Coram Deo Cover Image

Coming soon...

16 January 2016

Dink reg oor jou sonde

Confessing sin

In die vierde eeu het Christene gesê daar is vergifnis vir sondes wat jy gedoen het voordat jy gedoop is, maar geen hulp vir sonde wat jy doen nadat jy gedoop word nie. Gevolglik het baie mense in vrees gelewe en hulle doop uitgestel tot oomblikke voordat hulle dood is.[1]

 

Vandag het ons die teenoorgestelde probleem: sommige glo dat die mens basies goed gebore is.  Siekte en medikasie het sonde en bekering vervang.  In hierdie mense se gedagtes sal ‘n God van liefde nooit iemand hel toe stuur nie.

 

Beide sienings is verkeerd. Hoe moet jy dan dink oor jou sonde?  1 Johannes 1:5-2:2 gee vir ons die balans.

 

Sonde en gemeenskap (1:5-7)

In 1998 het ek saam met ‘n Ou Apostel by die WIMPY gewerk. Sy het gesê dat die siel al is wat saakmaak.  ‘Wat jy met jou liggaam doen maak nie saak nie,’ het sy gesê.  Ek ken charismate wat sê die gelowiges se gees is perfek, en die sonde van die liggaam kan dit nie besmet nie.  In die eerste en tweede eeu het die Gnostici so geglo.  Hulle het gesê jy kan regverdig wees, al leef jy nie so nie.  Volgens hulle het jou leefstyl geen invloed op jou gemeenskap met God gehad nie.[2]  Johannes wys dat dit vals is (v.5-7).

 

Die apostels het nie hulle eie boodskap uitgedink nie, maar het dit by Jesus gehoor (1:5, Galasiërs 1:12). Die boodskap was:  God is lig en daar is geen duisternis in Hom nie (1:5).  Jesus is die lig wat in die wêreld ingekom het; die lig vir die nasies (Johannes 1:9, 8:12, Jesaja 49:6).  Hy is die Son van geregtigheid; die lig wat geskyn het voordat daar ‘n son was, en die lig wat vir ewig sal skyn in die Nuwe Jerusalem (Maleagi 4:2, Genesis 1:5, Openbaring 21:22-24).  Hy is die afskynsel van God se heerlikheid, die God wat woon in ontoeganklike lig (Hebreërs 1:3, 1 Timoteus 6:16).

 

Hoe is Hy die lig in wie daar geen duisternis is nie? Hy is die lig van openbaring eerder as die swart duisternis van geheimsinnigheid.  Hy is die lig van waarheid eerder as die duisternis van valsheid.  Hy is die lig van goedheid eerder as die duisternis van boosheid.  Hy is die lig van die lewe eerder as die donker vallei van die dood.  Hy is die lig van veiligheid eerder as die duisternis van gevaar.  Hy is die lig van blydskap eerder as die depressiewe duisternis van hartseer.  God is volmaak heilig.  Sy karakter is sonder vlek.  Hy is die lig wat nie soos die son opkom en ondergaan nie.  Hy is die ewige lig wat nie verander nie (Jakobus 1:17).

 

Omdat dit so is, het die vals leraars gelieg om te sê hulle kan in sonde leef en naby God wees (1:6).  Jy kan nie in die donker leef en sê jy is naby die lig nie!  So iemand lieg met sy lippe en sy lewe (1:6).  God het geen duisternis in Hom nie, en hou ook nie gemeenskap daarmee nie (1:5, 2 Korintiërs 6:14).  Iemand wat gemeenskap met God wil hê moet in die lig en heilig lewe soos Hy:  jy kan nie in die donker lewe en geheimsinnig wees nie (1:7, Johannes 3:21).  Jesus se bloed en dood reinig ons van die duisternis van sonde en sorg so dat ons in die lig kan bly (1:7).

