Vals godsdiens is soos ‘n lyk in ‘n kispak: uiterlik is dit mooi, maar innerlik is daar geen lewe nie. Dis ‘n aap wat ‘n goue ring dra. In se Stefanus se preek sien ons wat ware godsdiens is (cf. Handelinge 6:8-7:60).
Die beskuldiging (6:8-15)
Stefanus was gevul met die Heilige Gees, en dus ook met genade, krag, geloof, en wysheid: “Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees en wysheid... Stéfanus, ‘n man vol van geloof en van die Heilige Gees... En Stéfanus, vol van geloof en krag, het groot wonders en tekens onder die volk gedoen... Maar hulle kon die wysheid en die Gees waardeur hy gespreek het, nie weerstaan nie.” (v.3, 5, 8, 10). Stefanus het gepreek in die Sinagoge van die Libertyne (‘n groep vrygelate Jode wie se voorouers in 63 v.C. deur Pompey as slawe geneem is), die Cirenéërs en Alexandryne van Noord-Afrika, en die Cilíciërs en Asiërs van klein-Asië (v.9-10). Hulle poging om te debateer was tevergeefs: “hulle kon die wysheid en die Gees waardeur hy gespreek het, nie weerstaan nie.” Jesus het immers belowe: “Want Ek sal aan julle woorde en wysheid gee wat al julle teëstanders nie sal kan teëspreek of weerstaan nie.” (Lukas 21:15).
Toe hulle dit agterkom het hulle begin vuilspeel en vals getuies navore gebring. Lukas skryf: “Toe het hulle manne opgestook om te sê: Ons het hom lasterlike dinge hoor praat teen Moses en God. En hulle het die volk en die ouderlinge en die skrifgeleerdes in beweging gebring en op hom afgekom en hom gegryp en voor die Raad gebring. En hulle het valse getuies laat optree om te sê: Dié man hou nie op om lasterlike dinge te praat teen hierdie heilige plek en die wet nie. Want ons het hom hoor sê: Hierdie Jesus, die Nasaréner, sal hierdie plek afbreek en die sedes wat Moses aan ons oorgelewer het, verander.” (v.11-14). By Jesus se verhoor het die vals getuies gesê dat Hy daarin geroem het dat hy die tempel sou afbreek (Matteus 26:60-61). Nou het hulle dieselfde van Stefanus gesê. Stefanus het glad nie teen Moses, God of die tempel gelaster het nie. Inteendeel, hy was sóós Moses: “En terwyl almal wat in die Raad sit, hul oë stip op hom hou, sien hulle dat sy gesig soos die gesig van ‘n engel was.” (v.15, cf. Eksodus 34:29).
Godsdienstige mense hou van reëls en rituele, omdat dit hulle selfregverdige trots voed. Hulle sal nooit vir die eer van God opstaan nie, maar sal tot die dood toe stry vir hulle tradisie: ‘Ons is Baptiste!’ ‘n Ware Christen se lewe openbaar die godsdienstige persoon se skynheilige hart. Daarom haat en laster hierdie mense gelowiges. Hulle sal op Facebook en in die Beeld teen jou skryf. Ware godsdiens daarenteen is bly oor God se genade, dra die vrug van bekering, het krag om sonde te oorkom, en is soos Jesus.
Die verdediging (7:1-53)
Stefanus het op die aanklag gereageer (v.1).
- Abraham was buite die Beloofde Land toe God hom geroep het. Soos wat hy rondgetrek het, het hy altare gebou en God aanbid – sonder ‘n tempel (v.2-8). Isak en Jakob het dieselfde gedoen.
- Josef se broers het hom verwerp en as ‘n slaaf na Egipte verkoop. God was met Josef – buite die Beloofde Land en sonder ‘n tempel (v.9-15). Die enigste erfenis wat sy familie in die Beloofde Land gehad het was die begraafplaas by Sigem (v.16).
- Ten spyte van Farao se teenstand het God vir Moses opgewek (v.17-21). Toe hy probeer het om die volk te red het hulle hom verwerp. Hy het Midian toe gevlug. Daar het God hom voor ‘n brandende doringbos op berg Horeb ontmoet – buite die Beloofde Land en sonder ‘n tempel (v.23-34). God het hom die leier van Israel gemaak, maar die volk het hom verwerp – selfs nádat God wonders deur hom verrig het, die Tien Gebooie gegee het, en hy die Messias se koms voorspel het. Hulle het ‘n goue kalf gemaak en aanbid. Die offers wat hulle in die woestyn gebring het was nie vir God nie, maar vir die hemelliggame (v.35-43).
- Aanbidding in die woestyn het by die tabernakel plaasgevind. Later het God se volk Hom by die tempel aanbid. Maar God was nooit hiertoe beperk nie (v.44-50). Toe Salomo die tempel gebou het, het hy gesê: “Maar sou God werklik op die aarde woon? Kyk, die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het.” (1 Konings 8:27). Stefanus haal aan uit Jesaja 66:1-2: “Maar die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie, soos die profeet sê: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Watter soort huis sal julle vir My bou, sê die Here, of hoedanig is die plek van my rus? Het my hand nie al hierdie dinge gemaak nie?” (v.48-50).
