Coram Deo Cover Image

Coming soon...

24 November 2013

Wie is Jesus en hoe kan Hy jou help?

Lion reflection in sword

Toe Israel en Sirië Jerusalem wou aanval, het hulle koning (Agas) vir Assirië gevra om te help.  Assirië het gehelp, maar sou later teen Jerusalem draai.  Dit was 'n tyd van benoudheid en donker in Jerusalem (Jesaja 8:22).  Daar sou egter in die toekoms 'n Messias kom om hulle te verlos, om lig en vrede te bring; 'n Verlosser om die vyand te verslaan en met reg te regeer (Jesaja 8:23-9:6).  Die voegwoorde ‘want’ aan die begin van v.3, 4 en 5 wys vir ons hoekom God se kinders bly was.  Hulle was veral bly omdat die Messias oppad was (v.5).  Wie is hierdie Messias?  Jesaja 9:5 sê vir ons:

 

“Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee;

en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem:

Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors”

 

Seun van die Mens

'n Mede-proponent was jaloers op Joel Beeke:  ‘Hoekom is hý opgeneem as leraar en nie ék nie?’  Beeke is gekritiseer.  Een nag het hy oor die ander man se jaloesie gedink en vir die Here gesê:  ‘Here, U verstaan nie wat ek deurmaak nie.  Dit het nog nooit met U gebeur dat iemand op U jaloers was nie’.  Soos 'n blits het Markus 15:10 in sy gedagtes ingekom:  “Want hy het geweet dat die owerpriesters Hom uit nydigheid oorgelewer het.”

 

Jesaja sê die Messias is gebore.  Dit wys vir ons dat Hy volkome mens is.  In 7:14 sê die profeet:  “Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en hom Immánuel noem.”  Paulus sê:  “Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet” (Galasiërs 4:4).  Hierdie Kind heers nie in onreg soos die kinders van 3:4 nie (cf. 9:6).  Omdat Hy mens is verstaan Hy die stryd wat jy moet deurmaak.  Die Nuwe Testament sê:  “Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word.” (Hebreërs 2:18).  “Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.” (Hebreërs 4:15).  As Hy dan jou probleme verstaan, waarom stort jy nie jou hart in gebed voor Hom uit nie?  Hoekom probeer jy self om die laste te dra?

 

Seun van Dawid

Prins Caspian was die opvolger tot die troon.  Miraz wou egter die koninkryk oorneem.  Toe daar vir Miraz 'n seun gebore is het hy sy soldate gestuur om vir Caspian dood te maak (C.S. Lewis se boek, Prince Caspian).

 

Ons weet dat die geboorte van 'n seun in Jesaja 9:5 'n aankondiging is dat 'n nuwe koning gebore is.  Jesus is die ware opvolger tot die troon van Dawid (sien 9:6).  Sy geboorte het die belofte aan Dawid vervul:  “Die HERE het aan Dawid gesweer in waarheid (Hy sal daarvan nie terugkom nie): Van die vrug van jou liggaam sal Ek laat sit op jou troon.” (Psalm 132:11).  “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.” (Lukas 1:32-33).  Jesus het van Homself gesê:  “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.” (Matteus 28:18).

 

Het jy al gesien hoe klein kinders sê:  ‘Sit my neer, ek wil self loop...Moet my nie help nie, ek kan self die sak dra’?  As die kind sien die pakkie is te swaar vra hy vir jou om te help.  Moenie soos kinders wees nie.  Hoekom wil jy self die las van slawerny, sonde en probleme dra as dit op Jesus se skouers is:  “die heerskappy is op sy skouer” (v.5)?  Jesus het gesê:  “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.  Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” (Matteus 11:28-30).  En Petrus:  “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.” (1 Petrus 5:7).

 

Seun van God

Die Messias is vir ons gegee (sien v.5).  Die werkwoord wys vir ons dat die Messias van God af kom.  Die woord ‘gee’ wys ook vir ons iets van God se liefde.  Die woord dui ook aan dat Hy opgeoffer is om ons deur sy kruisdood te red.  Die Nuwe Testament sê:  “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Johannes 3:16).  “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” (Romeine 8:32).

 

Mense gebruik dikwels die cliché:  ‘Jesus is die grootste geskenk hierdie kersfees; deel Hom met ander’.  As jy eerlik is voel jy nie in hart dat dit so is nie.  Miskien leer jy hierdie dinge vir jou kinders, maar weet hulle hóé om Hom met ander te deel?  As jy in Jerusalem gebly het en gesien het hoe jou vyand die stad omsingel, jou pa vermoor, jou ma verkrag; hoe ma’s hulle eie kinders eet en hoe almal slawe word, sal jy dit verstaan.  As die polisie in jou land onbetroubaar is, die ministers geld steel, misdaad toeneem, verkragting en aborsie alledaags is, skoliere mekaar met messe steek en onderwysers aanrand, sal jy dit verstaan.  As jy die aakligheid en gewig van sonde in jou eie hart voel sal jy verstaan.  In sulke tye sal jý ook wens vir Een wat regverdig sal regeer (v.6).  Dán sal jy God dank vir die geskenk van sy Seun en verstaan wat dit beteken dat Jesus die grootste geskenk van kersfees is.  Gee Hom vir ander deur evangelisasie en praktiese dade van liefde.

 

Wonderbare Raadsman

In Westminster Chapel het mense na die erediens in 'n ry gestaan om met Martyn Lloyd-Jones te praat.  Daar was allerhande mense wat raad nodig gehad en gekry het.  In antieke tye het konings wyse raadgewers gehad.  In Salomo se geval was hy self 'n wyse man.  Soos Salomo is die Messias self 'n Raadsman (v.5).  Jesaja sê Hy is gevul met wysheid en verstand (11:2).  In 28:29 sê hy:  “Ook dit kom van die HERE van die leërskare:  Hy is wonderbaar van raad, groot van beleid.” 28:29).  Die feit dat Hy 'n Wonderbare Raadsman is wys dat Hy bonatuurlike wysheid het.  In Rigters 13:18 sê Christus sy Naam is Wonderbaar.

