Coram Deo Cover Image

Coming soon...

10 July 2021

Wanneer Jesus nie sin maak nie

Lukas 7:18-35

2018 was vir my ’n moeilike jaar. In ons gemeente het ek binne ses weke drie mense begrawe. ’n Man van 84 het in sy huis doodgebrand. Twee weke later het een van ons toegewydste lidmate in sy huis gesterf. Ek was daar toe hy sy asem uitblaas en het vir drie ure by sy vrou gesit totdat hulle om 23:00 sy lyk verwyder het. Nog twee weke later is ’n liewe tannie in ons gemeente in haar slaap oorlede. Gedurende hierdie tyd het ons twee tugsake hanteer. Ek onthou die pyn. Ek het op die mat gekniel en voor die Here gehuil. ‘Ek verstaan nie waarmee die Here besig is nie,’ het ek vir my vrou gesê.

Êrens in elke Christen se lewe gaan Jesus vir hom nie sin maak nie. Die vraag is wat jy daarmee gaan maak. Hoe jy in sulke tye op die Here reageer, is die vraag wat jy jouself moet afvra.

 

1. Johannes se twyfel (v.18-23)

Charles Spurgeon het gerook. Martin Luther het bier gedrink en partykeer kru taal gebruik. Mense maak twee foute wanneer hulle so iets hoor:

Party mense sê: “As my geestelike held dit gedoen het, kan dit nie verkeerd wees nie.” Ek het ’n student ontmoet wat dit van Jonathan Edwards gesê het: “As Jonathan Edwards babas gedoop het, moet dit reg wees. Hy sou tog nie iets gedoen het as dit verkeerd is nie.” By ’n seminaar het ’n ouer leraar kwaad geword toe iemand sê dat Paulus verkeerd was toe hy en Barnabas in Handelinge 15 paaie geskei het. ‘Paulus is ’n apostel van die Here! Hy kon nie verkeerd gewees het nie!’

’n Tweede fout wat mense in reaksie op hulle helde se sondes maak, is om hulle af te skryf. Johannes Calvyn het toegestem dat Michael Servetus vir sy dwaling oor Christus op die brandstapel moet sterf. Hieroor ignoreer party mense die res van Calvyn se lering. Hulle doen dieselfde met Luther. Nader aan die einde van sy lewe het Luther toegestem dat die Anabaptiste (‘wederdopers’) verdrink moet word. Toe iemand Erroll Hulse by ’n konferensie hieroor uitvra, toe sê hy: ‘Martin Luther was great man, and great men make great mistakes.’

Laat ons dan nie op Johannes die Doper neerkyk, omdat hy oor Jesus getwyfel het nie. “Daarom moet hy wat dink hy staan, oppas dat hy nie val nie!” (1Kor. 10:12).1 Tog keur ons nie Johannes se twyfel goed nie. Ons wil daaruit leer, sodat ons nie in dieselfde strik trap nie.

***

Toe koning Herodes sy broer se vrou vat, het Johannes die Doper hom aangespreek. Hiervoor het Herodes hom in die tronk gegooi (3:19-20). Terwyl Johannes in die tronk was, het sy dissipels hom van Jesus se wonderwerke vertel (v.18, Matt. 11:2). Johannes het twee van sy dissipels na Jesus toe gestuur om te vra of Hy die een is wat sou kom en of hulle ’n ander moes verwag (v.19). Sommige kommentators meen dat Johannes nie getwyfel het nie, maar dat hy sy dissipels se geloof wou versterk. Daarom het hy hulle na Jesus toe gestuur om te vra of hy die Messias is. Hierdie siening maak nie sin nie, omdat die dissipels vir Jesus gesê het: “Johannes vra...” (v.20). Verder het Jesus sy antwoord vir Johannes gestuur (v.22).

