[column width="1/1" last="true" title="" title_type="single" animation="none" implicit="true"]
Psalm 93
Daniël het siek in die bed gelê, nadat die Here hom visioene van die toekoms gewys het wat hy nie verstaan het nie (Dan. 8:27). Ons is dieselfde en raak benoud oor wat die afgelope 20 maande in die wêreld gebeur het. In die weste kan ons die vervolgers se voetstappe agter ons hoor. ‘Wat lê vir ons voor?’ wonder mense. Die Here wil hê jy moet stil raak en weet dat Hy God is.
1. Soewerein en ewig (v.1-2)
[a] Soewerein
Ons het onlangs ’n groot boom in ons erf laat afsaag. Ons het baie hout en kan ’n groot vuur maak. Die Here is anders as hierdie hout. Hy is ’n vuur wat nie hout nodig het om te brand nie (Eks. 3:2-3). Hy is die Here of Jahwe; EK IS wat EK IS (v.1, Eks. 3:14-15). Hy het nie die skepping of gelowiges nodig nie, maar ons het Hom nodig (Hand. 17:24-25). As die ganse mensdom in ’n oomblik moes blind word, sou die son en die sterre nog steeds lig afgee. Of as elke mens ’n ateïs moes word, sou dit niks verander aan wie God is nie (A.W. Tozer).1 Die Here regeer as Koning (v.1) en het nie onderdane nodig om belangrik te wees nie (kontra Spr. 14:28, 30:29-31). Sy majesteit en roem lê in Homself (v.1). Dit bedek Hom soos ’n kleed, terwyl sterkte die gordel om sy heupe is (v.1). Deur sy krag het Hy die aarde gevestig (v.1). Die wêreld staan vas, omdat Hy as Koning daaroor regeer (v.1, 119:90, Kol. 1:17, Heb. 1:3).
Die Hebreese woord vir vasstaan (kun) is ’n imperfektum of onafgehandelde aksie in die verlede. Die implikasie is dat God die aarde by die skepping gevestig het, maar dat Hy nog steeds daarby betrokke is om dit te laat vasstaan. Hy laat dit nie aan die natuurwette of rampe oor nie. Sy hande vorm die wolke. Hy laat die gras groei en voer die leeus en kraaie. Hy hou elke ster in sy hand (Ps. 104, 147, Jes. 40:26). Niks word aan toeval oorgelaat nie—nie Covid, diktators of die vloede in George nie (29:10, Gen. 6-8, Deut. 32:39, Dan. 2:21, Ef. 1:11). Dit is nie die son wat die aarde in sy wentelbaan hou nie, maar God (v.1). Hy het die aarde immers voor die son gemaak (Gen. 1:1, 14-16) en hang die aarde aan niks (Job 26:7). Geen meteoor of sogenaamde klimaatsveradering kan dit uitwis nie (v.1).
Wanneer Jesus weer kom, sal Hy die hemelliggame smelt (2Pet. 3:7, 10, 12), maar selfs dan sal Hy die aarde nuut maak en dit nie totaal vernietig nie (v.1, Rom. 8:19-21, 2Pet. 3:13, Op. 21:1). Die wêreld staan vas (v.1), omdat God se troon vasstaan (v.2). Hy regeer oor die hemel, die aarde en alles daarin (v.1-2, 103:19, 115:3, 135:6).
[b] Ewig
Gestel jy kyk ’n film. Na ’n paar minute staan daar: twintig jaar later. Vir die karakters in die storie het daar twintig jaar verloop, terwyl dit vir jou drie sekondes was. Dit werk omtrent dieselfde met ons en God. Hy is die Skepper van tyd en kan in tyd werk (Gen. 1:1). Tog word Hy nie daardeur beperk nie. Hy regeer, bestaan van ewig af en is buite tyd (v.2, 90:2, 102:28, Jes. 57:15, 2Pet. 3:8). Hy het nie ’n verlede of ’n toekoms nie, maar lewe in die ewige nou. John MacArthur sê: ‘He was, is, and is to come all at once (Ex. 3:14, Rev. 1:4, 8).’2 God bestaan tergelykertyd in Gen. 1:1 en Op. 22:21, Hy “wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie” (Jes. 46:10, Ou Vertaling).
