Coram Deo Cover Image

Coming soon...

7 November 2015

Wat om te verwag as Jesus weer kom

Second Coming

Wat is die gebeurtenis in die toekoms waarna jy die meeste uitsien? Jou verjaarsdag?  Iemand se partytjie?  Kersfees?  ‘n Geskenk, ‘n nuwe kar, ‘n nuwe huis?  Vriende of familie wat kom kuier?  Dat die skole of jou besigheid sluit vir die jaar?  Vakansie?  Jou troudag?  Die geboorte van jou kind of jou kleinkind?

 

Ek wonder hoeveel Christene in Suid-Afrika kan eerlik sê dat hulle meer as enigiets anders uitsien na Jesus se wederkoms? Hoe gereeld dink ons nog aan die wederkoms en verlang ons daarna?  Bid ons nog gebede soos:  ‘Laat u Koninkryk kom... Maranata, kom Here Jesus’ (Matteus 6:10, 1 Korintiërs 16:22, Openbaring 22:20)?  Dit is byna of ons nie regtig glo Jesus kan vandag kom nie.  Die Skrif sê ons moet sy koms verwag, en glo sekere dinge gaan gebeur as Hy weer kom.  Wat is daardie dinge?  1 Korintiërs 15:50-58 sê vir ons.

 

Jou liggaam sal verander word (v.50-53)

‘n Paar jaar gelede het ‘n ateïs op Facebook gesê daar is niks ná die dood nie, en dat die dood dus die lewe oorwin.  Hy het gesê die dood alleen is seker.  Soos ‘n goeie evolusionis het hy geglo dat die aaklige, tragiese, pynlike, en vervloekte dood ‘n normale deel is van die lewe.

 

Die Skrif leer anders. Die dood is abnormaal en het gekom as ‘n straf op sonde.  Jesus het egter opgestaan en sal ons ook opwek.  Almal sal nie sterf nie, en in die hemel sal daar nie meer dood wees nie.  M.a.w. die lewe oorwin oor die dood (Johannes 11:25).  So leer Paulus in v.50-53.

 

Vlees en bloed kan nie die Koninkryk in besit neem nie (v.50). Dit beteken nie ons sal ‘n gees wees sonder ‘n liggaam nie.  Na sy opstanding was Jesus nie ‘n spook nie (Lukas 24:39), en volgens Filippense 3:21 sal ons opstandingsliggame soos syne wees.  ‘Vlees en bloed’ in v.50a verwys na ons sterflike of verganklike liggame (v.50b, Hebreërs 2:14).  Ons aardse liggame is nie geskik vir die heerlikheid van die hemel nie.  As jy God se heerlikheid in hierdie liggaam moet sien, sal jy sterf (Jesaja 6:5, Esegiël 1:28, Daniël 10:8-11, 17, Matteus 17:6, Handelinge 9:4, Openbaring 1:17).  Om in ‘n onverganklike wêreld te lewe, benodig jy ‘n onverganklike liggaam en siel (v.50, Johannes 3:3, 5).

 

Wat vir eeue ‘n geheim was, het God deur Paulus geopenbaar (v.51, vgl. Efesiërs 3:3-6, 9, Romeine 16:25, Kolossense 1:26 vir hierdie verstaan van ‘geheimenis’).  Wat is die geheimenis?  Soos Elia en Henog, sal nie almal sterf nie.  Maar almal sal gelyk verander word (v.51, 1 Tessalonisense 4:15).  Dit sal gebeur in ‘n oomblik, in ‘n breukdeel van ‘n sekonde.  Die Griekse woord atomos verwys na iets wat nie verdeel kan word nie.  Dit sal so gou gebeur soos wat jy jou oog knip, lig van jou oog af weerkaats, ‘n muggie se vlerke beweeg, ‘n ster skitter, ‘n harpsnaar vibreer [Gk. rhipe, v.52].  As God jou nuwe liggaam maak, sal Hy nie tyd neem soos toe Hy Adam uit die stof gemaak het, of Eva gemaak het terwyl Adam geslaap het nie.

