Open/Close Menu Ken Christus, Maak Christus Bekend

Lukas 4:31-44

Party predikers maak die fout om te dink hulle kan alles doen wat Jesus gedoen het. Om hulle punt te bewys, verwys hulle na Joh. 14:12 wat sê dat dié wat in Jesus glo dieselfde en selfs groter werke as Hy sal doen. Maar waar het iemand al ooit ’n storm stil gemaak, of 5000 gesinne uit ’n seuntjie se kosblik gevoer? En wie het al meer wonderwerke as Jesus gedoen (Joh. 21:25)?

Die mense wat dink dat hulle dieselfde as Jesus kan doen, lees nie Joh. 14:12 klaar nie. Volgens Jesus sou die apostels groter werke as Hy doen, omdat Hy na die Vader toe gaan. Hier het Hy van die Gees gepraat wat Hy sou uitstort, sodra Hy na die Vader toe teruggekeer het (Joh. 14:16). Die Gees sou in en deur die apostels werk om die groter werke te verrig. In die konteks sou dit in antwoord op hulle gebede plaasvind (Joh. 14:13-14). Dit het inderdaad so gebeur. Ons lees in Hand. 1:14 dat die gelowiges in gebed volhard het. In Hand. 1:15 was daar 120 dissipels in Jerusalem toe Jesus opgevaar het hemel toe. Maar toe die Gees op Pinksterdag uitgestort is, het daar op een dag 3000 mense tot bekering gekom onder Petrus se prediking (Hand. 2:4, 41). Hier sien ons dan die groter werke. Toe Jesus op aarde was, het Hy nie soveel bekerings gehad nie. Maar toe Petrus op Pinksterdag preek, het die massas deur die werking van die Heilige Gees en op grond van Jesus se kruisdood en opstanding tot bekering gekom.

Ek sê hierdie dinge, omdat baie Christene my tema vir hulleself wil toe-eien. Soos hulle dit sien, is húlle woorde vol lewe en krag, maar volgens die Bybel het God alleen die vermoë om lewe te spreek (Gen. 1:3, 9, 11, 14, 30, 24, 26, Ps. 33:6, Rom. 4:17, Heb. 11:3). Luk. 4 gee vir ons ’n illustrasie hiervan.

 

1. Jesus se lering (v.31-32, 42-44)

Toe ek John MacArthur die eerste keer hoor preek het, toe dink ek: ‘Hierdie man preek met gesag.’ Ek het dieselfde gedink toe ek na Martyn Lloyd-Jones begin luister het. Die rede hoekom hierdie twee manne met soveel gesag preek, is omdat hulle die Bybel woord vir woord en vers vir vers uitlê. Hulle preek nie hulle eie idees nie, maar hulle verkondig die Woord van God. In ’n sin preek hulle soos Jesus, omdat ook Hy die Woord gepreek het (Mark. 2:2). Hy het dit nie droog en vervelig gedoen soos die Skrifgeleerdes wat hulle voorvaders se tradies met lang aanhalings uit Rabbi so-en-so gepreek het nie (Mark. 1:22, Matt. 15:2-3, 6, Gal. 1:14, Kol. 2:8). Hy het eerder die Ou Testament (v.25-27), asook die nuwe openbaring van die Nuwe Testament verkondig (v.31-32). Sy gesag het gelê in Homself wat die Woord ís (Joh. 1:1). Hy het nie eers soos die ware profete gesê: ‘So sê die Here,’ nie, maar: ‘Voorwaar, Ek sê vir julle…’ (v.24). Sodoende het Hy duidelik gemaak dat Hy die profete se Here is.

              Sy woorde het met gesag gekom en daarom het die mense hulle oor sy lering verwonder (v.32, 15, 22, Matt. 7:28-29). Is dit enige wonder dat hulle Hom daar wou hou—beide as gevolg van sy lering én sy wonderwerke (v.42). Petrus was veral opgewonde dat die skare na Jesus gesoek het (Mark. 1:36-37). Hy was bly dat Jesus beroemd geword het. Jesus het egter nie mense se roem gesoek nie, maar wou die taak volbring wat sy Vader Hom gegee het. Dus het Hy nie aan die versoeking toegegee om die persoonlike Messias van ’n klein groepie mense te wees nie. Hy het geweet dat die Vader Hom uit die hemel gestuur het om vir almal te preek. Daarom het Hy deur al die dorpe gegaan om te sê dat die Koninkryk gekom het vir almal wat Hom as hulle Koning sou erken (v.43-44, 1:32-33, 12:32). Hulle moes weergebore word en streef om in die Koninkryk in te gaan (16:16, Joh. 3:3, 5). Dan sou Jesus sy Koninkryk in hulle harte vestig en as Koning oor hulle regeer (17:20-21, Kol. 1:13-14). Later sou Hy hulle die volheid van sy Koninkryk by die wederkoms gee (13:28-29, Matt. 25:34).