God is ’n ewige wese (v.1). Hy begin nêrens en eindig nêrens. Sy senter is oral en sy omtrek nêrens (Thomas Watson).3 Dawid sê in Ps. 139:7-10:
“Waarheen kan ek gaan,
weg van u Gees;
waarheen kan ek vlug,
weg van u teenwoordigheid?
Klim ek op na die hemel—
U is daar;
gaan lê ek in die doderyk—
ook daar is U!
Neem ek die vlerke van die daeraad,
gaan woon ek by die einde van die see;
ook daar sal u hand my lei,
u regterhand my vashou.”
Ons kan God nie in kilometers of ligjare meet nie. Hy is ’n oneindige Gees (Jes. 40:13, ESV). In sy oë is die skepping miniatuur (Jes. 40:12). Hy vul die heelal, maar word nie daardeur beperk nie (Jer. 23:24). Sou jy die einde van heelal bereik, is God aan die anderkant. Ons gedagtes is te klein om Hom te begryp. Laat dié gedagte jou gemoed bedaar en jou paniek kalmeer. Maurice Roberts sê:
‘The mere thought of God should end all anxiety... Panic is possible only when God is obscured from our thoughts by visible circumstances... There is no situation in life too hard for God... The impatient urge to resign and run away when times are trying is unworthy of the sons of God... life’s secret very largely consists in holding [God] in our thoughts as much as possible and especially in times of fear and need.’4
2. Verhewe en almagtig (v.3-4)
Waar God die middelpunt van ’n land of regering is, is daar vastigheid en vooruitgang (v.1-2, Spr. 14:34). Waar mense van Hom vergeet, is hulle onvas, wispelturig, onstuimig soos die see en kom hulle teen Hom in opstand (v.3, 46:4, 7, Jes. 17:12-13). Omdat hulle Hom nie kan bereik nie (v.4), staan hulle op teen sy kinders (Hand. 9:1-2). Maar hulle kan ons nie oorweldig nie. God sal ons tot op ’n hoë rots lei waar die bruisende golwe ons nie kan bereik nie (32:6, 61:3-4, Jes. 43:2).
Die wêreld doen alles in sy vermoë om die Here en sy kinders af te trek, maar hulle is soos golwe wat teen ’n berg slaan (v.4). Hulle wil nie hê dat die Here oor hulle regeer nie (v.1, 2:1-3, Luk. 19:14). Daarom sê hulle vir Hom en die sendelinge wat Hy stuur: ‘Weg met Hom! Ons soek nie die kennis van die Almagtige nie!’ (Job 21:14-15, Luk. 23:18, Joh. 19:15, Hand. 22:22). Soos die res van die wêreld, is mense in die weste anti-God. Hulle wil Hom uit die publieke sektor hê. Hy moet uit ons kinders se opvoeding. Hy moet uit ons teologiese kolleges. Die Big Bang en evolusie het die wêreld en alles daarin gemaak. Genesis 1 met sy definisie van manlikheid en vroulikheid is ’n mite.