 

As dit dan so is, wonder ek hoekom enige Christen 'n berader soek wat God en die Bybel minag; 'n berader wat nie erken dat Jesus die Wonderbare Raadsman is nie.  “But people will tell you to ask for messages from fortunetellers and mediums, who chirp and mutter. They will say, ‘After all, people should ask for messages from the spirits and consult the dead on behalf of the living.’  You are to answer them, ‘Listen to what the LORD is teaching you!  Don't listen to mediums – what they tell you cannot keep trouble away.’” (8:19-20, TEV).  Moenie in trotsheid jou probleme inhou of dit self wil uitwerk nie.  Kry hulp in goeie boeke.  Moenie die Bybel ignoreer nie.  Bel jou herders.  Vra volwasse gelowiges vir hulp.  Bid.  Moenie wegbly van die kerk wanneer jy moles het nie.  Hoekom wil jy al hierdie hulpmiddels versaak as Jesus jou Wonderbare Raadsman is?

 

Sterke God

Uit Prince Caspian waaruit ek vroeër aangehaal het:  Peter wou nie meer vir Aslan (die magtige leeu) wag nie:  ‘Ons het lank genoeg gewag’.  Hy het besluit om homself uit te help en het sy troepe aangespoor om reg te kry vir oorlog.  Die Messias is die Krygsman-God (letterlike vertaling van ‘Sterke God’) wat ons van die vyand verlos:  “U het die nasie vermenigvuldig, hulle vreugde groot gemaak; hulle is vrolik voor u aangesig soos iemand vrolik is in die oestyd, soos iemand juig as die buit verdeel word.  Want die juk wat op hulle gedruk het, en die stok wat hulle rug getref het, die roede van hulle drywer, het U verbreek soos op die dag van Mídian.  Want elke soldateskoen wat daar wegstap met gedreun, en die kleed wat in bloed gerol is, dien tot verbranding, ‘n prooi van die vuur.” (v.2-4, cf. 10:21, 11:5).  “Die HERE is ‘n krygsman; HERE is sy naam.” (Eksodus 15:3).

 

Hierdie ‘Sterke God’ se mag is niks minder nie as almag.  Hy het reeds die vlees, die duiwel en die wêreld oorwin.  ‘Besides the two thieves crucified with Christ, there were two other invisible thieves crucified with him:  sin and the devil’ (Thomas Watson, The Lord’s Supper, p.13).  Jy sê:  ‘Ek kan net nie hierdie versoeking wen of teen die duiwel se aanvalle standhou nie’.  Maar vra jy gereeld dat die Here jou sal help?  Gebruik jy die middele tot jou beskikking (Efesiërs 6)?  Dalk bid jy, maar jy beskou gebed as die laaste uitkoms.  Of miskien bid jy, maar sodra jy klaar is wil jy jouself uithelp; jy wag nie vir die Sterke God om jou te help nie.

 

Ewige Vader

Klein kinders sien nie die nut vir tug, vroeg in die bed klim, groente eet, kamer opruim, huiswerk doen, besoeke aan die tandarts of dokter nie.  As hulle kon kies sou hulle net roomys en lekkers wou eet, die hele dag speel en elke aand laat wakker bly.  Maar as ouer weet jy dis nie goed vir hulle nie.  Die Messias word genoem Ewige Vader.  Dit beteken nie Jesus is die Vader nie (alhoewel Hy een is met die Vader, Johannes 10:30).  Die Naam spreek eerder van 'n Messias wat soos 'n vader vir ons sorg en ons tugtig.  Hy is die Herder wat ons dra.  Ons is sy kinders (cf. 8:18, 53:10, 63:16, 64:8, 40:11).

 

Voel dit of jy alleen die laste moet dra?  Die feit dat Hy nie dadelik antwoord nie, beteken nie dat Hy nie hoor of dat Hy nie medelye het nie.  Leer eerder die lesse wat Hy wil hê jy moet leer wanneer Hy jou tug:  “Want húlle het ons wel ‘n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word.  Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.” (Hebreërs 12:10-11).  Glo dat Hy die beste weet (groente en vroeg slaap eerder as roomys en laat wakker bly).  As dit nóú die regte tyd was om jou te help sou Hy dit gedoen het.

 

Vredevors

Paulus was 'n vyand van God.  Voor sy bekering was Nicky Cruz 'n bendeleier wat oorlog in sy hart gehad het met God.  Toe hierdie manne nuwe harte ontvang het, het hulle ook vrede gemaak met ander.  Die Messias is die Bron van vrede en sal in vrede heers:  “Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde” (v.5-6).  So beskryf die profeet die Messias se heerskappy:

 

“En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.” (2:4).

 

“Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ‘n klein seuntjie sal hulle aanja.  Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van ‘n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ‘n basilisk.  Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” (11:6-9).

 

Die vrede het gekom deur sy Persoon, geboorte en kruisdood:  “die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” (53:5).  “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!” (Lukas 2:14).  “Want Hy is ons vrede” (Efesiërs 2:14, cf. Miga 5:4).

 

Het jy vrede?  Of rebelleer jy teen God?  Pla jou gewete jou?  Is jy lief vir jou sonde?  Is jou lewe 'n gemors?  Het jy oorlog met ander?  Moenie vrede op 'n 1001 maniere buite Jesus soek nie.  Kom na Hom toe en vind rus vir jou moeë siel.

Kategorieë