Coram Deo Cover Image

Coming soon...

16 September 2023

Die Heilige Gees: Die Gees van sending

Johannes 20:21-23

David Brainerd (1718-47) was ’n sendeling na die Indiane van Noord-Amerika. Hy is op 29-jarige ouderdom in Jonathan Edwards se huis oorlede. So beïndruk was Edwards met Brainerd se heiligheid, dat hy sy joernale in ’n biografie omskep het. Die meeste van die groot name in wêreldsending is deur sy biografie beïnvloed.1 Mens hoef nie ver te lees om te sien hoekom nie: Brainerd was ’n heilige man van gebed en vol van die Heilige Gees.

Sonder God se Gees faal enige kerk in sy missie en het ons geen bestaansreg nie. Wat is ons missie en watter rol speel die Heilige Gees daarin?

 

1. God se missie (v.21)

Op die eerste aand van Jesus se opstanding, het Hy as volg aan die dissipels verskyn: “Dit was al laat die aand op daardie eerste dag van die week. Die deure waar die dissipels vergader het, was gesluit uit vrees vir die Jode. Jesus het toe gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: ‘Vrede vir julle!’ En nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en sy sy. Die dissipels was verheug toe hulle die Here sien. Jesus sê toe weer vir hulle: ‘Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.’ ” (v.19-21).

Lukas beskryf dieselfde gebeure as volg: “Terwyl hulle nog besig was om oor hierdie dinge te praat, staan Hy self tussen hulle en sê vir hulle: ‘Vrede vir julle!’ Verskrik en beangs, het hulle gedink dat hulle ’n gees sien. Maar Hy sê vir hulle: ‘Waarom is julle ontsteld, en waarom kom daar twyfel in julle harte op? Kyk na my hande en my voete, dit is Ek self! Vat aan my, en kyk—’n gees het nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.’ Nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en voete. Omdat hulle dit van vreugde steeds nie kon glo nie en verbaas was, sê Hy vir hulle: ‘Het julle iets te ete hier?’ En hulle het Hom ’n stuk geroosterde vis gegee. Hy het dit geneem en dit voor hulle geëet.” (Luk. 24:36-43).

‘Vrede vir julle!’ (v.21). Die Griekse woord is eirēnē. In Hebreeus of Aramees is dit shalom. Jesus bedoel meer as ’n gevoel van vrede. Hy verwys na ’n lewe van heelheid. Dit kom nie deur kalm omstandighede of yoga nie. Jesus sê dit na sy dood en opstanding (v.21). Daardeur het Hy vrede tussen God en mens bewerk (Jes. 53:5, Kol. 1:20). Deur die Heilige Gees gee Jesus ons sy vrede wat omstandighede nie kan steel nie (14:26-27, Gal. 5:22, Fil. 4:6-7). Deur dieselfde Gees verkondig ons sy boodskap van vrede aan die wêreld (Rom. 5:1, Jes. 52:7). Dit is wat v.21-23 beteken: “Jesus sê toe weer vir hulle: ‘Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.’ Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: ‘Ontvang die Heilige Gees! As julle mense se sondes vergewe, is dit hulle vergewe; as julle dit van hulle weerhou, bly dit van hulle weerhou.’ ”

Die Engelse woord ‘missions’ kom van die Latynse woord missionem en beteken ‘om uit te stuur’. Sending het sy oorsprong by God wat sy Seun aarde toe gestuur het om ons te red: “Soos die Vader My gestuur het...” (v.21). David Livingstone (1813-73) van Skotse afkoms het gesê: ‘God had only one Son, and He was a missionary and a physician.’2

Uit liefde vir sondaars het God sy Seun gestuur toe niemand Hom gesoek het nie (Rom. 3:10-12, 1Joh. 4:9-10). Wat ’n groot opoffering moes dit nie wees nie, veral in die lig van God se liefde vir sy Seun (17:24, Matt. 3:17). Dat God sy Seun sou verlaat en Hom ’n vloek vir ons laat word (Matt. 27:46, Gal. 3:13)! Dat Hy vir oomblik meer liefde aan ons bewys het as aan sy eie Seun! Die hart van sending is nie hel en verdoemenis nie, maar God se liefde vir sondaars: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word.” (3:16-17).

