Coram Deo Cover Image

Coming soon...

30 October 2014

Ses vergete gebooie

Don't forget

Baie mense klop hulleself op die skouer omdat hulle die Tien Gebooie nakom. Maar hulle minag minder bekende gebooie soos dié in Filippense 4:4-9.

 

4 Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal:  Verbly julle! 5 Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word.  Die Here is naby. 6 Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. 7 En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.

 

8 Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit. 9 En wat julle geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het, doen dit, en die God van vrede sal met julle wees.”

 

Verbly jou altyd in die Here (v.4)

Die Filippense het onthou wat met Paulus gebeur het toe hy in hulle stad was. Hy is geslaan en saam met sy vriend Silas in die tronk gegooi.  Middernag het hulle lofliede gesing (Handelinge 16:25).  Sal jy sing as dit met jou gebeur?  Hoe het hulle dit reggekry?

 

Paulus se blydskap was in die Here.  Nou sê hy vir die Filippense om hulle te verbly in die Here (v.4).  Wat beteken dit?  God het ons verlos en is die oorsprong van ons blydskap.  Hy verheug Hom in ons (Sefanja 3:17) en daarom kan ons onsself ook in Hom verheug (v.4).  Sy Gees wat in ons woon werk hierdie vreugde in ons (Galasiërs 5:22).  As ons in die Here bly is, dan lê ons blydskap nie ons omstandighede nie.  Daarom kan Paulus in die tronk wees (1:13) en nogsteeds bly wees.  As ons blydskap in ons omstandighede lê sal ons vandag bly wees en môre depressief.  Maar as ons blydskap in die Here is kan ons altyd bly wees.  Hoekom?  Want die Here se liefde vir ons bly konstant.  Let maar op hoe Paulus dwarsdeur hierdie brief blydskap het:

 

  • “ek bid altyd in al my gebede vir julle almal met blydskap” (1:4).
  • “hierin verbly ek my en sal ek my ook verbly.” (1:18).
  • “Maar al word ek as ‘n drankoffer uitgegiet oor die offer en bediening van julle geloof, verbly ek my, ja, verbly ek my saam met julle almal; en om dieselfde rede moet julle ook bly wees en julle saam met my verbly.” (2:17-18).
  • “Verder, my broeders, verbly julle in die Here.” (3:1).
  • “Ek het my grootliks verbly in die Here” (4:10).

 

Wat moet jy doen om jou altyd in die Here te verbly?

 

[1] Begin elke dag met God. Moenie net die Bybel lees of bestudeer nie, maar oordink en deurbid dit totdat jou hart bly raak in die Here.  “Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word... Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie.  Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.” (Johannes 15:11, 16:24).

 

[2] Glo wat jy in die Bybel lees. God se blydskap kom na ons toe deur geloof:  “En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof... vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap”(Romeine 15:13, 1 Petrus 1:8).

 

[3] Word gevul met die Gees, want die vrug van die Gees is blydskap (Galasiërs 5:22).

 

[4] Bely daagliks jou sonde, omdat dit sonde – en sonde alleen! – is wat blydskap steel. Nadat Dawid gesóndig het was sy gebed:  “Gee my weer die vreugde van u heil” (Psalm 51:14).

 

[5] Het jy opgelet dat die blydskap in hierdie vers ‘n opdrag is? Moet dan nie wag vir ‘n gevoel van blydskap nie, maar wees gehoorsaam:  “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal:  Verbly julle!” (v.4).

 

Wees vriendelik met almal (v.5)

In ‘n Christelike film het Mr. Barnes dronk bestuur en ‘n ongeluk veroorsaak. Mr. Barnes het die ongeluk oorleef, maar die vrou in die ander voertuig is dood.  Die vrou se wewenaar, Jonathan Sperry, het uit sy pad gegaan om gaaf te wees met Mr. Barnes.  Sonder Mr. Barnes se wete het hy ‘n jong seun betaal om sy gras te sny.  Toe Jonathan Sperry dood is het Mr. Barnes dit uitgevind en gesê:  ‘If there was ever a Christian man in this town it was Jonathan Sperry.’

 

Christene moet vriendelik en gaaf wees met almal, en nie net met dié wat mooi is met húlle nie (v.5). Jesus het gesê:  “En as julle dié liefhet wat vir julle liefhet, watter dank het julle?  Want die sondaars het ook dié lief wat vir hulle liefhet.  En as julle goed doen aan die wat aan julle goed doen, watter dank het julle?  Want die sondaars doen ook dieselfde.  En as julle leen aan dié van wie julle hoop om terug te ontvang, watter dank het julle?  Want die sondaars leen ook aan die sondaars, om net soveel terug te ontvang.  Maar julle moet jul vyande liefhê en goed doen en leen sonder om iets terug te verwag, en julle loon sal groot wees; en julle sal kinders van die Allerhoogste wees; want Hy self is goedertieren oor die ondankbares en slegtes.  Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is.” (Lukas 6:32-36).