 

Leef in die lig. Om dit reg te kry moet jy heel eerste jou donker lewe van sonde los.  Jy moet vir Jesus en sy evangelie van lig volg (Johannes 3:19-21, 8:12, 12:36, 46, 2 Korintiërs 4:6, Handelinge 26:18).  Leef ook naby Hom in die Skrif se lig (Psalm 119:105).  “Kom, huis van Jakob, en laat ons wandel in die lig van die HERE!” (Jesaja 2:5).

 

As jy in die lig wil lewe moet jy nie in geheime sonde leef en skynheilig wees nie. Jy kan nie een persoon wees op ‘n Sondag, en iemand anders by die werk en jou huis op ‘n Maandag nie.  Leef oop en in die lig.  ‘n Christen kan nie deel wees van geheime organisasies soos die Broederbond of die Vrymesselaars nie.  Sonde groei in die donker.  As jy deursigtig en in die lig lewe, sal sonde kwyn soos ‘n ‘vampire’ voor die sonlig.  Daarom help dit as jy jou sonde met ‘n broer deel en vra hy moet jou aanspreeklik hou.  Vir dieselfde rede help dit om kerktug toe te pas (Matteus 18:15-17).

 

Jy kan buitendien nie jou sonde wegsteek nie – dit sal altyd uitkom (Numeri 32:23, 1 Timoteus 5:24, Lukas 12:2-3). As jy in die donker lewe het jy geen gemeenskap met God nie (1:6).

 

Sonde en vergifnis (1:8-9)

‘n Man het eenkeer by my kombuistafel gesit en gesê: ‘Christene is klaar vergewe (Efesiërs 4:32) en hoef nie vergifnis te vra nie.’  Maar volgens 1 Johannes 1:9 en Matteus 6:12 moet Christene nogsteeds vergifnis vra vir hulle sonde.

 

Deur die kruis het God ons sondige rekord skoon gevee (Kolossense 2:14). Die oomblik wat ons in Jesus glo, reken die Vader Jesus se perfekte rekord aan ons toe.  Paulus noem dit regverdigmaking (Romeine 5:1).  As ‘n Christen sonde doen kom dit nie terug op sy rekord nie.  Die oorblyfsels van sonde is egter nog in jou hart.  Sodra jy in Jesus glo, reinig God jou hart.  Maar Hy reinig jou hart ook bietjie vir bietjie elke keer as jy jou bekeer en vergifnis vra (1 Johannes 1:9).  Die Bybel noem dit heiligmaking.  As jy voor jou bekering sondig, is God kwaad vir jou soos ‘n regter vir ‘n misdadiger.  As jy na jou bekering sondig, is God kwaad en bedroef soos ‘n pa oor sy rebelse kind.

 

Die vals leraars het gesê hulle het nie ‘n sondige natuur nie, en benodig nie Jesus se bloed nie (1:7-8). Maar hulle het hulleself bedrieg, en die waarheid van die evangelie was nie in hulle nie (1:8).  Daar is hoop vir iemand wat sy sondige natuur, asook sy spesifieke sondes erken en bely (1:9).  Opregte belydenis is ‘n kenmerk van ‘n ware gelowige (1:8-9).

 

Die woord ‘bely’ beteken letterlik om dieselfde ding as God te sê. As Hy sê dis sonde, probeer jy dit nie wegsteek of verskoon nie, maar jy stem saam.  As jy dít doen is God getrou en hou Hy sy belofte om jou te vergewe (1:9).  “Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.” (Jeremia 31:34).  “Wie is ‘n God soos U, wat die ongeregtigheid vergewe en by die oortreding van die oorblyfsel van sy erfdeel verbygaan?  Hy hou toorn nie vir ewig vas nie, maar het ‘n welbehae in goedertierenheid.  Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp.” (Miga 7:18-19).

 

God is ook regverdig om ons te vergewe. Hy het reeds ons sonde in die kruis gestraf, en sal ons nie weer vir dieselfde sonde straf nie (1:9, 2:1, Romeine 3:26, 8:1).