Hel en verdoemenis is ’n werklikheid vir dié wat God se liefde verag en hulle sonde bo Hom kies (5:40, Mark. 9:43-48). Maar selfs dan sê Hy: “‘Werp al julle oortredings van julle af weg, dit waarmee julle oortree het, en maak vir julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees. Waarom moet julle sterf, huis van Israel? Ja, Ek vind nie vreugde in die dood van een wat moet sterf nie,’ is die uitspraak van die Heer, die Here. ‘Bekeer julle en leef!’ ” (Eseg. 18:31-32). “Ons pleit by julle, om Christus ontwil: Laat julle met God versoen!” (2Kor. 5:20).

God het sy Seun as die groot Sendeling aarde toe gestuur om die grootste sondaars te red (v.21): “Dié uitspraak is betroubaar, en werd om ten volle aanvaar te word, dat Christus Jesus na die wêreld gekom het om sondaars te verlos, van wie ek die heel grootste is.” (1Tim. 1:15). Jesus het nie teen sy sin gekom nie, maar vrywillig om vir ons te sterf: “Om hierdie rede het die Vader My lief—omdat Ek my lewe aflê, sodat Ek dit weer kan opneem. Niemand neem dit van My weg nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het volmag om dit af te lê, en Ek het volmag om dit weer op te neem. Hierdie opdrag het Ek van my Vader ontvang.” (10:17-18).

Jesus se liefde vir die Vader en vir sondaars het Hom gedryf (14:31, 15:13, Gal. 2:20, Ef. 5:25). Dieselfde motivering dryf ons sendingwerk: “Die liefde van Christus dryf ons” (2Kor. 5:14). Het ons liefde vir God en die wêreld verflou? Hoor Jesus se oproep tot bekering: “Maar Ek hou dit teen jou dat jy jou eerste liefde versaak het. Onthou dan waarvandaan jy uitgesak het, en bekeer jou: Gaan doen weer wat jy vroeër gedoen het. Anders, as jy nie tot bekering kom nie, sal Ek na jou toe kom, en jou kandelaar van sy staanplek af verwyder.” (Op. 2:4-5).

Soos die Vader Jesus gestuur het, stuur Hy ons vir die groot sendingtaak. Aanvanklik het Hy 12 dissipels uitgestuur en daarna 72 (Mark. 1:17, 3:13-19, Luk. 10:1). Na die opstanding het Hy die missie drie keer herhaal (v.21-23, Matt. 28:19-20, Hand. 1:8).

Is ons gehoorsaam? Baie gemeentes is nie. Hulle bestee meer tyd, geld en energie aan jeugwerk, musiek, kursusse en programme as aan sending. Selfs die gemeentes wat vir sending gee, bestee meer geld aan voedingskemas, sanitasie, weeshuise, anti-aborsie klinieke, hulp aan oorlog-geteisterde gebiede en die AA as aan sending. Nie dat sosiale aksies op sigself verkeerd is nie, maar dit is nie die groot sendingopdrag nie. Sonder die evangelie gaan mense verlore al het hulle ’n stabiele ekonomie en politieke situasie, goeie opvoeding, sanitasie en mediese sorg.

Meer as enigiets anders benodig mense ’n herstelde verhouding met God deur die evangelie. Ons kan nie soos Jesus vir mense se sondes sterf nie, maar ons kan die verlossingsboodskap van sy kruisdood, opstanding, bekering en vergifnis met hulle deel (v.23, Rom. 1:16, 1Kor. 2:2)! Ons kan ons tyd, geld, gebede, gawes en lewe gee om verlorenes met die goeie nuus te bereik (v.21b, 2Joh. 8, Hand. 20:24).

 

2. God se krag (v.22)

Sonder die Gees help al ons beplanning en sendingseminare niks nie. Ek het ’n Walliese prediker hoor sê: ‘I do not believe in strategies. God has confounded [Afr. weerspreek] them again and again throughout church history.’ Waar God se Gees werk, vee Hy al ons strategieë van die tafel af. Vir die kerk se missie om suksesvol te wees, benodig ons die Heilige Gees (v.22). Ons moet bid dat Hy ons vul (Luk. 11:13, Hand. 1:14). Dit was die geheim agter Jesus se missie: Hy was vol van die Heilige Gees (Matt. 12:18, Luk. 3:21-22, 4:14-15, 18-19, Heb. 9:14).

