Coram Deo Cover Image

Coming soon...

23 December 2020

Van Betlehem tot Golgota

Lukas 2:21

Vir baie mense is Kersfees maar net nog ’n storie van ’n baba in ’n krip en begin ons redding eers aan die kruis van Golgota. Dit is egter ’n verkeerde idee, omdat Jesus ons nie alleen deur sy dood red nie, maar deur sy lewe. Volgens Luk. 2 het ons redding begin toe Jesus gebore is. Om vir ons sonde te sterf, moes Hy self ook sonder sonde wees (Luk. 1:35, Heb. 4:15, 7:26, vgl. Ps. 51:7, Rom. 3:23). Anders was Hy soos iemand wat jou boete wil betaal, terwyl hy self ’n klomp boetes het.

Sien jy dus dat ons Betlehem net so nodig het soos Golgota, en dat die een nie sonder die ander een kan plaasvind nie net soos wat ’n slot sonder ’n sleutel niks beteken nie? Eintlik is Betlehem die fondasie waarop die kruis van Golgota staan. Ons sien dit onder andere in Jesus se besnydenis en in sy Naam.

1. Jesus se besnydenis (v.21a)

Baie van die kinders in ons gemeente weet nie wat ‘besnydenis’ is nie. Dit is wanneer hulle die voorste velletjie van ’n baba seuntjie se manlike deel afsny. In die Bybelse tyd het hulle dit op die agtste dag gedoen, omdat die kind se vitamien K vlakke dan die hoogste was. Dit was nodig, sodat die kind nie sou aanhou bloei nie, maar sodat die bloed gouer kon stol. Die besnydenis was simbolies dat God die sonde uit sy volk se harte sou sny (vgl. Gen. 17:12, Lev. 12:3, Deut. 30:6).

Soos alle Joodse seuntjies was Jesus op die agtste dag besny (v.21). Hoekom was dit nodig as die besnydenis die wegsnyding van sonde simboliseer en Jesus geen sonde gehad het nie? Ons kan ten minste drie redes aanvoer:

[a] Jesus staan in ons plek. Sy besnydenis was die teken dat Hy die sonde uit óns harte sou sny: “In Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis deur mensehande nie, maar deur die besnydenis van Christus, waardeur julle sondige bestaan1 weggeneem is.” (Kol. 2:11, 2020-Vertaling).

[b] Jesus moes besny word om die wet in ons plek te gehoorsaam (Gal. 4:4). As Hy dit nie gedoen het nie, sou Hy vir sy eie sonde moes sterf en kon Hy nie vir óns s’n betaal nie. Hy hét egter gesterf om die sonde uit ons rekordboeke te verwyder (Kol. 2:14). Deur sy gehoorsame lewe het Hy ons die perfekte geregtigheid gegee wat nodig is om voor die Vader te staan (2Kor. 5:21). Prys Hom dan vir sy gehoorsaamheid aan die wet, onder andere dat Hy besny is!

[c] Deur sy besnydenis het Jesus die verbond met Abraham vervul. ’n Verbond verwys na ’n plegtige ooreenkoms tussen twee partye. Dit word met ’n eed gesweer. Daar is ook ’n uiterlike teken wat die verbond verseël. Die huwelik is ’n alledaagse voorbeeld van so ’n verbond. Voor God en getuies sweer ’n man en sy vrou hulle trou aan mekaar. Die trouring is ’n simbool van hierdie belofte, terwyl die huweliksdaad (seks) ’n fisiese uitdrukking van die verbondsluiting is.

Wat God se verbond met Abraham betref, was die belofte as volg: ‘Ek sal jou ’n groot nageslag gee. Julle sal my volk wees en Ek julle God. As teken van hierdie verbond moet seuntjies op die agtste dag na hulle geboorte besny word. Dié wie nie besny word nie, sal afgesny word van my volk. Ek sal ook al die nasies van die aarde in jou seën.’ (sien Gen. 12, 17, 15, 22).

Jesus het hierdie verbond vervul. Nie alleen is Hy die Een wat die verbond met Abraham gemaak het nie, maar Hy het ook deel van Abraham se nageslag geword toe Hy in Betlehem gebore is. Jesus se besnydenis was die teken dat Hy nie net as God nie, maar as mens deel geword geword het van die verbond. As die nageslag van Abraham het Hy die nasies deel van hierdie verbond gemaak deur aan die kruis vir hulle te sterf. Deur die geloof word ons een met Jesus en daarom ook kinders van Abraham (Gal. 3:7-9, 14, 16, 29). So kry ons deel aan die seën wat God aan Abraham belowe het en word die Here ons God en ons sy kinders. Buiten dat dit nie sonder Jesus se kruisdood kon gebeur nie, kon dit nie sonder sy besnydenis gebeur nie. As Hy hiér ongehoorsaam was, sou Hy afgesny word van God se volk en was die res van sy gehoorsaamheid soos dié van ’n onwettige immigrant in Suid-Afrika: alhoewel die immigrant ons landswette nakom, mag hy in eerste plek nie hier wees nie (Gen. 17:14).

