Coram Deo Cover Image

Coming soon...

8 May 2015

Vergete voorregte

Forgotten treasure

Gert sukkel om deur die maand te kom en weet nie waar hy die res van maand se kos, petrol- en huurgeld gaan kry nie.  Skielik onthou hy van sy e-bucks kaart wat al vir ‘n paar jaar opgeloop het.  Daar is R15 000 op die kaart.  Hy het skoon van dié voorreg vergeet.  So is dit met ons.  Ons vergeet dikwels watse voorregte ons in Jesus het, en laat na om dit te gebruik.  Daarom is dit nodig vir ‘n herinnering soos Hebreërs 10:19-25.

Omdat Jesus... (v.19-21)

Archie en Chris was boemelaars wat na ons kerk toe gekom het.  My vriend het beide van hulle gehelp om ‘n werk te kry.  Chris het selfs ‘n kar en ‘n woonstel gekry.  Na ‘n paar maande het hulle alles net so gelos, weer begin drink, en teruggegaan straat toe.  Baie gelowiges is so.  Jesus gee vir hulle nuwe lewe, vergifnis, die gemeenskap van gelowiges, en ‘n oop weg deur die Woord en gebed.  Tog minag en versaak hulle dié voorregte.

Jesus het ons sonde weggevat (v.1-18).  Daarom kan ons sonder vrees en met vrymoedigheid in die heiligdom ingaan (v.19, 4:16).  In die Ou Testament kon net hoëpriester een keer per jaar in die heiligdom ingaan (9:3, 7).  Toe Jesus dood is het sy Vader die tempelgordyn geskeur, en daarom het ons nou vrye toegang tot God (6:19, Matteus 27:51).  Ons kom nie meer op die ou weg van offers na God toe nie.  Deur sy bloed het Jesus ‘n nuwe weg vir ons oopgemaak.  Hy self is die weg wat na die lewe toe lei (v.19-20,  Johannes 10:9, 14:6).  Jesus is nie net die offer nie, maar ook die groot priester en Hoof oor die huis van God, die kerk (v.21, 4:14, Efesiërs 1:22, 1 Timoteus 3:15).

Laat ons... (v.22-25)

Henk is 34.  Hy is lojaal en werk hard, maar verdien R4000 per maand en het nie ‘n kar nie.  Sy pa is ‘n biljoenêr en is baie lief vir hom.  Hy sê:  ‘Henk, kry my Maandag by die bank en daarna by die Mercedes garage.  Ek wil vir jou ‘n bankrekening oopmaak en R100 000 per maand gee.  Ek sal ook vir jou ‘n C-Klas Mercedes koop.’  Henk voel skaam om sy pa se aanbod aan te neem.  Hy daag dus nie op by die bank of die Mercedes garage nie.  Sy pa herhaal gedurig die aanbod, maar Henk hou aan wegbly.

Is jy so met God?  Hy is jou Vader en bied aanhoudend alles vir jou aan in Jesus, maar jy gryp dit nie aan met beide hande nie?  Dis om dié rede wat ons mekaar gedurig moet herinner aan die drie opdragte in v.22-25.

Omdat ons ‘n soenoffer en Hoëpriester het (v.19-21), laat ons vrymoedig tot God nader (v.22), aanhou om dit te doen (v.23), en mekaar gereeld herinner om dit te doen (v.24-25).  Moenie bang wees, sodat jy op ‘n afstand bly staan nie (Eksodus 20:18).  Deur geloof in Jesus is elke gelowige ‘n priester en kan ons vrymoedig tot God nader (v.22, Efesiërs 2:13).

Kom met ‘n rein en opregte hart:  jou gewete met Jesus se bloed besprinkel en jou liggaam gewas met rein water (v.22).  Hierdie beeld kom uit die Ou Testament.  Toe Moses die priesters vir diens afgesonder het, het hy bloed op hulle gesprinkel en hulle met rein water gewas (Levitikus 8:6, 30).  Let ook op dat water en bloed uit Jesus se sy gevloei het toe Hy dood is (Johannes 19:34).  Die bloed waarmee Hy ons besprinkel, verwys na sy eie bloed (v.22, 19, vgl. 9:14, Petrus 1:2).  Die water verwys na die innerlike reiniging van die Gees deur weergeboorte.  Die Skrif sê:

  • “Jesus antwoord:  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.” (Johannes 3:5).
  • “Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig.  En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee.  En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.” (Esegiël 36:25-27).
  • “Hy [het] ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees” (Titus 3:5).
  • Efesiërs 5:26 sê dat Jesus die kerk “gereinig het met die waterbad deur die woord”.
  • “julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.” (1 Korintiërs 6:11).

