Coram Deo Cover Image

Coming soon...

9 September 2018

Word wakker Here!

Big green alarm clock on dark blue background

My tema klink byna soos lastering, behalwe dat dit in die Bybel voorkom (ek sal later vir jou wys). Ons wil dit nie hardop sê nie, maar soms voel dit vir ons of die Here slaap. Hoekom doen Hy nie iets aan die onreg in die land nie: kinders word ontvoer, die regering het planne om plase te onteien sonder vergoeding, misdaad neem toe, korrupsie is aan die orde van die dag? Dit lyk of die Here anderkant toe kyk vir die gay wette in die weste. En hoekom is die kerk so klein, swak, en lyk dit of ons geen impak het op die samelewing nie? Jes. 51 wys dat die Here ons nie vergeet het nie, en dat Hy sy planne sal uitvoer. Hy is wakker en slaap nie soos ons partykeer dink nie.

 

  1. Voorspoed (v.1-3)

‘n Ouer predikant het vertel hoe hy platgeslaan voel wanneer hy by Prosperity kerke verby ry. ‘Hoekom het hulle so baie mense en ons so min?’ vra hy. Die min mense in die kerk en baie in die wêreld pla my ook. Israel het dieselfde gevoel. Na die ballingskap was hulle uitgedun. Hulle het mismoedig gevoel. Net ‘n paar van hulle het regverdig gelewe en die Here gesoek (v.1). God het hulle nuwe perspektief gegee en vir hulle gesê om te luister (v.1, 4, 7, 17, 21). Hy het hulle daaraan herinner dat Hy hulle uit die steengroef van Abraham en Sara gekap het toe hulle, wat vrugbaarheid betref, so dood was soos ‘n klip (v.1-2). Maar die Here het een man in ‘n menigte verander (v.2, Gen. 12:1-3, 15:5, 22:13).

Hy sou die herstelde stede vir hierdie menigte gee (v.3). Hy sou die stede transformeer om soos die tuin van Eden te lyk (v.3, hfst. 35, Op. 22:1-2). Dit was vir hulle ‘n troos wat sou lei tot vreugde, danksegging en lofgesange (v.3, 40:1, 52:9). Onthou dit wanneer jy voel dat die kerk klein, in die minderheid, hulpeloos en swak is. Kry perspektief. Die kerk het gegroei van ‘n paar honderd in Hand. 2, na meer as ‘n half biljoen evangeliese Christene wêreldwyd. Daar is Christene in elke land op aarde. Deur die eeue was daar miljoene Christene, en in die hemel sal daar ‘n ontelbare menigte wees (Op. 7:9).

Daar is nog mense wat geregtigheid najaag, die Here soek en vind (v.1, 5, 6, 7, 8, 55:6, Deut. 4:29, Jer. 29:13, Dan. 9:3, Matt. 5:6, 6:33, 7:7-8, Fil. 3:9). Jy is nie die enigste een nie en sal eendag in ‘n herstelde Paradys woon waar alles net heilig, vreugdevol en vol lof is (v.3, Op. 21:27, 22:3, 15).

 

  1. Verlossing (v.4-11)

Hoe het wêreld 1000, 2000, 3000 en 4000 jaar gelede gelyk? Baie erger as nou. Daar was nie net partykeer oorlog nie, maar vir baie eeue het die stede mure om gehad en het hulle wagte daarop geplaas. Wat het gemaak dat dit nie meer so is nie? Hoekom is lande soos die V.S.A., Engeland, Duitsland, Switserland, Australië en Nieu-Seeland so ver voor die res?

Dit is a.g.v. die evangelie en die Bybel. God se wet en Woord is die lig wat uit die verlede tot in ons tyd en wêreldwyd skyn (v.4-5, 2:3, Ps. 119:105). God se arm, die Messias, het hierdie voorspoed gebring (v.5, 2:4, 53:1). Hy vervul en versadig ons hoop (v.5).

