Lukas 18:18-30
’n Tydjie gelede het ’n Christelike YouTube kanaal, Babylon Bee, ’n onderhoud met Twitter- en Tesla eienaar, Elon Musk gevoer. Tydens die onderhoud het die aanbieders gevra of Musk bereid is om Jesus as Here en Verlosser te aanvaar. ’n Mens kon die atmosfeer met ’n mes sny.
Musk het gesê hy het nie ’n probleem met Jesus se lering nie. Eintlik maak sy lering die wêreld ’n beter plek. ‘As Jesus mense wil red, is ek bly. Ek het geen probleem om te sê Jesus is die Verlosser nie.’
Die aanbieders het gejuig, omdat Elon Musk klaarblyklik tot bekering gekom het. ’n Evangelis genaamd Ray Comfort was nie so bly nie. Hy was teleurgesteld met die goedkoop manier waarop die aanbieders die evangelie ‘verkoop’ het.
‘Is Elon Musk ’n Christen bloot omdat hy gesê het Jesus is die Verlosser?’ het Comfort gevra.1 Is dit genoeg as iemand Jesus se Persoon en sy lering goed praat?
Nie volgens die Bybel nie.
Wat vereis Jesus dan van iemand om ’n Christen te word?
1. Gehoorsaam die wet (v.18-22)
’n Skatryk jong leier het Jesus oor die ewige lewe gevra (v.18, 23, Matt. 19:20). Hy was oortuig die goeie leermeester het ’n antwoord (v.18). Die ryk man wou graag die ewige lewe verdien (v.18). Maar hy het van Genesis 3 vergeet. Deur die sondeval het Adam en sy nageslag die ewige lewe verbeur: “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld gekom het en as gevolg van die sonde die dood, so het die dood ook tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het... Want die loon van die sonde is die dood” (Rom. 5:12, 6:23a).2
Die ryk man het gehoop Jesus kan hom sê hoe ons die ewige kan terugkry. Hy het nie gedink Jesus ís die ewige lewe, of dat hy die Vader en die Seun moet ken om die ewige lewe te kry nie (Joh. 17:3, 1Joh. 1:2, 5:20). Daarom het Jesus gesê: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, en dit is God!” (v.19).
Jesus het nie bedoel, ‘Ek is nie goed nie, maar sleg.’ Hy het bedoel Hy is God en wou hê die man moet daaroor dink. Soos die Vader en die Gees (v.19, Ps. 143:10) is Jesus die goeie Here (v.18, 1Pet. 2:3-4, 3:15). Die mens is nie goed nie, maar sleg (Rom. 3:12). Jesus wou hê die ryk man moet dit verstaan, daarom het Hy die Tien Gebooie aangehaal dat die man homself daaraan kon meet (v.20).
Ons kan die Tien Gebooie in twee tafels verdeel. Die eerste tafel gaan oor ons verhouding met God; die tweede tafel oor ons verhouding met ander mense. Jesus wou hê die ryk man moet sien hy hou nie eers die tweede tafel nie; wat nog van die eerste tafel!
Hou jy God se wette? Dink jy jy is goed en verdien die ewige lewe? Meet jouself aan die goeie God en sy gebooie (v.19-20). Onderhou jy dit? Kom jy dit na? Wat van jou gedagtes? Sê jy jy pleeg nie moord nie, maar is bitter? Sê jy jy pleeg nie egbreuk nie, maar is wellustig?
Gebruik die wet op jou kinders. Meet hulle daaraan as hulle sonde doen. Die wet sal hulle sonde uitwys (Rom. 3:20). Daarna kan jy hulle van Christus se liefde vertel; hoe Hy ons van die straf van die wet verlos. Die wet is ons tugmeester na Christus toe; die roede wat ons na Hom toe dryf (Gal. 3:24).
Die ryk man was oortuig hy onderhou van kleins af die wet (v.21). Maar het Hy nooit kwaad geword, met ander kinders baklei, of teruggepraat met sy ouers nie? Het hy nooit lekkernye uit die spens gesteel nie, nooit gelieg, gevloek of geskinder nie? Was hy nooit selfsugtig nie? Het hy nooit seksuele begeertes vir ’n meisie gehad nie? Gen. 8:21 en Ps. 58:4 sê die mens se hart is van jongs af sleg.
Miskien het die ryk man die negatiewe aspekte van die wet vermy (moenie lieg en steel nie), maar het hy dit positief nagekom: moenie lieg nie, maar bou ander mense se reputasie op; moenie steel nie, maar werk eerlik en deel uit vir die armes?
