Coram Deo Cover Image

Coming soon...

23 November 2013

Só lyk 'n samelewing wat God ontken

There's no God

‘Dít is wat gebeur as 'n mens God onttroon en jouself die middelpunt wil maak:  jy vergeet jou verantwoordelikhede teenoor ander; jy misbruik hulle besittings en selfs hulle liggame om jouself te dien’ (Barrett, aangehaal in New Bible Commentary, p.1018).  So klink Paulus se beskrywing hiervan:

 

28 En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ‘n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie: 29 hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid; 30 nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers; 31 onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig, 32 mense wat al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.” (Romeine 1).

 

Mense se denke (v.28)

As jy wil weet of edelmetale suiwer en bruikbaar is, moet jy dit in vuur toets.  Net so toets God mense se harte en gedagtes:  “Die smeltkroes is vir die silwer en die oond vir die goud, maar die HERE toets die harte.” (Spreuke 17:3).  Hy sien dat mense se gedagtes onrein en waardeloos is.  Hulle erken Hom nie, maar sê:  ‘Ek sal laterin my lewe oor God besluit...Godsdiens is nie vir my nie...Kerk is 'n mors van tyd...Ek is verlig – die Bybel is 'n antieke boek vir antieke mense...Om God te erken pas my nie’.  Job 21:14-15 sê:  “Tog het hulle tot God gesê:  Bly ver van ons af; en:  In die kennis van u weë het ons geen behae nie.  Wat is die Almagtige dat ons Hom sou dien?  En wat baat dit ons dat ons biddend by Hom aandring?”  Omdat dit mense nie pas om God te dien nie, het God hulle oorgegee aan begeertes, denke en dade wat nie by opgevoede mense pas nie (v.28).  “In sy sonde sê die mens vir God:  ‘Gaan weg en los my uit.’  Deur die straf van die hel sê God vir die mens:  ‘Jou wens is vervul.’” (C.S. Lewis, aangehaal in Millard J. Erickson, Christian Theology, p.1240).

 

As jy soos Farao volhou met jou sonde, jóú wil doen, God ignoreer en jou hart verhard (Eksodus 8:32), dan sal God jou hart verhard, sodat jy jou nie kán bekeer nie (Eksodus 10:27).  Die Bybel noem dit sonde teen die Heilige Gees; die onvergeeflike sonde.  Dit is hoe dit beskryf word:

 

“‘n Man wat baie bestraf is, en sy nek verhard, sal onvoorsiens verbreek word sonder dat daar genesing is.” (Spreuke 29:1).

 

“Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie.  Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie.  Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou; omdat daar gesê word:  Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering nie.” (Hebreërs 3:12-15).

 

“Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.” (Hebreërs 6:4-6).

 

Party van my hoorders en lesers het al baie keer die evangelie gehoor, maar lewe nogsteeds in rebellie teen God.  Die Here gee vandag vir jou nog 'n kans.  Moenie alweer uitstel nie.  Dalk oorkruis jy vandag die onsigbare lyn.  Miskien is vandag die dag wat God jou hart verhard.  Hoor die Woord van die Here:  “Kyk, NOU is dit die tyd van die welbehae; kyk, NOU is die dag van heil.” (2 Korintiërs 6:2b).

 

Mense se dade (v.29-31)

In Dr. Seuss se Lorax, sing die hoofkarakter:  ‘How b-a-a-a-a-d can I be?’  Sy lirieke is 'n goeie opsomming van v.29 waar Paulus twee keer sê dat die mens vol van sonde is.  Alhoewel dit in 'n ander konteks gesê is, geld Jehu se woorde vir ons samelewing:  “Agab het Baäl ‘n bietjie gedien; Jehu sal hom baie dien.”  Die frase ‘vol sonde’ beteken nie net dat mense baie sonde doen nie, maar ook baie verskillende soorte sonde.  Iemand wat vol drank is word deur die alkohol beheer.  Net so word mense wat vol van sonde is daardeur beheer:  hulle harte, gedagtes, begeertes, emosies, wil, woorde, dade, sintuie, ensovoorts.

