Coram Deo Cover Image

Coming soon...

30 August 2012

Uitverkiesing en voorkennis

 

Arminiane glo God sien vooruit wie sal glo en wie nie, en maak dít die basis van sy keuse van wie Hy gaan red.  Open Theists glo weer dat God glad nie vooruit weet wat mense sal besluit nie.  Hy raai maar net.  Dus bestaan daar nie regtig iets 'n uitverkiesing soos wat dit in die Bybel staan nie.  Maar in Romeine 8:29 verwys Paulus na uitverkiesing as ‘vantevore geken’.  Die term beteken nie dat God vooruit geweet het wie sou glo en wie nie, maar eerder dat Hy vooruit bepaal het wie sou glo en wie nie.  Vyf argumente ondersteun hierdie punt.

[i] Die Nuwe Testament gebruik onder andere die term ‘vantevore geken’ [Grieks proginosko] van God wat sekere dinge vooraf bepaal.  Hier is twee   voorbeelde:

“Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis [Grieks prognosis] van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring” (Handelinge 2:23).  Let op hoe God se bepaalde raad en voorkennis aanmekaar gekoppel word.

“uitverkore volgens die voorkennis [Grieks prognosis] van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermenigvuldig word!...[Christus] wat wel vooruit geken [Gk. proginosko] is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil” (1 Petrus 1:2, 20).  God het nie net vooruit geweet Jesus sou vir ons sterf, maar het dit bepaal.  En net so het God nie net vooruit geweet wie sy glo nie, maar Hy het dit bepaal.

[ii] As ‘vantevore geken’ bloot beteken dat God vooruit geweet het wie sou glo en wie nie, dan moet Hy gelowiges en ongelowiges vantevore ken.  Tog het Hy net gelowiges vantevore geken (Romeine 8:29-30).  [iii] In Romeine 8:29 verwys ‘vantevore geken’ na 'n intieme verhouding tussen God en sekere mense en nie net alwetendheid nie.  Let op hoe ‘ken’ in die volgende verse gebruik word.

“En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar en gesê:  Ek het ‘n man verkry met die hulp van die Here.” (Genesis 4:1).  Die ‘kennis’ in dié vers verwys duidelik na 'n intieme verhouding.

“Tog was Ek, die Here, jou God van Egipteland af, en buiten My het jy geen God geken nie, ja, behalwe My is daar geen Heiland nie.  Ek het jou in die woestyn geken, in die land van droogtes.” (Hosea 13:4-5).

“Hoor hierdie woord wat die Here oor julle gespreek het, o kinders van Israel, oor die hele geslag wat Ek uit Egipteland laat optrek het, naamlik:  Julle alleen het Ek geken uit al die geslagte van die aarde; dáárom sal Ek by julle besoeking doen oor al julle ongeregtighede.” (Amos 3:1-2).  Soos in die voorgenoemde vers verwys ‘geken’ hier na 'n intieme verhouding en nie maar net na die feit dat God vooruit geweet het Israel sou sy volk wees nie.

“En dan sal Ek aan hulle sê:  Ek het julle nooit geken nie.  Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matteus 7:23).  ‘Geken’ in hierdie vers het niks te doen met alwetendheid nie, maar eerder daarmee dat Jesus nie 'n intieme verhouding met hierdie mense gehad het nie; dat Hy hulle nooit as sy eie kinders geken het nie.

[iv] Volgens Romeine 8:29-30 het God het nie net feite vooruit geken nie (wie sou glo en wie nie), maar persone.  Paulus sê nie:  “...wat Hy vooruit geken het...” nie, maar “...wie Hy vantevore geken het...”  [v] Niks in ons het God gedwing om ons te kies nie.  Dit was in sy eie goedheid, liefde, en genade wat God besluit het om ons te red.  Hier is 'n paar tekste om die punt te bevestig.

“Want toe die kinders [Jakob en Esau] nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep...So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is.” (Romeine 9:11, 16).

“God het sy volk wat Hy vantevore geken het, nie verstoot nie...Net so is daar dan ook in die teenwoordige tyd 'n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van die genade.  En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie.  En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.” (Romeine 11:2, 5-6).

Die Here het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke.  Maar omdat die Here julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die Here julle met ‘n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos.” (Deuteronomium 7:7-8).  In ander woorde gesê:  “Ek het julle liefgehad omdat Ek julle liefgehad het.”

“maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak” (1 Korintiërs 1:27-28).  Weer sê ek:  daar is niks in ons wat God gedwing het om ons te kies nie.

Kategorieë