 

Die verandering sal plaasvind as die laaste trompet blaas om die Koning se koms aan te kondig (v.52, 1 Tessalonisense 4:16, vgl. Numeri 10:1-10). Die dooies sal onsterflik en verheerlik uit hulle grafte opstaan (v.52, Johannes 5:28).  Die verheerlikte lewendes en dooies sal saam in die lug opstyg.  Hulle sal vir Jesus in die lug ontmoet om Hom as eregas te verwelkom, en sal Hom dan na die nuwe aarde toe vergesel (1 Tessalonisense 4:17).

 

Die Griekse woord wat in die lg. vers met ‘ontmoet’ vertaal word, word net op twee ander plekke gebruik. In Handelinge 28:15 en Matteus 25:1, 6 gebruik die Bybelskrywers dit om te praat van ‘n tradisie in die eerste eeu.  As gaste kom kuier, wag jy nie vir hulle by jou huis nie.  Jy gaan ‘n entjie uit die dorp uit om hulle dáár te ontmoet, en vergesel hulle dan terug na jou huis toe.  Dis die idee wanneer die Skrif sê dat ons Jesus in die lug sal ontmoet:  ons sal Hom dáár ontmoet en Hom na die aarde toe vergesel.  Die nuwe Jerusalem sal uit die hemel neerdaal; dan sal ons almal vir ewig op die nuwe aarde bly (Openbaring 21:1-2, 10).

 

God sal ons verganklike liggame soos ou klere uittrek, en vir ons onverganklike liggame soos nuwe klere aantrek (v.53, 2 Korintiërs 5:2-4). Ons sal verheerlikte liggame kry wat nie kan sterf of vergaan nie (v.53, Lukas 20:36).

 

Watse les moet ons uit hierdie verse leer? Verwag Jesus se wederkoms en die opstanding van jou liggaam.  Moenie so besig raak of gemaklik wees in die wêreld dat jy daarvan vergeet nie.  Bid gereeld:  ‘Onse Vader...Laat u Koninkryk kom’.

 

Aan die anderkant moet jy pasop dat jy nie deur DVD seminare, films, boeke, en preke obsessief raak met die detail van die 666, die een wêreld orde, die vier perde, die wegraping, die illuminati, die 144 000, Armageddon, die sewe jaar verdrukking, die bloed mane, die diere in Openbaring, ens. nie. Moet ook nie die datums van hierdie dinge of die wederkoms wil uitwerk, of mense glo wat dit doen nie (kultusse is veral lief hiervoor, en dit raak deesdae ook populêr onder charismate).  Jesus het gesê:  “Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.” (Matteus 24:36).

 

Tog moet ons nie die lering oor die wederkoms, die opstanding, of die boek Openbaring vermy, omdat dit moelik is om te verstaan, of omdat jy bang is nie. Ek is seker jy verstaan meer as wat jy dink.  Al verstaan jy nie die detail nie, weet jy ten minste:

 

  • Jesus kom weer op die wolke (Handelinge 1:9-11).
  • Jesus kom skielik en onverwags soos ‘n dief in die nag (Matteus 24:42-44).
  • Jy sal Hom sien (Openbaring 1:7).
  • Jy sal ‘n nuwe liggaam kry (v.50-53).
  • Jesus sal die wêreld oordeel (Openbaring 20:11-15).
  • Daar is ‘n ewige hemel en ‘n ewige hel (Matteus 25:46).

 

Leef hoopvol in die lig hiervan, vertroos mekaar hiermee, en spoor mekaar aan om te volhard (1 Tessalonisense 4:18, Hebreërs 10:24-25).