 

Belydenis is nie maar net ‘n formaliteit nie. Daar gebeur iets as jy jou sonde opreg bely:  bietjie vir bietjie reinig God jou hart van alle sonde (1:9).  Bely dan jou sonde.  Erken dit.  Sê dieselfde as wat God daaroor sê.  Moenie soos Adam en Eva die verantwoordelikheid van jouself afskuif nie.

 

  • Moenie sê jou dronkenskap is ‘n genetiese probleem nie.
  • Moenie sê jou kort humeur word veroorsaak deur jou Franse bloed of rooi hare nie.
  • Moenie sê jou onrein gedagtes is ‘n demoon van wellus nie.
  • Moenie sê jou homoseksualiteit is ‘n alternatiewe leefstyl, en dat God dit goedkeur nie.
  • Moenie sê jou diefstal is kleptomania of ‘n fout in jou brein nie.
  • Moenie sê jou irritasie is PMS nie.
  • Moenie sê jy is kortaf omdat jy met die verkeerde voet uit bed uitgeklim het nie.
  • Moenie sê jy is lelik met mense omdat jy moeg is nie.
  • Moenie sê jy mishandel jou kind omdat jy aan nageboorte depressie ly nie.
  • Moenie sê jy vrees mense omdat jy ‘n lae selfbeeld het nie.
  • Moenie sê jou seksuele immorele leefstyl is ‘n bloedlynvloek nie.
  • Moenie sê jou kind se ongehoorsaamheid is ADHD nie.

 

Neem verantwoordelikheid vir jou sonde. Bely dat jou sonde uit jou eie hart uit kom:  dit is nie jou omstandighede of ander mense se skuld nie (Markus 7:21-23).  As jy nie jou sonde bely nie, is jy hopeloos.  As jy dit bely is daar hoop.  “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.” (Spreuke 28:13).  Dawid sê:  “Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag... My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie.  Ek het gesê:  Ek wil aan die HERE my oortredinge bely; en U het die ongeregtigheid van my sonde vergewe.” (Psalm 32:3, 5).

 

Sonde en versoening (1:10-2:2)

In die 1700’s het John Wesley begin leer dat ‘n gelowige ‘n punt kan bereik waar hy nie meer sonde in sy natuur of dade het nie. Hy was egter inkonsekwent en het gesê dat onbewustelike oortreding nie sonde is nie.  Hy het self nie mooi geweet wat hy glo nie.  Soms het hy gesê dat ‘n gelowige reeds op aarde sondeloos kan wees.  Ander kere het hy gesê ons kan nie hierdie kant van die hemel sondeloos wees nie.[3]

 

Later het die Keswick beweging in Wesley se voetspore gevolg, en vandag glo die AEB soos hy. In die eerste eeu het party mense gesê hulle is sondeloos in hulle natuur en dade.  Johannes sê dis onsin (1:10, 8).  Reeds in die Ou Testament het God deur die profeet gesê:  “Kyk, Ek sal met jou na die gereg gaan, omdat jy sê:  Ek het nie gesondig nie.” (Jeremia 2:35).

 

God sê almal het sondig (Romeine 3:23). “want daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie.”(Prediker 7:20).  Die vals leraars het egter gesê hulle is die uitsondering op die reël.  Hulle het dus eintlik gesê God lieg (1:10).  So iemand het nie die Woord van die lewe in hom nie (1:10, 1).  Hy is nie een van die liewe kinders (2:1, 12, vgl. 1 Korintiërs 4:14-17) wat onder die bejaarde apostel tot bekering gekom het nie.

