Coram Deo Cover Image

Coming soon...

2 March 2014

Suid-Afrika se enigste hoop

Robber with gun

Jy het seker al plakkers en advertensieborde gesien waarop staan:  ‘Turn to God’.  Indien dit beteken:  ‘Bekeer jou van jou sonde en draai na Jesus en sy evangelie toe’, is dit reg.  Maar as dit beteken:  ‘Moslems, Jode, Hindus, Christene en elke ander godsdiens aanbid dieselfde God – draai terug na hóm toe’, is daar geen hoop nie.  Duidelik weet ons wat ons land se enigste hoop is.  Maar weet ons waar die morele verval in 'n samelewing begin?  En hoe stop jy dit?  Genesis 4:17-26 gee die antwoord:

 

17 En Kain het sy vrou beken, en sy het swanger geword en Henog gebaar. Daarna bou hy ‘n stad en noem die stad na die naam van sy seun Henog. 18 En vir Henog is Irad gebore; en Irad was die vader van Mehújael; en Mehújael was die vader van Metúsael; en Metúsael die vader van Lameg. 19 En Lameg het vir hom twee vroue geneem.  Die naam van die eerste was Ada, en die naam van die tweede Silla. 20 En Ada het Jabal gebaar.  Hy was die vader van die tentbewoners en die veeboere. 21 Die naam van sy broer was Jubal.  Hy was die vader van almal wat op siters en fluite speel. 22 En Silla het ook gebaar, naamlik Tubal-Kain, ‘n smid wat allerhande koper— en ysterinstrumente gemaak het.  En die suster van Tubal-Kain was Naéma. 23 En Lameg het aan sy vroue gesê:  Ada en Silla, hoor na my stem!  Vroue van Lameg, luister na my woord!  Voorwaar, ek slaan ‘n man dood wat my wond en ‘n seun wat my kwes. 24 Want Kain sal sewe maal gewreek word, maar Lameg sewe en sewentig maal. 25 En Adam het sy vrou weer beken, en sy het ‘n seun gebaar en hom Set genoem.  Want, het sy gesê, God het my ‘n ander kind geskenk in die plek van Abel, omdat Kain hom doodgeslaan het. 26 En ook vir Set is ‘n seun gebore, wat hy Enos genoem het.  Toe het hulle die Naam van die HERE begin aanroep.”

 

Kain en sy nageslag (v.17-24)

Kain het 'n stad gebou.  Die Hebreeuse woord verwys nie noodwendig na 'n metropolis nie, maar praat van enige vestiging.  Die woord kan ook ‘fort’ beteken.  Hy het 'n vesting gebou om homself te beskerm teen dié wat hom wou doodmaak.  Hy het die stad Henog vernoem, na sy seun (v.17).

 

Laat my asseblief toe om vir 'n rukkie van die onderwerp af te wyk.  As ek dit nié doen nie sal jy my kwalik neem.  Waar het Kain sy vrou gekry?  Ons weet uit 3:20, Handelinge 17:26 dat daar nie mense vóór Adam en Eva was nie.  Ons weet ook dat God nie ander mense sáám met Adam en Eva geskep het nie.  As dit so wás, beteken dit dat net sý nageslag sondaars is.  En as die ánder mense se nageslag sondeloos is, beteken dit dat Jesus nie vir húlle gesterf het nie.  Die eenvoudige antwoord is dan dat Kain met sy suster of susterskind getrou het:  “En hy [Adam] het seuns en dogters gehad.” (5:4).  In 'n leeftyd van 930 jaar kon Adam en Eva baie kinders gehad het.  Verder praat v.3 van tydsverloop.  In hierdie tyd kon Adam en Eva nog kinders gehad het.  Kain het gekla omdat mense hom wou doodmaak vir sy moord op Abel (v.14).  Hoekom sou vreemde mense vir Kain wou doodmaak?  Die mense wat hom wou doodmaak het vir Abel goed geken (sy broers en susters!) en daárom wou hulle vir Kain doodmaak.