Net so het die apostels die Heilige Gees nodig gehad om sukses te bereik. In v.22 het Jesus hulle sy Gees as ’n deposito gegee dat Hy hulle op Pinksterdag met krag uit die hoogte sou vul (Luk. 24:49, Hand. 1:4-5, 8, 2:4). Sy aksie herinner ons aan die skepping van Adam toe God asem in sy neus geblaas het om hom ’n lewende wese te maak (Gen. 2:7). Ps. 33:6 sê: “Deur die woord van die Here is die hemele gemaak en deur die asem (Heb. ruach beteken ook wind of Gees) van sy mond die hemel se hele leër.” Deur sy Gees op die dissipels te blaas, het Jesus in effek gesê:  

‘Ek gee julle my Gees om deur julle ’n nuwe mensdom en skepping tot stand te bring. “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan—kyk, hulle het nuut geword.” (2Kor. 5:17). My opdrag aan Adam en Eva was dat hulle vrugbaar moet wees, vermeerder, die aarde vul en dit onderwerp (Gen. 1:28). Net so moet julle deur die evangelie geestelik vrugbaar wees, vermeerder, die aarde vul en dit onderwerp (Matt. 28:19-20). Deur die evangelie kan julle geestelike kinders hê (Hand. 26:18, 1Kor. 4:15, 1Tim. 1:2, Filem. 10, 1Pet. 5:13, 3Joh. 4).’

Deur die Gees se getuienis in die apostels sou Jesus sy nuwe tempel of kerk bou (Sag. 4:6, Matt. 16:16, 18, Ef. 2:20, 22). Vanuit gemeentes wat dien, vas en bid stuur die Heilige Gees sy beste dienaars as sendelinge en evangeliste (Hand. 6:3, 5, 8:5-8, 12, 21:8, 13:1-4). Roep Hy jou vir hierdie taak? Hand. 13:1-4 en 1Timoteus 3-4 is die maatstaf: dien jy getrou in die plaaslike gemeente? Maak jy dissipels? Deel jy die evangelie met verlorenes? Is jy ’n man van gebed? Het jy die gawe van lering? Het jy ’n sterk Christelike karakter? Het jy die begeerte om ’n sendeling of evangelis te wees? Erken die gemeente en sy leiers jou roeping? Indien wel sal die Heilige Gees jou en die gemeente met die nodige gawes toerus om die taak te voltooi (Joh. 15:26-27, Rom. 15:18-19, Heb. 2:3-4).

Sendelinge na vervolgde lande maak Hy dapper om sy boodskap met vrymoedigheid te spreek, om vir sy Naam te ly, om vreesloos te getuig en om die duiwel se koninkryk te skud (Eseg. 2:2-3, Miga 3:8, Matt. 10:19-20, Hand. 6:10, 13:9-11). Hy gee sy sendelinge moed om aan te hou, red hulle uit vervolging of versterk hulle om vir die evangelie te sterf (Hand. 7:55, 59, 13:50-52, 20:22-23, 2Tim. 1:6-8, Fil. 1:19, 1Pet. 4:14).

Vir sy sendelinge reël die Gees evangelie-afsprake: “Toe sê die Gees vir Filippus: ‘Gaan nader en bly by daardie wa.’” (Hand. 8:29). “Terwyl Petrus nog nadink oor die visioen, sê die Gees vir hom: “Kyk, daar is drie manne wat na jou soek. Maak gereed, klim af en gaan sonder aarseling saam met hulle, want Ek het hulle gestuur.” (Hand. 10:19-20). “Hulle het deur Frigië en die landstreek van Galasië gereis, omdat hulle deur die Heilige Gees verhinder is om die woord in Asië te verkondig. Toe hulle naby Misië kom, het hulle probeer om na Bitinië te gaan, maar die Gees van Jesus het hulle nie toegelaat nie. Hulle het toe by Misië verbygereis en afgegaan na Troas. Daardie nag het Paulus ’n visioen gehad. ‘n Macedoniese man het daar gestaan en hom gesmeek met die woorde: ‘Kom oor na Macedonië en help ons!’ Nadat hy die visioen gesien het, het ons dadelik probeer om na Macedonië te gaan, omdat ons oortuig was dat God ons geroep het om aan hulle die evangelie te verkondig.” (Hand. 16:6-10).

Toe ek eenkeer by ’n Moslem gaan hare sny, toe dink ek: ‘Ek moet met hom die evangelie deel. Hoe sal ek begin?’ Terwyl ek dit dink, toe sê hy: ‘You are a good Christian, hey?’ Die Heilige Gees het die afspraak gereël! Die Moslem het my vertel dat ’n Christen uit die bloute vir hom gesê het: ‘Jesus loves you.’ Hy kon die man se woorde nie uit sy kop uit kry nie en het aanhoudend daaroor nagedink. Hy wou by my weet hoekom die man so iets sou sê. My antwoord was: ‘I don’t know why the man said that, but I know that it is true: Jesus does love you.’ Daarna het ek vir 40 minute die evangelie met hom gedeel.

