Coram Deo Cover Image

Coming soon...

10 November 2012

Veilig deur siekte en storms

“Die wat dwase was vanweë die weg van hulle oortreding en weens hulle ongeregtighede gepynig is – hulle siel het ‘n afsku gehad van elke soort voedsel, en hulle het tot by die poorte van die dood gekom.  Toe het hulle die Here aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos.  Hy het sy woord uitgestuur, dat Hy hulle kon gesond maak en hulle uit hul kuile red.  Laat hulle die Here loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders; en laat hulle lofoffers bring en met gejubel sy werke vertel.  Die wat na die see toe afdaal in skepe, wat handel drywe op die groot waters – húlle het die werke van die Here gesien en sy wonders in die diepte.  Want Hy het gespreek en ‘n stormwind laat opsteek wat die golwe daarvan opgesweep het.  Hulle het opgerys na die hemel, neergedaal na die dieptesd – hulle siel het vergaan van wee.  Hulle het getuimel en gewaggel soos ‘n dronk man, en al hulle wysheid is verwar.  Toe het hulle die Here aangeroep in hul benoudheid, en uit hul angste het Hy hulle uitgelei.  Hy het die storm ‘n gesuis gemaak, en hulle golwe het stil geword.  Toe was hulle bly, omdat dit rustig geword het, en Hy het hulle gelei na die hawe van hul begeerte.  Laat hulle die Here loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders.  En laat hulle Hom verhoog in die vergadering van die volk en Hom roem in die kring van die oudstes.” (Psalm 107:17-32).

Deur 'n immorele leefstyl bring mense seksueel-oordraagbare siektes oor hulself.  Anoreksia is 'n siekte wat mense weens hulle eie sonde oor hulself bring.  Die sonde van dronkenskap maak dat mense in motorongelukke beland of lewer probleme ontwikkel.  Dwelms bring baie siektes mee.  Angs en stres lei tot maagswere.  Brassery (om te ooreet) kan tot hartversaking lei.  Deur bitterheid het ek 'n paar jaar gelede borspyne ervaar.  S.I. MacMillan (M.D.) het 'n boek geskryf (None of these diseases) waarin hy meer as 50 siektes beskryf wat uitgeskakel kan word deur reg te lewe voor God.

[a] Waar hulle was.  Die Israeliete het siekte ervaar as gevolg van hulle dwaasheid en sonde:  “Die wat dwase was vanweë die weg van hulle oortreding en weens hulle ongeregtighede gepynig is” (v.17).  Weens hulle siekte het hulle nie 'n aptyt gehad nie en gevolglik was hulle naby die dood (v.18, sien <st1:bcv_smarttag>Job 33:19-22).  Die vleis waarvoor hulle so gekla het, het hulle naar gemaak.  Dít is hoe die Bybel dit beskryf:  “Toe het ‘n wind wat van die Here kom, uitgevaar en kwartels van die see af oorgedrywe en op die laer gestrooi omtrent ‘n dagreis hier en omtrent ‘n dagreis daar, rondom die laer; en hulle was omtrent twee el bokant die grond.  Toe het die volk opgestaan daardie hele dag en die hele nag en die hele volgende dag en die kwartels versamel.  Hy wat die minste gehad het, het tien homer versamel.  En hulle het dit oral vir hulle uitgesprei rondom die laer.  Die vleis was nog tussen hulle tande, voordat dit gekou was, toe die toorn van die Here alreeds teen die volk ontvlam het, en die Here het onder die volk ‘n baie groot slagting teweeggebring.  Daarom het hulle dié plek genoem Kibrot-Hattáäwa; want daar het hulle die volk begrawe wat so begerig was.  Van Kibrot-Hattáäwa af het die volk weggetrek na Háserot toe, en hulle het in Háserot gebly.” (Numeri 11:31-35).  “En hulle het baie begerig geword in die woestyn en God versoek in die wildernis.  Toe het Hy hulle gegee wat hulle gevra het, maar in hulle siel ‘n maerte gestuur.” (Psalm 106:14-15).

[b] Wat God gedoen het.  Net soos iemand met 'n migraine uitroep van pyn het die volk in hulle nood uitgeroep tot die Here.  God het hulle gehelp en soos Jesus in die Nuwe Testament (Matteus 8:8) sy woord gestuur om hulle te genees (v.19-20).  Laat ons tog onthou dat nie alle siekte en dood God se straf vir 'n spesifieke sonde is nie.  Maar dit is tog belangrik om jouself te ondersoek as jy siek is.  Is jou siekte 'n tugtiging vir sonde?  Indien wel moet jy Jakobus 5:13-18 toepas.  Bid self en vra die ouderlinge om vir jou te bid en jou met olie te salf.  Bely jou sonde en God sal jou vergewe en genees.  Die siekte wat in hierdie verse beskryf word het hulle naby die dood gebring.  Maar die feit dat God hulle genees het leer vir ons dat God by magte is om terminale siektes te genees.  My vriend in die Kaap het by geleentheid vir 'n kind met 'n groot gewas gebid.  Toe die toetste die volgende dag gedoen is was die gewas weg.  Dokters kon die nie verduidelik of glo nie.  God het die kind genees.  Moet egter nie net vir die genesing wag nie.  Dank Hom dat die siekte jou nader aan Hom dryf (v.19).  En dank Hom nog meer dat jy nie soos Israel met die dood gestraf word vir jou eie sonde nie.  Jesus het die straf vir jou sonde gedra aan die kruis; Hy het jou gered het van die dood en die hel.  “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.  Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.” (Jesaja 53:5-6).

