Coram Deo Cover Image

Coming soon...

8 February 2015

Uitverkiesing, verlossing en verdeeldheid

Grace alone

Op Maandae kyk ek en my vrou dokumentêre op YouTube.  Drie weke gelede het ons gekyk hoe hulle Navy Seals oplei.  In een program het ‘n troep kwaad geword vir sy spanmaat.  Die offisier het hom uitgetrap:  ‘As jy ‘n seal wil wees moet jy saam met ander kan werk – leer om jou humeur in toom te hou!’  Die troep het straf gekry.  Later het dieselfde troep gekul.  Hy moes 15 kg sand in sy rugsak dra, maar het daarvan uitgegooi en gedink die offisiere sou nie uitvind nie.  Toe hy by die basis kom het hulle die rugsakke geweeg.  Hy is uitgevang en uitgetrap:  ‘Jy is arrogant.  Om ‘n seal te wees gaan nie net oor fiksheid en sielkundige stamina nie, maar oor integriteit.  As jy nie eerlik kan wees nie, dan hoort jy nie hier nie.’  Hy het is weer gestraf en moes vir die res van die week ‘n rugsak met 30 kg sand in ronddra.

 

Iemand wat arrogant is dink net aan homself en kan nie in ‘n span werk nie.  Juis daarom breek die offisiere hulle troepe se selfversekerdheid.  In die kerk is dit dieselfde:  iemand wat trots is wil hê dinge moet op sý manier gedoen word, en werk nie saam met ander nie.  Uitverkiesing en God se soewereiniteit in verlossing is twee van die beste offisiere om ons hoogmoed te breek.  Dis Paulus se punt in 1 Korintiërs 1:26-31.

 

Onthou God se keuse (v.26-29)

Tussen 1945 en 1951 was Clement Attlee die eerste minister van die Verenigde Koninkryk.  Winston Churchill het dit ontken, maar volgens ander het hy oor Attlee gesê:  ‘He is very modest man.  Indeed he has a lot to be modest about.’  Iets soortgelyk het met Martyn Lloyd-Jones gebeur.  ‘n Jong predikant vir hom gesê:  ‘Please pray for me that I will not become proud.’  Lloyd-Jones het gesê:  ‘What have you got to be proud about?’  Hierdie beginsel geld ook wanneer dit by verlossing kom.  God alleen moet verheerlik word –ons het niks om op trots te wees nie.

 

Hoogmoed is lelik.  Om dit te keer het Paulus vir die Korintiërs gesê om te onthou wie en wat hulle is.  Bitter min Christene is wyse manne in die koning se hof, wêreld beroemdes, magtige vorste, invloedryke biljoenêrs, presidente, here, goewerneurs, mense met blou bloed (v.26, Johannes 7:48).  In die wêreld se oë is ons dwaas, swakelinge, nikswerd, eksentriek, fanaties, eienaardig, die skuim van die aarde (v.27-28).  Deur sy soewereine keuse het God sulke mense gered om die wêreld se wysheid belaglik te maak (v.27):  kinders weet meer van die dinge wat saakmaak as die slimste ateïste.  Jesus het gebid:  “Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.” (Matteus 11:25).  Dawid sê:  “Uit die mond van kinders en suiglinge het U sterkte gegrondves, om u teëstanders ontwil, om die vyand en wraakgierige stil te maak.” (Psalm 8:3).  Deur sy verlossingskrag beskaam God die sterkes wat ánder kan beheer, maar nie hulle eie begeerts in toom kan hou nie (v.27).

 

Voordat Hy die wêreld gemaak het, het God die kerk uitverkies (Efesiërs 1:4-5).  Toe die kerk nog nie bestaan het nie, het God haar deur die krag van die evangelie in die lewe geroep:  “God chose what is low and despised in the world, even things that are not” (v.28, ESV).  Paulus skryf van God wat “die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan.” (Romeine 4:17).  God het krag om lewe te gee en dit te neem.  Hy sal die magtiges van hierdie eeu tot niet maak in die hel (2:6, 2 Tessalonisense 2:8).

