Coram Deo Cover Image

Coming soon...

1 February 2016

Twee toetse om te sien of jy die Here ken

Test

As ek met mense te doen kry en die evangelie deel, vra ek gewoonlik vir hulle die volgende vraag: ‘Is jy seker jy is gered en gaan hemel toe?’  Buiten vir ateïste wat nie in die hemel glo nie, en eerlike mense wat dadelik sê hulle gaan hel toe, kry ek onder godsdienstige mense vier antwoorde.

 

Een groep glo niemand kan verseker weet of hy gered is en hemel toe gaan nie. ‘n Tweede groep glo jy kan weet, maar hulle is nie seker nie.  Ander is 100% seker hulle gaan hemel toe, maar is mislei.  ‘n Laaste groep is waarlik gered en weet dit sonder twyfel.

 

Johannes erken die verskillende groepe. In 1 Johannes 2:3-11 wys hy jy kán sekerheid hê.  Hy probeer om misleides te wakker skud, en twyfelaars en ware gelowiges te bemoedig.  Om sy doel te bereik gebruik hy twee toetse.

 

Gehoorsaamheid (v.3-6)

In 1988 het ek die sondaarsgebed gebid. Daarna het ek bely dat ek die Here ken, maar my lewe het die teendeel gewys.  Ek sou enigiets doen om mense se guns te wen:  vloek, lieg, baklei, voor mense bid, getuig in die kerk, my sonde bely.  Ek het in ‘n toets gekul, was hoogmoedig, het arm en lelike kinders gespot, het slegte vriende gehad, en het my suster geslaan.  Hierdie en ander sondes het my lewe gekenmerk.  Ten spyte van my getuienis dat ek die Here ken, het my ongehoorsame lewe anders gewys.  Dit is Johannes se punt in v.3-6.

 

Jy weet jy ken Hom as jy sy gebooie doen, en nie as jy ‘n mistiese kennis het soos wat die vals leraars of gnostici geglo het nie (v.3).  Watse gebooie praat Johannes van?  Die Woord (v.5).  Hoe moet jy hierdie gebooie gehoorsaam?  Uit ‘n hart gevul met liefde vir God (Johannes 14:15).  Iemand wat ongehoorsaam is en sê hy het ‘n geheime kennis van God, lieg en het nie die evangelie-waarheid in sy hart nie (v.4).  Jesus het gesê:  “En wat noem julle My ‘Here, Here!’ en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46).  Nie almal wat sê ‘Here, Here’ is gered nie (Matteus 7:21-23).  Iemand wat die Woord hoor en nie doen nie, bou sy lewe op sand.  Die persoon wat Jesus se woorde hoor en doen, bou sy lewe op ‘n rots (Matteus 7:24-27).

 

Iemand wat die Woord gehoorsaam en ander liefhet, wys dat God se perfekte liefde in sy hart is (v.5, 4:12, 5:3, Romeine 5:5, Johannes 14:23). So iemand kan sonder twyfel weet hy woon in Jesus deur die geloof (v.5).  Hy sê nie net met sy lippe hy bly in Jesus en ken Hom nie, maar sy lewe wys dit (v.6).  So iemand se lewenswandel lyk soos Jesus s’n (v.6).

 

Meet jouself aan die gehoorsaamheidstoets. Onthou asseblief dat hierdie nie ‘n toets is vir sondeloosheid nie (1:8, 10).  Dis ‘n toets om te sien of gehoorsaamheid jou lewe kenmerk (v.3-6).  Lyk jou lewe soos Jesus s’n (v.6)?

 

  • Is jy gedoop (Matteus 3:16-17)?
  • Sê jy nee vir versoeking (Matteus 4:1-11)?
  • Deel jy die evangelie met mense (Matteus 4:17)? Probeer jy om sondaars vir die waarheid te wen (Matteus 9:10-13)?
  • Voel jy jammer vir mense met probleme (siekes, armes, weduwees)? Help jy hulle?
  • Praat jy sonder vrees en reguit met mense wat hulle nie wíl bekeer nie (Matteus 23, Johannes 8:44)?
  • Is jy vol van liefde vir skelms, prostitute, en allerhande sondaars (Lukas 7:36-50, 19:1-10)?
  • Volhard jy deur moeilike dinge, omdat jy begeer om God se wil te doen (Getsemane en Golgota)? Is God se eer vir jou belangriker as jou eie gemak?
  • Gehoorsaam jy die regering en betaal jy jou belasting (Matteus 17:24-27)?
  • Raak jy geïrriteerd met klein kinders, of is jy lief vir hulle (Matteus 19:13-15)?
  • Is jy lief vir mense wat jou verwerp (Markus 10:21)?
  • Word jy kwaad as mense God se eer aantas (Matteus 21:12-17)?
  • Treur jy oor sondaars wat die waarheid verwerp (Matteus 23:37, Lukas 19:41)?
  • Is jy iemand wat baie bid (Lukas 5:16, 6:12, 11:1, 22:39)?
  • Is jy lief vir jou vyande en vergewe jy hulle (Lukas 23:34)?
  • Stel jy ander bo self; maak jy opofferings vir ander (Filippense 2:5-8)?
  • Eer jy jou ouers (Lukas 2:51)?
  • Wys jy respek vir vroue (Johannes 4:27, 20:11-18)?
  • Is roem vir jou onbelangrik (Lukas 5:15-16)?
  • Is die waarheid vir jou belangrik, sodat jy nie bang is om vals leraars se gevoelens seer te maak nie (Lukas 20:45-47, Matteus 15:12-14)?
  • Gee jy om vir jou bejaarde ouers en behandel jy hulle met respek (Johannes 19:26-27)?
  • Is jy geduldig met mense wat twyfel (Johannes 20:24-29)?
  • Is jy gereed en bereid om te ly vir die waarheid (1 Petrus 2:21)?
  • Leef jy in liefde (v.6-7)? Leef jy soos Jesus?

