Coram Deo Cover Image

Coming soon...

26 February 2021

Visvang vir Jesus

Lukas 5:1-11

Ek ken ’n leraar wat versot is op hengel. Volgens hom sal hy selfs in ’n slaggat vol modderwater probeer hengel. ’n Man in ons gemeente is ook so. Hy hengel in varswater, van die strand af, van die rotse af, in die diepsee—enige plek.

Sommige Christene is so wanneer dit by evangelisasie, of visvang vir Jesus kom. Hulle is daarvoor gebore. Ek dink hier aan evangeliste soos George Whitefield, John Wesley, Charles Spurgeon, D.L. Moody, en Ray Comfort. Ek dink aan vriende soos Seth Meyers en Nico van Zyl. Hulle is die evangeliste van wie ons in Ef. 4:11 lees.

Nie almal is egter soos hulle nie. Maar almal van ons moet op een of ander manier mense vir Jesus vang.

 

1. Preek die Woord (v.1-3)

Toe my pa jonk was, het hy ’n klerewinkel besoek om na pakke te kyk. Hy het hom voorgeneem om niks te koop nie, maar om net te kyk. Toe hy by die winkel instap, toe sê die Indiër-verkoopsman vir hom: ‘Today I am going to sell you two suits.’ My pa sê: ‘He was right. He did sell me two suits.’

            Party mense kan goed praat—so goed dat hulle ander kan motiveer en manipuleer. Baie van hulle doen dit met godsdiens. Hulle oortuig mense om geld vir hulle bediening te gee, of om tot voor in die kerk te stap en ’n gebed agter hulle aan te sê. Maar slim woorde kan nie iemand in die Koninkryk inbring, of hom ’n nuwe mens maak nie. Daarom moet ons nie ons eie woorde preek nie, maar Gód s’n (1Kor. 2:1-5).

            Jesus self het God se Woord verkondig (v.1, 3, Mark. 2:2). Ons weet ook dat Hy die Woord van God ís (Joh. 1:1, 14). Hy is die Groot Visser van mense wat deur sy dissipels mense vir die Koninkryk vang (Matt 13:47). In Luk. 5 sien ons nie net hoe Hy vissers van mense róép nie, maar hoe Hy mense deur sy Woord váng. Petrus, Andreas, Johannes en Jakobus was van die eerstes wat Hy gevang het. Eintlik het hulle Hom al in Joh. 1 ontmoet, maar nou het Hy hulle amptelik geroep om sy dissipels te wees. Volgens Matt. 4 en Mark. 1 het Hy hulle by die See van Gennesaret, of Galilea ontmoet, terwyl Luk. 5 verduidelik hoe dit gebeur het:

Die skare het om vergader Jesus om die Woord te hoor. Mense het hulle oor sy verstaanbare en kragtige lering verwonder (4:14-15, 22, Matt. 7:28-29, Mark. 12:37). Omdat hulle om Hom saamgedrom het, moes Hy keer dat hulle Hom nie vertrap nie.

             Hoe sou Hy dit regkry? Hy het twee bote langs die meer gesien: Petrus en Andreas s’n, asook Johannes en Jakobus s’n (v.2). Hulle was besig om hulle nette skoon te maak. Hulle moes die dooie visse, stokke, skulpe, lokaas, en seegras uithaal, asook die stukkende nette herstel (v.2, Mark. 1:19). Terwyl hulle besig was, het Jesus in Petrus se boot geklim en hom gevra om dit ’n entjie in die water in te stoot, sodat die mense Hom nie sou oorweldig nie en sodat hulle sy stem duidelik oor die water kon hoor trek (v.3). Jesus het gaan sit om die mense te leer (v.3). Hy het gaan sit, sodat die boot nie sou kantel nie, maar ook omdat Joodse Rabbi’s gaan sit het om die mense te leer (4:20).

***

Daar is een groot les in hierdie verse: gebruik die Bybel as jy die evangelie deel. God se woorde in die evangelie is die krag waardeur Hy mense red (Rom. 1:16, 10:17, 1Kor. 1:18, 1Pet. 1:23, 25). Jou en my woorde kan nie mense se harte verander nie. Enige apologetika waardeur jy mense met slim argumente probeer vaspen, is onvoldoende. Ray Comfort het dit onlangs van Ravi Zacharias gesê. Ravi se verdediging van die Christelike geloof was in baie gevalle maar net intellektueel. Hy het nie by die mense aangedring om van die komende oordeel te vlug nie.1

             Moet dan nie op jou eie redenasies staatmaak nie, maar vertrou op God se Gees deur die evangelie. My pa het dit eenkeer vir my gesê toe ons uitgegaan het om straat-evangelisasie te doen. Ek het met ’n ateïs in ’n debat betrokke geraak en hom met goeie argumente probeer wen. My pa met my met sy elmboog in die ribbes gepomp en gesê: ‘Get to the gospel! Get to the gospel!’ Hy het geweet dat die evangelie en nie my argumente nie, die krag van God tot redding is vir elkeen wat glo.

 

2. Vertrou op Jesus (v.4-7)

Een van my dosente het ons van ’n studente-prediker vertel wat met groot trots by ’n gemeente gaan preek het. Die preek het vrot gegaan, sodat hy kop onderstebo van die kansel afgeklim het. Na die preek het ’n ou oom vir hom gesê: ‘As jy opgeklim het soos jy afgeklim het (nederig), sou jy afgeklim het soos jy opgeklim het (met vrymoedigheid).’