 

Dalk sê jy:  ‘Maar v.16-17 wys dat Kain sy vrou in 'n ander land (Nod) ontmoet het’.  Dis nie wat die teks sê nie.  Lees mooi.  Die verse sê dat sy vrou in Nod swanger geword het.  Hy het haar met hom saamgeneem na die ander land toe.  ‘Maar die Bybel sê 'n broer en suster mag nie met mekaar troue nie’, sê jy.  Die verbod is eers in Moses se tyd gegee (Levitikus 18-20).  Voor Moses se tyd was dit nie vreemd dat familielede met mekaar getrou het nie.  In Noag se tyd is die hele wêreld uitgewis en sou sy kleinkinders met mekaar moes trou.  Abraham het met sy halfsuster getrou (20:12).  Kain het buitendien nie veel van 'n keuse gehad nie.  Met wie anders moes hy trou?  Genetiese afwykings sou nie eintlik 'n probleem gewees het nie.  As iemand byvoorbeeld 'n skewe oor het, is die kanse 50/50 dat sy kind 'n skewe oor sal hê.  Maar as 'n broer en suster skewe ore het en met mekaar trou, sal hulle kinders byna verseker skewe ore hê.  As húlle skewe-oor seun en dogter met mekaar trou, sal hulle kinders se ore nóg erger lyk.  As daardie geslag se broer en suster met mekaar trou sal die defek tien maal vererger.  Maar onthou dat Kain en sy suster die eerste geslag was.  Daar sou byna nie genetiese afwykings gewees het nie.

 

Kom ons kom terug by die onderwerp.  God kon vir Kain doodgemaak het.  Die feit dat hy 'n nageslag gehad het was 'n genade:  “En vir Henog [Kain se seun] is Irad gebore; en Irad was die vader van Mehújael; en Mehújael was die vader van Metúsael; en Metúsael die vader van Lameg.” (v.18).  Lameg het teen God gerebelleer en twee vroue gevat:  Ada en Silla.  In 2:24 het God gesê dat 'n man en 'n vrou, twee mense, een sal word in die huwelik.  Lameg was skuldig aan veelwywery.  Ada het vir Jabal gehad.  Hy was die voorvader van veeboere wat in tente gebly het.  Omdat weiding in die Midde-Ooste skaars is, kon hulle nie huise bou nie.  Hulle moes rondtrek vir weiding.  Daarom het hulle in tente gebly (v.20).  Ada se ander seun was Jubal.  Hy was die voorvader van mense wat snaar- en blaasinstrumente gemaak en gespeel het.  Lameg se vrou Silla het vir Tubal-Kain gebaar.  Hy het gereedskap, plaasimplemente en moontlik selfs wapens van yster en brons gemaak (Kain beteken ‘smid’).  Sy suster was Naéma (v.22).

 

Lameg het sy voorvader Kain se voorbeeld gevolg en 'n moord gepleeg.  'n Jong seun (Heb. yeled) het hom gewond.  Hy het wraak geneem en hom vermoor (v.23).  Hy was so boos dat hy gereed was om homself 77 keer te wreek (v.24).  Kontrasteer dit met Jesus wat gesê het ons moet 70 x 7 keer vergewe (Matteus 18:22)!

 

Die eerste mense was baie vindingryk en gevorderd (v.17-22).  Mense het nie ontwikkel om later brons en ystergereedskap te gebruik nie.  Hulle het van die begin af geweet hoe.  Maar al was en is die mens so gevorderd, kan geen tegnologie, kennis, vaardigheid of opvoeding 'n vervalle samelewing vol van moord (aborsie!) en seksuele losbandigheid regruk nie.  En waar het die morele verval begin?  Dit het begin toe Kain die Here aanbid het soos wat hý wou.  Hy het ook nie vir sy kinders geleer om God te aanbid nie (God se Naam kom nie in die lys van name voor nie).  As jy opregte en ware aanbidding by die deur uitgooi sal jy binnekort 'n vervalle samelewing hê.  Let maar op die volgende voorbeelde:

 

  • Israel het die Here gedien toe Josua gelewe het.  Toe Josua en sy tydgenote dood is, het die volk begin om afgode te dien (Rigters 2).  Die morele verval in die boek Rigters is grafies.  Teen die einde van die boek verkrag 'n klomp mans 'n vrou die hele nag deur.  Haar man kap haar lyk in twaalf stukke op en stuur dit oor die land.
  • Turkye was Paulus se sendingveld.  Toe die kerk begin het om op hulle eie manier te aanbid, het Rooms-Katolisisme ontstaan.  Vandag is Turkye byna 100% Moslem.
  • Duitsland, Frankryk, Engeland, Switserland en Skotland het almal radikaal verander tydens die hervorming.  Engeland het selfs die invloed van die Puriteine, Whitefield en Wesley gehad.  Maar toe liberalisme in die laat 1800’s inkom, het hierdie lande in 'n morele gemors verval.  Vandag is die hele spul onder 'n humanistiese invloed.
  • Wallis staan bekend as die land van herlewings.  Deur die liberale invloed het Wallis vandag geen belang in Bybelse Christenskap nie.
  • Suid-Afrika het 'n sterk Christelike agtergrond.  Liberalisme en ander gemors het ons land gesink.  Nou sit ons waar ons sit.