 

In v.24-27 het ons reeds in detail gekyk na seksuele immoraliteit en homoseksualiteit.  In v.29-31 gee Paulus nog 21 voorbeelde van sondes wat soos die pes uitbreek in 'n samelewing sonder God (die Ou Vertaling noem 23 sondes, maar twee hiervan kom nie in die beste manuskripte voor nie.  Die ekstra twee word op ander plekke in die Bybel verdoem).  Hier is hulle:

 

[1] Ongeregtigheid.  Alle ongeregtigheid is sonde (1 Johannes 5:17).

 

[2] Boosheid.  Uiterlik lyk hulle miskien skoon, maar innerlik is hulle vol van boosheid (Lukas 11:39).  Hulle word veral deur bose magte verlei om aaklige dinge te doen (Efesiërs 6:12).

 

[3] Hebsug of gierigheid.  Die Skrif sê:  “Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.” (Eksodus 20:17).  Paulus sê gierigheid is afgodery (Kolossense 3:5).  Mense sal ander mense doodmaak, steel, leuens vertel, egbreuk pleeg, onderdruk, op ander trap om te kry wat hulle wil hê.  Ons moet pasop dat ons nie ons kinders leer om gierig te wees nie.  Moet hulle nie met geskenke manipuleer nie:  ‘As jy ophou huil sal ek vir jou 'n suigstokkie koop...As jy jou eksamen slaag sal ek vir jou 'n kar koop’.  Moenie toegee aan hulle tantrums omdat jy nie in die verleentheid wil kom nie.  Moenie maak asof kersfees oor húlle gaan en nie oor Jesus nie.  Deur al hierdie dinge te doen leer jy hulle om te kry wat húlle wil hê.

 

[4] Ondeug.  Dit praat van slegte planne in 'n mens se hart.  Die Skrif sê:  “Jy mag jou broer in jou hart nie haat nie.  Jy moet jou naaste vrymoedig berispe, sodat jy om sy ontwil geen sonde op jou laai nie.  Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself.  Ek is die HERE.” (Levitikus 19:17-18).

 

[5] Nydigheid.  Hier praat Paulus van mense wat so afgunstig is, dat hulle seker sal maak dat niemand goeie dinge kan kry as húlle dit nie kan kry nie (byvoorbeeld bevordering by die werk).

 

[6] Moord.  In Paulus se dag was kindermoord, aborsie, mense-offers en selfmoord algemeen.  Baie keisers het hulle vroue, kinders, dienaars, slawe en ander vermoor.  Dalk beplan jy moord, selfmoord of aborsie.  Maar moenie dink jy is onskuldig as dít nie in jou gedagtes is nie.  As jy iemand uit jou lewe wil hê (hetsy deur te skei, mense te haat, te ignoreer, af te skryf, aan te val, te vloek, te skel, te slaan of te dagdroom hulle trek of sterf) is jy 'n moordenaar (1 Johannes 3:15).

 

[7] Twis.  Daar was onlangs 'n hewige geveg tussen 'n klomp NG-kerk dominees en lidmate op Facebook.  Maar wat van jou?  Hoe lyk die verhoudings in jóú huwelik, gesin, werk, skoonfamilie en kerk?

 

[8] Bedrog.  Dit sal geld insluit, maar gaan oor meer as dit.  Jy kan bedrog pleeg met jou tong of deur te sê jy is 'n Christen terwyl jou dade glad nie jou belydenis ondersteun nie.  As jy jou beloftes breek of jou stories vergroot om mense te beïndruk (daardie ‘jagstories’ van jou).  Selfs as jy 'n sogenaamde witleuen vertel is jy skuldig aan bedrog.

 

[9] Kwaadaardigheid.  Sulke mense dink die slegste van ander en bevraagteken alewig ander se motiewe (selfs al doen die mense goed aan hulle).

 

[10] Nuusdraers.  Hierdie is die soort mense wat alles weet van almal (hulle snoep rond op Facebook en steek hulle neuse in ander mense se sake).  Die Bybel sê:  “Jy mag nie as ‘n kwaadspreker onder jou volksgenote rondloop nie. Jy mag nie teen die lewe van jou naaste optree nie.  Ek is die HERE.” (Levitikus 19:16).

 

[11] Kwaadsprekers.  Dié mense hou veral daarvan om baie te praat op die telefoon (al is dit per sms of Whatsapp).

