “Want juis toe ons by julle was, het ons julle steeds beveel dat iemand wat nie wil werk nie, ook nie behoort te eet nie.” (2Tess. 3:10).

Moet die Here ook nie blameer as jy die geld wat Hy voorsien op luukshede, verslawing, dobbel of skuld uitgee nie. Bely jou sonde, trek vir jou ’n begroting op en vra raad by gelowiges wat weet hoe om met geld te werk.

Wat as jy nie werk het nie? Soek werk en bid daarvoor. Besef dat die ekonomie, elke besigheid en al die rykdom op aarde aan die Here behoort (Ps. 24:1, 50:10-11, Hag. 2:8). Vertrou op God en glo sy beloftes: “En as God die gras in die veld wat vandag nog daar staan en môre in ’n oond gegooi word, so klee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges!” (v.28).

 

5. Angs maak jou soos die wêreld (v.29-30)

Vroeër vanjaar moes ek my broer by die lughawe oplaai. In die kar toe sê hy: ‘Uit die vliegtuig het ek gesien hoe klein die huise is. Hoe dwaas is ons nie. Mense jaag hulle lewe om vir besittings. Hulle voel trots as hulle groot huise het, maar uit God se perspektief lyk hulle huise soos klein blokkies. Dan voel mense hoogmoedig as hulle blokkie ’n millimeter groter as iemand anders s’n is!’

Dit is dinge waarna die wêreld soek en waaroor hulle stres: “Moet ook nie soek na dit wat julle moet eet of drink en daaroor besorg wees nie. Dit is immers alles dinge waarna die nasies van hierdie wêreld soek; maar julle Vader weet wat julle nodig het.” (v.29-30).

Jan koop vir hom ’n luukser kar om in die verkeer te sit. Lisa bou haar kaste groter om haar kos en klere in te bêre. Hoe groter die salaris, hoe ryker die kos en hoe duurder die klere. Oral in die wêreld jaag mense na tydelike dinge soos geld, kos en klere (v.30). Hulle raak angstig as iets dit bedreig. Christene moenie so lewe nie: “Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, eers laat tot rus kom, kos eet wat moeisaam verkry is. Netsowel gee Hy dit aan sy geliefdes in die slaap.” (Ps. 127:2). Leef met die wete dat God die Vader van almal is wat in Jesus glo (v.30, Gal. 4:4-7). Leef met die wete dat God ons behoeftes ken (v.30, Ps. 139:1-4, Matt. 6:8). Dank Hom dat Hy dikwels meer gee as wat nodig is: “Almal het geëet en het versadig geword, en van die stukke wat oorgebly het, is daar twaalf mandjies vol opgetel.” (9:17). “…God, wat alle dinge in oorvloed aan ons gee om te geniet.” (1Tim. 6:17).

 

6. Angs maak dat jy fokus verloor (v.31-34)

Petrus is ’n klassieke voorbeeld hiervan. Toe hy sy oë op Jesus rig, het hy op die water geloop. Toe hy na die golwe kyk, toe sink hy (Matt. 14:28-31). Ongelowiges is so as dit by geld, kos en klere kom (v.29-30). Laat ons nie so hulle wees nie, maar “[s]oek eerder sy koninkryk, en hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (v.31, vgl. Matt. 6:33). Soek God se koninkryk met die intensiteit waarmee die wêreld rykdom soek (v.30-31). Hoe soek ’n mens die koninkryk? Maak seker jy het deel aan die koninkryk: “Beywer julle om by die smal deur in te gaan” (13:24, vgl. Matt. 11:12). Hoe gaan ’n mens die koninkryk in? Jesus moes aan ’n kruis sterf om die koninkryk vir ons oop te maak (Kol. 1:13-14, Heb. 10:19-22). Jy moet weergebore word om in die koninkryk te kom (Joh. 3:3, 5). Bekeer jou en glo die evangelie van die koninkryk (Mark. 1:15). Daardeur verkry jy gratis toegang tot God se koninkryk (Rom. 5:2, Ef. 3:11-12). Leef dan as ’n burger van God se koninkryk (Matt. 5:16, Fil. 1:27, 3:20, 1Pet. 2:11-12) en deel die evangelie om ander daarheen te nooi (Matt. 28:19, Hand. 8:12, 19:8, 28:23, 31, 2Tim. 4:1-2, 5). Bid en dra finansieel by vir die verspreiding en finale koms van die koninkryk (Psalm 72, Jes. 9:6, Dan. 2:44, Obad. 21, Matt. 6:10, 1Kor. 15:24, 2Tess. 3:1, 3Joh. 8, Op. 11:15).