             Dit was deur sy prediking wat Jesus die Koninkryk aan mense bekend gemaak het (v.43-44). Gevolglik is die prediking van die evangelie nie vir ons ’n rantsaak nie: dit is sentraal tot ons gemeente en tot die Christelike geloof (1Kor. 1:23, 2:2). Ons durf dit nie met musiek, drama, vermaaklikheid, jeugdienste, onderhoude, motiverende toesprake, apologetika, debatte, besprekings, of enigiets anders vervang nie. As ambassadeurs van die Koning stel ons nie belang om te weet hoe mense oor die evangelie voel, of wat hulle opinie daaroor is nie. Ons staan eenvoudig op om vir hulle te sê wat die Koning sê. Indien hulle hulle bekeer en in Hom glo, sal Hy hulle vergewe. Maar indien nie, sal Hy hulle verpletter (Ps. 2:9-12). Besluit dus wat jy wil doen, want as jy jou voorneem om Jesus te volg, dan eis Hy alles van jou. Jou lewe nie is meer jou eie nie, maar dit kom onder die heerskappy van die Koning. Is jy bereid om Hom met alles in jou te dien en na te volg?

             Laat ons as gemeente hiervoor bid en self ook die evangelie met mense deel (11:2, Matt. 28:19, Hand. 1:8, Ef. 4:11). Laat dít die manier wees waarop ons lewe spreek (Hand. 5:20) eerder as wat ons onsself ophou met snert dat jy kamtig lewe kan spreek oor jou geldsake, huwelik, kinders, gesondheid, besittings, of jou stukkende wasmasjien. Om so te praat het niks te doen met woorde vol lewe en krag nie, maar het sy oorsprong by New Thought Metaphysics wat ’n vorm van New Age is.1

             Satan skrik nie as jy goed oor hom uitspreek nie. Hy sidder egter as die opgestane Christus deur sy Gees in mense se harte werk terwyl hulle die Woord hoor. Hy weet dat dit nie net die prediker se woorde is nie, maar God s’n (1Tess. 2:13). Gevolglik sal hy alles in sy vermoë doen om te keer dat jy die Woord hoor. Hy sal jou laat dagdroom, slaap, en met ander dinge trek eerder as kerk. Hy sal dwaling oor jou pad stuur deur DVD’s, CD’s, die radio, TV, boeke, kerke, sosiale media, en die verskillende kultusse. Hy wíl nie hê dat mense die waarheid moet glo om gered te word nie (2Kor. 4:4). Bly daarom weg van enige vorm van dwaling. Moenie daarmee speel nie. Sien rooi ligte as iemand homself ’n apostel, of ’n profeet noem; as hy blingy klere dra en in weelde leef; as hy homself adverteer en daar daar oral op sy webblad foto’s van hom is; as hy baie oor geld praat; as al sy preke gaan oor hoe jy in hierdie lewe suksesvol kan wees. Sy preke is met ander woorde mensgesentreerd en help jou nie om God, die evangelie, en die Bybel beter te verstaan nie. Hy gee voor dat sy woorde vol lewe en krag is, maar eintlik voed dit mense se gierigheid.

