Coram Deo Cover Image

Coming soon...

10 April 2014

'n Portret van die kruis

Bread and wine

Oor die jare is daar baie films oor Jesus gemaak.  Tog is die enigste sigbare herinnering wat Jesus nagelaat het, die nagmaal.  Dis as’t ware 'n portret van die kruis.

 

14 En toe die uur kom, het Hy aan tafel gegaan en die twaalf apostels saam met Hom. 15 En Hy sê vir hulle:  Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met julle te eet voordat Ek ly. 16 Want Ek sê vir julle:  Ek sal sekerlik nie meer daarvan eet voordat dit in die koninkryk van God vervul is nie. 17 En toe Hy ‘n beker geneem het, dank Hy en sê:  Neem dit en deel dit onder julle. 18 Want Ek sê vir julle:  Ek sal sekerlik nie drink van die vrug van die wynstok voordat die koninkryk van God gekom het nie. 19 Daarop neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê:  Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis. 20 Net so neem Hy ook die beker ná die maaltyd en sê:  Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word. 21 Maar kyk, die hand van hom wat My verraai, is by My aan tafel. 22 Die Seun van die mens gaan wel heen volgens wat bepaal is, maar wee daardie man deur wie Hy verraai word! 23 Toe begin hulle onder mekaar te vra wie van hulle dit tog kon wees wat dit sou doen.” (Lukas 22).

 

Die Pasga (v.14-18)

Jesus was in die bo-vertrek saam met sy dissipels (v.11-13).  Volgens Midde-Oosterse gebruik, het Hy op sy een sy langs die plat tafel gelê (v.14).  Matteus sê vir ons dit was aand (Matteus 26:20).  Die nagmaal moes uitbeeld dat die Lig van die wêreld deur die duisternis oorweldig is (Johannes 3:19, 8:12, Lukas 22:53).  Johannes speel met woorde wanneer hy skryf:  “Toe hy [Judas] dan die stukkie geneem het, het hy dadelik uitgegaan.  En dit was nag.” (Johannes 13:30).

 

Jesus het ernstig begeer om hierdie laaste Pasga saam met sy dissipels te eet.  Hy het dit begeer juis omdat dit die laaste feesmaal saam met sy dissipels sou wees.  Hy sou eers weer in die hemel saam met hulle aan tafel sit om sy dood te onthou (v.15-18, Matteus 8:11).  Die tipiese orde en formaat van die Pasga sou soos volg wees:

 

[1] Iemand het 'n seën- en dankgebed gedoen.  Daarna het hulle die eerste beker wyn gedrink.  Hulle het kruie en sous vir voorgereg gehad.

 

[2] Iemand in die huis het die geskiedenis van Israel se uittog uit Egipte vertel:  ‘God het sy volk beveel om in hulle huise te bly.  Hulle moes 'n lam slag en die bloed teen die deurkosyne smeer met 'n hissoptakkie.  Die lam moes gebraai word.  Hulle moes alles opeet.  Daar was nie tyd vir die deeg om te gis nie.  Hulle het dus ongesuurde brood met bitter kruie geëet.  Hulle moes haastig uit Egipte wegkom.  Die aand voor hulle vertrek het God die eersgeborenes van Egipte doodgemaak.  As God bloed op die deurkosyne gesien het, het Hy nie die eersgeborenes in daárdie huise getref nie.  Die Israeliete het voor sonop opgepak en getrek.’  Die huisgesin het dan Psalm 113 gesing en die tweede beker wyn gedrink.

 

[3] Na nog 'n gebed het die gesin 'n gebraaide lam, ongesuurde brood en bitter kruie geëet.  Weer het iemand gebid.  Daarna is die derde beker wyn gedrink (v.17).

 

[4] Die huisgesin het Psalm 114-118 gesing en die vierde beker wyn gedrink (v.20, Matteus 26:30).

 

Jesus het die Pasga vervul.  Hy is die Paaslam wat geslag is (1 Korintiërs 5:7).  Die Paaslam moes vir 5 dae gehou word voor die Fees (Eksodus 12:3).  Jesus het 5 dae voor die Paasfees in Jerusalem ingekom (Johannes 12:1, 12).  Die Paaslam moes met skemer geslag word (Eksodus 12:6).  Jesus het 15:00, die tyd van die aandoffer, sy asem uitgeblaas en gesterf (Lukas 23:44-46).  Die doodsengel het die bloed op die deurkosyne gesien en nie die Israeliete se eersgeborenes doodgemaak nie (Eksodus 12:13).  God sien ons in Christus en veroordeel ons nie (Romeine 8:1).  Die Israeliete het uit Egipte uitgetrek (Eksodus beteken uittog).  Jesus het gekom om ons uit die slawerny van sonde te bevry (9:31, die Griekse woord hier is eksodus).