 

Let asseblief op dat jy nie gered word as jy soos Jesus leef nie (dis ‘n liberale idee).  Dit is eerder so dat iemand wat soos Jesus leef, daardeur wys dat hy of sy gered is.  Die ware gelowige het ‘n transformasie ondergaan:  deur die Gees is hy instaat om soos Jesus te leef.

 

Moet dan nie meer staatmaak op jou sondaarsgebed, jou reaksie op ‘n ‘altar call’, jou getuienis, jou bekeringsdatum, jou doop, jou ouers se geloof, jou Christelike opvoeding, jou lidmaatskapsertifikaat, of jou aanneming en voorstelling nie. Die vraag is: leef jy in gehoorsaamheid aan die Here?  Getuig jou huidige lewe dat jy die Here ken?  Iemand wat homself nie hieraan meet nie, bedrieg homself en sal op die oordeelsdag ‘n aaklige verrassing kry.  Hoe moet dit wees om op daardie dag te hoor:  “Ek het julle nooit geken nie.  Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matteus 7:23)?

 

Liefde (v.7-11)

Jare gelede het ek ‘n geharde man ontmoet. Toe ek die eerste keer in sy huis kom, het hy gesê:  ‘Moenie dink jy sal ooit iets in die kerk regkry nie.’  Toe ek hom eenkeer vir sy verjaarsdag bel, het hy gesê:  ‘Dit is net nog ’n dag!’  Later het ek die storie van sy lewe gehoor.

 

In sy jong dae was hy aktief in Christelike uitreike en betrokke in die kerk. Toe gebeur daar iets.  Mense in die kerk was nors met hom.  Sy familie het grappe met hom gemaak.  Hy was liggeraak en het bitter geraak teen die kerk en sy familie.  Hy het sy vrou verbied om kerk toe te gaan.  As hy uitgevind het dat sy kerk toe is, was hy woedend en het hy ‘n vreeslike bohaai opgeskop.  Sy bitterheid het daartoe gelei dat hy uiteindelik agterdogtig was.  Toe ek hom net ontmoet het, het party mense gesê hy is ‘n Christen.  Johannes verskil egter, en sê in v.7-11 dat iemand wat nie sy broer liefhet nie, nie die eerste ding van Christen-wees verstaan nie.

 

Voordat Johannes vir sy lesers dat ‘n ware Christen ander liefhet, stel hy self die voorbeeld deur sy lesers aan te spreek as ‘geliefdes’ (v.7).  Die gebod om lief te hê is nie syne nie:  dit is God se ou gebod uit Deuteronomium 6:5 en Levitkus 19:18, asook uit die begin van die Nuwe Testament evangelie (v.7, 2 Johannes 5-6, Johannes 13:34-35).

 

Die gebod is oud, maar ook nuut deur Jesus se perfekte liefde aan die kruis, en sy liefde in ons harte (v.8, Romeine 5:5). Vir ons kwyn die duisternis van die sondige wêreld, terwyl die lig van die toekomstige wêreld reeds skyn (v.8, Galasiërs 1:4, Johannes 8:12, Efesiërs 5:8, Romeine 13:12).  In die konteks is lig liefde en duisternis haat.  Iemand wat sy broer haat en sê hy lewe in die lig, lieg en is nog in die duisternis (v.9, 4:20, Titus 3:3).  Iemand wat sy broer liefhet wys dat hy in die lig lewe (v.10).  Die lig van sy liefde vir ander help dat hy hulle en hul behoeftes mooi raaksien (v.10).  Die duisternis van haat verblind nie sy oë, sodat hy alewig in verhoudings struikel en hom in rusie vasloop nie (v.10).

 

Iemand wat sy broer haat is ongered en in die duisternis van sonde (v.11). Die duisternis verblind hom so, dat hy rigtingloos is en nie besef hy is op die dwaalweg van die hel nie (v.11).  “die weg van die goddelose [is] soos duisternis:  hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie.” (Spreuke 4:19).