Wil jy die volgende geslag beïnvloed? Leer hulle die evangelie en die Bybel (v.5-6). Moenie dink dat dit ‘n klein taak is as jy jou kinders opvoed of in die Sondagskool en jeug betrokke is nie. Die verlossing wat jy deel strek wyer en verder as wat jy besef.

Die hemel sal soos rook verdwyn, die aarde soos ‘n verslete kleed, en die mens soos ‘n muggie of muskiet (v.6, 8, Ps. 102:26-28, Matt. 24:35, 2Pet. 3:10-12, Op. 20:11, 21:1). Maar die verlossing wat jy met jou kinders en ander mense deel duur vir ewig (v.6, 8). Moet dus nie jou taak ligtelik opneem of dit afskeep nie. Maak erns daarmee. Skep weer moed en tel die gebreekte stukke op as jy verflou het.

Dalk vrees jy dat die EFF en ander vervolgers God se verlossing sal keer, sodat jou kinders dit mis. Moenie bang wees nie: as die wet in hulle harte is, kan niemand dit wegvat nie (v.7, Ps. 37:31, Jer. 31:33, 2Kor. 3:2-3, Heb. 8:10). God se verlossing is vir ewig, maar wurms sal die kerk se vyande opeet (v.8, 6, 50:9).

Met die vyand rondom jou wonder jy dalk of die Here slaap (v.9, Ps. 44:24, Luk. 8:24). Jy wonder waar God se sterk arm, die Messias, is. Waar is God se arm wat die dood oorwin het, Israel uit Egipte verlos het, Egipte soos ‘n draak in stukke gekap het en Israel deur die Rooi See gelei het (v.9-10, 30:7, Eseg. 29:3)?

Hy slaap nie. Hy het ons van die sonde bevry en lei ons na die Nuwe Jerusalem waar ons nie meer hartseer sal wees en sug nie, maar lofliede vol blydskap sal sing (v.11, 3, 35:10, Rom. 8:18-27, Op. 7:17, 21:4). Hy is die God wat baie mense gered het in Handelinge, die Reformasie en die herlewings in die kerk se geskiedenis (v.9). En kan sy sterk arm nie weer die Heilige Gees in herlewing stuur en groot getalle red nie? Het die slegte samelewing Hom nou gekeer dat Hy nie meer in staat is om te red nie? Is Suid-Afrika, die wêreld en die kerk te sleg, sodat Hy nie weer ‘n herlewing kan stuur nie? Jy is kleingelowig as jy so dink.

 

  1. Vertroosting (v.12-16)

Wat dink jy van verjaarsdag boodskappe wat deur ‘n bulk sms stelsel gestuur word? Ek ignoreer dit. Dit is onpersoonlik en koud. Die Here se troos is nie so nie. Hy is betrokke en troos jou persoonlik (v.12, 3, Joh. 14:16, 2Kor. 1:3). Sy teenwoordigheid beteken jy hoef nie die vyand en jou vervolgers te vrees nie: hulle sal so gou sterf soos gras (v.12, 6-8, 40:6-8).

Wie vrees jy dat jy die Here vergeet wat ‘n 13-biljoen-ligjaar-hemelruim (of groter) uitgestrek het, wat die aarde op niks hang en die see se magtige golwe teen die rotse laat slaan (v.13, 15, 40:12, Job 26:7)? Wie is die vyand wat jou verdruk? Wie is hierdie vyand teen die ewige en almagtige God (v.13, 14:4)? Eendag sal jy jou vyand soek en nie vind nie (41:12). Moet daarom nie mense vrees nie (Spr. 29:25). Die Here sal jou red van die vyand wat jou verdruk (v.14). Jy sal nie in die kuil van die doderyk afsak nie; die Here sal jou versorg (v.14, Eks. 16, Matt. 6:11).