 

Johannes het die brief geskryf, sodat sy lesers nie moes sondig nie (2:1). Moet dan nie sê jy kan maar sondig, want Jesus sal jou vergewe nie (1:9).  Moet ook nie dink daar is geen hoop as jy gesondig het nie (2:1).  Jesus is die Advokaat [Gk. parakletos, Johannes 14:16] wat in ons plek staan en vir ons intree (Romeine 8:34, Hebreërs 7:25, 1 Timoteus 2:5).  Hy is nie ‘n korrupte Advokaat nie, maar ‘n Regverdige een (2:1).  Hy bewys sy kliënte skuldig en sê dan dat Hy die straf betaal het, en dat niemand hulle kan aankla nie (2:2, Romeine 8:33).  In die kruis het Jesus God se ewige toorn bedaar, sodat dit nie meer op ons rus nie (2:2).  Hy sterf en tree in vir Jode soos Johannes, maar ook vir mense uit alle nasies wat in Hom glo (2:1-2).  Hy is die Verlosser van die wêreld (Johannes 3:16, 36, 4:42, 11:51-52, Openbaring 5:9).

 

Moenie ligtelik omgaan met sonde en dink jy kan altyd net weer vergifnis vra nie. “Wat sal ons dan sê?  Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word?  Nee, stellig nie!  Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?” (Romeine 6:1-2).  As jy traak-my-nie-agtig lewe en in sonde volhard, wys dit dalk dat jy nie gered is nie (1:6).  Volgens Jesus sal jy die boom aan sy vrugte ken (Matteus 7:20).

 

Haat jy jou sonde en stry jy daarteen? Moenie te veel introspeksie doen sodat jy depressief raak nie.  Kyk weg van jouself af, en kyk na Jesus en sy kruis.  Skep moed en laat die wonde van sy liefde jou hart smelt, sodat jy jou sonde meer haat en Hom meer liefhet.  Sien sy liefde in preke en lofliede oor die kruis, die doop en die nagmaal, jou en ander se redding, gebed en belydenis van sonde.

 

Ja, onthou jou sondige verlede en dank God vir jou redding. Moet egter nie gedurig oor jou sondige verlede top, sodat jy in ‘n diep gat beland nie.  Wat het die verlede te doen met die hede?  Los jou sonde in die verlede en beweeg aan.  Sê saam met Dawid:  “Dink nie aan die sondes van my jonkheid en aan my oortredinge nie; dink aan my na u goedertierenheid, om u goedheid ontwil, o HERE!” (Psalm 25:7).  En saam met Paulus:  “Maar een ding:  ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.” (Filippense 3:14).

 

Dank God vir sy genade eerder as wat jy in ‘n hoek sit en jou wonde lek. Moenie dink jou sonde is te groot vir God om te vergewe nie.  Bely jou sonde en onthou dat God se genade groter is as jou sonde (Romeine 5:20).  Mense wat hulle sonde ligtelik opneem sal hel toe gaan.  Gelowiges wat te min op die kruis fokus sal met ‘n swaar gemoed hemel toe gaan.

 

Moet dan nie op jou sonde fokus nie, maar op Jesus. Toe die duiwel die klein seuntjie in die nag aan sy sonde herinner, het hy die Bybel by 1 Johannes 1:9 oopgemaak, dit onder sy bed ingedruk en gesê:  ‘Daar is dit, lees vir jouself!’  Spurgeon het vertel van sy reaksie toe Satan hom kort ná sy bekering versoek het.  ‘”You are no saint,” says the devil.  Well, if I am not, I am a sinner, and Jesus Christ came into the world to save sinners.’[4]  As Satan jou sonde voor jou gesig gooi, kan jy hom herinner aan nóg sonde waarvan hy vergeet het.  Herinner hom dan aan jou Advokaat, Jesus Christus die Regverdige wat al jou sonde vergewe.  Stort ‘n duisend trane van berou oor jou sonde, en ‘n triljoen trane van blydskap oor jou wonderlike Verlosser en sy vergifnis.

[1] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: vol.1, p.183

[2] John Stott, Tyndale New Testament Commentaries: Epistels of John, p.74

[3] Arnold Dallimore, George Whitefield: vol.1, pp.316-319

[4] Autobiography: vol.1, p.94

Kategorieë