
Efesiërs 6:5-8
Voordat ek hierdie reeks begin het, het ek ’n ouer gelowige vir raad gevra:
‘Hoe kan ek oor werkverwante probleme preek as ek self nooit in die sekulêre sektor gewerk het nie?’
‘As jy so wil redeneer, sal jy elke ervaring in die lewe moet deurmaak voor jy oor enigiets kan preek,’ het hy my geantwoord. ‘Vra dus raad by mense wat wél in die sekulêre sektor werk, sodat jy die Bybel reg kan toepas.’
Ek het sy raad gevolg en daarom hoop ek van harte dat hierdie reeks jou help. Ek is byna klaar met die reeks. Vandag preek ek oor werknemers (skoliere en studente ingesluit) en volgende week oor werkgewers.
Wat moet jy doen as jy ’n goeie werknemer wil wees?
1. Word met die Gees gevul (v.5, 5:18)
Iemand kan vir jou allerhande raad gee om jou pruimboom te laat vrug dra, maar as die boom dood is, help dit nie. Net so kan geen hoeveelheid Bybelse raad jou help om ’n goeie werknemer te wees as jy geestelik dood is nie. Om egter geestelik te lewe is nie iets wat jy in jouself kan regkry nie. Jou kan jouself nie deur ’n wilsbesluit geestelik laat lewe nie. Om geestelik gebore te word, is ’n soewereine en bonatuurlike werk van God se Gees (Joh. 3:8). Hý moet jou in ’n nuwe mens verander en aan jou geestelike lewe skenk (Joh. 3:5, 2Kor. 5:17, Tit. 3:5, 1Pet. 1:3).
Doen Hy dit deurdat jy in Jesus glo? Nee. Geloof is nie die oorsaak van weergeboorte nie, maar eerder die gevolg. Sien gerus die orde van weergeboorte en geloof in tekste soos Joh. 3:3, 5, 8, 15-16, Ef. 2:5, 8. Niemand van ons is gebore, omdat ons vir melk geroep het nie. Dit was eerders andersom: ons het vir melk geroep, omdat ons gebore is. Net so word jy nie geestelik gebore, omdat jy tot die Here roep nie. Jy roep eerder tot die Here, omdat Hy geestelike lewe in jou hart kom plant het. Lidia het byvoorbeeld die evangelie geglo, nadat die Here haar hart geopen het (Hand. 16:14). Wat ek probeer sê, is dat die Here jou kies voordat jy Hom kies (Joh. 15:16, 19). Jou uitroep na Christus is ’n reaksie op sy uitroep na jou (Gen. 3:9-10, Luk. 19:10, Joh. 10:3-4).
Dalk wonder jy: ‘Maar waar los dit my as ek nie iets kan dóén om weergebore te word nie; as dit ’n soewereine werk van God se Gees is; as geloof dit nie kan veroorsaak nie, maar eerder ’n reaksie daarop is?’ Om jou vraag te antwoord, wil ek jou vertel van ’n man wat ek in 2007 besoek het. Toe ek die evangelie met hom deel, was hy baie kwaad. Toe ek ’n paar maande later by sy sterfbed sit, toe sê ek vir hom: ‘Oom was kwaad toe ek laas die evangelie met oom gedeel het. Ek wil egter weer met oom oor die Here praat.’ Hierdie keer het hy sag gereageer: ‘Ja, maar dominee; jy sê nie vir my hóé ek weergebore moet word nie.’
Wat is die Bybel se antwoord op die oom se vraag: hóé moet ’n mens weergebore word—veral as dit nie iets is wat jy uit jouself kan doen nie? Jy moet jou Bybel oopmaak en die evangelie lees. Werk deur ’n boek soos Romeine. Bid dat die Heilige Gees jou lewend sal maak terwyl jy dit doen. Hierdie raad is heeltemal Bybels. Volgens 1Pet. 1:23, 25 word ons weergebore deur die lewende Woord van God, en volgens Luk. 11:13 gee God sy Heilige Gees aan dié wat Hom vra.
Maar om weergebore te wees, is net die begin. Nou moet jy groei en soos ’n Christen begin lewe (ook by die werk). Hiervoor moet jy gedurig met die Gees gevul word soos ’n potplant wat gereeld water kry. Sonder die Gees kan jy nie lewe soos die Here wil hê nie. Daarom benodig jy die Gees as om ’n goeie werknemer te wees (v.5, Ef. 5:18).