Ek kan dit nie genoeg beklemtoon dat Jesus se besnydenis nodig was vir die kruis om ’n sukses te wees nie. Sien jy dus dat v.21 nie ’n weggooi sin is nie? Jesus se besnydenis was nie net nóg ’n ritueel nie. Dit was nodig vir jou en my redding. Om egter die voordele hiervan te kry, moet jy in Jesus glo. Dit is nie genoeg dat jy in sy besnydenis, of selfs in sy kruisdood glo nie. Jy moet in Hóm glo en die Vader vra om Hom in jou plek te aanvaar: sy lewe, kruisdood en opstanding.

Die rede hoekom party van julle dit nog nie gedoen het nie, is omdat jy dink jy is goed genoeg op jou eie en dat jy Hom nie nodig het nie. Jy is soos iemand wat vol modder is in die donker: jy sien nie hoe vuil jy is nie. Maar as jy met jouself eerlik is, moet jy erken dat jou hart vuiler is as ’n verlate plaashuis vol vlermuise, rotte, spinnekoppe, en ander goggas. Bitterheid, kwaad, hoogmoed, gierigheid, selfsug, wellus, jaloesie, ongehoorsaamheid, rassisme, verslawing, en ander sondes kook soos ’n heks se pot binne jou.

Die Here sê vandag vir jou: jy is slegter as wat jy dink. En tog sê Hy dit nie om jou weg te dryf nie, maar om jou nader te trek. Hy wil jou van jou selfgeregtigheid stroop, sodat jy nie op jouself sal staatmaak om in die hemel te kom nie. Daarna wil Hy aan jou sy volmaakte Seun wys, sodat jy kan besef dat Betlehem, Golgota, en die leë graf genoeg is om 10 000 x 10 000 wêrelde te red. Dit beteken dat Hy jóú ook kan red, al is jy ook die grootste sondaar in die geskiedenis (1Tim. 1:14-16).

Buiten dat Jesus die krag het om jou te red, is Hy gewilig om dit te doen. As Hy nie was nie, sou Hy nie vir ons gebore word, die wet volmaak onderhou het, en aan die kruis gesterf het nie. Maar nou het Hy, sodat jy kan sien hoe lief Hy jou het en hoe diep Hy Hom oor sondaars ontferm. Jy het geen verskoning vir hoekom jy Hom nie vandag nog kan aanroep om jou te red nie. Alles in sy karakter en in sy Woord is daar om jou te oorreed om na Hom toe te kom.

Dit geld ook vir gelowiges wat deur diep waters gaan en wonder of die Here jou naam vergeet het en sy gesig van jou af weggedraai het. Sien sy bloed aan die begin en die einde van sy lewe (die besnydenis en die kruis). Dink daaraan dat Hy dit gedoen het om jou te red, sodat jy vir ewig by Hom kan wees. Vra jouself dan of jy nóg dink Hy het jou nie lief nie, of dat Hy vergeet het jy is sy kind. Jou ma mag jou miskien vergeet, maar die Here sal nie (Jes. 49:15). “Jy sal deur My nie vergeet word nie.” (Jes. 44:21).

2. Jesus se Naam (v.21b)

’n Vrou het eenkeer vir my gesê: ‘Wat jy ’n kind noem (sy naam), bepaal sy karakter.’ Dit het sy gesê, omdat die name van verskeie persone in die Bybel hulle missie en karakter opsom. Abraham beteken ‘vader van ’n menigte’. Jakob beteken ‘hakskeengryper, of bedrieër’. Israel beteken ‘hy worstel met God’. Die name van al Jakob se seuns het iets te doen gehad met die dinge wat rondom hulle geboorte gebeur het. Petrus beteken ‘rots’.

Hierdie mense se name het inderdaad hulle missie, of karakter beskryf. En tog dink ek nie dat dit hulle missie, of karakter bepaal het nie, maar dat God ’n plan met hulle gehad het en dat Hy hulle ’n naam gegee het wat daarby pas. Jesus het byvoorbeeld nie die Verlosser geword toe Hy sy Naam kry nie (Jesus beteken ‘Jahwe’ verlos). God het eerder vir ouers gesê om Hom ‘Jesus’ te noem, omdat Hy van die begin af die Verlosser was (v.21b, 11, 1:31, Matt. 1:21).