Die ryk man het gedink hy is goed, maar het geweet iets kort. Daarom het hy vir Jesus gesê: ‘Ek het die wette van kleins af onderhou; wat moet ek nog doen?’ (sien Matt. 19:20). Diep in sy hart het hy geweet hy oortree die tiende gebod, omdat hy materialisties en geldgierig is (Eks. 20:17). Jesus het hom met liefde aangekyk (Mark. 10:21) en gesê: “Een ding ontbreek jou nog: Verkoop alles wat jy het en deel dit onder die armes uit, en jy sal ’n skat in die hemele hê. En jy, kom hier, volg My.”
Die man se rykdom het gekeer dat Hy by die Here uitkom. Hy was te besig vir ’n verhouding met God. Die wêreld dink rykdom is ’n bate. Jesus sê dis ’n las as dit jou uit die koninkryk hou en keer dat jy die evangelie in jou hart ontvang (8:14). Jy is soos ’n kaptein van ’n skip vol goud. Is die goud ’n bate? Nie eintlik nie, want dit gaan die skip sink. Om jou lewe te red, moet jy die goud oorboord gooi. Dit wat vir jou na ’n bate gelyk het, is eintlik ’n las.
Verhinder rykdom jou verhouding met God? Weerhou dit jou van die Woord, gebed, die samesyn van gelowiges en om ander te dien? Verkoop jou besittings, gee die geld vir die armes en volg Jesus (v.22). Klink dit na ’n verlies? Die teenoorgestelde is waar. Jesus sê: “Die koninkryk van die hemele is soos ’n skat wat in die veld begrawe lê. ’n Man het dit ontdek en weer toegegooi. Uit blydskap gaan verkoop hy alles wat hy het en koop daardie grond.” (Matt. 13:44).
Bedoel Jesus mens kry die ewige lewe deur aalmoese te gee? Nee. Hy bedoel liewer as jy vir die armes gee, is jy minder aan die wêreld geheg as iemand wat ryk is. ’n Insident in John Wesley se lewe illustreer dit. ’n Ryk plantasie-eienaar het sy enorme plaas vir Wesley gewys. Na ’n volle dag het Wesley nog nie ’n fraksie van die plaas gesien nie. Teen die einde van die dag toe vra die boer vir Wesley: ‘Wat dink jy van my plaas?’ Wesley het gesê: ‘Ek dink jy gaan sukkel om dit agter te laat as jy sterf.’
2. Gee alles prys (v.23-30)
Die man in ons teks was maksimum ryk (v.23, Gk. sphodra). Hy was terneergedruk oor die keuse wat Jesus voor hom gestel het. Toe hy tussen tydelike en ewige rykdom moes kies, toe kies hy die tydelike (v.23, Mark. 10:22). Sy lewe is ’n illustrasie van Matt. 6:24: “Niemand kan twee base dien nie. Want hy sal óf die een haat en die ander een liefhê, óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon (rykdom) dien nie.”
Hierdie vers geld nie net vir materiële besittings nie, maar is op elke vlak waar. Toe ek eenkeer die evangelie met iemand deel, was sy baie opgewonde. Sy het eers oor haar sonde gehuil en daarna oor Christus se liefde. Toe ek klaar gepraat het, toe sê sy: ‘Ek wil nog een ding vra: beteken wat jy gesê het ek kan nie meer by my kêrel bly nie?’ ‘Dit is presies wat dit beteken,’ het ek gesê. Haar vrolike gesig het soos lood geval. So is sy by ons huis weg.
Keer sonde, ’n afgod of ’n verkeerde verhouding dat jy Jesus volg? Jesus sê: “As iemand na My kom en My nie liefhet bo sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie... Net so kan nie een van julle wat nie van al sy besittings afstand doen, my dissipel wees nie.” (14:26, 33).
Iemand het die lewe met ’n tou vergelyk. Dit het ’n begin, maar geen einde nie. Die tou se punt is rooi geverf. Dit verteenwoordig jou lewe op aarde. Moenie vir die rooi punt lewe, terwyl jy die res van die tou ignoreer nie. Moenie vir die tydelike lewe, terwyl jy die ewige ignoreer nie.
Die ryk man wou albei hê. Jesus kon die teleurstelling op sy gesig sien toe hy beef hy moet kies. Daarom het Jesus gesê: “Hoe moeilik is dit tog vir hulle wat rykdom het, om in te gaan in die koninkryk van God; want dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir 'n ryk mens om in die koninkryk van God in te gaan.” (v.24-25).
