Coram Deo Cover Image

Coming soon...

14 November 2023

Lei my na die goeie Herder

Matteus 2:6b

In 2008-10 het ek ’n beradingkursus in Pretoria gedoen. Om brandstof te spaar, het ek en ’n ander student in die oggende saamgery. Ons het wonderlike gesprekke in die kar gehad. Eendag toe sê hy: ‘Wanneer ons die Bybel lees, moet ons nie die groen weivelde soek nie. Ons moet die goeie Herder soek, dan sal Hy ons na die groen weivelde toe lei.’

Soos Miga se profesie en die ster die wyse manne na Jesus toe gelei het, wil ek jou vandag deur die Woord na die goeie Herder toe lei en jou daar los. In Hom sal jy groen weivelde en waters van rus vind.

 

1. Jesus die Here

Kom ek skets vir jou die konteks:

Maria was ’n maagd. Sy was aan Josef verloof. Toe Josef uitvind sy is swanger, het hy aangeneem sy het rondgeslaap en wou hy die verlowing verbreek. In ’n droom het ’n engel aan hom verskyn en gesê: “Josef, seun van Dawid, moenie bang wees om Maria as jou vrou by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees.” (1:20). Josef het met Maria getrou, maar nie by haar geslaap totdat Jesus in Betlehem gebore is nie.

’n Groep wyse manne uit die ooste wou die Messias besoek. Vanuit Daniël 9 kon hulle die tyd van sy geboorte uitwerk, maar hulle het nie geweet waar Hy gebore sou word nie. Om uit te vind, het hulle ’n spesiale ster tot in Jerusalem gevolg. Daar het hulle gehoor die Messias moet in Betlehem gebore word.

Betlehem is sowat 9 kilometer van Jerusalem af. Dit is waar Jakob se vrou Rachel begrawe is (Gen. 35:19). Dit is waar Boas met die Moabitiese weduwee, Rut getrou het (Rut 1-4). Dit is waar Rut en Boas se agterkleinkind Dawid gebly het (Rut 4:21-22, 1Samuel 16). Dawid se koningskap het Betlehem prominent laat word. Soos Jerusalem is dit later die stad van Dawid genoem (Luk. 2:4, 11).

Na Dawid het Betlehem soos ’n skilpad in sy dop teruggetrek. Die profeet Miga het gesê die skilpad sal weer sy kop uitsteek: die geboorte van ’n belangrike leier sou Betlehem weer in die kollig sit (v.6, Miga 5:1).

Wie was hierdie leier? Sy menslike naam is Jesus wat beteken Jahwe verlos (1:21). Hy is Immanuel, God met ons (1:23). Per implikasie het Hy lank voor sy geboorte in Betlehem bestaan. Volgens Miga 5:1 waaruit Matteus aanhaal, is die Messias se oorsprong uit die voortyd en uit ewige dae.1 Soos God in Dan. 7:10 is Jesus die Oue van Dae (vgl. Dan. 7:22, Joh. 8:58). Jes. 9:5 beskryf Hom as God en mens in een Persoon:

Want ’n Kind is vir ons gebore,

’n Seun is aan ons gegee.

Die heerskappy is op sy skouer.

Hy word genoem:

Wonderbare Raadgewer,

Magtige God, Ewige Vader,

Vredevors.

Hy sal oor sy volk heers, asook oor alles in die hemel en op aarde (v.6b, 28:18, Dan. 7:14, 1Pet. 3:22). Op. 19:16 bely Hy is “Koning van die konings, en Heerser van die heersers”. Toe Hy in die wêreld inkom, het al God se engele Hom aanbid (Heb. 1:6). Volgens Luk 2:11 het die Herders besef Hy is die Here.