Om hulle gif verder te versprei, probeer hierdie mense om ’n voet in die kerk en Christelike instansies se deur te kry. Soos in Noord-Korea wil die regering God speel en voorskryf wat ons ons kinders mag en nié mag leer nie. Ons sien dit in die voorgestelde Perpuda wetgewing wat godsdiensvryheid en vryheid van spraak wil onderdruk. ’n Mens sien dit in Australië waar sekere politici godsdiensvryheid wil beperk. Hulle wil onder andere hê dat Christen-skole nie net meer Christen onderwysers mag aanstel nie. As ’n homseksuele persoon of iemand uit ’n ander geloof ’n onderwyser wil wees, mag hulle hom nie weier nie.5
Ongelowiges swel soos golwe teen die Here (v.3). As hulle kon, sou hulle Hom van sy troon aftrek en die posisie vir hulleself toe-eien (Gen. 3:5, Jes. 14:13-14). Maar hulle sal misluk. Die Here is verhewe en magtig (v.4). Laat ons nie vrees as dit lyk of die wêreld God en sy saak tot niet gaan maak nie. Thomas Watson sê: ‘The ship of the church may be tossed, because sin is in it, but it shall not be overwhelmed, because Christ is in it.’6 “God is in haar midde, sy sal nie wankel nie.” (46:6).7 Jesus regeer namens ons en tot ons voordeel oor alle dinge (Ef. 1:22). Die magte van die hel sal ons nie oorweldig nie (Matt. 16:18). ‘Kings or mobs, emperors or savages, all are in the Lord’s hands, and he can forbid their touching a hair of the heads of his saints.’ (Charles Spurgeon).8
As jy jou lewe op die Here bou, is jy onaantasbaar (v.4). Mense kan teen jou woed en storm en die duiwel kan soos ’n leeu teen jou brul—die Here sal jou bewaar en toesien dat Hy elke aanval tot jou voordeel uitwerk (Rom. 8:28, Gen. 50:20).
***
God se troon in die hoogte beteken Hy is verhewe bo alles (v.4). Selfs in sy menslike natuur troon Jesus bo die skepping (Ef. 1:21). Hoeveel te meer doen Hy dit nie as God nie? Volgens A.W. Tozer is die verskil tussen God en ’n wurm dieselfde as die verskil tussen Hom en ’n aartsengel. Die wurm en die aartsengel is skepsels, terwyl God alleen die Skepper is.9 Sy krag is oneindig (Ps. 147:5). Hy het alles uit niks geskep (Gen.1, Heb. 11:3). Is daar iets vir Hom onmoontlik (Gen. 18:14, Jer. 32:17, 26-27, Matt. 19:26, Luk. 1:37, Ef. 3:20)? Hy kan ’n byl laat dryf, die dooies opwek, op water loop, ’n staf in ’n slang verander of maak dat dit amandels dra, die son en die maan laat stilstaan, kos vermeerder, siek mense genees, die skadelike krag van vuur vernietig, ’n maagd laat swanger word en nog baie wonders doen (2Kon. 6:1-7, Joh. 11, Matt. 1:18-25, 14:25, Eks. 4:2-4, Jos. 10:12-13, Num. 17, 1Kon. 17:8-16, Luk. 9:10-17, Mark. 1:34, Dan. 3:19-27, Joh. 20:30, 21:25).
Wie kan die dieptes van die Here peil en Hom ten volle ken (Ps. 145:3)? Hy alleen kan sy volheid verstaan (Luk. 10:22, 1Kor. 2:10-11, Op. 19:12). Wie is soos Hy? Die gepaste reaksie is om laag aan sy voete te lê en te wag dat Hy jou optel.
“Hoog bo al die nasies is die Here;
bo die hemel is sy heerlikheid.
Wie is soos die Here, ons God,
wat hoog woon,
wat laag afkyk
op die hemel en die aarde—
Hy wat hulpeloses
uit die stof laat opstaan,
van die ashoop af behoeftiges verhef.”
So leer Ps. 113:4-7 ons. Hoogverhewe, geweldig en ontsagwekkend is die Here!
3. Betroubaar en heilig (v.5)
[a] Betroubaar
In die middel van die 20ste eeu het ’n Duitse teoloog genaamd Rudolf Bultmann gesê dat die Bybel ons sekere lesse wil leer, maar dat ons dit nie as akkurate geskiedenis moet aanvaar nie. Na hom het sy landgenoot, Karl Barth, gesê dat die Bybel nie die foutlose Woord van God is nie. Dit is ’n feilbare Woord wat die Woord van God wórd wanneer jy dit aanvaar. Dit is met ander woorde vir jóú die Woord van God, maar nie vir almal nie.
