Coram Deo Cover Image

Coming soon...

10 April 2014

Waar het nasies en tale begin?

Nations

'n Tydjie gelede het 'n ek en twee ander mans gesels oor die oorsprong van velkleure, oë, en neuse in verskillende nasies.  ‘Hoe het dit begin?’ het ons gevra.  Genesis 10:1-11:9 gee die antwoord.

 

Nasies (Genesis 10)

Sommige van die name in hierdie hoofstuk is vaag.  Kommentators verskil oor waar party van die plekke is.  As jy 'n volledige verduideliking van hierdie name wil hê, kan jy creation.com besoek en ‘The sixteen grandsons of Noah’ lees.

 

[i] Jafet (v.2-5) se nageslag het versprei na Turkye, Wallis, Frankryk, Armenië, Ukraïne, Iran, Griekeland, Spanje, Siprus, Rodus, Rusland en Joego-Slawië.  Hoe weet ons dit?  Die naam Jawan (v.2) is die Hebreeuse woord vir Griekeland (Joël 3:6).  Madai (v.2) het later Medië geword.  Die moderne naam vir Medo-Persië is Iran.  Josefus sê dat die Galasië-streek in Turkye die antieke Gomer is (v.2).  Die Galliërs (Eng. ‘Gauls’ – Asterix en Obelix vir die wat nie weet nie) het later Frankryk toe getrek.  Van Frankryk af het hulle Wallis toe getrek.  Die Walliese taal word vandag nog Cymraeg of Gomeraeg genoem.

 

So kan ons een vir een deur die name werk en wys waar hierdie groepe heen versprei het.  'n Klompie van die gebiede in v.2-4 is eilande of kuslande.  Daarom sê v.5:  “uit hulle het verdeeld geraak die kuslande van die nasies, in hulle lande, elkeen na sy taal, volgens hulle geslagte, in hulle nasies.”  Van hierdie streke sê die Psalm 72:10:  “Die konings van Tarsis en van die eilande sal geskenke aanbied [vir die Messias]”.  In Jesaja 49:1 sê die Messias:  “Hoor na My, eilande, en luister, volke wat ver is!”  In 42:12 sê die profeet:  “Laat hulle aan die HERE die eer gee en sy lof in die eilande verkondig!”  Die heidene sal voor Jesus buig.  En ’n klomp van hulle sal teen Hom rebelleer:  “En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog (Genesis 10:2), om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see.  En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind.” (Openbaring 20:7-9).

 

[ii] Gam (v.6-20) se nageslag het versprei na Etiopië, Egipte, Libië, Palestina, Jemen en Irak.  Hoe weet ons dit?  Misraim (v.6) is die Hebreeuse woord vir Egipte (50:11).  Kus (v.6) is die Bybelse naam vir Etiopië (Esegiël 29:10).  Skeba (v.7) word algemeen erken as Jemen (die koninging van Skeba het in 1 Konings 10 vir Salomo besoek).  Die konings van Skeba sal voor Jesus buig (Psalm 72:10).  Ek kan nog voorbeelde noem om die punt te bewys, maar ek glo drie is genoeg.

Table of nations

Nimrod was een van Kus se seuns.  Sy naam beteken ‘rebellie’.  Hy het Babel begin bou, maar misluk (v.10, hfst.11).  Hy het aanbeweeg om Nineve en ander groot stede te bou (v.11-12).  Hy was 'n geweldadige man en 'n dapper jagter (v.8-9).  Gam se vierde oudste seun was Kanaän.  Ons weet wie sý nageslag was (v.15-18).  Die Kanaäniete se grens het gestrek van Sidon aan die noordkus van Israel tot by Gasa aan die suidkus.  Vandaar het die grens na die binneland toe gestrek tot by Sodom, Gomorra en drie ander stede suid van die Dooie See (v.19).

 

[iii] Sem (v.21-31) was die oudste seun van Noag (v.21).  Sy kleinseun Eber se kinders is gereken as sy eie (v.21).  Die naam Eber is baie nou verbind aan die naam ‘Hebreër’ in 14:13.  Die skrywer skep afwagting, omdat die Hebreërs uiteindelik God se uitverkore volk word.  Die nageslag van Sem het versprei na Iran, Saudi-Arabië, Jemen, Turkye en Sirië.  Twee voorbeelde is voldoende.  Aram (v.22) is 'n ander naam vir Sirië (2 Samuel 8:6).  Sana’a, die hoofstad van Jemen, staan ook bekend as Azal.  Die naam is 'n verbuiging van Usal (v.27).

 

Alle nasies het ontstaan uit Noag en sy seuns (v.1, 32).  Ons kan dan nie roem asof ons nasie beter is as ander nie.  ‘Maar hoekom is die nasies dan so verskillend wanneer dit by velkleur, neuse en oë kom?’ vra iemand.  Die inligting vir ligte en donker velle was in Noag, sy seuns en hulle vroue se DNA.  Mense met ligte velle sou wegtrek uit warm kontinente soos Afrika.  Hulle sou gemakliker aard in noord-Europese lande.  Mense met donker velle sou nie in koue gebiede aard nie.  Hulle het vitamien D nodig, en daarom sou hulle na warmer areas toe getrek het.  Mense in warm areas sou ook groter neusgate ontwikkel om meer suurstof in te neem.  Chinese het kleiner oë as westerlinge.  Hoekom?  Daar is 'n ligament wat hulle oog ‘toe’ hou.  Alle babas word hiermee gebore, maar op ses maande skeur dit los.  Chinese se ligament skeur nie los nie.  Hulle het ook 'n dubbel vetlaag bo die oog (westerlinge het 'n enkel vetlaag).  Kleiner oë sou perfek werk in sneeustorms en sonstrale wat van die sneeu af weerkaats.