 

Moenie dat die afwagting op Jesus se koms maak dat jy nie kinders wil hê of trou nie, lui is en ophou werk, of weier om langtermyn planne te maak nie. Jou afwagting moet eerder daartoe lei dat jy jou sonde los, gebroke verhoudings herstel, en jou van jou dwaalweg bekeer (2 Petrus 3:11, 14, 1 Johannes 2:28).  As jy nie in die wederkoms en opstanding glo nie, is jy hopeloos.  Watse hoop is daar as jy glo Suid-Afrika gaan vir altyd so bly?

 

Die dood sal vernietig word (v.54-57)

Aan die einde van sy lewe het Martyn Lloyd-Jones vir ‘n vriend gesê: ‘Don’t underestimate dying! Death is “the last enemy”.  Men may live well who do not die victoriously.’[1]  John Piper het eenkeer gesê:  ‘I don’t fear death; I fear dying.’  Ek het ‘n vriend wat baie lief is vir Jesus.  Hy het onlangs gesê hy dink hy sal onseker wees op sy sterfbed, en in ‘n groot stryd sterf soos Christian in Pilgrim’s Progress.  Hoe moet ons die realiteit van die dood benader?  Paulus help ons in v.54-57.

 

As God ons liggame verander, sal Hy die laaste van die Ou Testament profesieë vervul. Hy sal die dood op ‘n sterfbed gooi, begrawe, in die hel insluk, en finaal vernietig (v.54, Jesaja 25:8, Openbaring 20:14).  Die dood bedek mense soos ‘n laken en soos ‘n skaduwee (Jesaja 25:7).  God sal die trane wat deur die dood veroorsaak is, afvee (Jesaja 25:8, Openbaring 21:4).  Ons sal dan vir ewig feesvier (Jesaja 25:7).

 

Voorheen was die dood se plae en giftige angel ‘n straf op ons sonde (Hosea 13:14). Die wet vereis die dood as ‘n straf op sonde (v.56, Genesis 2:17, Romeine 5:12, 6:23).  Wie sal ons van hierdie fisiese en ewige dood red?  Die wet is goed, en kan deur sy vreeslike straf ons sonde inperk.  Die wet kan egter nie keer dat ons sonde begeer nie.  Inteendeel, sodra daar ‘n wet is, wil jou vlees dit oortree.  Dit is wat Paulus bedoel as hy sê sonde kry sy krag uit die wet (v.56, Romeine 7:5, 8, 4:15).

 

Maar ons prys God vir Jesus wat die wet perfek namens ons onderhou het, namens ons die straf gekry het wat die wet vereis, en vir ons verlossing die dood oorwin het deur sy opstanding. Deur geloof in Hom sal die dood ons nie oorwin nie, maar sal ons die dood oorwin in liggaam en siel (v.57, 54-55, Romeine 7:25).

 

Dink reg oor die dood, sodat jy God in lewe en dood kan verheerlik (Romeine 14:7-8).  Moenie die dood uit jou gedagtes uitskuif, dink dis vir ou mense, of dink dit sal weggaan as jy dit ignoreer nie.  Besef dat dit enige tyd kan kom.  Maak dan seker jy is gered, want anders sal jy ‘n ewige dood sterf (Openbaring 20:14-15).  Glo in Jesus, want dan sit die dood se angel in Hom en kan dit jou nie steek nie (v.55).  Vir jou sal die dood so skadeloos wees soos slaap (Handelinge 7:60).  Die dood sal vir jou wees asof jy aan die slaap raak en dadelik weer wakker word by Jesus (2 Korintiërs 5:8, Filippense 1:23, Handelinge 7:59, Lukas 16:22, 23:43).  M.a.w. jy verloor nie bewussyn wanneer jy sterf nie.

 

‘n Christen hoef nie die dood te vrees, sodat jy wens jy sterf in jou slaap of is opslag dood nie (Psalm 23:4, 116:15, Hebreërs 2:14-15, Openbaring 1:17-18, 2:10-11). ‘n Christen se dood is nie ‘n straf op sy sonde nie, maar ‘n oorgang na Jesus toe (Filippense 1:21).  Vir ‘n Christen byt die dood soos ‘n ou hond wat nie tande het nie.  By sy wederkoms sal Jesus die ou hond uitsit, sodat ons in die hemel vir ewig onsterflik sal wees (v.54, 26).