Die verse maak beter sin as ons verstaan dat Johannes sy eie twyfel wou opklaar. Hoekom het hy getwyfel? Hy het ’n ander tipe Messias verwag; ’n Messias wat nie net wonderwerke sou doen nie, maar een wat gekom het om die gevangenes uit die tronk te bevry en sy vyande te straf (3:16-17, Ps. 2, 110, Jes. 35:4, 42:7, 61:1-2). “Hoekom is ek in die tronk en kom Herodes weg met moord as die Messias hier is?” het Johannes gewonder.

Volgens D.A. Carson is dit seker die grootste beproewing wat ’n Christen kan deurmaak: as dit wat met jou gebeur nie sin maak nie. Dit pas nie by hoe jy God en sy Woord verstaan nie. Kom ek noem ’n paar sulke gevalle. Toe ek ’n student was, het ek R20 vir ’n klasprojek nodig gehad. Ek het nie die geld gehad nie en het die Here gevra. Hy het nee gesê. Vir baie jare het dit my gepla dat die Here nie my gebed verhoor het nie. Later het ek geleer dat die Here nie jou gebed sal verhoor as jy met sonde besig is nie (Ps. 66:18). Op daardie tydstip het ek sonde in my lewe gekoester.

’n Vrou se ouers het ’n stormagtige huwelik gehad. Haar pa het gedreig om die ma te verlaat. Sy en ’n vriendin het aan Matt. 18:19 vasgehou en geglo die Here sal haar ouers bymekaar hou: “As twee van julle op aarde saamstem oor enigiets wat julle vra, sal my Vader in die hemele dit aan julle toestaan.” Die vrou was kwaad vir die Here toe haar ouers geskei is. Sy was teleurgesteld toe die Here sy belofte gebreek het.2 Ongelukkig het sy die vers verkeerd verstaan. Die vers gaan nie oor gebed in die algemeen nie, maar oor kerkdissipline. Waar twee mense as getuies optree in ’n tugsaak en die Here se hulp vra, sal Hy hulle help.

’n Hoërskool seun het kanker gekry en op sy sterfbed gelê. Sy gesin en familie het lewe oor hom gespreek. Hulle was oortuig dat hulle woorde kragtig is om siek mense te genees. Die seun het gesterf. Sy dood het die familie verbyster gelaat en hulle teologie verpletter. As hulle geweet het dat ons nie die mag het om lewe te spreek nie, sou hulle sy dood beter kon verwerk.3

As jy God en sy Woord verkeerd verstaan, sal beproewings jou teologiese appelkar omgooi. Selfs iemand met ’n sterk geloof soos Johannes die Doper, sal wankel. Al ken jy ook die Bybel baie goed, kan niemand van ons alles omtrent die Almagtige uitwerk nie. Daar sal altyd iets wees wat jy nie verstaan nie (Deut. 29:29). Laat die beproewing jou dan leer om God se goedheid en wysheid te vertrou as sy weë vir jou te hoog is (Jes. 55:8-9). Rus in sy soewereine heerskappy en weet dat Hy God is (Ps. 131). Moenie vir jouself sê: ‘Ek is sterk en sal nooit in die Here twyfel nie.’ Johannes het God se stem gehoor en die Gees soos ’n duif op Jesus sien neerdaal (Matt. 3:13-17, Joh. 1:29-34). Tog het hy getwyfel (v.19-20).

Om twyfel te oorkom, moet jy die vaste fondasie van die Woord onder jou voete hê. Lees, bid, oordink, bestudeer, hoor en doen die Woord (Esra 7:10, Ps. 1:2, 119:11, 18, 97, 1Tess. 5:17, 2Tim. 2:15, 4:2, Jak. 1:22-25, 2Pet. 3:18). Dit is hoe Jesus Johannes gehelp het om sy twyfel te oorkom: Hy het hom na die Skrifte toe terugverwys; na Jesaja se profesieë oor die Messias (v.21-22, 4:18-19, Jes. 29:18, 35:5-6, 42:7, 61:1-2). Hy het ook wonderwerke voor Johannes se dissipels gedoen, sodat hulle kon sien dat Hy die Messias is wat die profesieë vervul (v.21-22). Jesus het blindes laat sien (Matt. 9:28-30, 12:22, 15:30-31, 20:29-34, 21:14, Mark. 8:22-26, Joh. 9), verlamdes laat loop (v.21, 5:25, Matt. 8:6, 13, 15:30-31, 21:14, Joh. 5:8-9), melaatses gereinig (v.21, 5:12-13, 17:12-14), dowes laat hoor (v.21, Mark. 7:32-35, 9:25-27), dooies laat opstaan (v.21, 14-15, 8:49-55, Joh. 11) en goeie nuus aan die armes verkondig (4:18, Matt. 5:3, Jak. 2:5).