Glo jy nie in die Here nie, sodat jy vrees? Is die Here nie jou God en jy sy kind nie (v.15-16)? Is Hy nie die soewereine Here van die hemelse weermag nie (v.15)? Sal Hy jou dan vergeet? Is jy biddeloos en versaak jy die Bybel, asof die Here dood is? Jy kort die medisyne wat Martin Luther se vrou vir hom gegee het. Luther was depressief. Sy vrou en kinders het swart klere aangetrek. Luther het gesê: ‘Ag nee! Wie is dood?’ Kate (sy vrou) het geantwoord: ‘Het jy nie gehoor dat God dood is nie? My man, Martin Luther, sou nooit so depressief gewees het as hy die lewende God gehad het om op te vertrou nie.’ [Vry vertaal uit Charles Spurgeon, Commentary on Isaiah (Titus Books, 2014), note on Isaiah 41:19].

God het sy woorde in die Messias se mond gesit (v.16, 50:4). Hy wil deur die Woord en gebed met jou praat. God het die Messias in die skaduwee van sy hand gehou, en Hom op die regte tyd geopenbaar (v.16). Hy het sy nuwe skepping in ons kom maak en ons deel gemaak van sy volk in die Nuwe Jerusalem (v.16, 49:2, 2Kor. 5:17). Ons kan nie lewe soos mense wat voor die kruis bestaan het, soos mense wat nog nie die daglig van sy verlossing gesien het nie.

Ek moes hierdie week vir die Here jammer sê dat ek in my beproewing kla en Hom nie dank soos Ef. 5:20, 1Tess. 5:18 sê nie. Wat van jou? Vergeet jy wie die Here is en wat Hy gedoen het om jou te verlos? Hoekom kla jy dan oor alles wat verkeerd is en dank jy Hom nie meer vir sy Seun, jou redding, sy seën, en alles wat reg is nie?

 

  1. Vergifnis (v.17-23)

Toe my jongste dogter klein was het sy altyd aan die slaap geraak wanneer die res van die gesin dinge geniet. Israel het gesê dat die Messias slaap, maar eintlik het sý geslaap terwyl die Here groot dinge doen (v.17, 9). Nou moes hulle wakker word, opstaan, en terugkeer na die Messias en Nuwe Jerusalem toe.

Die straf was verby; hulle het die beker van God se toorn leeg gedrink (v.17, Ps. 75:8, Jer. 25:15). Toe God Jerusalem in sy toorn straf, is die stad verwoes en het mense dood in die strate gelê soos ‘n bok in ‘n vangnet (v.18-20, Klaagl. 2:11-12, 19, 21). Daar was niemand oor om die volk te lei en te troos nie (v.18-19). Hulle het onder God se toorn gesteier soos iemand wat dronk is van wyn (v.21). Maar die Here het hulle gehelp, vergewe en vir hulle opgestaan (v.22). Hulle sou nie meer uit die beker van sy toorn drink nie (v.22, 7). Babilon sou nou daaruit drink (v.23, Jer. 25:17, 26, 28). Hulle het op Israel getrap soos wat ‘n mens op die grond en strate trap, maar nou sou die Here hulle straf (v.23).

In die Nuwe Testament het die Messias die bitter beker van God se toorn gedrink. Ons moes hierdie beker drink, maar Hy het dit gedoen sodat ons die beker van sy verlossing kan geniet (Ps. 116:13, Mark. 14:36, Joh. 18:11, Op. 14:10-11). Prys Hom daarvoor en onthou dit wanneer jy die nagmaal gebruik (Mark. 14:23-24).

Dalk verkies jy die kelkie omdat jy siek is, omdat een beker wat die rondte doen te lank vat, of vir higiëniese redes. Die beker herinner jou egter aan die beker van God se skrikwekkende toorn en sy lieflike verlossing. Drink uit die beker as jy kan, of sien dit ten minste op die tafel. Verbly jou in die Here wat die beker van verlossing en seën in jou lewe laat oorloop (Ps. 23:5).

Die feit dat jy in God se liefde en verlossing rus, beteken nie Hy slaap nie. Hy is wakkerder as ‘n uil in die nag, of ‘n man wat sopas tien double espresso’s gedrink het. Hy waak altyd oor jou: 24 uur ‘n dag, 7 dae ‘n week, 365 dae per jaar, vir altyd en ewig. “...jou Bewaarder kan nie sluimer nie. Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie.” (Ps. 121:3-4).

Kategorieë