 

[12] Haters van God.  Jesus het gesê dat die wêreld Hom haat (Johannes 7:7).  Sulke mense haat God omdat Hy tussen hulle en hulle sonde staan.  Hulle gunsteling onderwerp is om God, die Bybel en Christenskap te belaster en uit te lag.

 

[13] Geweldenaars.  Die woord spreek van mense wat ander seermaak, omdat dit vir hulle plesier bring.  Hulle is sadiste.

 

[14] Trotsaards.  Dié mense verkleineer graag ander mense om hulleself beter te laat lyk.

 

[15] Grootpraters.  Judas 16 praat van ‘loud-mouthed boasters’ (ESV).  Hierdie mense sal grootpraat oor hulle...

  • Godsdienstigheid (Lukas 18:11-12).
  • Rykdom (Psalm 49:7).
  • Afgode (Psalm 97:7).
  • Sonde (Psalm 52:3).  Twee seuns op skool het eendag by 'n gimnastiek oefening geroem oor watse lelike sondes hulle al gedoen het.  Die een wou beter wees as die ander, en dit terwyl Paulus praat van sondes waaroor ons skaam behoort te wees (6:21)!
  • Belangrikheid (Handelinge 5:36).  Het jy al gedagdroom oor hoe jy beroemd word, of oor hoe ander mense goed praat van jou?  Party mense (soos Miguel de Jesus in Meksiko) gaan so ver om te sê dat hulle God is (2 Tessalonisense 2:4).
  • Planne (Jakobus 4:16).  Hulle praat asof hulle in beheer is van die toekoms.

 

Mense wat so roem, roem oor dinge wat net in hulle verbeelding bestaan.  Hulle hoop om ander te beïndruk.  As Christene moet ons eerder roem in die Here en sy kruisdood (Jeremia 9:23-24, Galasiërs 6:14).  Laat ons roem deurdat ons sy lof besing en sy grootheid verkondig in die evangelie.

 

[16] Uitvinders van slegte dinge.  “God [het] die mens reg gemaak [Adam en Eva]...maar hulle het baie slim planne gesoek.” (Prediker 7:29).  In ons land dink mense nuwe metodes van kaping uit.  Party mense vind plesier daarin om nuwe maniere van sonde uit te toets.  TV en films help veral om kinders en misdadigers hierin aan te moedig.  Ook as mense tyd misbruik en ledig is word hulle hierin aangehits.

 

[17] Ongehoorsaam aan ouers.  Ons lees van Eli se seuns:  “Maar Eli was baie oud, en as hy hoor alles wat sy seuns aan die hele Israel doen, en dat hulle gemeenskap hou met die vroue wat dien by die ingang van die tent van samekoms, dan sê hy vir hulle:  Waarom doen julle sulke dinge, dat ek van hierdie hele volk julle slegte dinge moet hoor?  Dit moenie wees nie, my seuns, want dit is geen goeie gerug wat ek hoor nie; julle maak dat die volk van die HERE oortree.  As mens teen mens sondig, dan beslis die owerheid oor hom, maar as ‘n mens teen die HERE sondig, wie sal dan vir hom as skeidsregter optree?  Maar hulle het nie na hul vader geluister nie, want die HERE wou hulle ombring.” (1 Samuel 2:22-25).  Daar is geen meer respek vir onderwysers in ons skole nie.  Oor die afgelope paar maande is onderwysers deur kinders aangerand.  Ook in die werkplek bestaan respek nie meer nie.  Waar anders begin dit as in die huis?  Jesaja 3 beskryf wat in 'n vervalle samelewing gebeur:  “En Ek sal seuns hulle vorste maak, en moedswilliges sal oor hulle heers.  En die mense sal mekaar verdruk, man teen man, en die een teen die ander; die seun sal die grysaard, die veragtelike sal die agbare stormloop...Die drywers van my volk is kinders...” (v.4-5, 12).