 

God word nie beïndruk omdat mense mag het, of blou bloed in hulle are nie.  Hy word nie tot iemand aangetrek omdat hulle ryk, belangrik, invloedryk, of wys is nie.  In Job 34:19 sê Elihu dat God “die vorste nie voortrek nie en op die vername nie meer ag gee as op die arme nie; want hulle almal is die werk van sy hande.”

 

Niemand kan voor die Here roem en sê:  ‘Ek het God gekies en deur my eie wysheid en krag my hart nuut gemaak... God het my gekies omdat ek beter as ander is’ nie (v.29).  God het ons juis uit genade gered en nie deur werke nie, sodat niemand mag roem nie (Efesiërs 2:8-9).  Wat vir Gideon se manskappe gegeld het, geld vir ons:  “Die manskappe by jou is te veel vir My om die Midianiete in hulle hand te gee; anders kan Israel hom teen My beroem deur te sê:  My eie hand het my verlos.” (Rigters 7:2).  As ons gekies is omdat ons beter was as ander, sou ons gesê het:  ‘My eie hand het my verlos’.

 

God is nie deur iets buite Hom beïnvloed of gedwing om ons te kies nie, maar het ons uit sy eie vrye keuse gered.  Die Skrif sê:  “Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep... So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is... Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?” (Romeine 9:11, 16, 21).  “die verkiesing van die genade.  En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.” (Romeine 11:5-6).

 

Onthou God se keuse.  Verwerp die moderne selfbeeld lering wat sê dat Jesus vir jou gesterf het, omdat jy onweerstaanbaar en waardig was.  Jesus het jou liefgehad ten spyte van wie jy was, en nie as gevolg daarvan nie.  Onthou dat jy ‘n donker verlede het.  As die dinge in jou verlede moet uitkom, sal selfs jou beste vriende jou verwerp en sal jy uit die publieke oog moet verdwyn.  Dalk het jy sekere hoogtes in jou lewe bereik.  Maar dit sal binnekort nie saakmaak dat jy hoofseun was, eerste gekom het op SA’s, nege onderskeidings gehad het, mej. Rooivleisfees was, of op TV was nie.  Oor ‘n paar jaar sal jou kollegas en bure ‘n vae herinnering van jou hê.  Hulle sal gesig onthou, maar jou naam vergeet (of andersom).  Jou familie sal jou onthou, maar na jou begrafnis sal hulle met hulle lewens aangaan.  Na hulle dood is sal jou naam vergete op ‘n grafsteen staan.  Toe jy op aarde was het mense oor jou rykdom gesê:  ‘Hy doen goed vir homself.’  Maar noudat jy dood is, is jou geld weg en is jy niks (Psalm 49).

 

God het jou nie gered omdat jy spesiaal was nie.  Jy is niemand.  Jy is uit genade gered en nie as gevolg van jou slim keuse nie.  “Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies” (Johannes 15:16).  “Die HERE het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke.  Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die HERE julle met ‘n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos.” (Deuteronomium 7:7-8).  “wat ons gered en geroep het met ‘n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is” (2 Timoteus 1:9).

 

Onthou God se keuse.  Dit sal jou nederig maak om te weet dat God alles gedoen het en jy niks.  Roem in Hom en nie jouself of in mense nie (v.29, 12).

 

Onthou God se gawe (v.30-31)

‘n Bekende teoloog wou sy standpunt verdedig en het vir ‘n leek gesê:  ‘Die Heidelbergse Kategisme sê...’  Die leek het geantwoord:  ‘Ja, maar is dit wat die Bybel sê?’  Om sy saak te stel het ‘n jong student vir Jonathan Edwards aangehaal.  ‘Jonathan Edwards sou nie iets verkeerd leer nie,’ het hy gesê.  By ‘n kerkdiens het iemand vir my vriend gesê:  ‘John MacArthur het nog nooit iets verkeerd gesê nie.’  ‘n Kollega het vir my gesê:  ‘Julle jong predikante verafgod vir Martin Holdt.  Julle sing seker:  Wat ‘n Vriend het ons in Martin.’