 

Geen mens is beter as 'n ander as gevolg van sy velkleur, of die vorm van sy neus en oë nie.  As ons dan almal dieselfde oorsprong het, mag mense uit verskillende nasies met mekaar trou.  Die enigste verbod wat die Here stel, is dat Christene nie met ongelowiges mag trou nie (1 Korintiërs 7:39).  Wat jou anders maak is nie jou gelaatstrekke nie, maar God se genade.  God het vir die Israeliete gesê:  “Die HERE het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke.  Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die HERE julle met ‘n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos.” (Deuteronomium 7:7-8).  Moenie in jouself roem nie.  Vergeet van jou Afrikaner trots en roem in die Here wat nasies se grense bepaal het, en wat lande gee aan wie Hy (v.19, 30).  “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het” (Handelinge 17:26).  Uiteindelik sal alle lande en nasies in elk geval onder Jesus se bewind wees:  “En hy sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde.” (Psalm 72:8).

 

Tale (Genesis 11)

Hoofstuk 11 gebeur nie ná nie, maar týdens hoofstuk 10:  “En vir Heber is twee seuns gebore; die naam van die een was Peleg, want in sy dae het die aardbewoners verdeeld geraak” (10:25).  Die mense het almal een taal gepraat (v.1).  In 9:1 het God hulle beveel om oor die aarde te versprei.  Hulle wou nie, en het in die laagte van Sinear (in Babilon of moderne Iran, Daniël 1:2) halt geroep (v.2).  Hier het Nimrod sy koninkryk opgerig (10:10).  Daar was nie genoeg bouklippe op hierdie plein nie.  Hulle moes hulle eie stene bak en teer gebruik om dit bymekaar te hou (v.2-3).  Hulle besluit om 'n stad met 'n hoë toring te bou – tot by die hemel (v.4).  Hulle wou soos God wees (3:5, Jesaja 14:14).  Hulle wou ander beïndruk en so vir hulleself 'n naam maak.  Hulle uitmuntende argitektuur sou ander laat vrees.  Niemand sou hulle aanval en hulle uitmekaar dryf nie (v.4)... of so het hulle gedink.  God moes ‘afkom’ om hulle klein torinkie, doer ver, onder op die aarde te sien (v.5).  God het geweet dat die mens vinnig sou vorder as hulle hul kragte kon saamspan en koppe bymekaarsit (v.6).  Deur hulle tale te verwar (‘Babel’) het God die ‘onaantasbare’ mens sonder moeite oor die aarde verstrooi (v.7-9).

 

Ons is nogsteeds soos die mense in Genesis 11.  Ons wil kyk wie die hoogste toring kan bou.  Ons soek bittergraag ons name in die Guinness Book of Records vir die langste, vinnigste of sterkste.  Ons dagdroom oor hoe ander mense ons prys.  Die Here waarsku:  “En sou jy vir jou groot dinge soek?  Soek dit nie” (Jeremia 45:5).

 

Moenie so naïef wees om te dink dat Afrikaans die beste of hemelse taal is nie.  Moenie ‘n hoogmoedige Afrikaner wees wat weier om Engels te praat met die kelner of petroljoggie nie (behalwe as jy regtig nie Engels kánpraat nie).  Soek eerder eenheid met mense van ander tale en nasies.  Hierdie eenheid sal jy net in Jesus vind.  Jesus het immers gesterf, “nie alleen vir die volk [Israel] nie, maar ook om die verstrooide kinders van God tot ‘n eenheid saam te voeg.” (Johannes 11:52).  In Genesis 11 laat God die mense in tale praat om hulle te verdeel.  In Handelinge 2:1-13 laat God mense in ander tale praat om hulle in Christus te verenig.  In die hemel sal mense uit alle nasies en tale volkome een wees in Jesus:  “Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie” (Openbaring 5:9).  Dis nie ons nasie of kultuur wat ons ander maak as die res van die wêreld nie, maar ons Christen kultuur.  Ons is burgers van die hemel.  Ons denke, woorde en dade verskil van die wêreld s’n (Filippense 3:20-4:9).  Moenie jou eie kop volg (‘n toring bou) om die hemel te bereik nie.  Jesus alleen verbind hemel en aarde met mekaar.

 

Ek het vir my Amerikaanse vriend gevra:  ‘Wat is positief en negatief van die Afrikaanse kultuur?’  Hy het ‘n klompie positiewe dinge genoem.  Sy grootste negatief was dit:  rassisme.  Maar as evolusie waar is, dan is daar plek vir rassisme (sekere nasies het verder gevorder in die evolusie-proses as ander).  Maar as Genesis 10-11 waar is (alle nasies en tale het dieselfde oorsprong) moet rassisme sterf en nooit weer opgewek word nie.

Kategorieë