In reaksie op hierdie lering het ’n groep evangeliese teoloë in 1978 die Chicago Statement on Biblical Inerrancy opgetrek. Hulle wou beklemtoon dat die Bybel die onfeilbare en foutlose Woord van God is.10 Hulle was reg. Volgens v.5 is die Koning se getuienisse en bepalings baie betroubaar. Kan dit anders wees as die Here self betroubaar en standvastig is (v.1-2, 5)? Sy getuienisse bevat geen teenstellings, foute of leuens nie, al dink ateïste, mense van ander godsdienste en liberale teoloë dat die Bybel ’n menslike boek vol foute is.
Ek onthou toe ’n ateïs vir my gesê het dat die Bybel homself weerspreek. Tydens ’n debat met ’n gereformeerde teoloog, het ’n Moslem gesê dat die vier Evangelies vol foute is. Een van my dosente het gesê dat die Bybel onfeilbaar is, maar nie foutloos nie: ‘Die Bybel se algehele boodskap is waar, terwyl die fyner besonderhede foutief is.’ ’n Liberale dosent aan die Universiteit van Pretoria het die Bybel opgetel en vir sy studente gesê: ‘Hierdie boek is menslike gekinkel.’ Tans is daar ’n groep predikante in die Baptist Union of South Africa wat die foutloosheid van die Bybel ontken.
Die Bybel is die geïnspireerde Woord van God (1Tess. 2:13, 2Tim. 3:16, 2Pet. 1:20-21). Omdat God nie kan lieg nie (Num. 23:19, Tit. 1:2, Heb. 6:18), is elke deel van sy Woord waar (Ps. 119:96, 137-138, 142, 144, 160), selfs waar dit die teenwoordige tyd of ’n enkelvoud gebruik (Matt. 22:31-32, Gal. 3:16). Al het ons nie die oorspronklike manuskripte nie, is die beskikbare manuskripte 99% akkuraat. Hoe weet ons dit? Daar is duisende manuskripte wat uit verskillende tye dateer en op verskillende plekke gevind is. Tog stem dit byna 100% ooreen. Waar daar wel verskille is, verander dit nie ’n enkele waarheid van ons geloof nie.
God se Woord is inderdaad foutloos: “Die Here se woorde is suiwer woorde,
silwer wat gelouter is in ’n smeltoond in die grond, dit is sewe maal gesuiwer.” (Ps. 12:7). Is jy bewus van plekke waar die Bybel homself weerspreek? Waar? Het jy die verse al noukeurig onder oë gehad en dit in sy konteks bestudeer? Indien wel, sal jy sien dat daar geen teenstelling is nie. Die fout lê in mense se beperkte en verdraaide gedagtes en nie by God nie. Vir elke sogenaamde teenstelling in die Bybel is daar ’n rasionele verduideliking.11
Indien die Bybel foute in het, is dit onbetroubaar. Hoe weet ons watter dele om te ignoreer en watter om te glo? Wat is die standaard waarvolgens ons bepaal of iets waar of vals is: ons eie redenasie, filosofieë, menslike logika en wetenskap?
God se Woord is die standaard vir alle waarheid (Joh. 17:17). Jy kan die Bybel glo en vertrou. God se beloftes is so vas soos Hy. Dit is so waar soos die dag toe Hy dit geskryf het. Al het Hy feilbare mense gebruik, verander dit niks aan die betroubaarheid van die Skrif nie, net soos wat Jesus se geboorte uit ’n sondaar Hom nie ’n sondaar maak nie.
[b] Heilig
Van die ongelowige sê A.W. Tozer: ‘He may fear God’s power and admire his wisdom, but His holiness he cannot even imagine.’12 God se heiligheid beteken basies dat daar niemand soos Hy is nie. Hy is hoogverhewe en in ’n klas van sy eie. Omdat Hy heilig is, is die spesiale plek van sy teenwoordigheid ook heilig. In die Ou Testament was dit die tempel en in besonder die Allerheiligste waar net die hoëpriester een keer per jaar kon inkom (Heb. 9:3, 7). As die hoëpriester op enige ander tyd moes inkom, sou hy onmiddellik sterf (Lev. 16:2).