Bely jy Hom as sulks? Ek bedoel nie net op sosiale media of voor ’n gemeente nie. Ek ken mense wat Jesus hulle Here noem en tot Hom bid, maar prostitute besoek, hulle familie afskryf, bedrog pleeg en hulle aan drank oorgee. Van sulke mense sê Jesus: “Nie elkeen wat vir My sê, ‘Here, Here,’ sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar net diegene wat die wil doen van my Vader in die hemele.” (7:21). En weer: “Waarom noem julle My ‘Here, Here!’ maar julle doen nie wat Ek sê nie?” (Luk. 6:46).

Wie Jesus waarlik as Here bely, doen dit nie net op Kersdag of op ’n Sondag nie, maar erken Hom as Here van sy familie. As Hy tussen Jesus en sy familie moet kies, kies hy Jesus (Luk. 14:26). Jesus is Here van sy lewe. Hy sal sterf voor hy vir Jesus verloën (Op. 12:11). Jesus is Here van sy geld en besittings. As dit daarop neerkom, sal hy alles verloor om Jesus te volg (Luk. 14:33). Jesus is Here van sy tyd; dit behoort nie aan homself nie, maar aan Jesus (Ef. 5:16-17). Jesus is Here van sy huwelik, ouerskap, werk, liggaam, seksualiteit—van sy hele lewe (Ef. 5:22-33, 6:1-4, 5-9, Rom. 6:13, 12:1, 1Kor. 6:13, 10:31). Ware gelowiges beskou dit nie as ’n las nie, maar as ’n voorreg. Daarom buig hulle saam met die wyse manne voor Jesus neer (v.2, 11).

 

2. Jesus die Herder

As Herder lei die Messias God se volk (v.6). Matt 1:21 noem dit Jesus se volk. Wie is se volk is dit dan: die Vader of die Seun s’n? Albei s’n, omdat die Vader en die Seun een is (Joh. 10:30): “En alles wat myne is, behoort aan U, en wat aan U behoort, is myne, en in hulle is Ek verheerlik.” (Joh. 17:10).

Matteus sê God se volk is Israel: “want uit jou sal daar ’n leier kom wat my volk Israel as herder sal lei.” (v.6). Volgens die res van die Bybel verwys Israel na meer as etniese Israel. Let op die volgende verse:

“Ek het ook ander skape [die heidene] wat nie van hierdie kraal is nie. Hulle moet Ek ook lei, en hulle sal na my stem luister, en daar sal een kudde wees, en een herder.” (Joh. 10:16).

“En dit het hy nie uit sy eie gesê nie, maar, omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die volk sou sterf—en nie net vir die volk nie, maar ook om die kinders van God wat oral verstrooi is [die heidene], te verenig.” (Joh. 11:51-52).

“Want om ’n Jood te wees, is nie iets uiterliks nie, en besnydenis is nie iets wat uiterlik aan die liggaam geskied nie; inteendeel, iemand is innerlik ’n Jood en besnydenis is iets van die hart, geestelik, nie letterlik nie. Só iemand ontvang lof, nie van mense nie, maar van God.” (Rom. 2:28-29).

“Dit is nie asof die woord van God nou gefaal het nie. Want nie almal wat uit Israel afkomstig is, is die ware Israel nie. Ook is nie almal wat nageslag van Abraham is, sy kinders nie. Inteendeel, daar staan: ‘Dit is deur Isak dat jou nageslag benoem sal word.’ Dit wil sê: Dit is nie die kinders na die liggaam wat kinders van God is nie, maar die kinders na die belofte, word as nageslag beskou.” (Rom. 9:6-8).

“Dit is ons wat Hy geroep het, nie net uit die Jode nie, maar ook uit die nie-Jode. So sê Hy ook in Hosea: ‘Hulle wat nie my volk was nie, sal Ek my volk noem, en haar wat nie geliefd was nie, sal Ek my geliefde noem.’ En: ‘Op daardie plek waar vir hulle gesê is, “Julle is nie my volk nie,” juis daar sal hulle kinders van die lewende God genoem word.’ ” (Rom. 9:24-26).

