Coram Deo Cover Image

Coming soon...

12 July 2023

Kinders van die koninkryk

Lukas 18:15-17

Wil jy in God se koninkryk ingaan en die ewige lewe hê? Wil jy sonder twyfel op jou sterfbed weet jy gaan hemel toe (Luk. 23:43, 2Kor. 5:8, Fil. 1:23)? Dan moet jy soos ’n kind word (v.17). Dit beteken nie jy moet soos party Anabaptiste met speelgoed speel en babataal praat nie.1 Jesus bedoel iets heeltemal anders.

 

1. Bring jou kinders na Jesus toe (v.15-16a)

’n Klomp ouers het hulle kleintjies (Matt. 19:14) en selfs pasgebore babas (Gk. brephos) vir Jesus gebring dat Hy hulle kon aanraak (v.15). Die ouers het geweet Jesus raak siek mense aan (bv. 4:40, 5:13, 13:13). Hy kon die siekes maklik met ’n woord genees het (7:1-10), maar het geweet hulle kort aanraking, omdat die meeste mense hulle vermy. Net so wou die ouers hê Jesus moet hulle kinders aanraak. Sonder liefdevolle aanraking kan ’n baba ophou groei en sterf.2 Die ouers wou meer as Jesus se fisieke aanraking hê. Hulle wou hê Hy moet die kinders seën en vir hulle bid (v.15, Matt. 19:13, Mark. 10:16).

Baie ouers soek dit vir hulle kinders. ’n Ma in ons woonbuurt het my gevra om vir haar 11 jarige seun te bid, omdat hy nagmerries kry. Ek het haar versoek eerbiedig en vir haar kind gebid. Jesus het dit gedoen: Hy het die kinders aangeraak, hulle geseën en vir hulle gebid (Matt. 19:13, 15, Mark. 10:16).

Hoe moet ons hierdie verse in ons eie konteks toepas? Party mense dink die verse beteken ons moet babas doop. Maar die teks sê nie Jesus het hulle gedoop nie. Die res van die Bybel sê dit ook nie. Deursoek die Skrif en jy sal sien elke verwysing na die doop gaan oor die doop van gelowiges. Die toepassing van v.15-17 is nie dat jy jou babas moet doop nie, maar dat jy hulle moet seën en vir hulle moet bid. Hiervoor benodig jy nie water nie. Luk. 18:15-17 is ’n droë teks; daar is geen water in nie.

Ouers, die kerk en haar geestelike leiers moet die kinders seën en vir hulle bid. Ek het twee pa’s gehoor sê ons doen dit te min. Een van hulle sê as sy kinders slaap, sit hy langs hulle en bid die Here se seën oor hulle. Dit is ’n goeie idee. Bid daagliks vir jou kinders. Bid vir meer as hulle sport en skoolwerk, die regte vriende, hulle gesondheid, loopbaan keuses en die regte lewensmaat. Bid dat hulle die Here van kleins af as hulle persoonlike Here en Verlosser sal ken: “Maar jy, bly jy by dit wat jy geleer het en waarvan jy vas oortuig is, omdat jy weet by wie jy dit geleer het, en omdat jy van kleins af die Heilige Skrifte ken wat jou die wysheid kan gee tot verlossing deur die geloof in Christus Jesus.” (2Tim. 3:14-15). Bid dat jou kinders voor die Here sal lewe, dat hulle Hom sal gehoorsaam en nie teen Hom sal sondig nie (Gen. 17:18, 1Kron. 29:19, Job 1:5). Kies ’n Bybelvers wat elke kind se spesifieke nood aanspreek.3 Bid dit vir hulle.

Word een van jou kinders deur verkeerde vriende versoek? Bid Ps. 1:1-3: “Gelukkig is die mens wat nie die raad van goddeloses volg, nie op die pad van sondaars gaan staan en nie in die byeenkoms van spotters sit nie, maar wat vreugde vind in die wet van die Here en sy wet dag en nag mymerend prewel. So iemand sal wees soos ’n boom geplant langs watervore, wat sy vrugte op sy tyd gee en waarvan die blare nie verdor nie. Alles wat hy aanpak, gedy.”

Praat een van jou kinders te veel? Bid Spr. 15:28: “Die hart van ’n regverdige oorweeg hoe om te antwoord, maar die mond van goddeloses stort booshede uit.” Is een van jou kinders sku, skugter, teruggetrokke en skaam? Bid Spr. 29:25: “Die vrees vir mense word ’n valstrik; maar wie op die Here vertrou, word beskerm.”