 

As jy die Here aanbid soos wat jý wil (soos Kain), moet jy nie verbaas wees as jou kinders Hom nie aanbid nie (soos sy nageslag), en jou kleinkinders skuldig raak aan die verskriklikste misdade (soos Lameg).  Wat is die oplossing vir hierdie dilemma?

 

Set en sy nageslag (v.25-26)

Eva het vir Set gekry in die plek van Abel (v.25).  Dalk het sy gehoop dat Set die beloofde nageslag is wat die slang se kop sou vermorsel (cf. 3:15).  Set het die Here gedien en sy seun Enos geleer om dieselfde te doen:  “Toe het hulle die Naam van die HERE begin aanroep.” (v.26).  Genesis 4 begin en eindig dan met ware aanbidding.  Alles tussen-in wys vir ons wat gebeur as mense God nié wil aanbid nie.

 

Gesonde gesinne is die boublokke van 'n gesonde samelewing.  Leer daarom jou kinders hoe om God reg te aanbid.  Die Here self sê:  “Ek het [vir Abraham] verkies, dat hy aan sy kinders en sy huis ná hom bevel sou gee dat hulle die weg van die HERE moet hou om geregtigheid en reg te doen” (18:19).  “En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.” (Deuteronomium 6:6-7).  Asaf sê:  “Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het, sal ons nie verberg vir hulle kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel die roemryke dade van die HERE en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het.  Hy tog het ‘n getuienis opgerig in Jakob en ‘n wet gegee in Israel, wat Hy ons vaders beveel het—om dit aan hulle kinders bekend te maak, sodat die volgende geslag dit kan weet, die kinders wat gebore word, dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders, en hulle vertroue op God kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar sy gebooie kan bewaar, en nie word soos hulle vaders nie, ‘n koppige en wederstrewige geslag, ‘n geslag met ‘n onvaste hart en wie se gees nie trou was teenoor God nie.” (Psalm 78:3-8).

 

Dink jy dis toevallig dat die gebod om jou ouers te eer die middelste gebod is?  Hierdie gebod verbind die eerste 4 gebooie met die laaste 5.  As ouers vir hulle kinders die Bybel leer, sal hulle kinders die Here reg aanbid (gebod 1 tot 4).  En as hierdie kinders hulle ouers eer en gehoorsaam, sal dit lei tot ’n gesonde en morele samelewing (gebod 6 tot 10).  Hoe kan jy jou kinders reg leer?

 

  • Deel gereeld die evangelie met hulle.
  • Vat hulle na ’n goeie Sondagskool toe.
  • Sorg ook dat julle deel is van ’n goeie Bybelse kerk.
  • Leer hulle om Bybelverse te memoriseer.
  • Leer vir hulle ’n goeie kategisme (soos die Westminster Kategisme).  Dit sal hulle help om groot Bybelse leerstellings in kort en maklike sinne te onthou.
  • Sing die Bybel.  Op hierdie manier kan jy baie makliker Bybelverse onthou.
  • Lees vir hulle Bybelstories.
  • Leer hulle om te bid en bid saam met hulle.
  • Leer vir hulle karaktertrekke.
  • Lees vir hulle goeie Christelike boeke.
  • Pas Bybelse dissipline toe.
  • Gee vir hulle 'n Bybelse wêreldbeskouing wanneer hulle met jou praat oor wêreldnuus, TV-programme, die evolusie-teorie in hulle skoolhandboeke, wat hulle maatjies sê.
  • Leer vir hulle dat die Bybel kragtig en waar is.  Wys deur jou heilige voorbeeld hoe die Bybel jóú lewe verander het.
  • Verminder die slegte invloed op jou kinders.  Sorg dat jy weet wie hulle vriende is, wat hulle op TV kyk, waar hulle ‘uithang’ en waarna hulle luister.

 

Godvresende gesinne is die fondasie en boustene vir goeie kerke.  En sulke kerke sal 'n groot invloed hê op ons land.  Peter Hammond het onlangs 'n artikel geskryf met die titel:  South Africa – Revolution or Revival?  In die 1700’s was die moraliteit in Engeland en Frankryk baie laag.  In Engeland het daar 'n herlewing gekom.  In Frankryk het daar 'n bloedige revolusie uitgebreek.  Bid dat Suid-Afrika soos Engeland sal wees en nie soos Frankryk nie.  Begin deur die Here reg te aanbid en dit aan jou kinders oor te dra.

Kategorieë