             As jy regtig woorde van lewe en krag wil hoor, luister na mense wat God se Woord uitlê: Martyn Lloyd-Jones, John MacArthur, John Piper, R.C. Sproul, Steve Lawson, Martin Holdt,2 en soortgelyke predikers. Suiwer lering op sy eie is egter nie genoeg nie, want sonder die Heilige Gees verander dit niemand nie (2Kor. 3:14-18). Om hierdie rede het Jesus Hom gereeld na verlate plekke toe teruggetrek om te bid (v.42, 5:16, 6:12, 9:18, 29, 11:1, 22:39, 41, 44, Mark. 1:35). Duidelik is gebed dan nie ’n bysaak wat ons kan uitlos nie. Soos dit nodig was in Jesus se bediening, is dit nodig in ons s’n. Hoe sal ongelowiges gered word en gelowiges groei as ons die Woord in eie krag preek? As die Gees egter werk, sal die volgende gebeur as ons Woord preek:

  • Mense sal insig, wysheid, rigting en leiding hê (Ps. 119:105, 130).
  • Hulle sal vrug dra, die Here prys en ’n transformasie ondergaan (Jes. 55:10-13).
  • God sal hulle harde harte breek en die onsuiwerhede uit hulle lewens verteer (Jer. 23:29).
  • Hulle sal toeneem in heiligmaking (Joh. 17:17).
  • Hulle sal tot geloof kom in Jesus Christus (Rom. 10:17).
  • Hulle sal geestelik rein wees (Ef. 5:26).
  • Hulle sal die duiwel se versoekings oorwin (Ef. 6:17).
  • Hulle sal reg lewe en toegerus wees vir elke goeie werk (2Tim. 3:16-17).
  • Hulle sal die verkeerde motiewe van hulle harte raaksien (Heb. 4:12, Jak. 1:25).
  • Hulle sal nuwe lewe ontvang (1Pet. 1:23).
  • Hulle sal geestelik groei (1Pet. 2:2).

Laat ons aanhoudend vir die prediking, evangelisasie, sending, en herlewing bid: as ’n gemeente en op ons eie. Jesus het nie teruggesit nadat Hy die Gees ontvang het nie (3:21-22, 4:1, 14, 18), maar Hy het gereeld vir nuwe krag gebid (v.42, 5:16). Net so kan ons nie op 2019 en 2020 se geestelike seën in die gemeente staatmaak nie, maar ons moet die Here gereeld vir nuwe krag en genade vertrou; vir ’n vars uitstorting van sy Gees in ons gemeente en ons lewens (Klaagl. 3:22-23, Luk. 11:13, Hand. 4:31, Ef. 1:17, 3:16-19, 5:18).

 

2. Jesus se werke (v.33-41)

Laasweek het een of ander prediker op Radio Kansel mense aangeraai om lewe te spreek, sodat hulle materiële rykdom vir hulleself kon toe-eien. Maar hoe kan mense nie sien dat ons nie Jesus in Joh. 1:1-3 met onsself kan vervang nie, en dat Hý alleen die Woord is wat lewe spreek: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie.”?3

         Jesus se woorde is meer as net ’n dooie preek—wat Hy sê, gebeur. Daarom het sy woorde in v.33-41 gemaak dat die demone vlug en dat die siekes gesond word. Hier is hoe dit gebeur het. Toe Hy in die Joodse sinagoge gepreek het, was daar ’n man met die onrein gees van ’n demoon (v.33). Hy het seker gekom om Jesus se lering te ontwrig, maar hy het aan die kortste ent getrek, want terwyl Jesus gepraat het, het die man vol vrees met ’n harde stem uitgeroep (v.33-34, Jak. 2:19). Die demoon het geweet wie Jesus was, omdat hy Hom in die hemel geken het voor hy en die ander demone tot ’n val gekom het (v.34). Hy het geweet dat Jesus die Heilige, of unieke Seun van God en die Messias is (v.34, 41, Ps. 16:10, Luk. 1:35, Joh. 3:16, Heb. 7:26, Op. 3:7). Hy was bang dat Jesus hom en die ander demone onmiddellik in die hel sou straf (v.34, Matt. 8:29).

              Is jy so: jy weet wie Jesus is en vrees dat Hy jou sal straf? Om dit te doen, is nie genoeg vir redding nie, omdat die demone dieselfde doen. Om gered te word, moet jy jou op Christus se genade verlaat. Bid dat Hy jou sal red, glo in Hom as jou Verlosser, en wy jou hele lewe aan Hom toe. Erken Hom as die Een wat gesag het oor alles: ook oor demone. In v.35 sien ons hoe Jesus die demoon met ’n woord bestraf het, hom stilgemaak het en uit die man uitgedryf het. Om die man seer te maak, het die demoon hom neergegooi en gemaak dat hy stuiptrekkings kry (v.35, Mark. 1:26). Hy het egter nie daarin geslaag om die man te beskadig nie (v.35). Dit wys dat die charismate se Slain in the Spirit van die duiwel af kom en nie van God af nie, omdat baie van dié wat by sulke byeenkomste omval, beserings opdoen.