Weergeboorte word uitgebeeld in die doop.  Daarom sê v.22 ons liggaam is gewas met rein water.  “En nou, waarom versuim jy?  Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.”(Handelinge 22:16).  In die eerste eeu is Christene onmiddellik na hulle bekering gedoop, en nie jare daarna nie.  As ‘n Christen dus in die doopwater tot God geroep het, het God Hom geantwoord, sy sondes vergewe, sy gewete gereinig.  Daarom sê Petrus dat “die doop, ons nou ook red, nie as ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete—deur die opstanding van Jesus Christus” (1 Petrus 3:21).

Hou vas aan die hoop van die hemel.  Moenie begin twyfel nie, maar glo dat God getrou is en sy beloftes sal hou (v.23, 4:14, Titus 1:2).  Spoor mekaar aan tot liefde en goeie dade (v.24, 3:13, Titus 3:8).  Moenie die samekomste van die gemeente misloop soos sommige die gewoonte het nie, want dit is juis dáár wat ons mekaar aanmoedig om nie op te gee nie (v.25).  Die vroeë Christene het hulleself aan dié samekomste toegewy (Handelinge 2:42).  Jesus self het dit ‘n gewoonte gemaak om weekliks in die sinagoge te wees (Lukas 4:16).  As ons gedurig aan die oordeelsdag dink, sal ons mekaar aanspoor om nie van die kerk af weg te bly nie, maar om te volhard (v.25).

Kom deur die oop gordyn.  Hoekom sal jy buite die hemel bly as die weg oop is?  Kom in deur geloof in Jesus en die evangelie.  Jesus is ‘n heilige God.  Jy is ‘n onheilige sondaar.  Hy sal jou nooit in sy teenwoordigheid toelaat nie.  Jou sonde moet eers vergewe word; jou hart moet skoongewas word.  Om dié rede het Jesus die perfekte lewe geleef wat jy nie kon nie, en die straf gekry wat jy verdien het.  Hy het uit die dood uit opgestaan.  Om ‘n opregte hart en skoon gewete te hê moet jy jou sondes bely, jou daarvan bekeer, en in Jesus glo.  Wys dan ook deur die ‘skoon water’ van die doop dat jou hart gereinig is.

Is jy ‘n ou gelowige wat geestelik verflou het?  Het jy vergeet van die voorreg van jou hemelse hoop, sodat jy nie meer baie aan die hemel dink nie?  Het jy vir geld en die plesier van hierdie wêreld begin lewe?  Het jy begin twyfel?  Hou vas aan die hoop, volhard tot die einde, en glo God se beloftes.  Moenie nóú uitsak en alles verloor nie.  “Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ‘n volle loon ontvang.” (2 Johannes 8).

Elke Ou Testament gelowige en priester sou bly gewees het as hulle enige tyd in God se teenwoordigheid kon inkom.  Jy kán enige tyd na God toe kom, maar bly maklik weg deurdat jy biddeloos is, nie jou Bybel lees nie, en ontrou is om kerk toe te kom.  Moenie so lewe nie, maar bekeer jou.  Jesus begeer dat jy na Hom toe moet kom.  In Openbaring 3:20 het Hy vir Christene – vir ‘n kerk! – gesê:  “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop.  As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.”  Moenie vergeet dat dit ‘n voorreg is om deel te wees van ‘n gemeente; om deel te hê aan die Woord, die nagmaal, die doop, lofprysing, goeie werke, liefde, en nog meer nie.

Moenie in die slegte gewoonte verval om van die samekomste af weg te bly nie.  Dit wil ek veral vir die nuwe lidmate sê.  Vir die oues sê ek:  party van julle het in die gewoonte verval om weg te bly.  Breek met dié gewoonte en vernuwe jou toewyding aan Jesus, sy Woord en sy liggaam.  Dink jy Jesus sal tevrede op die oordeelsdag as jy min liefde gehad het vir die kerk waarvoor Hy sy bloed gestort het (Efesiërs 5:25, Handelinge 20:28)?

Hoekom moet jy deur die geskeurde tempelgordyn ingaan?  Om ‘n geskenk van jou vriend te weier is ondankbaar en ongeskik (sien Lukas 14:16-24).

Ted is ‘n semi-professionele tennisspeler in Amerika.  Reeds toe hy in sy mid-20’s was het hy $1 miljoen in die bank gehad.  Hy was suinig met sy geld en wou dit nie mors nie.  Hy het op die strand geslaap, ‘n ou fiets gekoop, en elke dag noodles en brood geëet.  Party ryk mense leef asof hulle arm is:  “another pretends to be poor, yet has great wealth.” (Spreuke 13:7b, ESV).  In Jesus is die rykdom van die hemel joune (Efesiërs 1:3, 1 Korintiërs 3:21-23).  Moenie die voorreg van geestelike rykdom vergeet en leef asof jy arm is nie.

Kategorieë