Dalk twyfel jy, omdat Jesus hierdie dinge vir ander mense doen en nie vir jou nie. Mag dit wees dat jy jouself blindstaar teen een gebed wat nie beantwoord is nie en ’n honderd dinge miskyk wat jy wel ontvang het? Mag dit wees dat jy ’n verkeerde verwagting het, sodat jy perfekte omstandighede in ’n gevalle wêreld verwag? Dinge sal eers perfek wees wanneer Jesus weer kom en daar geen meer siekte, sonde, hartseer, pyn of dood is nie (Op. 21:4).

Ons neem te gou aanstoot wanneer die Here se manier van werk nie in ons teologiese raamwerk pas nie (v.23, Jes. 8:14-15, Joh. 6:61). Maar wat help dit jy is kwaad vir die Here, sodat jy nie meer jou Bybel lees, bid, kerk toe gaan of glo nie? Jy beroof jouself van seën (v.23).

 

2. Die skare se geloof (v.24-29)

Iemand het onlangs aantygings teen John MacArthur gemaak deur te sê dat hy in weelde lewe. Sy assistent, Phil Johnson, het MacArthur se integriteit verdedig. Jesus het dieselfde met Johannes gedoen. Die feit dat Johannes in ’n oomblik van swakheid getwyfel het, beteken nie dat sy lering omtrent die Messias vals was nie. Johannes was ’n kragtige prediker van die waarheid, sodat mense van oral af na die woestyn toe gegaan het om hom te hoor preek (v.23). Johannes was nie iemand wat populêre of sentimentele boodskappies gebring het om mense se ore te streel nie. Hy het nie toegelaat dat mense se opinies hom soos ’n riet in die wind rondwaai nie (v.23). Hy het die waarheid reguit gepraat en nie omgegee as party mense nie van hom hou nie. Hy was nie ’n sagte man wat met sagte hande en sagte kleertjies in sy paleis woon nie (v.25). Soos Elia was hy ’n vreeslose profeet wat klere van kameelhare gedra het (v.26, 1:76, 20:6, 1:17, Matt. 3:4).

Eintlik was hy meer as ’n profeet: hy was ’n boodskapper wat voor die Messias uitgegaan het om sy koms aan te kondig en sy paaie gelyk te maak (v.26-27, 3:4-6, Jes. 40:3-5, Mal. 3:1). Hy was die laaste en grootste van die Ou Testament profete (v.28, 16:16, Matt. 11:13). Tog is die geringste gelowige in die koninkryk groter as hy (v.28). Dit geld vir die bejaarde gelowige wat vir die Here se werk bid, vir die laerskool kind wat ’n dissipel van Jesus wil wees, vir die bekeerde inboorling wat op ’n eiland woon en vir die arm gelowige in Malawi. Almal van hulle is groter as Johannes die Doper of enige gelowige in die Ou Testament: groter as Henog, Noag, Abraham, Moses, Dawid, Salomo, Jesaja en ander. Omdat ons na Jesus se kruisdood, opstanding, hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees lewe, verstaan ons die boodskap van verlossing beter as enige Ou Testamentiese gelowige en het ons ’n voller ervaring daarvan (10:23-24).