Party mense reken v.24-25 is ’n fout. Volgens hulle het Jesus kabel (Gk. kamilon) eerder as kameel (Gk. kamēlon) bedoel.3 Hulle is verkeerd. Matteus, Markus en Lukas praat van kameel. Elke woord in die Bybel is waar (Spr. 30:5).
As jy al in Israel was, sou ’n toergids jou na ’n klein hekkie toe vat en sê in Jesus se tyd het hulle dit die oog van ’n naald genoem. Volgens hulle moes mens die kameel se vrag aflaai, sodat dit letterlik deur die klein hekkie kon kruip. Tog is daar in die 1ste eeu n.C. geen rekord dat hierdie hekkie die oog van ’n naald genoem is nie.4 Wie wil buitendien sy kameel deur ’n klein hekkie laat kruip as daar ander hekke is waardeur die kameel gemaklik kan loop?
Jesus gebruik ’n metafoor. In Matt. 23:24 sê Hy die Fariseërs skep ’n onrein muggie uit hulle wyn, maar sluk ’n kameel in. Net so is Luk. 18:25 ’n vorm van beeldspraak. ’n Antieke Joodse geskrif, die Talmud, praat van ’n olifant wat deur die oog van ’n naald gaan.5 In ou Israel was ’n kameel die grootste dier. Jesus se punt is, vir ’n ryk man om gered te word is so onmoontlik soos vir ’n massiewe dier om deur ’n naald se oog te gaan.
Die dissipels was geskok en uitermate verbaas toe hulle dit hoor (Mark. 10:24, 26). Soos hedendaagse Prosperity predikers en Job se vriende het hulle gedink geld wys God se guns. Nou sê Jesus egter ryk mense sal beswaarlik in die hemel ingaan! As ryk mense nie gered kan word nie, hoe kan gewone mense soos die dissipels die koninkryk ingaan (v.26)?
Party mense vra dieselfde as bekende predikers in sonde val of die geloof verloën: ‘As hý wegval watter hoop is daar vir my?’ Volgens die Bybel is almal geestelik dood in hulle sonde (Ef. 2:1). Niemand verheerlik God nie (Rom. 3:23). Miskien dink jy ’n predikant staan op ’n berg en ’n reeksmoordenaar in die vallei, maar nie een van hulle raak aan die sterre nie. Vir ’n predikant of ’n ryk man om gered te word, is so onmoontlik soos vir ’n dronkaard of ’n arm man.
In ’n preek illustreer R.C. Sproul dit aan hand van drie mense op ’n verhoog. Die persoon ver regs verteenwoordig Jesus. Die persoon ver links verteenwoordig Adolf Hitler. Die derde persoon verteenwoordig die apostel Paulus. Ons is geneig om Paulus tussen Jesus en Hilter te sit. Die waarheid is dat Paulus langs Hitler hoort. Christus is oneindig keer beter as enige van ons. Elke mens is ’n sondaars wat Jesus benodig.
Wie kan dan gered word (v.26)? Wat by die mens onmoontlik is, is moontlik by God (v.27, Jer. 32:17, 27). God kan doen ver bo wat ons bid of dink (Ef. 3:20). Ken jy ’n groot, onwillige, geharde sondaar? God red mense wat nie na Hom soek nie (Rom. 10:20). Hy red die grootste van sondaars (1Tim. 1:15). Hy maak mense wat geestelik dood was, lewend (Ef. 2:5). Niemand kan na Christus toe kom as die Vader hom nie trek nie (Joh. 6:44, 65). Maar as die Vader hulle trek, sal hulle nie weier nie. God open mense se harte om die waarheid te verstaan (Hand. 16:14). Hy skenk hulle bekering (Hand. 5:31, 11:18).
God kan die onmoontlike doen (v.27). Glo jy dit? Moet dan nie ophou bid en die evangelie deel nie. ’n Sekere dr. Ibrahim van Tehran in Iran het vir 50 jaar vir sy ma se bekering gebid. Toe sy 92 jaar oud was, toe kom Ibraham na die sendeling toe aangehardloop: ‘Kom doop my ma! Sy het tot bekering gekom!’6
Dit het met ’n vriend en kollega se oupa gebeur. Op ’n dag toe bel sy oupa hom: ‘Ek en my vriend wil asseblief met jou praat.’ Sy oupa was 90 en die vriend 95. Albei van hulle was ouderlinge van ’n gemeente. My vriend wou nie gaan nie, aangesien sy familie hom dikwels oor die doop aangevat het.
‘Ek wil nie baklei nie, oupa.’
‘Ek ook nie. Ons het net ’n paar vrae uit die Bybel.’