[c] Wat hulle reaksie was.  Hulle het God geloof en gedank.  Hulle het lofoffers gebring en van sy verlossing getuig.  “Laat hulle die Here loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders; en laat hulle lofoffers bring en met gejubel sy werke vertel.” (v.21-22, Levitikus 7:22).  Sulke dankoffers is baie aanneemlik vir die Here – dít is wat Hy soek (Psalm 50:14, 23). Uit 10 melaatses wat Jesus genees het, het net een dankie gesê (Lukas 17:11-19).  Wanneer die Here jou dan uit 'n siekbed oprig moet jy nie vergeet om Hom te loof en te dank nie.  “Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ‘n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.” (Hebreërs 13:15).  Jubel oor sy werke; sing psalms (v.22, Jakobus 5:13).  Doen weg met die moderne mens-gesentreerde kerkmusiek en loof die Here.

 

Ek was onlangs met vakansie aan die noord-kus.  Ek moes gereeld my voet op die remme hou toe ek die styl afdraendes tussen Pietermaritzburg en Durban gery het.  [a] Waar hulle was.  Hulle het van die hoër berggebiede afgegaan na kus toe (v.23).  In hulle houtskepe met seile, roeispane, en draakkoppe het hulle besigheid gaan doen in die Middellandse See tot by Spanje (Tarsis, 1 Konings 10:22).  Hulle het ook op die Rooi See uitgevaar en moontlik sover as Indië geseil (1 Konings 9:26).  Goud, silwer, ivoor, ape, en poue was deel van hulle vrag (1 Konings 10:22).  Dit was op hierdie diep oseaan wat hulle God se storms gesien het (v.24-27).  Hulle het duidelik geweet dat Jahwe – nie die Griekse afgod Poseidon nie – die see beheer (Eksodus 15:5, Psalm 29:10, Jona 1-2).  Hulle groot skepe het soos 'n vuurhoutjieboksie opgerys en geval met die reuse duinings (v.26).  Hulle het gebewe soos 'n aardbewing wat 9.6 op die Richterskaal meet.  Soos dronkaards het hulle rondgeslinger op die onstuimige skip (v.27).  Selfs 'n gesoute vlieënier wat nie volgens sy instrumente vlieg nie sal die vliegtuig grond toe bring as hy in 'n miswolk invlieg (sommige mense praat van the thirty second death spiral’).  Die matrose se wysheid en vaardigheid as seevaarders was in die war – dit het hulle niks gehelp nie (v.27, 30).  Hulle het geweet dat net God hulle kon help.  Hý het die storm laat opsteek (v.25).  Dit is nie die duiwel wat in beheer is soos wat sommige charismate glo nie.  Agt voorbeelde uit die Skrif wys vir ons dat God in beheer is van die see:

[i] Hy het die see gemaak (Genesis 1).  [ii] Hy het die wêreld laat vergaan deur 'n vloed (Genesis 6-7).  [iii] Hy het die Israeliete deur die Rooi See laat trek en die Egiptenare daarin laat verdrink (Eksodus 14).  [iv] Hy het 'n grens vir die see gestel en verbied dit om daaroor te gaan (Job 38:11).  [v] Hy het 'n storm op die see laat opsteek in Jona 1 en dit weer laat stil word.  [vi] Jesus het die storm op die see stilgemaak (Markus 4:35-41).  [vii] God sal sorg dat mense wat in die see verdrink het weer daaruit opstaan vir die finale oordeel (Openbaring 20:13).  [viii] God sal die see tot niet maak (Openbaring 21:1).  As God dan beheer is van die see en die res van die skepping, hoef ons nie die wisselvallige weerspatrone of sogenaamde globale verhitting te vrees nie.  Ook hou Freud se teorie nie water nie.  Hy het gesê dat mense die idee van 'n God uitgedink het om hulle te beskerm teen natuurkragte en rampe.  As dit so was sou die dissipels kalm gewees het toe Jesus die storm stilgemaak het.  Die teendeel het egter gebeur:  hulle het Jesus gevrees (Markus 4:41).

John Newton was in 'n verskriklike storm op see.  Hy het uitgeroep dat God hom sal red.  Die dissipels het vir Jesus gevra om hulle te red toe hulle in die storm was (Matteus 8:25).  [b] Wat God gedoen het.  God het hulle gebed gehoor en die storm stilgemaak.  Daar was nie 'n windjie wat gewaai het nie (v.28-29, Jona 1:15, Mark.4:39).  In beproewing moet ons soos die Israeliete doen en nie steun op ons eie vermoeëns nie (v.27).  Moenie staatmaak op jou finansiële vernuf, jou besigheidsbrein, jou opleiding, jou krag, 'n graad, logika, jou goeie geheue, slim woorde, mediese expertise, jou CV, jou bank rekening, of jou ondervinding nie.  Ons moet na God toe uitroep (v.28)

In die 1990’s het ‘n seiljag omgeslaan in die Atlantiese Oseaan.  Hy was onder die vaartuig maar sy kop was bo die water.  Na 'n redelike tyd het 'n skip daar verbygevaar.  Hulle het aan die seiljag geklop en gehoor dat iemand terugklop.  Die man se lewe is gered.  Aan die media het hy gesê:  “God het my gehelp.”  [c] Wat hulle reaksie was.  Hulle was baie dankbaar vir 'n kalm en stil see.  Soos Paulus bly was toe hy ná 'n storm die Italiaanse kus bereik het (Handelinge 28:15), was hulle bly toe God hulle by hul bestemming uitgebring het (v.30).  Hulle het God in die openbaar geloof en gedank vir sy troue liefde (v.31-32, sien Jona 2:9).  Eendag sal ons soos hulle doen as God ons veilig by 'n begeerlike hemelse hawe bring deur die storms van hierdie wêreld.

Through many dangers, toils, and snares

I have already come

‘Tis grace that brought me safe thus far

 and grace will lead me home

 

–John Newton–

Kategorieë