Dit beteken nie dat God nydig is nie. Volgens ’n video van The Bible Project is God soos die son. Hy is goed, maar gevaarlik as jy te naby kom. Derhalwe beskerm die Here ons eintlik wanneer Hy sê dat ons nie te naby aan Hom moet kom nie. Tog het Hy ons lief en wil Hy by ons wees. Wat sal Hy doen? Hy sal nie sy heiligheid prysgee nie. Om in sy teenwoordigheid in te kom, moet ons skoon hande en ’n rein hart hê (Ps. 15, 24:3-4). Wie van ons kwalifiseer hiervoor? “Wie kan sê: ‘Ek het my hart skoon gehou, ek is rein van my sonde?’” (Spr. 20:9). As selfs ’n sondelose hemelwese sy gesig in God se heilige teenwoordigheid bedek (Jes. 6:2), hoe sal ’n jaloerse, hoogmoedige, bitter, wellustige, gierige, oneerlike, onheilige sondaar voor Hom staan (Jes. 6:5)? Hy sal nie (Hab. 1:13), ten minste nie sonder ’n Middelaar nie. Dit is eenvoudig nie waar om te sê die Here aanvaar jou soos jy is nie. Hy moet jou eers skoonwas, sodat jy volmaak voor Hom kan staan. Hiervoor moes Jesus ons sonde aan die kruis vergewe en perfek in ons plek lewe. As jy in Hom glo, aanvaar die Vader sy volmaakte lewe en dood in jou plek. Hy sien jou nie meer raak nie, maar Jesus wat jou met sy bloed skoonwas en soos ’n wit kleed met sy perfekte lewe bedek (Jes. 1:18, 1Kor. 1:30, 6:11, 2Kor. 5:21, Fil. 3:9, 1Joh. 1:7).
Is hierdie die God wie jy aanbid; Een wat heilig is en nie sonde duld nie, maar wat die sondaar liefhet en mens geword het om vir ons te sterf, sodat ons vir ewig by Hom kan wees? Indien nie, aanbid jy ’n afgod. Die God van die Bybel is heilig en vol liefde. Hy is nie een of die ander nie, maar albei. Laat ons Hom so aanbid: met lofprysing en blydskap (100:2, 4), maar ook vol eerbied en vrees, omdat Hy heilig is (v.5, Heb. 12:28-29). “Dien die Here met vrees, en juig met bewing.” (Ps. 2:11, Ou Vertaling). “Wees heilig, want Ek is heilig.” (1Pet. 1:16).
Maurice Roberts sê: ‘Awe, amazement and fear are the proper reactions to attending a service of worship... there ought never to be entertainment in God’s house as a part of divine worship.’13 “Maar die Here is in sy heilige tempel—wees stil voor Hom, o ganse aarde!” (Hab. 2:20). Wees stil en weet dat Hy God is.
1 A.W. Tozer, The Knowledge of the Holy (Kent, England: STL Productions, 1961), 40
2 John MacArthur & Richard Mayhue (eds.), Biblical Doctrine (Wheaton, Illinois: Crossway, 2017), 171
3 Thomas Watson, A Body of Divinity (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1958, 1965 [1692, 1890]), 46
4 Maurice Roberts, The Thought of God (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1993), 6-8
5 https://www.theguardian.com/world/2021/nov/04/religious-groups-warn-government-to-retain-clause-allowing-discrimination-in-proposed-bill en https://www.youtube.com/watch?v=cloNVZJ5Ftw
6 Watson, ibid., 82
7 Aanhalings uit die 2020 Vertaling.
8 Charles Spurgeon, The Treasury of David, note on Psalm 93:4. Verkry by https://archive.spurgeon.org/treasury/ps093.php
9 Tozer, ibid., 76
10 Stephen J. Nichols, R.C. Sproul: A Life (Wheaton, Illinois: Crossway, 2021), 109-35
11 Sien https://baptistekerkkemptonpark.com/sermon/hoe-om-te-volhard-in-die-bediening-5/ en https://baptistekerkkemptonpark.com/sermon/nog-foute-in-die-bybel-beantwoord/
12 Tozer, ibid., 111
13 Roberts, ibid., 27
[/column]