 

Jesus het sý vyande liefgehad (Romeine 5:10). Noudat sy Gees ons harte verander het kan ons sy voorbeeld volg.  In Lukas 6:27-31 wys Hy vir ons hoe om dit te doen:  “Maar Ek sê vir julle wat luister:  Julle moet jul vyande liefhê en goed doen aan die wat vir julle haat.  Seën die wat vir julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig.  Aan hom wat jou op die wang slaan, moet jy ook die ander een aanbied; en aan hom wat jou bo-kleed neem, moet jy ook die onderkleed nie weier nie.  Maar gee aan elkeen wat jou iets vra, en eis jou goed nie terug van hom wat dit neem nie.  En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.”

 

As jy vriendelik is met ander help jy hulle en verheerlik jy die Here. Maar het jy al daaraan gedink dat ‘n gawe mens ook homself bevoordeel?  “‘n Man wat ‘n weldaad bewys, doen goed aan sy eie siel” (Spreuke 11:17).

 

Moenie angstig wees nie (v.6a)

By die ABK se jeugkamp het ek gesê dat angs sonde is en nie veroorsaak word deur ‘n chemiese wanbalans in die brein nie; dat die oplossing bekering is en nie Xanax of ander pille nie.  Na die tyd het ‘n verwarde meisie my hieroor uitgevra.  Hoe sou jý antwoord?

 

[1] Paulus sê in v.6a ons moet oor niks angstig wees nie. Jesus sê ten minste vier keer in Matteus 6:25-34 ons moenie angstig wees nie.  Om dus angstig te wees is ongehoorsaamheid, en ongehoorsaamheid is sonde.  Jesaja 41:10 sê:  “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God.  Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.”  Iemand wat angstig is glo nie hierdie vers nie.  So iemand vertrou nie dat God hom of haar kán of wíl help nie.  ‘n Angstige mens betwyfel die Here se krag en goedheid om te beskut en te voorsien.  Hy of sy vrees mense, die duiwel, afgode en die skepping bo God.

 

[2] ‘n Chemiese wanbalans as die oorsaak vir angs of depressie is nog nooit medies bewys nie. Dit is ‘n teorie.  As ‘n dokter enigte siekte diagnoseer neem hy x-strale, ‘scans’, trek bloed, doen ‘n EKG, ensovoorts.  Angs word nie so getoets nie.  Die psigiater kyk na die simptome en sê (sonder enige mediese toets) dat jy angsaanvalle kry en pille moet drink.  Die pille kalmeer jou wel, maar sodra jy ophou om dit te gebruik is die angs terug.  Wat sê dit vir jou?  Hulle is besig om simptome te behandel en nie die wortel van die probleem aan te spreek nie.

 

Hoekom hoef jy nie angstig te wees nie? Want die Here is naby jou (v.5b).  Memoriseer dan verse, lees boeke en luister preke oor God se soewereine beheer in die wêreld – ook oor die dinge wat jou angstig maak.  Doen ook v.6b sê:  bid oor alles.  Angs maak tog nie jou situasie beter nie, of hoe?

 

Bid oor alles (v.6b-7)

‘n Kollega se vrou is ‘n graad 1 onderwyseres. Eendag toe vertel ‘n kind vir haar dat skelms by hulle huis ingebreek het.  Die vrou sê toe vir klas:  ‘Julle, ons moet vir leerling-X bid, dat die Here die polisie sal help om die skelms te vang.’  ‘n Seuntjie steek toe sy hand op en sê:  ‘Juffrou, ons hoef nie te bid nie want hulle het versekering.’

 

Wanneer ons angstig is moet ons nie op die versekering of enigiemand anders vertrou nie, maar op die Here. Bid tot Hom.  Stort jou hart uit in gebed.  Smeek Hom.  Werp jou sorge op Hom (1 Petrus 5:7).  En dank Hom dat Hy in beheer is en alles vir die beste sal uitwerk (v.6b, Romeine 8:28).  Wat sal gebeur as jy dít doen?  Jy sal te midde van jou slegte omstandighede vrede hê; vrede wat nie verklaar kan word nie (v.7).  Jesus het gesê:  “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie.  Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.” (Johannes 14:27).  God se vrede sal jou gedagtes teen die duiwel beskerm soos ‘n soldaat wat op die stadsmure wagstaan om dit te beskerm (v.7).  Dit sal jou gedagtes teen die sondige vlees beskerm soos ‘n tronkwag wat keer dat die gevangenes nie uitbreek nie (v.7).  Hoekom jou gedagtes?  Want saam met jou hart bepaal dit jou hele lewe (Spreuke 4:23).  Ons voel verkeerd omdat ons verkeerd dink.