 

Net soos Jesus, moet jý 'n sterk begeerte hê om hierdie ete saam met Hom te hê (v.15).  Begeer om gemeenskap met Hom te hê in die nagmaal en in die hemel.  Moenie, wanneer jy by 'n diens opdaag en die tafel gedek sien, sê:  ‘Oooo!  Ek het vergeet dis nagmaal!’ nie.  Berei jou hart voor deur gebed en belydenis.  Vra vir 'n diep liefde, toewyding en begeerte na Christus.  Dank God vir Jesus se kruisdood vir jou.

 

Die nagmaal (v.19-23)

In hierdie verse stel Jesus die nagmaal in.  Elke woord is gelaai met betekenis:

 

  • Hy het brood vir sy dissipels gegee.  Hy self is die Brood van die Lewe wat ons versadig (Johannes 6:35).
  • Hy het sy Vader gedank vir die brood, en daardeur eintlik gedank vir ons redding deur sy kruisdood.
  • Hy het die brood gebreek.  Maar hoekom, as Johannes 19:33, 36 duidelik sê dat Jesus se bene nie gebreek is nie?  Jesaja 53:10 sê dat die Vader Hom gebreek het vir ons sondes.  Toe God die verbond met Abram gemaak het (Genesis 15), moes hy die diere in die helfte sny.  Sonder woorde het God deur hierdie aksie gesê:  ‘As Ek hierdie verbond breek sal Ek afgesny word van die land van die lewendes; sal Ek gebreek word’.  As gevolg van ons sonde het ons verdien om so in die helfte gesny te word; om afgesny te word (Jeremia 34:18-19).  Maar Jesus se liggaam is ‘gebreek’; is in ons plek afgesny van die land van die lewendes.
  • Jesus self het die brood vir sy dissipels gegee.  Niemand het self die brood gevat nie.  Niemand het Jesus se lewe van Hom af geneem het nie.  Hy het dit vrywilliglik opgeoffer (Johannes 10:18).
  • Jesus het die brood vir sy dissipels gegee.  Dit impliseer dat sy kruisdood plaasvervangend was – in ons plek.
  • Jesus het die brood vir hulle gegee.  Die nagmaal was nie vir ongelowiges nie.  Jesus het sy lewe vir sy uitverkorenes, sy kerk, sy skape afgelê (Efesiërs 5:25, Johannes 10:11).
  • Jesus het gesê hulle moet die nagmaal gebruik tot sy gedagtenis (v.19).  Hulle moes dit gebruik totdat Hy in sy Koninkryk kom (v.18, 1 Korintiërs 11:26).  Dan is die Heilsleer (Salvation Army) verkeerd om nie die nagmaal te vier nie.
  • Wanneer Jesus van die brood en beker praat as sy liggaam en bloed, (dit is my liggaam) gebruik Hy beeldspraak.  Die Katolieke glo dat die brood en wyn regtig in Jesus se liggaam en bloed verander wanneer die Priester daaroor bid (transsubstansiasie is die groot woord).  Dis onsin.  Niemand glo Jesus het takke en blare of is van hout gemaak, omdat Hy gesê het:  ‘Ek is die deur vir die skape...Ek is die ware wingerd’ nie (Johannes 10:7, 15:1).  Onthou ook Dawid se woorde:  “Toe het die drie helde deur die laer van die Filistyne gebreek en water geskep uit die put van Betlehem wat by die poort was, en dit gedra en na Dawid gebring; maar hy wou dit nie drink nie, en het dit tot eer van die HERE uitgegiet en gesê:  Dit is ver van my, HERE, dat ek dit sou doen!  Sou ek die bloed drink van die manne wat met lewensgevaar gegaan het?  En hy wou dit nie drink nie.  Dit het die drie helde gedoen.” (2 Samuel 23:16-17).  Dawid praat van die water as sy dapper soldate se bloed.  Almal weet hy gebruik beeldspraak.  Niemand dink die water was regtig bloed nie.  Jesus gebruik dieselfde vorm van spraak.  Die brood en wyn kan nie letterlik sy liggaam en bloed wees nie, want Hy staan in lewende lywe voor hulle oë.
  • Jesus het die beker vir sy dissipels gegee (v.20).  'n Paar ure later (in die tuin van Getsemane) vra Jesus dat die beker by Hom sal verbygaan (v.42).  In die Ou Testament praat die beker van God se oordeel (Jeremia 25:15-27).  Jesus het die beker van oordeel gedrink, sodat ons die beker van verlossing kan drink.
  • In die beker is die vrug van die wingerd.  In die Ou Testament is Israel die wingerd wat suur druiwe dra; wat nie die vrug van bekering lewer nie (Jesaja 5).  God se vyande is soos druiwe wat in 'n parskuip gegooi en vertrap word (Jesaja 63).  Jesus is die ware wingerd (Johannes 15).  Hy werk die vrug van bekering in ons en word namens ons vergetrap in God se parskuip.
  • Die beker is die nuwe testament in sy bloed.  Jesus se bloed praat altyd van sy dood.  Sy bloed red ons van sonde en bring vergifnis.  Ons verdien om te sterf, maar Hy kry die straf namens ons.  Die bloed in Eksodus 12:22 het gewys:  ‘Ons verdien om te sterf, maar 'n onskuldige lam sterf namens ons’.  Sonder bloedvergieting kan sonde nie vergewe word nie (Hebreërs 9:22).  Jesus se bloed is dan nie 'n towerformule nie.  Sy bloed is gestort om jou van God se toorn te beskerm; nie om jou huis van diewe of jou kar van ongelukke te beskerm nie (‘Here, ek pleit die bloed oor my kar’).
  • Die beker is die nuwe testament in sy bloed.  'n Testament raak eers geldig as die een wat die testament gemaak het doodgaan (Hebreërs 9:16-18).  Ons kan nou die hemel as erfdeel verkry (soos wat die nuwe testament stipuleer), omdat Jesus gesterf het.
  • Judas se hand was saam met Jesus s'n in die sousbeker (v.21, Markus 14:20).  Dit was die teken dat hý vir Jesus sou verraai.  God het die verraad en kruisdood bepaal en voorspel (v.22, Psalm 41:10, Johannes 13:18, Handelinge 4:27-28).  Maar tog was Judas verantwoordelik vir sy eie sonde (v.22).  Niemand het vir hom gesê om te sondig nie.  Hy het self gekies.  Omdat Judas geweet het wat reg is en nogsteeds sy rug daarop gedraai het, is sy straf soveel groter.  Dit sou beter gewees het as hy nooit gebore is nie (Markus 14:21).