As jy hierdie hemelse prioriteit het, sal die Here in jou aardse behoeftes voorsien: “Soek eerder sy koninkryk, en hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (v.31, vgl. Jes. 33:16, Ps. 84:12). Dit sal wees soos toe my broer en sy vrou in die VSA was. Hulle maatskappy het hulle vir opleiding gestuur. Vir twee maande het hulle nie oor kos en blyplek bekommer nie. Die maatskappy het vir alles betaal. Hulle moes eenvoudig op hulle werk fokus. Net so moet ons op God se koninkryk fokus, terwyl Hy vir die res sal sorg (v.31).

Ek glo dat ons partykeer kortkom, omdat ons soos die wêreld na besittings jaag (v.29-30) eerder as na die koninkryk (v.31). God laat partykeer toe dat ons sukkel, omdat Hy ons van die wêreld wil speen en ons aandag op Hom wil vestig. Hy wil ons leer om nie te vrees nie, maar te vertrou Hy sal vir ons sorg (v.32, 7, Matt. 6:34, Heb. 13:5-6). Hy weet ons is klein en swak (v.32, Ps. 103:14). Hy is die Herder wat ons versorg, lei en beskerm (v.32, Ps. 23:1-4, Joh. 10:11). Hy is ons hemelse Vader (v.32, Joh. 1:12-13, 1Joh. 3:1). Hy gee ons sy koninkryk (v.32, 22:29, Dan. 7:13-14, 18, 22, 27, Rom. 8:17, 1Kor. 3:21-23). Hy doen dit nie onder dwang nie, maar geniet dit om aan ons goed te doen (v.32, Ps. 119:68, 132, Matt. 7:11, 25:34).

Sal God ons sy koninkryk gee en dan kos en klere van ons weerhou? “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgelewer het—hoe sal Hy nie ook saam met Hom alles aan ons skenk nie?” (Rom. 8:32). Hoekom dan oor môre, volgende week, volgende maand en volgende jaar stres? Hoekom is jy angstig oor die dag wat jy moet aftree? Wil jy hierdie angs oorkom? Moenie opgaar nie, maar gee weg: “Verkoop julle besittings en gee vir liefdadigheid. Maak vir julle beursies wat nie vergaan nie, ’n onuitputlike skat in die hemel, waar ’n dief nie kan bykom en geen mot kan verniel nie.” (v.33). Jesus is nie teen persoonlike eiendom nie (sien Hand. 5:1-4). Die punt is eerder dat jy nie geld en besittings moet najaag en vir jouself moet opgaar nie (v.30, 16-19). Deel enige oorskot met die behoeftiges (v.33a, Rom. 12:13, Heb. 13:16, 1Joh. 3:17). So bêre jy vir jou skatte in die hemel (v.33, Fil. 4:17, 1Tim. 6:18-19). Jy verloor dit nie soos aardse skatte nie, maar dit duur vir ewig (v.33, 20-21, Matt. 6:19-20, 1Tim. 6:7, 1Pet. 1:4).

Wil jy op hemelse dinge fokus? Gee ruim vir sendelinge en arm gelowiges (v.33). Iemand wat so bydra, se hart sal volg (v.34). Iemand wat R500 000 in aandele belê, hou die mark fyn dop. Waar jou skat is, is jou hart ook. As jy baie geld vir sending gee, volg jou hart. Skieilik stel jy belang in wat op die sendingveld aangaan. Jy wil weet hoe dit met die sendelinge gaan. Kom mense tot bekering? Ek wil ingelig bid? Kan ek nog iets bydra? Waar jou skat is, is jou hart ook (v.34). As jy so vir die Here se werk bydra, sal angs oor aardse skatte iets van die verlede wees. Dit sal uit jou gedagtes verdwyn. Jy sal soos die fiktiewe man in die prediker se storie wees. Hy was alewig bekommerd. As jy hom sien, het hy soos ’n vraagteken in die straat afgeloop. Op ’n dag toe is die man baie opgeruimd en vrolik. Toe sy bure hom sien, toe sê hulle:

‘Hoekom is jy so opgeruimd?’

‘Ek betaal iemand wat my bekommernisse wegvat.’

‘Dit is wonderlik! Hoeveel betaal jy hom?

‘R1000 per uur.’

‘Wat! Hoe bekostig jy dit?’

‘Dit is sy bekommernis.’ 

Dit geld vir elke gelowige: “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.” (1Pet. 5:7).


1  Maurice Roberts, The Thought of God (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1993), 5-8