 

Meet jouself aan die liefde-toets. Natuurlik sal geen Christen hierdie kant van die hemel volmaak liefhê nie.  Tog sê Johannes dat ‘n Christen se lewe nie deur bitterheid of ‘n string gebroke verhoudings gekenmerk word nie.  Vir Johannes is dinge swart of wit, lig of duisternis – daar bestaan nie ‘n ‘grys’ kategorie soos skemer nie.  As jy nie jou broer liefhet nie, leef jy in die duisternis van haat.

 

Iemand wat die Here ken, het sy eie swart hart van sonde gesien toe die lig van die evangelie daarop geskyn het. ‘Hoe kan God ‘n lelike sondaar soos ek liefhê?’ vra hy.  Hy is so bly dat God sy BAIE sonde vergewe het.  Hy kan nie anders as om ander sondaars lief te hê, en hulle bietjie sonde teen hom te vergewe nie.  Soos Jesus het hy selfs sy vyande lief.  Hy nie net dat hy ander liefhet nie, maar wys dit in praktiese dade (3:16-18).  Iemand wat ander liefhet vermy nie net om hulle te beskadig nie, maar neem positiewe aksie om liefde te bewys.

 

Slaag jy die liefde-toets? Ken jy die Here?

 

[1] Haat jy jou broer? Dagdroom jy oor hoe die persoon dood is en jy gelukkig is?  Dagdroom jy oor hoe die persoon trek en uit jou lewe verdwyn?  Dagdroom jy oor hoe jy die persoon regsê en die argument wen?  Is jy omgeroer of kwaad as jy aan die persoon dink of hom in die straat sien?  Skinder jy van die persoon; breek jy sy of haar reputasie af?  Weier jy om die persoon te vergewe?  Doen jy moeite om die persoon te vermy?  Het jy die persoon op jou selfoon geblok, of ‘unfriend’ gedruk op Facebook?  Wens jy om dood te gaan, sodat jy nie meer in die persoon se gesig hoef vas te kyk nie?  Het jy gedagtes van moord om van die persoon ontslae te raak?  Dalk is dit tyd dat jy jou vals sekerheid los en besef jy’s ongered.

 

[2] As jy op die huidige oomblik bitter is, maar dit kenmerk nie jou lewe nie, moet jy Kolossense 3:13 en Matteus 6:14-15 onthou en toepas: “Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen... Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.  Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.”

 

[3] As jy Johannes se twee toetse geslaag het, moet jy God dank en ‘n paar dinge onthou.

 

  • Gehoorsaamheid en liefde is ‘n bewys van ware redding, nie die oorsaak daarvan nie. Jy is gered uit God se vrye en soewereine genade, en nie omdat jy meer liefhet as ander, of meer gehoorsaam is as hulle nie.
  • Waak en volhard in gehoorsaamheid en liefde.
  • Daar is ander toetse in die brief wat jy nog nie geskryf het nie. Moenie dink jy staan nie, want dalk val jy (1 Korintiërs 10:12).

 

Selfs na ‘n harde teks soos 1 Johannes 2:3-11, wil God nie hê jy moet dink daar is nie hoop nie. In Jesus is daar hoop as jy erken jy kan nie jouself help nie, maar het Hom en sy kruis nodig om die twee toetse te slaag.

 

As jy jouself nie aan die liefde-toets meet nie, sal jy in die donker loop. Jy sal jouself oortuig dat jy gered is, omdat jy die regte teologie glo.  En tog sê die Bybel:  “Jy glo dat God één is.  Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder.” (Jakobus 2:19).

 

Gestel jy doen aansoek vir ‘n werk wat vereis dat jy vir ‘n vol mediese ondersoek gaan. Jy voel goed, oefen gereeld, eet gesond, en dink jy het nie ‘n ondersoek nodig nie.  Maar omdat jy graag die werk wil hê, maak jy ‘n afspraak by die dokter.  Toe die dokter die ondersoek doen, kom hy agter jy is terminaal siek.  Jy het ‘n paar weke oor om te lewe.  Die dokter maak egter of niks verkeerd is nie.

 

Wat dink jy sal jou naaste familie sê as hulle ná die begrafnis moet uitvind dat die dokter geweet het jy is terminaal siek, maar hy het vir niemand gesê nie? Of erger:  as die dokter die geneesmiddel by hom gehad het, en dit nie vir jou gegee het nie?  Sal die familie dit aanvaar as die dokter homself verskoon deur te sê:  ‘Ek wou nie sy gevoelens seermaak nie, en daarom het ek nie vir hom gesê hy is terminaal siek nie’?

 

Moet asseblief nie dink Jesus het 1 Johannes 2:3-11 in die Bybel gesit omdat Hy jou haat nie. Hy het dit juis ingesit omdat Hy jou liefhet, en nie wil wegsteek dat jy terminaal siek is nie.  As jy sy diagnose aanvaar en Hom net vra, sal Hy die geneesmiddel vir jou gee.

Kategorieë