Jesus is sy menslike Naam. Dit was nie sy Naam voordat Hy aarde toe gekom het nie. ‘Jesus’ is die Griekse eweknie vir die Hebreeuse naam ‘Josua’. Net soos wat Josua die volk in die Beloofde Land ingelei het, lei Jesus ons hemel toe. Sy Naam is die perfekte opsomming van sy missie. Daarom gee ek nie om of jy sy Naam in Grieks, Hebreeus, Engels, of Afrikaans sê nie. Die krag lê tog nie daarin dat jy sy Naam in ’n sekere taal sê, of selfs dat jy dit hardop sê nie. Die krag lê eerder in wie en wat Hy is, terwyl sy Naam maar net die opsomming daarvan is.

Dus is die vraag nie of jy sy Naam op jou lippe neem nie, omdat selfs ongelowiges en duiwels dit op die oordeelsdag sal doen (Fil. 2:10-11). Die vraag is of jy in sy Naam glo (Rom. 10:13). Is jy bereid om dit openlik te bely? Het jy dit al gedoen: deur die doop en jou persoonlike getuienis (Hand. 2:38)? Kry jy skaam om jou met sy Naam te vereenselwig? Is jy bereid om vir sy Naam te ly en jou lewe daarvoor af te lê? Het jy ’n diep ontsag en heilige respek vir sy Naam? Of gebruik jy dit as jy skrik, of kwaad raak? Pla dit jou as mense sy Naam in films misbruik, of is jy al gewoond daaraan?

Sleep jy sy Naam deur die modder, omdat jy jouself ’n Christen noem, maar nie soos een lewe nie? Wyle Martin Holdt het ’n getroude paartjie aangespreek, omdat hulle soos kat en hond baklei het: ‘Julle is besig om die Here se Naam ydellik te gebruik en volgens Eks. 20:7 sal Hy julle nie ongestraf laat bly nie.’ Jesus het ons geleer bid: “laat u Naam geheilig word” (Matt. 6:9). Laat ons die Here se Naam eerbiedig. Laat ons sy Naam prys en dit liefhê. Laat ons in sy Naam bid en ander daarvan vertel.

Is daar ’n Naam in die hemel, of op die aarde wat vir die Vader liefliker is as die Naam van sy Seun? Ken jy enige Naam soos syne; iemand wat met Hom vergelyk kan word? Volgens A.W. Tozer is God nie net bo aan die piramide van die skepping nie (asof die onsigbare dele van ’n molekule onder lê en God bo). Nee, maar God is heeltemal uniek, sodat die verskil tussen Hom en ’n aartsengel so groot is soos die verskil tussen Hom en ’n wurm.2

Moet dan nie van die Baba in v.21 praat, asof Hy maar net nóg ’n profeet, of wyse leermeester is nie. Hy is die ewige Seun van God wat mens geword het in Betlehem, wat 33 jaar later aan ’n kruis gesterf het vir ons sonde, wat begrawe is en op die derde dag opgestaan het uit die dood. Na 40 dae het Hy opgevaar hemel toe en aan die regterhand van God gaan sit. Hy sal weer kom om die wêreld te oordeel, en om ’n nuwe hemel en aarde te skep.

Waar is die wyse man, of profeet wat met Hom vergelyk kan word? Geen god is sy gelyke nie. Waar het enige god al ooit mens geword om vir sy vyande te sterf? Jesus staan in ’n klas van sy eie. Daarom dat R.C. Sproul sê: ‘...I’m sure it rankles God Almighty to hear any human being even mention Buddha in the same breath with Jesus Christ, because Christ alone is sinless. Buddha was a sinner and Buddha couldn’t save himself let alone anyone else. Mohammed was a sinner and Mohammed never saved anybody. Only Christ is sinless. Only Christ has offered an atonement. Only Christ has provided redemption for us.’3

Is hierdie Jesus—die Baba van Betlehem, die Man op Golgota, en die Koning op sy troon—jóú Verlosser? Buig dan voor Hom, terwyl jy Tomas se belydenis jou eie maak: “My Here en my God!” (Joh. 20:28).


1  Of ‘sondige vlees’.

2  A.W Tozer, The Knowledge of the Holy (Kent, England: STL Productions, 1961), 76

3  Uit sy preek, Christ: The Only Way (19:14-20:04). Verkry by https://www.ligonier.org/learn/series/objections-answered/christ-the-only-way/

Kategorieë