Jesus is die skape se Herder en roep hulle by die naam. Hy is die Here wat sy “volk Israel as herder sal lei.” (v.6). Eseg. 34:31 sê: “‘Julle is my kleinvee, die kleinvee van my weiding. Julle is my mense, Ek is julle God.’ Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.” Jesus verwys na Homself as Hy in Joh. 10:3-4 sê: “vir hom maak die hekwagter oop, en die skape luister na sy stem. Hy roep sy eie skape op hulle naam en lei hulle uit. Wanneer hy al sy eie skape uitgelei het, gaan hy voor hulle uit, en hulle volg hom, omdat hulle sy stem ken.”

As Herder verrig Jesus sy taak deur God se krag: “Hy sal optree en as herder lei deur die krag van die Here, deur die grootheid van die Naam van die Here sy God.” (Miga 5:3). Sy groot krag beteken Jesus kan alles gee wat ons nodig het:

Soek jy redding van sonde se greep in jou lewe? Jesus is Hy “wat self ons sondes in sy liggaam aan die kruishout gedra het, sodat ons, noudat ons ons sondes afgesterf het, vir geregtigheid kan leef—Hy deur wie se verwonding julle genees is. Julle was immers verdwaal soos skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en Bewaker van julle siele.” (1Pet. 2:24-25).

Twyfel jy oor jou redding? Die goeie Herder sê: “My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal tot in ewigheid nooit verlore gaan nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My Vader, wat hulle aan My gegee het, is groter as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.” (Joh. 10:27-29).

Wonder jy of Jesus waar is? Vers 6 vervul Miga se profesie oor Jesus die goeie Herder. Honderde jare voor Miga het Gen. 49:24 gesê die Herder kom uit Jakob of Israel (Ou Vertaling). Heb. 13:20 noem Hom die groot Herder wat God uit die dood opgewek het. Die graf is leeg (Joh. 20:5-7). Die Profete het sy opstanding voorspel en Hy het aan honderde ooggetuies verskyn (1Kor. 15:4-8). Weet verseker: Jesus is waar!

Wonder jy of Hy God is? Hy is. Dawid sê in Ps. 23:1: “Die Here is my herder...” In Joh. 10:11 noem Jesus Homself die Here en goeie Herder van Psalm 23.

Preek jou dominee dwaling soos Esegiël 34 se slegte herders en manipuleer jou vir geld? Die Here sê: “Ek self sal my kleinvee laat wei; Ek self sal hulle laat lê en rus.’ Dit is die uitspraak van my Heer, die Here... Ek sal een herder oor hulle aanstel, en hy sal hulle laat wei—my dienskneg Dawid. Dit is hy wat hulle sal laat wei; dit is hy wat vir hulle ’n herder sal wees.” (Eseg. 34:15, 23).

Vra die Here vir menslike herders wat jou deur die Woord na die groot Herder toe lei: “Ek sal herders na my hart vir julle gee. Hulle sal met kennis en insig aan julle weiding verskaf... Versorg soos herders die kudde van God in julle midde; hou toesig—nie uit plig nie, maar vrywillig, in ooreenstemming met die wil van God; nie uit skandelike winsbejag nie, maar geesdriftig; nie baasspelerig oor hulle wat aan julle toevertrou is nie, maar as voorbeeld vir die kudde.” (Jer. 3:15, 1Pet. 5:2-3).

Is jy onbelangrik en arm? Jesus het vir sulke mense gekom: “Luister, my geliefde broers, het God nie die armes in die wêreld gekies om ryk in die geloof te wees nie? En om erfgename te wees van die koninkryk wat Hy beloof het aan hulle wat Hom liefhet nie?” (Jak. 2:5). Om hierdie rede het Jesus ’n groepie arm en onbelangrike herders die voorreg gegee om Hom eerste te sien (Luk. 2:8, 15). Moenie vir ’n oomblik dink Hy kyk verby jou, omdat jy onbelangrik en arm is nie.