Bid dat jy jou kinders effektief van die Here sal leer (Gen. 18:19). Bid dat hulle nie van die regte pad sal afwyk nie (Spr. 22:6). Bid dat jy en jou hele gesin die Here sal dien (Jos. 24:15, Hand. 16:31-34).

Die dissipels het dit vir ’n oomblik vergeet. Toe die ouers hulle kinders na Jesus toe bring, het die dissipels hulle bestraf (v.15). Hulle het gedink hulle beskerm hulle Meester teen die lastige kinders wat niks tot sy bediening of die samelewing bydra nie.

Oral in die wêreld wil mense die kinders van Jesus weghou: ‘Moet hulle nie van Jesus en die Bybel leer nie. Die skool of regering sal jou kinders se waardes bepaal. As jy wil kan jy jou kinders tuisskool met die voorwaarde jy leer hulle wat die regering sê. Wat sê die regering? Alles het deur evolusie en toeval ontstaan, en nie deur God nie. Jesus en die Bybel is nie die enigste waarheid nie. Jou kind kan self kies watter godsdiens reg is, watter geslag hy of sy wil wees, wanneer hy of sy seks soek, en of sy op 12 ’n aborsie wil hê.’

Hoekom wil enige regsinnige ouer sy kind aan ’n samelewing toevertrou wat nie mooi weet wat ’n vrou is nie; ’n samelewing wat onseker is of 2 + 2 = 4 is? Die keiser kan my belasting vat, maar my lewe, liggaam, siel en kinders behoort nie aan hom nie (20:25). Ons behoort aan God. Hy het ons gemaak en sy Seun gegee om vir ons te sterf.

Gee jou kinders vir Hom. Leer hulle van Hom. Moenie dat jou kinders se sport en skoolwerk hulle van die Here weerhou nie. Moet jou rol as ouer nie afskuif en vir die skool of regering oorgee nie (v.15). Leer jou kinders die regte pad. Skerp God se Woord by hulle in (Deut. 6:7). Leer hulle deur jou voorbeeld, instruksie en dissipline (Spr. 22:15, 23:26, 29:15, Ef. 6:4).

As jy nalaat om jou kinders te leer en te lei, sal die wêreld hulle indoktrineer. Die Here sal vir jou kwaad wees, omdat jy jou kinders van Hom weerhou (Mark. 10:14). Wat Hy vir die dissipels gesê het, sê Hy vir jou: “Laat die kindertjies na My toe kom, en moet hulle nie langer verhinder nie” (v.16).

Party ouers weerhou hulle kinders van Jesus, omdat hulle ’n slegte voorbeeld stel. Wetend of onwetend lei sulke ouers hulle kinders op die verkeerde pad. Stel liewer die regte voorbeeld en sê: “Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg.” (1Kor. 11:1).

Leer jou kinders die Woord. Moet hulle nie uit die kerk uit hou, omdat jy dink hulle verstaan niks nie. Toe Moses God se wet vir die volk voorlees, was die kleintjies daar (Deut. 31:12). Toe ek laasjaar by ’n predikante konferensie preek, toe sê ’n 5-jarige na die tyd vir haar ouers: ‘Die oom het gesê Jesus wil hê ons moet...’ Sy kon die boodskap inneem en verstaan wat ek sê. Bring jou kinders kerk toe. Hiervoor moet die gemeente jou help. Baie ma’s voel hulle kinders pla die gemeente. Dit is onnodig dat hulle so voel. Wees liewer geduldig en bied jou hulp aan. Moet haar nie vuil aankyk, omdat haar baba raas nie. Doen iets en help!

In ons gemeente geld dit vir die Kids Club. Die meeste van hulle was nog nooit in ’n kerk nie. Om vir ’n uur of meer in ’n erediens te sit, is ’n nuwe ervaring. Bring vir hulle kleurpotlode en inkleurboeke as hulle te woelig is. Ek sal sorg dat ek op Sondae tydens die erediens ’n Bybelstorie vertel. Volgens Ef. 6:1-3 en Kol. 3:20 het Paulus die kinders in ag geneem. So sal ek poog om die kinders te leer.