 

Wanneer dinge skeefloop moet jy nie staatmaak op geld, mense, tegnologie, jou eie wysheid, of ander dinge nie. Maak staat op die Here.  Bid.  Maar pasop dat jy nie vir Jesus soos ‘n DISPRIN of ‘n genie misbruik, sodat jy net bid as jy in die moeilikheid is nie.  Bid oor alles.  So erken jy dat jý ‘n mens is en dat Hý God is; dat jý die skepsel is en Hý die Skepper.

 

Bedink wat goed is (v.8)

Dink jy die volgende stelling is waar: ‘Jy is jou gedagtes; jou gedagtes is jy’ (Stuart Olyott)?  Spreuke 23:7 in die KJV sê:  “For as he thinketh in his heart, so is he”.

 

Die Griekse woord vir ‘bedink’ [logizomai] in v.8 is ‘n rekenkundige term en beteken letterlik ‘hou boek’.  ‘n Rekenmeester werk noukeurig deur die syfers om seker te maak sy boeke klop.  Net so moet jy noukeurig let op wat jy dink.

 

  • Bedink wat waar is. Jesus en sy Woord is die definisie en oorsprong van alle waarheid (Johannes 14:6, 17:17).
  • Bedink wat eerbaar is en raak ontslae van gedagtes wat oneerbaar is.
  • Bedink wat regverdig is. Ongeregtigheid moenie ‘n plek in ons gedagtes hê nie.
  • Bedink wat moreel rein is. Gehoorsaam die Woord as jy onrein gedagtes wil vermy (Psalm 119:9). In ons samelewing moet ons veral wegbly van seksuele onreinheid (1 Tessalonisense 4:3).
  • Bedink wat lieflik is en God bly maak. Jesus is God se geliefde Seun in wie Hy Hom verbly (Matteus 3:17).
  • Bedink wat loflik is; dinge wat jy kan aanbeveel.
  • Bedink wat uitstekend is. God se karakter is uitstekend (1 Petrus 2:9).
  • Bedink wat lofwaardig is. God alleen is lofwaardig.

 

As jy jouself wil help om goeie dinge te bedink kan jy Bybelverse memoriseer en oordink. Kom in ‘n gewoonte om voortdurend v.8-tipe dinge neer te skryf.  Bly weg van verkeerde dinge wat van buite af deur jou oë en ore jou gedagtes binnedring:  slegte praatjies, lelike dinge op TV en in advertensies, konstante slegte nuus in die media, pornografie en ander vieslike dinge op die internet.  Hoekom moet jy so ernstig wees om jou gedagtes te beskerm?  Want wat jy dink is wat jy doen.  En wat jy doen is wat jy word.

 

Volg die regte voorbeeld (v.9)

Ek het eenkeer in ‘n restaurant gehoor hoe ‘n vrou wat agter ons gesit het met haar kind raas: ‘Moenie so vloek nie.’  Die kind het geantwoord:  ‘Maar júlle vloek dan.’

 

Die Filippense moes doen wat hulle by Paulus gehoor en gesien het (v.9).  Hy het reeds in 3:17 vir hulle gesê:  “Wees ook my navolgers, broeders, en let op die wat so wandel soos julle ons tot voorbeeld het.”  Hulle moes probeer om te onthou wat hy vir hulle geleer en gewys het, en dit beoefen.  As hulle dit gedoen het sou die God van vrede – die God wat graag vrede maak deur Jesus se kruisdood – by hulle wees om hulle te help (v.9).

 

Volg jy die regte voorbeeld? Hier is ‘n paar voorstelle van hoe jy dit kan doen:

 

[1] Let op die voorbeeld van jou geestelike leiers en volg dit na (Hebreërs 13:7, 1 Petrus 5:3).

 

[2] Lees die lewensverhale van godvresende gelowiges – in die Bybel en in die geskiedenis (Hebreërs 6:12, hfst.11).

 

[3] Vra vir iemand na wie jy opsien om jou te dissipeleer (sien Titus 2:1-7). Deur so iemand se voorbeeld te volg volg jy vir Jesus:  “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is.” (1 Korintiërs 11:1).

 

Toe ek op skool was het die meisies gesê dat hulle in die winter nie bo hulle knieë skeer nie – niemand sien dit in elk geval nie. Moenie so wees wanneer dit by gehoorsaamheid kom, sodat jy net die gebooie volg wat mense sien nie.  God sien alles.  Doen ook die gebooie wat net Hý sien – onder andere die ses vergete gebooie in Filippense 4:4-9.

Kategorieë