Toe die skare en tollenaars dit hoor, het hulle God geprys en gesê dat Hy regverdig is (v.29, Matt. 21:32). Hulle het erken dat Hy reg was toe Hy hulle deur Johannes tot bekering roep (v.29). Die skare het hierdie wekroep tot bekering eerbiedig en dit openlik deur die doop bely (v.29, 3:3, 10-14). Hulle het as’t ware gesê: “Ons wil gereed wees vir die Messias se koms. Ons lewens moet skoon wees wanneer die Bruidegom opdaag.”

Vir party mense maak dit nie sin dat God slegte mense net so vergewe nie. Mnr. X se vrou het egbreuk gepleeg. Daarna het sy tot bekering gekom en haar sonde bely. Toe haar gewese man dit hoor, toe sê hy: “Hoe kan die Here jou net so vergewe?”

Mense wat so sê, vergeet twee dinge. In die eerste plek vergeet hulle dat hulle net so sondig is. Hulle sonde is net anders. Hulle is meer slinks en leer om hulle sonde weg te steek. Hulle is skynheilig. Hulle pleeg nou wel nie egbreuk nie, maar hulle ontklee mense in hulle gedagtes. Hulle maak nie mense dood nie, maar hulle haat ander. Hulle breek nie in en steel nie, maar hulle begeer ander mense se goed en is jaloers op hulle.

In die tweede plek vergeet hierdie mense dat Jesus ’n duur prys betaal het om ons te vergewe. Jesus het ’n grudood gesterf om die straf vir ons sonde te dra. Kyk na die bloedbesmeerde kruis en sien wat jou sonde verdien voordat jy sê: ‘Dit maak nie sin dat God diktators, vervolgers en ander bose mense sommerso vergewe nie.’

 

3. Die leiers se ongeloof (v.30-35)

Die Engelse gesegde lui: ‘Don’t judge a book by its cover.’ Dit beteken dat jy nie iemand op die uiterlike moet beoordeel nie. Dit is wat die Fariseërs met Jesus gedoen het. Omdat Hy nie ’n militêre leier was en in opstand teen die Romeine gekom het nie, kon Hy volgens hulle nie die Messias wees nie.

Eintlik het hulle Hom verwerp nog voor Hy op die toneel verskyn het. Toe Johannes sê: “Die Messias is op pad!” het hulle hulle ore toegedruk en gesê dat Johannes nie ’n profeet is nie (20:4-7, Matt. 21:32). Hoe kan ’n man wat sprinkane eet en in die woestyn woon die Messias se voorloper wees? En hoekom sou die Here vir die godsdienstige Fariseërs sê om hulle te bekeer? Dit maak nie sin nie. Geen wonder hulle het Johannes se boodskap van bekering en die doop wat daarvan getuig, verwerp nie (v.30, 3:3). Sodoende het hulle God se verlossingsplan vir Israel gemis en die koninkryk verbeur (v.30, Matt. 23:13).

Dit is nog steeds die rede hoekom mense verlore gaan: nie omdat God hulle nie die kans gee om hulle te bekeer nie (v.30), maar omdat die Bybel volgens hulle vir bygelowige, eenvoudige en onwetenskaplike mense is. Ek ken ’n man wat so gedink het. Hy was baie intelligent. Toe hy op ’n dag met die Bybel spot en hy ’n gelowige met ’n strikvraag uitboul, toe sê die Christen: “Johannes, you are too clever for me. But don’t say that I didn’t warn you.”

Ray Comfort is ’n Nieu-Seelandse evangelis wat in Amerika woon. Tydens ’n onderhoud met ’n ateïs, het die ateïs gesê: “Do you really want me to swallow all those miracles in the Bible?” “I don’t expect you to swallow them,” het hy gesê. “I’m simply asking you to swallow your pride.”