 

Jesus se liggaam is gebreek, sy bloed is gestort vir ons sonde.  Omdat dít so is moet ons nie sonde ligtelik opneem nie.  Ondersoek jou hart, bely jou sonde en bekeer jou daarvan voordat jy aan die nagmaal deelneem (1 Korintiërs 11:28).  Moenie soos Judas skynheilig wees as jy by die tafel aansit nie.  Judas het sy bose motiewe so goed weggesteek, dat geeneen van die ander dissipels eers vermoed het hý is die verraaier nie.  Toe Jesus sê dat een van sy dissipels Hom sou verraai, het niemand gesê:  ‘Is dit Judas?’ nie, maar ‘Is dit ek?’ (Matteus 26:22).  God sal jou straf as jy met Judas se hart by die tafel aansit (1 Korintiërs 11:29-32).

 

Omdat die nagmaal net vir gelowiges bedoel is (v.19, julle), moet ons seker maak dat ons kinders dit nie ligtelik gebruik nie.  Ons kinders moet die evangelie glo, die vrug van bekering dra, en verstaan waaroor die nagmaal gaan, voordat ons die sakrament vir hulle gee.  As jy 'n gelowige is moet jy dit gebruik.  Jesus het dit beveel (v.19).  Gelowiges wat sê:  ‘Ek sondig te veel en sal die nagmaal gebruik as ek beter lewe’, is soos 'n siek persoon wat sê:  ‘Ek is siek en sal die dokter besoek as ek beter word’.  Die Hemelse Geneesheer het mos juis die nagmaal ingestel, sodat jy sonde sal haat en vergewe kan word.

 

Beleef dan met al vyf jou sintuie hierdie portret van die kruis.  Smaak en ruik die soet druiwesap; dink aan die soet nuwe lewe wat Jesus vir jou gee.  Smaak en ruik die ongegiste brood; onthou dat Jesus die suurdeeg van sonde uit jou hart wil verwyder (1 Korintiërs 5:6-8).  Sien die rooi druiwesap; onthou dat Jesus sy bloed gestort het vir jou sonde.  Hoor hoe die ongesuurde brood onder jou tande breek; onthou dat sy liggaam vir jou gebreek is.  Voel hoe die druiwesap jou droë keel natmaak; dink daaraan dat Hy jou geestelike dors les en jou honger stil (Johannes 6:53-56).

Kategorieë