              Waar dit regtig Jesus is wat werk, is mense nie net verbaas oor wat Hy doen nie, maar oor Hóm (v.36). Sulke mense maak nie asof hulle, of ’n profeet krag het om lewe te spreek nie, maar hulle verwonder hulle oor die krag van Jesus se Woord en oor hoe Hy nie met die duiwel onderhandel nie, maar hom beveel (v.36, Mark. 1:27).

              Waar God dan só deur ’n leraar en ’n gemeente se gebede en prediking werk, sal die nuus oor Jesus vinnig versprei (v.37, Matt. 4:24, Mark. 1:28). Mense sal bewus wees van iets meer as net die prediker. Hulle sal weet dat God ’n groter realiteit is as alles wat jy met jou sintuie kan ervaar. Hulle sal verbaas wees dat God se Woord en sy Gees die geheime van hulle harte openbaar. Hulle sal op hulle gesigte val en God aanbid met die woorde: ‘Waarlik, God is in hierdie plek!’ (sien 1Kor. 14:25).

              Hulle sal ook weet dat Hy persoonlik in hulle belangstel en nie net in die groep nie. Hy wil hulle in hulle huise ontmoet (v.38). Daarom het Jesus ook, toe Hy die sinagoge verlaat, saam met Johannes en Jakobus na Petrus en Andreas se huis toe gegaan (v.38, Mark. 1:29). Petrus se skoonma (1Kor. 9:5) het met ’n hoë koors in die bed gelê (v.38). Hoë koors is iets waarvan jy stuiptrekkings en selfs breinskade kan kry, en in uiterste gevalle kan sterf (v.38). Onmiddellik het die dissipels Jesus oor haar raadpleeg (v.38, Mark. 1:30). Dit is asof hulle namens haar ingetree het, omdat sy te siek was om self te vra (v.38).

              Net so kan en moet ons mekaar in ons krisisse aan die Here opdra. Ons moet vir mekaar bid soos ons gemeente ook doen (Ef. 6:18). Bid met die wete dat die Here ons sal hoor soos Hy in v.39 oor Petrus se skoonma gaan staan het en die koors bestraf het (v.39). Die bestraffing wys dat haar koors waarskynlik deur ’n demoon veroorsaak is (v.35, 41, 13:11, Job 2:7).

              Om te wys dat die genesing volkome was, het sy dadelik opgestaan en hulle bedien (v.39). Toe die Sabbat teen sononder verby was, toe bring die hele dorp hulle siekes en demoon-besetenes vir genesing (v.40-41, Mark. 1:33). Jesus het elkeen van hulle die hande opgelê en hulle genees (v.40). Hy het ook mense se demone met ’n woord uitgedryf (v.41, Matt. 8:16). Hy het hulle bestraf en stilgemaak toe hulle probeer het om Hom bekend te maak (v.41). Jesus wou nie hê die mense moes dink dat die demone vir Hom werk, of dat Hy saam met hulle werk nie (sien Mark. 3:22).

         Wat is die lesse wat ons uit hierdie verse leer?

[a] Die feit dat demone soms siektes veroorsaak, beteken nie hulle is agter elke siekte nie. Matt. 4:24, Mark. 1:34, Luk. 4:40-41 onderskei tog tussen siekte en demoon-besetenheid. Volgens die Bybel is dit partykeer die Here wat mense siek maak (sien Eks. 4:11, 9:8-11, 12:29, 15:26, Num. 12:10, 16:45, 49, 25:3, 9, Deut. 28:59-61, 32:39, 1Sam. 5:6, 9, 11-12, 2Sam. 12:15, 24:15, 1Kor. 11:30, Op. 16:1-2). Hy laat ook toe dat gelowiges ernstig siek word en in sommige gevalle sterf (2Kon. 13:14, 20, 2Kor. 12:7-8, Fil. 2:25-30, 1Tim. 5:23, 2Tim. 4:20). Waar dít egter die geval is, het Hy ’n groter plan soos om sy Naam te verheerlik, die sieke meer soos Jesus te maak, om vir hom ekstra genade te gee, of om sy karakter te vorm (Joh. 9:1-3, 11:4, Rom. 8:28-29, 38-39, 2Kor. 12:9, Jak. 1:2-4).