Hoe word jy met die Gees gevul? Bid daagliks daarvoor (Luk. 11:13), vul jouself met die Woord wat Hy geïnspireer het (Kol. 3:16, 22-23), vra Hom om jou aan die Woord te herinner en dra die goeie vrug van gehoorsaamheid (Gal. 5:16-26). Prakties beteken dit dat jy ’n gereelde stiltetyd moet hê en dat jy tyd met ander gelowiges moet deurbring in die Woord en gebed. Dan sal jy ’n werknemer na God se hart wees.
Dalk sê jy: ‘Ek het nie tyd vir hierdie dinge nie.’ ’n Paradoks in die Christelike lewe is: jy sal meer gedoen kry as jy die Here vertrou en nie op jou eie vermoëns staatmaak nie. Iain Murray skryf: ‘Our own busy-ness can accomplish nothing. The temptation of the devil is to make us think that we have so many duties that we cannot afford the time to stop and wait on God. The opposite is the truth. We waste time when we do not pray.’1
2. Sê dankie dat jy ’n werknemer is (v.5)
In ’n era van slawerny het party Christene slawe besit. Filemon was een van hulle en Jonathan Edwards nóg een. Dit is egter omdat hulle tekste soos Ef. 6 gehoorsaam het en hulle slawe soos mense behandel het, dat die sisteem inmekaar getuimel het. Die Here het Christene soos William Wilberforce (1759-1833) gebruik om die sisteem van slawerny en slawehandel tot ’n einde te bring.2
Sê dan dankie dat jy ’n werknemer met sekere regte en voorregte is, eerder as ’n slaaf in Paulus se tyd wat géén regte gehad het nie, maar wat as deel van sy meester se eiendom beskou is. Wees ook dankbaar dat jy ’n werk hét, selfs al verloop alles nie 100% by die werk nie. Verder kan jy dankbaar wees dat jy ’n werknemer is eerder as ’n werkgewer. Miskien wens jy om die baas wees, omdat hy ’n Range Rover ry en lekker lewe, terwyl jy sukkel om kop bo water te hou. Jou baas het egter groter kopsere as jy. Hy het meer geld om oor te stres, ’n klomp werknemers om te betaal, meer verantwoordelikhede, groter laste om te dra, en ’n maatskappy om aan die gang hou deur die grendelstaat, die dalende ekonomie, en Covid-19. Op die oordeelsdag moet hy ook vir meer as jy pa staan. Sê daarom dankie dat jy ’n werknemer is eerder as wat jy jou baas se posisie begeer. Die Bybel sê: “As die goed baie word, word die eters baie; watter voordeel het die besitter dan daarvan, behalwe dat sy oë dit aanskou? Soet is die slaap van die arbeider, of hy min en of hy baie eet; maar die oorversadiging van die ryke laat hom nie toe om te slaap nie.” (Pred. 5:10-11).
3. Besin oor jou rol (v.5)
Daar is mense wat elke vorm van hiërargie wil afbreek. Hulle soek geen strukture, of gesag nie, maar wil alles met span-netwerke vervang. Maar om van gesag ontslae te raak was deel van die duiwel se leuen in Gen. 3. Hy het basies vir Eva gesê: ‘Julle het nie God se gesag nodig nie, maar kan sélf God wees.’
Maar volgens die Bybel is elke mens onder gesag: by die skool, by die werk, in jou huisgesin, in jou huwelik, in die land, en in die heelal (Ef. 5:21-6:9, Rom. 13:1-7). Uiteindelik is God die hoogste gesag. Hy het owerhede oor ons aangestel en beveel ons om hulle te gehoorsaam. Die Griekse woord vir ‘gehoorsaam’ [hupakouō] beteken letterlik om ‘onder te hoor’. Jy moet met ander woorde besef dat jy onder gesag is. Op hierdie manier gehoorsaam jy die Here wanneer jy vir die gesag luister wat Hy oor jou aangestel het (behalwe as hulle van jou vereis om sonde te doen—sien Hand. 5:29). Daarom moet jy jou gesagsfigure in alles gehoorsaam, selfs al dink jy dat hulle onredelik en onregverdig is (Kol. 3:22, 1Pet. 2:18). Die Here sal jou beloon as jy ten spyte van jou baas se onredelikheid, gehoorsaam is (1Pet. 2:19-20).