 

2. Word soos kinders (v.16b-17)

Jesus gebruik die kinders as ’n geestelike objekles: word soos ’n kind as jy die koninkryk wil erf (v.16). Wat bedoel Hy? Soos ’n kind uit sy ouers gebore word, moet ons uit God gebore word (Joh. 1:13, 3:3). Soos ’n kind sy ouers vir lewe en alles benodig, benodig ons God (Joh. 15:5, Hand. 17:25). Soos ’n kind sy ouers na-aap, moet ons God na-aap: “Volg dan die voorbeeld van God as geliefde kinders” (Ef. 5:1).

Kinders is onkundig van baie wat in die wêreld aangaan. In baie opsigte is hulle onskuldig wanneer dit by boosheid kom (Deut. 1:39). ’n Kind sal byvoorbeeld ’n aborsie plakaat teen ’n lamppaal sien en vra: ‘Wat is aborsie?’ Ten opsigte van sonde moet ons dieselfde wees: “ek wil hê dat julle wys sal wees ten opsigte van die goeie, en onskuldig ten opsigte van die kwaad... Broers, moenie kinders wees in julle denke nie; wees wel klein kindertjies wat die kwaad betref, maar volwassenes in julle denke.” (Rom. 16:19, 1Kor. 14:20).

’n Kind weet hy dra niks tot sy ouers by nie. Hy roem nie in homself nie, maar in sy ouers: ‘My pa is sterk!’ So moet ons in God roem en nie in onsself nie (v.13, 11-12, 1Kor. 1:31, Ef. 2:8-9). Ons dra immers niks by om in die hemel te kom nie:

Nothing in my hand I bring,
simply to Thy cross I cling;
naked, come to Thee for dress;
helpless, look to Thee for grace;
foul, I to the fountain fly;
wash me, Saviour, or I die.

Christenskap is nie iets wat jy vir die Here doen nie, maar iets wat Hy vir jou doen. Baie mense praat asof hulle God aanneem en hulle harte vir Jesus gee. Jy kan net sowel glo Bakkies Botha het sy eie ouers aangeneem. In Bybelse Christenskap red, wederbaar, regverdig en vergewe God die sondaar. Hy neem ons aan om sy kinders te wees.

Party mense dink dit is te maklik. Hulle wil iets tot hulle redding bydra. Toe ek iemand onlangs van die dief aan die kruis vertel, toe sê hy: ‘Dit is te maklik.’ Tog wil Jesus hê jy moet die koninkryk eenvoudig soos ’n kind aanvaar, anders mis jy dit (v.17). Trots keer dat mense dit so ontvang. Hulle dink die Bybel is onwetenskaplik en oudmodies. Baie van hulle het die Bybel nog nooit vir hulleself ondersoek nie, maar hulle aanvaar wat ander daarteen sê. Selfs al bestudeer hulle die Bybel is hulle regte probleem daarmee nie intellektueel nie, maar moreel. Hulle verwerp dit, want dit spreek hulle sonde aan. Omdat hulle so ‘slim’ is, steek God die waarheid vir hulle weg: “Op daardie oomblik het Jesus deur die Heilige Gees dit uitgejubel en gesê: ‘Ek loof U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg en dit aan kindertjies bekend gemaak het. Ja, Vader, want so het U dit goedgevind.” (10:21).

Ray Comfort verstaan dit. Op sy YouTube kanaal—Living Waters—is ’n video met die titel Crazy Bible. In die video voer hy ’n onderhoud met ’n ateïs genaamd Jaclyn Glenn. Op ’n kol sê sy: ‘Do you really want me to swallow all those miracles in the Bible?’ Sy reaksie is klassiek: ‘I don’t expect you to swallow any of that. All I’m asking of you is to swallow your pride.’ Hoogmoed is die sondebok wat baie mense uit die koninkryk hou. Slaan asseblief ag op Jesus se uitnodiging.

Het jy die koninkryk al soos ’n klein kindjie ontvang?

Staan jy nog buite die koninkryk?

Keer trots dat jy inkom?

Verneder jouself. Aanvaar Jesus en die evangelie soos ’n kind, anders is jy vir ewig verdoem: “Wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.” (v.17).


1  https://christianhistoryinstitute.org/magazine/article/anabaptist-beginnings

2  https://evergreenpsychotherapycenter.com/importance-touch/ en https://www.scientificamerican.com/article/infant-touch/

3  https://betweentwocultures.com/2023/07/03/a-practical-way-to-pray-for-your-kids/

Kategorieë