Voel jy geestelik uitgeput en verdwaal? Ek het onlangs so gevoel. Ek was baie siek en kon net nie gesond word nie. Binne ’n kwessie van ses weke het ek drie keer griep gekry. Daarmee saam het ek ernstige probleme met my longe. Gevolglik het ons gemeente se ouderlinge my met verpligte laat gaan. By ons vakansiebestemming het ek siek in die bed gelê. My vrou sê toe: ‘Jy hoef nie die Here te soek nie. Hy is nie weg nie. Hy het hierdie skapie se bene gebreek en dra jou op sy skouers. Hy is by jou.’

Die goeie Herder sal jou lei en jou dra: “In groen weivelde laat Hy my rus; na water waar daar rusplek is, lei Hy my. Hy gee my nuwe lewenskrag; Hy lei my op die regte paaie ter wille van sy Naam.” (Ps. 23:2-3). “Verlos tog u volk en seën u erfdeel; wees vir hulle ’n herder en dra hulle vir altyd!” (Ps. 28:9). “Soos ’n herder laat Hy sy kudde wei; in sy arms maak Hy lammers bymekaar; teen sy bors dra Hy hulle; die lammerooie lei Hy.” (Jes. 40:11).

Voel jou arbeid in die Here se diens tevergeefs? Moenie opgee nie, maar “wees standvastig en onwrikbaar, en wy julle ten volle aan die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie vergeefs is nie.” (1Kor. 15:58). “En wanneer die Groot Herder verskyn, sal julle die erekrans van heerlikheid ontvang, wat nooit sal verwelk nie.” (1Pet. 5:4).

Aanbid Jesus as jou Here en Herder: “...laat ons in aanbidding buig en kniel, laat ons op ons knieë staan voor die Here, ons Maker. Want Hy is ons God en ons is die volk wat Hy laat wei, die kleinvee van sy hand.” (Ps. 95:6-7).

Wie sy eie pad verkies, loop soos ’n slagskaap agter die dood aan: “Soos kleinvee is hulle vir die doderyk bestem, die dood is hulle herder” (Ps. 49:15). Dit is onnodig. Jesus die goeie Herder het gesterf om mense van die ewige dood te red en hulle die ewige lewe te gee: “Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê, en dit in oorvloed. Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.” (Joh. 10:10-11). Daarom kan die dood jou geen leed aandoen as jy in Jesus glo nie. Jy sal soos ’n tannie in ons gemeente wees. Twee weke voor haar dood toe sê sy: ‘Ek het dié week vir die eerste keer in my lewe Psalm 23 in die verledetyd gelees:

Die Here was my herder.

Niks het my ontbreek nie.

Hy het my in groen weivelde laat neerlê.

Na waters waar rus is het Hy my gelei... 

Wat ’n wonderlike idee! Kort voor hy gesterf het, het Jakob dieselfde gesê toe hy praat van “die God wat my as herder versorg het, my lewe lank, tot vandag toe” (Gen. 48:15). Wanneer jou einde aanbreek, sal die goeie Herder Ps. 23:4-6 en Op. 7:17 in jou lewe vervul:

Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan,

is ek nie bang vir gevaar nie,

want U is by my.

Dit is u staf en u stok

wat my gerusstel.

U dek vir my ’n tafel voor die oë

van my teenstanders.

U verfris my kop met olie;

my beker loop oor.

Net goedheid en troue liefde sal my volg

al die dae van my lewe,

en ek sal terugkeer

na die huis van die Here,

tot in lengte van dae.

***

Want die Lam wat in die middel

voor die troon staan,

sal hulle soos ’n herder versorg

en hulle na fonteine

met lewende water lei,

en God sal elke traan

uit hulle oë vee.

Is jy gereed om die goeie Herder te ontmoet? Begeer jy Hom meer as die geselligheid van vriende, geskenke en ’n heerlike ete op Kersdag?


1  Toegang verkry op 10 November 2023, https://biblehub.com/interlinear/matthew/2.htm וּמוֹצָאֹתָ֥יו מִקֶּ֖דֶם מִימֵ֥י עוֹלָֽם

Kategorieë