 

In 18 Oktober se Citizen was daar 'n artikel wat duidelik wys dat ons land op 'n afdraende pad is.  Die titel was, What makes parents uncool?  Hier is 'n paar dinge:

 

  • As hulle nie die toptreffers ken nie.
  • As hulle nie moderne liede se woorde ken nie.
  • As hulle nie 'n ordentlike kar ry nie.
  • As hulle nie toelaat dat hulle kinders laat uitbly nie.
  • As hulle geen belang in rekenaar speletjies het nie.
  • As hulle toesien dat hulle kinders die regte skooldrag dra.
  • As hulle nie wil hê hulle kinders moet oorbelle dra nie.
  • As hulle nie toelaat dat hulle kinders selfone het nie.
  • As hulle nie DSTV het nie.
  • As hulle nie toelaat dat hulle kinders dra wat hulle wil nie.
  • As hulle 'n goeie verhouding met hulle kinders se vriende het.
  • As hulle nie toelaat dat hulle kinders 'n tattoo kry nie.
  • As hulle nie vir hulle kinders 'n i-Pad kry nie.

 

Dit is sleg en ongesond as 'n samelewing om jongmense draai; as hulle toelaat dat die jongmense voorskryf hoe dinge moet wees (byvoorbeeld die ANC Jeugliga of tieners wat bepaal wat die populêre modes, musiek en films moet wees).  Die kerk moenie deur die wêreld beïnvloed word, sodat alles jongmens-gesentreerd is nie.  Tydens die 1904 herlewing in Wallis het mense gedink dat dit baie geestelik is om die leisels oor te gee aan jongmense.  Een prediker is nie deur die jongmense (tussen 16 en 23 jaar) toegelaat om te preek nie.  Nadat hy vir 'n paar weke uit die kansel afwesig was, het hy vir hulle gevra:  ‘Am I to preach tonight?’  Hulle antwoord was:  ‘It depends upon what the Spirit tells us.’  Een man skryf oor hierdie herlewing:  “In the present revival, the Bible is ignored, and it is claimed that visions and new revelations are received...In the Book of Acts it is said that Paul ordained elders in every church...It is clear to all who wish to see that it was the elders who were to rule in the churches...In the present revival, the elders are condemned as heretics if they do not yield, and conform to the methods of the young.  The officers of the churches are at present ignored.’ (Iain Murray, Pentecost – Today, pp.161-162).  Die bestaan van jeugkerke is ongesond.  Ek sien geen voorbeeld daarvan in die Bybel nie.

 

[18] Onverstandig (cf. v.21-22).  In 3:11 sê Paulus:  “Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie.”  In baie gevalle is dit jongmense wat roekeloos is en dom dinge aanvang.  Maar hierdie sonde is nie nettot hulle beperk nie.

 

[19] Ontrou.  Mense is dislojaal; jy kan nie op hulle steun of staatmaak nie.  Die Griekse term beteken letterlik ‘verbond brekers’.  Sulke mense se handtekening of woord beteken vir hulle niks nie.  Vir hulle is 'n verbond niks meer as 'n stuk papier nie.  Hulle breek hulle huweliksbeloftes.  Hulle hou nie by die kontrakte wat hulle onderteken nie.  Hulle belofte as lidmate van die kerk word gebreek.  Die getuies by hulle doop of die toewyding van hulle kinders kan duidelik sien watse tipe mense hulle is:  ontrou.

 

[20] Sonder natuurlike liefde.  In die eerste eeu is 'n nuutgebore baba aan sy of haar pa se voete neergelê.  Die pa het besluit of hy die kind wil hê of nie.  Net soos in ons tyd, is babas in Paulus se tyd geaborteer of weggegooi ('n ma wat dít doen het geen natuurlike liefde nie!).  Ook bejaarde mense was vir die samelewing 'n las.  Vandag baie mense dat hulle vir ou mense omgee, maar die feit dat baie kinders hulle ouers eenkeer in ses maande in die siekeboeg gaan sien getuig anders.  Mense is, soos Paulus sê, sonder natuurlike liefde.