[b] God kan maklik siek mense genees. Nog nooit was daar ’n geval wat Jesus nié kon oplos nie. As Hy wil, kan Hy jóú siekte en enige ander krisis oplos.

‘Maar hoekom doen Hy dit nie,’ wil iemand wees—‘veral as ek Hom al so lankal vra en opreg glo dat daar deur sy wonde genesing gekom het (Matt. 8:17) en dat Hy al my siektes genees (Ps. 103:3)? Straf die Here my nie miskien vir iets nie?’

In reaksie hierop wil ek sê dat Ps. 103:3 nié leer dat die Here elke gelowige se siekte genees nie. Dawid verwys hier na homself en sê dat hy dankbaar is dat die Here al sý siekte genees het. Maar eintlik maak dit nie saak nie, want as jy ’n gelowige is, sal selfs die ergste siekte jou na Jesus toe lei, sodat jy vir ewig en sonder pyn by Hom kan wees (Fil. 1:23, Luk. 16:20, 22, 25, Joh. 11:25-26).

Wat Jesus se kruisdood en siekte betref: net soos Hy nie dadelik al jou sonde wegvat nie en jy nog sonde doen, vat Hy nie dadelik al jou siekte weg nie. Eers as jy in die hemel kom en daarna op die nuwe aarde woon, sal jy nie siekte, sonde, of dood ken nie (Jes. 33:24, 1Kor. 15:42-44, Heb. 12:23, 1Joh. 3:2, Op. 21:4, 22:2). Dit is wat Matt. 8:17 bedoel wanneer dit sê dat daar deur sy wonde vir ons genesing gekom het.

[c] Jesus het nie ’n woord gespreek om almal te genees nie, maar het by elkeen persoonlik gestop en hulle die hande opgelê (v.40). As Hy wou, kon Hy een woord gespreek het om almal te genees (Matt. 8:5-8, 13). Maar Hy het nie. Hy het gekies om die mense aan te raak, sodat hulle kon weet dat Hy in hulle belangstel en dat Hy vir hulle omgee.

Vandag bedien Jesus ons deur sy Woord, deur gelowiges wat mekaar dien en vir mekaar bid, en deur die geestelike leiers wat hulle hande op siek mense lê en vir hulle bid (1Kor. 12, 2Kor. 1:11, 1Tess. 5:11, Jak. 5:14). In al hierdie dinge is Jesus persoonlik teenwoordig en betrokke deur sy Gees. Dit is vir Hom soos niks nie om jou met ’n enkele woord uit die diepste donker te help, of om jou deur die grootste krisis van jou lewe te dra. Dit sal wees soos toe die Here Martyn Lloyd-Jones in 1949 gehelp het. Lloyd-Jones het deur ’n diep depressie gegaan en die duiwel het hom intens aangeval. Dit het vir maande aangehou. Niks het hom beter laat voel nie, totdat hy een oggend 06:00 wakker geword het en ’n bose teenwoordigheid in die kamer gevoel het. Hy was doodbenoud en terwyl hy besig was om aan te trek, toe sien hy ’n enkele woordjie in ’n preek van A.W. Pink wat op die bed gelê het: ‘glory.’ Iain Murray skryf:

‘…instantly, “like a blaze of light”, [Lloyd-Jones] felt the very glory of God surround him. Every doubt and fear was silenced. The love of God was “shed abroad” in his heart. The nearness of heaven and his own title to it became overwhelming certainties and, at once, he was brought into a state of ecstasy and joy which remained with him for several days.’4

Ek sien uit na die dag wat ons nie net Jesus se woorde van lewe en krag hóór nie, maar dat ons Hóm sien wat dit gespreek het.


1  Sien die volgende skakel vir ’n meer breedvoerige bespreking oor ‘lewe spreek’: https://baptistekerkkemptonpark.com/2017/03/22/het-ons-die-mag-om-lewe-en-dood-te-spreek/

2  Besoek nunide.org.za vir Martin Holdt se preke in Engels en Afrikaans.

3  Aanhalings uit die 2020 Vertaling van die Bybel.

4  Iain Murray, D. Martyn Lloyd-Jones: The Fight of Faith (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1990), 209