 

Jou harde werk sal beloon word (v.58)

Moeë Henry werk 13 ure per dag vir 6 maande. Hy byt vas en kla nie, want hy weet hy kry R1.6 miljoen as die werk klaar is.  Hy sweet met plesier soos Jakob toe hy vir sewe jaar moes swoeg om die beeldskone Ragel te kry.  Net so kan ons in die Here se diens hard werk, want ons weet dat die beloning oneindig keer groter sal wees as die werk wat ons ingesit het (v.58).  Die wederkoms, opstanding, en beloning is soos ‘n wortel voor die donkie se neus, sodat ons onbeweeglik vasstaan, nie opgee nie maar volhard, en oorvloedig en hard werk vir die Here (v.58, 3:8, 12-15, Galasiërs 6:9).

 

Party mense glo nie in belonings nie, maar die Nuwe Testament leer duidelik dat daar grade van belonings sal wees vir gelowiges op die oordeelsdag (Matteus 25:21, 28, Lukas 19:17, 19, 6:35, 14:13-14, 2 Korintiërs 5:10, Efesi:ers 6:8, 2 Johannes 8, Openbaring 11:18, 22:12). Maar sal dit nie jaloesie veroorsaak nie?  Nee.  Wie is jaloers by ‘n fees as party meer kan eet as ander, maar almal versadig is?  So ook sal party Christene by Jesus se koms ‘n groter beloning kry as ander, maar almal sal so bly wees soos wat hy moontlik kan wees.  Gaan vir goud!  Soek die prys!  By Jesus wederkoms sal jy nie spyt wees dat jy te veel vir Hom gedoen het nie (v.58).

 

Dink gereeld aan Jesus se glimlag en die beloning as jy moeg raak in sy diens en wil opgee. Werk hard.  Wwees oorvloedig in jou werk vir Hom.  Doen jou heel beste vir Jesus en moenie traag wees nie.  “Vervloek is hy wat nalatig is om die werk van die HERE te doen” (Jeremia 48:10).  George Whitefield het gesê:  ‘It is better to burn out for the Lord than to rust out.’

 

Soms sien jy nie dadelik die vrug op die geld wat jy vir die Here se werk gee, jou gebede, jou evangelisasie pogings, die Bybel lering wat jy vir kinders gee, die siekes wat jy besoek, die bemoediging en raad wat jy vir mense gee, jou geestelike leierskap, jou noukeurige administrasie, jou hulp aan die armes, jou diensbaarheid nie. Jy voel moeg en uitgeput.  Niemand sien jou harde werk raak of sê dankie nie.  Moenie ophou nie, maar volhard.  Hervat daardie taak waarmee jy opgehou het.  ‘Don’t resign, but re-sign.’ (Joel Beeke).  Jesus sien dit raak, hou rekord daarvan, en sal jou beloon as Hy weer kom.  Hy sal vir jou ‘n nuwe liggaam gee wat nooit moeg raak in sy diens nie.

 

In ‘n boek oor die wederkoms sê Spurgeon ons moet Jesus se koms verwag soos honde wat uitsien dat hulle base huistoe kom. As jy by hek die stop, is jou opgewonde honde daar om jou te verwelkom.[2]  Net so moet ons met vreugde uitsien en gereed wees dat Jesus kom.  Wanneer Hy kom, sal ons nuwe liggame kry, gaan die dood vernietig word, en gaan Hy ons beloon.  Ek hoop dis vandag.  Ek kan nie wag nie.

[1]  Iain Murray, Martyn Lloyd-Jones: The Fight of Faith (vol.2), p.732

[2] The Second Coming of Christ, p.184

Kategorieë