 

[21] Onbarmhartig.  Die Mouk-stam het voorvader geeste aanbid.  Tydens hulle feeste sou een van die mans 'n lelike masker op hê, en maak of hy 'n voorvader gees is.  Indien 'n vrou sou uitvind dat dit net 'n gewone man was wat die masker aan het, het hulle haar doodgemaak.  In Indië sou 'n weduwee lewendig langs haar man verbrand word.  Paulus het geleef in 'n wêreld waar Gladiators mekaar vir die keiser se plesier doodgemaak het.  In ons tyd het mense wat in plaasmoorde betrokke is geen barmhartigheid oor hulle slagoffers nie – selfs al is hulle bejaard.  Die een rede hoekom mense onbarmhartig is, is omdat hulle self nie barmhartigheid verstaan nie.  Die les wat so iemand moet leer is dit:  Jesus het geeneen van die sondes van v.29-31 gedoen nie.  Hy het perfek gelewe, maar is namens ons gestraf asof Hy elkeen van hierdie sondes gedoen het.  Indien jy tot Hom roep, na Hom toe kom, op Hom vertrou, die evangelie glo, jou sonde bely, vergifnis vra en jou bekeer, dan sal jy gered word van die oordeel wat oppad is.

 

Mense se goedkeuring (v.32)

‘Die uiterste van sonde is as mense applous gee vir ander se sonde, eerder as om daaroor te treur’ (NIV Study Bible).  In Angus Buchan se film, Ordinary People, juig 'n groep motorfietsryers 'n ‘nuweling’ toe om dronk te word.  Mense se gewetens getuig dat hulle vir hulle dade die dood verdien:  “Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself ‘n wet, al het hulle geen wet nie; omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig” (2:14-15).  “Want die loon van die sonde is die dood” (6:23).  Mense sondig dus nie uit onkunde nie, maar in direkte rebellie teen God:  “mense wat al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien” (v.32a).  Hierdie mense doen nie net self die sonde nie, maar keur ook ander se sonde goed, verbly hulle daarin en hits dit aan:  “dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.” (v.32b).  Baie ander verse bevestig dit:

 

“As jy ‘n dief sien, dan geval dit jou by hom, en jou deel is met die egbrekers.” (Psalm 50:18).

 

“Met hulle boosheid verbly hulle die koning en met hulle leuens die vorste.” (Hosea 7:3).

 

“En Judas Iskáriot, een van die twaalf, het na die owerpriesters gegaan om Hm aan hulle oor te lewer.  En toe hulle dit hoor, was hulle bly en het belowe om hom geld te gee. En hy het na ‘n goeie geleentheid gesoek om Hom oor te lewer.” (Markus 14:10-11).

 

“Julle gee dus getuienis vir die werke van julle vaders en het saam welbehae daarin, want hulle het hul gedood en julle bou hul grafte.” (Lukas 11:48).

 

“En Saulus het ook sy vermoording goedgekeur.” (Handelinge 8:1).

 

“en toe die bloed van Stéfanus, u getuie, vergiet is, het ek ook self daarby gestaan en sy vermoording goedgekeur en die klere opgepas van die wat hom doodgemaak het.” (Handelinge 22:20).

 

“[Die liefde] is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid.” (1 Korintiërs 13:6).

 

“sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.” (2 Tessalonisense 2:12).

 

Dit is erg dat party van die owerhede, polisie en regters in ons land kop in een mus is met misdadigers.  Ook die media vind genot in ander se sonde, deurdat hulle dit van die dakke af verkondig.  Die versoeking is daar vir ons om onsself in ander se sonde te verlustig en om dit goed te keur.  TV, tydskrifte en advertensies kan 'n mens maklik in hierdie strik laat trap.  Pasop!

 

Die verskriklike sondes in v.28-32 wys vir ons dat geen mens hom of haarself kan red nie.  Ons sal nooit hierdie land kan verander nie.  Indien verandering plaasvind moet dit van God af kom.  Hy sal bonatuurlik moet ingryp.  Die evangelie alleen kan ons red van die mag van sonde (v.16-17).  Die herlewings van die geskiedenis is 'n bewys dat die evangelie 'n vervalle samelewing kan herstel.  Na die 1859 herlewing in Noord-Ierland het die drank bedryf op sy neus geduik.  Een distrik het nege drinkplekke gehad.  Twee het gesluit toe hulle eienaars tot bekering gekom het.  Drie moes toemaak omdat daar geen besigheid was nie.  Die ses wat oopgebly het se verkope was in die jaar 1860 minder as wat voorheen deur één drankwinkel verkoop is (Iain Murray, Pentecost – Today?, p.182).  In plekke waar mense geen Bybel het, die gesonde lering daarvan hoor en daaraan gehoorsaam is nie, floreer die sondes waarvan ons in v.28-32 lees.  Dis 'n feit.

 

Kategorieë