Gehoorsaamheid beteken nie jy mag nie mooi vra, of ’n voorstel maak as jou baas verkeerd is nie. Dit beteken egter dat jy nie die reg het om met jou baas terug te praat, hom uit te daag, van hom ’n verduideliking te eis nie, of te doen wat jý wil eerder as wat hý sê nie (Tit. 2:9). Hierdie beginsel geld of jou baas ’n Christen is, of nie. Moet dan nie sê: ‘My baas is ’n ongelowige en daarom hoef ek nie vir hom te luister nie.’ Moet óók nie sê: ‘My baas is ’n gelowige en sal verstaan as ek laat inkom, vroeg loop, of nie die werk betyds inhandig nie.’ Nee! Jy moet juis beter werk as baas ’n Christen is, omdat jy daardeur ’n medegelowige bevoordeel (1Tim. 6:2).
As jy nié ’n goeie werknemer is nie, sal ongelowiges die evangelie uitlag en sê: ‘Christene is slegte werkers: hulle is disrespekvol, uitdagend en ongehoorsaam.’ (1Tim. 6:1). En hoe verheerlik dít Here se Naam?
4. Let op jou gesindheid (v.5-7)
Vir ’n kind om sy ouers se bevele uit te voer, terwyl hy sy oë rol, mor en kla, is nie gehoorsaamheid nie, maar ongehoorsaamheid. Dieselfde beginsel geld vir jou werk: om net gehoorsaam te wees, is nie genoeg nie. Jy moet ook die regte gesindheid hê. Respekteer en eerbiedig jou baas (v.5). Wees gehoorsaam uit ’n opregte hart (v.5). Moet nie uiterlik glimlag, ‘ja’ sê en jou take uitvoer, terwyl jy innerlik bitter en opstandig is nie.
‘Maar wat as my baas ’n onbeskofte ongelowige is?’ wil iemand weet. Toon dan respek vir die posisie wat die Here hom gegee het, selfs al is hy, wat sy persoon betref, nie waardig om gerespekteer te word nie. Onthou ook dat jy dit in die eerste plek vir die Here doen en nie vir jou baas nie (v.5-7). As jy dus teen jou baas in opstand kom, kom jy in opstand teen die gesag wat die Here oor jou aangestel het (Rom. 13:2). Omdat ons dit wil vermy, is Christene nie mense wat staak, of optogte hou omdat hulle ’n verhoging soek nie. Ons praat eerder respekvol en sagmoedig met die baas, en laat dan die saak aan die Here oor (Spr. 29:26). Ons kyk verby die baas na Christus en tree eerbiedig op (v.5-7). Ons vra onsself: ‘Sal Jesus tevrede wees as ek YouTube videos kyk, terwyl ek eintlik my werk moet doen… as ek nie doen wat die baas my vra nie… as ek terugpraat met die onderwyser?’
Wil jy goeie werk lewer selfs wanneer die baas nie kyk nie? Lees jou Bybel en leer God se karakter ken. Sodoende sal jy leer om die Here meer te vrees as mense (v.6). As jy die Here vrees, sal dit nie nodig wees vir iemand om oor jou skouer te loer, of jou te ‘babysit’ nie (v.6). Die baas sal weet hy kan jou vertrou, asook dat jy jou werk sal doen wanneer hy nie daar is nie.
As gevolg van jou vrees vir die Here sal jy werk asof jy dit vir Hóm doen en nie vir mense nie (v.6-7, Kol. 3:23). Jy sal werk as een wat nie aan jouself, die maatskappy, of jou baas behoort nie, maar aan Jesus wat jou gekoop het met sy bloed (v.6, Matt. 20:28, 1Kor. 6:19-20, 7:22-23). Omdat jy aan die Here behoort, sal jy jouself nie ’n slaaf van mense se opinies maak. Prakties beteken dit jy sal nie ’n ‘people pleaser’ wees wat vir die baas omkoopgeskenke gee, of soos ’n hondjie by hom kruip, omdat jy ’n salarisverhoging, of bevordering soek nie (v.6). Jy sal eerder vol entoesiasme en met ’n vriendelike gesindheid werk (v.7, Gk. eunoia), omdat jy die Here wil verheerlik. Jy sal nie soos ’n donkie wees wat ’n sweep nodig het voordat hy beweeg nie, maar as jy een taak afgehandel het, sal jy jou baas vra of jy nóg iets kan doen. Vir jou gaan dit nie oor jou eie wil nie, maar oor die Here s’n (v.6). Jy weet immers dat jy nie aan jouself behoort nie, maar aan die Here (v.6). Gevolglik is jou hele lewe en alles wat jy doen deel van Christelike aanbidding (Rom. 12:1). Dit geld ook vir jou werk, en daarom doen jy dit nie sleepvoet, of met ’n swaar gemoed nie, maar met ’n blymoedige hart vir die Here (v.6, Heb. 13:17). Jy bekommer jou nie aanhoudend oor wat God se wil vir jou lewe is nie, maar jy dóén sy wil soos Hy dit in sy Woord geopenbaar het. Volgens Ef. 6:6 is God se wil onder andere dat jy vir jou baas moet luister en jou werk goed moet doen.