Party mense sal sê Christenskap is vir mense met ’n skuldkompleks wat dink dat hulle ’n offer vir hulle sonde nodig het. Met dit in gedagte het ’n ateïs eenkeer vir my gesê: “Ek het nie ’n offer vir my sonde sondig nie.” Godsdienstige mense dink dieselfde en gee nie om vir Jesus se offer aan die kruis nie. Hulle dink dat hulle nie bekering nodig het nie. Hulle is soos kinders wat nie troue of begrafnis wil speel nie (v.32). Hulle het nie gedans toe Jesus die goeie nuus van vergifnis preek of gehuil toe Johannes met ’n sterk boodskap van bekering kom nie (v.31-32). Omdat Johannes gereeld gevas het en nie wyn gedrink het nie, het hulle gesê dat hy ’n demoon het (v.33, 1:15, 5:33). Omdat Jesus fees gevier het en wyn gedrink het, het hulle gesê Hy is ’n vraat en ’n suiplap; ’n vriend van tollenaars en sondaars (v.34, 36, 5:27-33, 15:1-2, 14:1, 19:7, Matt. 9:11, Joh. 2:1, 12:2).

Mense maak nog steeds sulke verskonings: ‘Ek kom nie kerk toe nie, omdat ek nie van die predikant se persoonlikheid of styl hou nie.’ Maar as daar iemand anders in die kansel is, kom hulle nog steeds nie. Hulle soek ook nie ’n kerk waar hulle van die prediker se persoonlikheid en styl hou nie, maar hulle bly by die huis. Die ware rede hoekom hulle nie saam met gelowiges onder die Woord sit nie, is omdat hulle hulle sonde liefhet. Hulle soek nie ’n boodskap wat hulle laat skuldig voel nie. Hulle wil nie hoor dat jy jou moet bekeer of hel toe gaan nie.

Baie kerkmense gee nie om vir ’n Jesus wat hulle ’n hupstoot kan gee om in die hemel te kom nie. Maar jy wond hulle ego as jy sê dat hulle niks tot hulle redding kan bydra nie en dat slegs Jesus mense red. Toe ek ’n besoeker jare gelede oor sy redding vra, toe roem dat hy ’n ouderling van ’n gemeente was. Ek het vir hom gesê dat dit hom nie in die hemel sal bring nie. Hy het sy humeur verloor en gesê: “Soos jy praat, dominee, klink dit of almal hel toe gaan!”

Het jy vriende, familie en kollegas wat so is? Hulle sê dat jy te eng en te streng is as jy van Jesus as die enigste Weg praat of van die evangelie as die enigste boodskap van verlossing.

Ek wil jou aanraai om nie verder met hulle te stry nie. Bid vir hulle en wys deur jou lewe dat jy anders is. Dalk sal hulle oor Jesus begin wonder as hulle jou wyse en heilige lewe sien. “Maar die wysheid word deur al haar kinders reg bewys.” (v.35). “Kom dit na en voer dit uit, want daaruit sal dit vir die nasies duidelik wees dat julle wysheid en insig het. Wanneer hulle al hierdie vaste voorskrifte hoor, sal hulle sê, ‘Wat ’n wyse en verstandige volk is hierdie groot nasie nie!’” (Deut. 4:6).

Een van my vriende het die evangelie met sy ongelowige buurman gedeel. Alhoewel die man nie tot bekering gekom het nie, het my vriend aangehou om ’n vriend vir hom te wees. ’n Paar jaar later toe besoek die man ons kerk. Hy was nog steeds nie gered nie, maar het vir my gesê: “As daar nou een ware Christen is, is dit Seth Meyers.”

As jy soos ’n Christen lewe, sal iemand dit raaksien en jou oor die Here begin vra. Hy sal soos die kind wees wat groot geword het en sê: “Toe ek op skool was, het my ouers nie sin gemaak nie. Ek het gedink hulle weet niks. Nou weet ek dat dit ek is wat nie verstaan het nie.’


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

2  John MacArthur (et. al.), How to Counsel Biblically (Nashville, Tennessee: Thomas Nelson, 2005), 118

3  https://baptistekerkkemptonpark.com/het-ons-die-mag-om-lewe-en-dood-te-spreek/

Kategorieë