Wie het die afspraak gereël? Die Heilige Gees. Wie sal die man se hart vir die waarheid open? Die Heilige Gees (Joh. 3:8, Hand. 11:21, 24, 16:14). Wie sal die evangelie deur ons versprei, totdat Christus se lewe en sy heerlikheid die hele aarde vervul? Die Heilige Gees (Jes. 11:9, Joh. 7:37-39). Jesus gee die evangelie-taak nie net vir sendelinge nie, maar deur sy Gees maak Hy ons almal profete om die evangelie te versprei (Hand. 2:17-18, 4:31, Op. 22:17).

 

3. God se vergifnis (v.23)

Deur die evangelie het Jesus aan ons die mag gegee om mense se sondes te vergewe of om vergifnis te weerhou (v.23, Matt. 16:19, 18:18). Ons is nie Katolieke priesters aan wie mense hulle sondes moet bely nie. Jesus bedoel liewer as mense die evangelie aanvaar, word hulle vergewe (v.23a): “So staan daar geskryf dat die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, en dat in sy Naam bekering tot die vergewing van sondes aan alle nasies verkondig moet word.” (Luk. 24:46-47). Wie Jesus en sy boodskap verwerp, word nie vergewe nie (v.23b). Soos Petrus en Paulus kan ons vir hulle sê:

“...jou hart is nie opreg voor God nie. Bekeer jou van hierdie boosheid van jou, en bid die Here dat die bedoeling van jou hart vergewe mag word, want ek sien jy is galbitter en in ongeregtigheid verstrik.” (Hand. 8:21-23). 

“Die Heilige Gees het tereg deur die profeet Jesaja aan julle voorvaders gesê: ‘Gaan na hierdie volk en sê: “Met die ore sal julle hoor, en glad nie verstaan nie, en met die oë sal julle sien, en glad nie insig kry nie. Want hierdie volk se hart is afgestomp—hulle kan beswaarlik met hulle ore hoor; hulle het hulle oë gesluit, sodat hulle nie met hulle oë sien en met hulle ore hoor en met hulle harte verstaan en terugdraai, en Ek hulle genees nie.” ‘Julle moet dan weet dat hierdie verlossing van God aan die heidene gestuur is, en hulle sal luister.’ ” (Hand. 28:25-28).

Verwerp jy die evangelie en vertrou op jou eie geregtigheid (Fil. 3:4-6)? Volhard jy in ’n lewe van sonde (1Kor. 6:9-10)? In die Naam van Jesus sê ek jy is nie vergewe nie (v.23b). Aanvaar jy die evangelie en ontvang Jesus as jou Here en Verlosser (Joh. 1:12)? Bely jy jy kan niks doen om jouself te red nie (Joh. 1:13)? Bekeer jy jou van jou sonde (Hand. 17:30)? Vat jy Jesus as jou geregtigheid (1Kor. 1:30)? Glo jy Hy het aan die kruis vir jou sondes gesterf, is begrawe en het op die derde dag uit die dood uit opgestaan (1Kor. 15:3-4)? In die Naam van Jesus sê ek jou sonde is vergewe (v.23a).

Toe ’n sendeling na die Mouk-stam in Papoea Nieu-Guinea dit sê, toe volg daar ’n herlewing. Vir drie of vier maande het hy hulle die Bybel geleer. Hy het by die skepping en die sondeval begin, en hulle dwarsdeur die Bybel gevat. Toe hy by die evangelie kom, was hulle verbyster. Een na die ander het mense opgestaan en gesê: ‘Ek is so sleg soos die mense van Sodom. Maar vandag vat ek Jesus as my Verlosser wat my sonde op Hom geneem het.’ Toe baie mense kans gekry het om te praat, toe sê die sendeling: ‘As julle Jesus werklik as julle Verlosser aanvaar, sê ek op grond van God se Woord dat Hy al julle sondes vergewe.’ Hierop het die mense in lofgesange uitgbreek.

Mag die Heilige Gees dit in ons midde doen, sodat ons sendelinge uitstuur wat die evangelie oor die aarde versprei.


1  John Thornbury (et. al.), Five Pioneer Missionaries (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1965), 88-9.

2  Peter Hammond, Victorious Christians Who Changed the World (Cape Town: The Reformation Society, 2011), 325.

Kategorieë