Toe my vriend daar aankom, toe is die 95-jarige oom se vrou ook daar. Sy het koffie vir haar man en my vriend se oupa aangebied, maar nie vir hom nie. Blykbaar het sy iets teen hom gehad.
Toe hulle die gesprek begin, toe vra die ou mense my vriend oor die doop. Om konflik te vermy, wou my vriend nie daaroor praat nie. Hy het by Romeine begin en oor bekering gepraat. Op ’n kol toe sê die ouer oom: ‘Hoekom het my kerk nooit hiervan gepraat nie?’ ‘Ek wil nie oor kerk praat nie, oom; ek wil net sê wat die Bybel sê,’ het my vriend geantwoord. Hy het die evangelie mooi verduidelik. Weer het die ouer oom gevra hoekom sy kerk hom nie hiervan vertel het nie.’
Met dié het die tannie uit die kombuis gekom en gesê: ‘My magtig, hoor julle nie wat die man sê nie? Wat hy gesê het kom uit die Bybel! Ek wil my bekeer en gedoop word.’
‘Ons ook,’ het die oupa en sy vriend gesê.
‘Ek kan reël dat julle Sondag gedoop word.’
‘Nee boetietjie! Kyk hoe lyk ons. Dalk maak ons dit nie tot Sondag nie. Ons moet nóú gedoop word.’
My vriend het kerk toe gery, die doopbad volgetap en al drie die ou mense gedoop.
Moenie opbou bid nie.
Moenie moed verloor nie.
Hou aan die evangelie verkondig en maak seker jy self is gered. Petrus het vir Jesus gesê: “Kyk, ons het ons besittings agtergelaat en U gevolg.” Hulle het inderdaad alles agtergelaat: hulle bote, nette, besigheid en huise (5:11, Mark. 1:18, 20). Wat sou hulle daarvoor kry (Matt. 19:27)? In v.29-30 het Jesus geantwoord: “Amen, Ek sê vir julle: Daar is niemand wat, ter wille van die koninkryk van God, huis of vrou of broers of ouers of kinders agtergelaat het, wat nie in hierdie tyd veel meer sal ontvang nie—én in die bedeling wat kom, die ewige lewe.”
Bedoel Jesus mens kry die ewige lewe deur soos ’n Franciskaanse monnik vrywillig in armoede te lewe? Nee. Hy bedoel liewer die dissipels moes iets vir die koninkryk prysgee: hulle reputasie, aansien, familie, vriende, huis, werk, rykdom, iets anders. Dink maar aan ’n Moslem wat tot bekering kom: hy verloor sy familie, vriende, werk, aardse besittings en moontlik sy lewe.
Maar hy wen soveel meer. Hy verloor sy woning, maar Christene verwelkom hom in hulle huise en deel hulle besittings met hom (v.29-30, Hand. 2:44-46, 4:32-37). Sy familie skryf hom af, maar in Christus het hy honderde broers, susters en geestelike ouers (Mark. 10:30, 1Tim. 5:1-2).
Toe ek dit met ’n verstandelik-gestremde man deel, was hy baie bly. Sy ouers het gesterf en sy suster wou hom nie hê nie. Toe hy die waarheid van Jesus se woorde hoor, het hy geglimlag: ‘Die kerk is my familie!’ Hy kon dit nie glo nie, en wou gedurig hê ek moet die verse vir hom lees.
Vrees jy jy verloor jou familie se guns, status of plesier as jy vir Jesus volg. Is jy bang jou kollegas sê: ‘Jy is nie spanspeler nie’? Onthou: jy wen veel meer as wat jy verloor.
Wie aardse skatte bo Jesus kies, is soos ’n kind wat ’n Lego kasteel bo ’n super ryke se Amex Centurion kaart kies. Wat ’n dwase besluit. Wie sonder Jesus sterf, verloor die ewige lewe én sy Lego kasteel. “Wat baat dit ’n mens immers as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor?” (Mark. 8:36).
1 https://www.youtube.com/watch?v=cU4fkswSJhk&t=29s
2 Aanhalings uit die 2020 Vertaling.
3 Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: Luke (Nottingham, England: Inter-Varsity Press, 1974, 1988, 2008), 285.
4 https://classictheology.org/2021/10/12/through-the-eye-of-an-actual-needle-the-fake-gate-theory/
5 Berakhot 55b.21, Bava Metzia 38b.16. Verkry by https://www.sefaria.org/Berakhot.55b.21?lang=bi en https://www.sefaria.org/Bava_Metzia.38b?lang=bi
6 William M. Miller, A Christian’s Response to Islam (Phillipsburg, New Jersey: Presbyterian and Reformed Publishing Company, 1976), 137-8.