Toe Stefanus dié teks aanhaal het die Jode ‘gekook’. Hulle het geweet waaroor die konteks gaan: vals aanbidding. Stefanus moes gou sy preek afsluit: “Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle. Watter een van die profete het julle vaders nie vervolg nie? Ja, hulle het dié gedood wat vooraf die koms verkondig het van die Regverdige, van wie julle nou verraaiers en moordenaars geword het; julle wat die wet deur die beskikkinge van engele ontvang het en tog nie onderhou het nie!” (v.51-53). Stefánus het nie vir Moses en die tempel gelaster nie; húllehet. Dwarsdeur sy preek verwys hy na ‘ons vaders’. Maar toe hy aan die einde praat van húlle wat die profete en die Messias vermoor het, sê hy: ‘júlle vaders’. Hy was nie deel van hulle nie. Christenskap was nie maar net ‘n sekte van Judaïsme nie – dit was ‘n ander godsdiens; die ware godsdiens van Abraham, Josef, Moses, David en Nuwe Testamentiese gelowiges.
Vandag is daar sogenaamde Christene wat wil terugkeer na Judaïsme. Hulle wil weer op Saterdae kerk hou, Ou Testamentiese voedsel wette onderhou, Joodse feesdae vier, ‘heidense’ dae soos Kersfees en Paasfees vermy, en daarop aandring dat ons Jesus ‘Yeshua’ noem. Hulle glo dat die Nuwe Testament oorspronklik in Hebreeus geskryf is, en dat die Griekse Nuwe Testament ‘n korrupte weergawe is. Sommige gaan so ver om te sê dat mense wat nie hierdie reëls volg nie, ongered is. In sy brief aan die Galasiërs het Paulus met hierdie mense afgereken. Ons word nie gered deur Jesus plus die besnydenis, die viering van sekere feeste, voedselwette, ensovoorts nie. Ons word gered uit genade alleen deur geloof alleen in Christus alleen.
Die vonnis (7:54-60)
Die Joodse Raad was so kwaad dat hulle op hulle tande gekners het. Hulle was woedend oor wat tóé gebeur het. “Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God. En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan.” (v.55-56). Die teologie van hierdie verse is skatryk:
[1] Jesus sit gewoonlik aan God se regterhand om te wys dat Hy die Regter en Koning is, en dat sy verlossingswerk voltooi is. By Sy verhoor het Jesus vir die Joodse Raad gesê: “Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.” (Matteus 26:64). In Handelinge 7 staan Jesus aan God se regterhand om vir Stefanus in die hemel te verwelkom. Hy staan ook op om te wys: ‘Ek weet jy is valslik beskuldig Stefanus – Ék (die Regter) sal jou Advokaat wees om jou te verdedig.’
[2] Stefanus noem Jesus ‘die Seun van die Mens’. In Daniël 7:13-14 is dit ‘n Messiaanse titel. Dit wys ook dat Jesus ná sy hemelvaart nog ‘n mens is, en dat Hy liggaamlik opgestaan het uit die dood.
Die Raad was briesend. Hulle het hulle ore toegestop, omdat hulle nie meer die Woord van God wou hoor nie (v.57, cf. Sagaria 7:11). Hulle het presies soos hulle vaders gemaak en nóg een van God se dienaars vermoor (v.58, 52). Hulle het gedoen wat Jesaja 66:5 sê (dit wat Stefanus nog wóú sê) en die ware gelowige verstoot. Hulle het hom, soos sy Here, buite die stad vermoor (v.58, Hebreërs 13:12-13). Die moordenaars het hulle jasse uitgetrek om harder te kan gooi (v.58). In sy lewe en dood was Stefanus soos Jesus:
- Jesus het sy gees in die Vader se hande oorgegee en gebid vir sy vyande (Lukas 23:34, 46).
- Stefanus het gevra dat Jesus sy gees moet ontvang en gebid vir sy vyande (v.59-60).
God het Stefanus se gebed beantwoord. Saulus het die moord op Stefanus goedgekeur (v.58), maar hy kon nie die preek afskud nie. ‘n Tydjie later het hy tot bekering gekom (hoofstuk 9). Stefanus het gesterf. Sy dood was so skadeloos soos ‘n man wat aan die slaap raak (v.60). Sy gees was dadelik by die Here (v.59).
Baie vals godsdienste hou vas aan een of ander ‘Jesus’, maar hulle haat die ware Jesus van die Bybel: volkome God en mens, opgestane Here, Verlosser, Messias, Regter, Middelaar, soenoffer vir sondaars. Hulle haat Hom soveel dat hulle sy volgelinge sal doodmaak. Hulle sal in die kerk sit en brom. Hulle is daarvoor bekend dat hulle vir predikante ‘n moelike tyd gee. Hulle sal selfs daarin roem. Hulle stop hulle ore toe vir die Woord van God. Hulle haat Bybelse prediking. Hulle sal hulle bes probeer om die dominee uit die kerk uit te verdryf (soos wat een ‘ouderling’ onlangs met ‘n vriend van my gedoen het). Hulle wil die kansel beheer en vir die predikant voorskryf hoe en wat hy mág en nié mag preek nie. Hulle ken die Bybel goed, maar hulle lewens bly onveranderd. Ware godsdiens lyk anders. Dit lyk soos Jesus.