Kan ek jou op grond hiervan vra: doen jy God se wil vir jou lewe? Of moet jy Jesus en jou baas om vergifnis vra vir jou slegte werk en jou ongehoorsame gesindheid? Moenie wag totdat die gevoel van oortuiging weggaan, of uitstel totdat jy uiteindelik die saak afstel nie. Stel eerder onmiddellik dinge reg en weet dat die Here jou daarvoor sal seën.
5. Dink aan die beloning (v.8)
God se beloning is die wortel voor die donkie se neus; sy vleishappie vir die hond wat gehoorsaam is. Wat is sy beloning vir die werknemer wat Ef. 6:5-8 doen? Dit is nie ’n vakansie in Italië, ’n reuse bevordering, of ’n vet bonus aan die einde van die jaar nie. Dit is eerder ’n beloning wat nie kan opraak nie; ’n beloning wat nooit eindig nie. Dit is die ewige beloning in die hemel (v.8).
Hierdie motivering sou slawe help, omdat hulle géén beloning, of salaris gekry het nie (v.8). Eintlik moet dit álle Christelike werknemers help om nie hulle goeie werk te staak, omdat die baas onregverdig is, hulle salaris sny of terughou, of omdat hy nalaat om hulle goeie werk met ’n verhoging, of ’n bonus te beloon nie.
Die feit dat jou baas jou goeie werk miskyk, beteken nie dat die Here dit vergeet nie. Hy sien alles wat jy doen en sal jou beloon as jy goed werk (v.8). Hoe jy jou werk doen, tel dus vir die ewigheid! Paulus bedoel nie jy kan jou redding verdien, omdat jy ’n goeie werknemer is nie. Ons redding is uit genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen en nie uit goeie werke nie (Ef. 2:8-9). En tog kan jy deur die Here genade ’n goeie werknemer wees en beloon word (v.8). Die beloning hang nie af van die tipe werk wat jy doen nie. ’n Direkteur kry nie outomaties ’n groter beloning as ’n sekretaresse nie; of ’n dokter as ’n ontvangsdame, ’n skoolhoof as ’n skolier, ’n predikant as ’n lidmaat, ’n vry persoon as ’n slaaf nie (v.8). God trek niemand voor nie (v.8-9, Rom. 2:11, Gal. 3:28). Niemand kan sy guns koop nie. Sy beloning is heeltemal regverdig.
Die vraag is dus hoe jy jou werk gedoen het; hoe jy die gawes gebruik het wat Hy aan jou toebedeel het (Matt. 25:14-30)? Het jy jou beste daarmee gedoen, of wou jy jou werk so gou as moontlik afhandel? Het jy gesteun en gekla terwyl jy jou werk doen, of het jy dit met ’n goeie gesindheid vir die Here gedoen? Het jy met hout, hooi, en stoppels gebou; of met goud, edelstene, en silwer (1Kor. 3:12-15)? Klink hierdie vrae miskien vir jou soos die populêre TV predikers, omdat ek mense aanmoedig om vir belonings te werk? Maar hoekom sal jy so dink as die Bybel ons aanmoedig met belonings, en as Jesus die beloning is (v.8, Kol. 3:24)?
1 Iain Murray, Seven Leaders: Preachers and Pastors (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2017), 66
2 John Piper, 21 Servants of Sovereign Joy (Wheaton, Illinois: Crossway, 2018), 326-58. Sien ook Alvin Schmidt se hoofstuk oor slawerny in How Christianity Changed the World (Grand Rapids, Michigan: Zondervan, 2001, 2004), 272-91