 

All mense is sondaars en het vir Jesus nodig (v.30).  Ons moet Jesus aanbid en nie mense nie (v.31, 12).  Hy het ons verlos (v.30).  Reddding is uit genade, deur geloof.  Dis nie uit onsself nie (Efesiërs 2:8-9).  Selfs ons geloof en bekering kom van Hom af (Filippense 1:29, Handelinge 11:18).  Wat is die beslissende faktor in ons redding?  Is dit God se genade of ons keuse?  Dis nie ons keuse nie, maar sy genade.  Die sondaar is geestelik dood en kan homself nie lewendig maak nie (Efesiërs 2:1).  Niemand kan uit sy vrye keuse die Here gehoorsaam en tevrede stel nie (Romeine 8:7-8).  Net so min as wat ‘n luiperd sy kolle kan verander, kan ‘n sondaar sy eie hart verander (Jeremia 13:23).  Weergeboorte is ‘n geskenk van God (1 Petrus 1:3).  Johannes 1:12-13 sê:  “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.”

 

Die wysheid van hoe om gered te word lê in Jesus en nie in ons nie:  Hy is ons wysheid (v.30, vgl. Spreuke 2:6).  Paulus sê:  “Want wie trek jou voor?  En wat het jy wat jy nie ontvang het nie?  En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?” (4:7).  Alles wat ons het kom van Hom af (v.30):

 

  • Geregtigheid. Deur Jesus se geregtigheid het ons ‘n perfekte rekord voor God (2 Korintiërs 5:21). Ons ontvang dit deur die geloof (Filippense 3:9).
  • Heiligmaking. Deur die kruis het God ons vir Homself afgesonder en maak Hy ons al hoe meer soos Jesus (6:11, 1 Tessalonisense 5:23).
  • Verlossing. As jy in die ou tyd ‘n slaaf wou vrykoop, moes jy dit met goud of silwer doen. Ons was slawe van sonde. Jesus het sy lewe gegee om ons daarvan te verlos (1 Petrus 1:18-19, Markus 10:45).

 

Verheerlik God vir jou verlossing.  Moenie in jouself of in mense roem nie (v.31, 12).  Hoor weer die bekende woorde:  “So sê die HERE:  Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie; maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die HERE is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek ‘n behae, spreek die HERE.” (Jeremia 9:23-24).  “Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.” (Galasiërs 6:14).  Paulus sê dat God ons uitverkies en verlos het “tot lof van sy heerlikheid” (Efesiërs 1:6, 12, 14).  As die lof dan sýne is, moet ons nie mense vir die Baptise of Calviniste wen nie, maar vir Jesus.

 

Onthou God se gawe van verlossing.  Voor jy dit nie verstaan nie, sal jy dit nie waardeer nie.  Deur die kruis het Jesus jou sonde verwyder en is die oneindige God nie meer jou vyand nie, maar jou Vader en Vriend.  Deur Jesus het Hy jou aangeneem as ‘n erfgenaam van die wêreld en sy ewige Koninkryk.  In Hom het God vir jou ‘n ewige lewe van blydskap, liefde, skoonheid, heerlikheid, heiligheid gegee; ‘n lewe sonder siekte, sonde, dood.  Jesus is magtiger as ‘n stormagtige oseaan.  Sy heerlikheid is helderder as die middagson en mooier as ‘n pragtige sonsondergang.  Sy kalmte gee groter vrede as ‘n glashelder en spieëlgladde meer in die Switserse Alpe.  Hy is meer skrikwekkend as ‘n groot mannetjie leeu wat op jou afstorm.  Hy is groter as ‘n sterrehemel in die Sahara woestyn.  Hy en alles wat syne is, behoort aan jou (3:21-23)!  Vir ewig sal Hy sy genade en liefde mildelik oor jou uitstort.  Roem in Hom (v.31).  Iemand wat nalaat om verlossing as ‘n gawe van God te sien, sal homself of ander begin eer.  Sodra jy dit doen het jy ‘n resep vir verdeeldheid (v.12).

 

George wou aansluit by ‘n groep predikante wat glo dat God soewerein is in verlossing.  By die onderhoud wou hulle weet:  ‘Het jy enigiets tot jou redding bygedra?’  Hulle het verwag dat hy ‘nee’ sou sê.  Hulle was geskok toe hy ‘ja’ sê.  Darem het hy vinnig bygevoeg:  ‘Ek het die sonde bygedra wat vergewe moes word.’  Wil jy roem?  “Die wat roem, moet in die Here roem.” (v.31).

Kategorieë