             Wanneer ons die evangelie preek, moet ons nederig op Jesus vertrou en nie dink ons sal die ateïs, Moslem, Jehova’s Getuie, of enige ander ongelowige op sy neus laat kyk nie. Voddie Baucham vertel hoe hý in die strik getrap het. Toe hy ’n nuwe Christen was, het hy vir die eerste keer met die Jehova’s Getuies te doen gekry. Hy het nie geweet wie hulle is nie, maar toe hy uitvind, het hy drie dae spandeer om oor hulle na te vors. Toe hy hulle weer sien, het hy hulle uitoorlê.2 Hy het agterna besef dat hy ’n argument gewen het, maar nie ’n siel nie.

             Sonder ’n nederige vertroue op Jesus en sy Gees, sal die beste argumente ons nie help nie. Dus moet selfs die predikers wat God se Woord suiwer verkondig op die Heilige Gees staatmaak en nie op hulleself, of op hulle deeglike voorbereiding nie. Martyn Lloyd-Jones stel dit as volg:

‘The outstanding temptation—the besetting sin—of every preacher, myself included, is that after you have prepared your sermons you feel that all is well. You have your two sermons ready for Sunday. Well, that is all right. You have your notes, and you can speak, and you can deliver your message. But that is not preaching! That can be utterly useless. Oh, it may be entertaining, there may be a certain amount of intellectual stimulus and profit in it, but that is not preaching. Preaching is in demonstration of the Spirit and of power. And a man has to realise, after he has prepared his sermons, that however perfectly he may have done so, that it is all waste and useless unless the power of the Spirit comes upon it and upon him. He must pray for that.

Yes, but not only he. Those who listen must also pray for that. How many people pray before they go to a service that the Spirit of God might come upon the preacher and use him and his message? The hearers, as well as the preacher must pray for that, otherwise they are looking to him and to his message. No, all together must look to God and realise their utter dependence upon the power that he alone can give.’3

Lukas wys hoe Petrus op hierdie beginsel gefouteer het. Toe Jesus vir hom gesê het om sy nette in die diepwater te gooi, het hy nie dadelik ja gesê nie. Hy het eers Jesus se kennis bevraagteken (v.4-5). Dit is asof hy wou sê: ‘Meester, Ek respekteer U, maar nou is nie die tyd vir visvang nie, omdat die visse bedags in die diep water swem waar dit koel is. In die nag kom hulle na die oppervlak. En as ons die hele nag niks gevang het nie, hoekom sal ons nóú iets in die dieptes vang? Maar goed; as U so sê...’

        Die oomblik toe Petrus sy nette laat sak het, toe kry hy die vangs van sy lewe (v.6-7). Dit is nie omdat hy die regte aas gebruik het nie, maar omdat hy gedoen het wat Jesus sê (dieselfde het in Joh. 21:5-6, 8, 11 gebeur).

            Wat het dit met evangelisasie te doen? Om bekerings by die werk, of in jou familie, vriendekring, woonbuurt, en in die wêreld te sien, moet ons bid. Maar ons kan nie daar stop nie. Ons moet ook gehoorsaam wees en die evangelie deel. Ons moet die nette laat sak, selfs al lyk dit vir ons of daar nie ’n vangs kan wees nie, omdat ons al vir jare onsuksesvol was. Vertrou die Here en weet dat Hy binne ’n paar sekondes kan doen wat ons in jare, of selfs dekades nie kon regkry nie (v.5-6). Weer sê Martyn Lloyd-Jones: ‘When God acts, he can do more in a minute than man with his organising can do in fifty years.’4 Ons sien dit in Hand. 2:41 toe Petrus op een dag 3000 bekerings onder sy prediking gesien het. Tydens ’n herlewing in Boston het William Cooper binne 7 dae meer van die Gees se werk in mense se lewens gesien as in 24 jaar voor dit.5

       Wat ons nodig het, is nie beter metodes, tegnieke, programme, organisering, of advertensies nie, maar die teenwoordigheid van Jesus in ons prediking, sending, en evangelisasie. Hoe kan ons dit kry? Ons moet aanhoudend bid, die Here se beloftes glo, en op Hom wag. Sonder Hom is ons beste pogings tevergeefs, selfs al is ons professionele en gesoute ‘vissermanne’. Maar as Jesus werk, sal daar nie genoeg hande wees om te help nie (v.7, 10, 10:2). Wat kan jy doen om te help, sodat ons nette vol vis kan inbring?

  • Bid vir ’n spesifieke ongelowige se redding en vir geleenthede om die evangelie te deel.
  • Bid vir ons uitreike by MES en kom saam met ons, sodat jy kan leer om die evangelie te deel.
  • Deel die evangelie met jou kinders, familie, kollegas, en bure.
  • Rus jouself toe deur Living Waters (Ray Comfort) se videos op YouTube te kyk.
  • Gee vir iemand ’n traktaatjie, of ’n goeie Christelike boek as jy nie weet hoe om met hulle te praat nie.
  • Deel ons gemeente se preekskakels via sosiale media.
  • Nooi ’n ongelowige kerk toe.
  • Bewys praktiese liefde aan ongelowiges. Daardeur sal jy hulle respek wen en later ’n geleentheid kry om die evangelie met hulle te deel.
  • Werk die evangelie in by jou persoonlike getuienis.
  • Ondersteun ’n sendeling, of word self ’n prediker, of sendeling as die Here jou daarvoor roep. Moenie wag om jou gawe te gebruik nie, maar raak betrokke by ’n korttermyn uitreik, ’n besoek aan ’n sendeling, evangelisasie, of ’n preekgeleentheid in jou kerk.

Moenie in die boot lê en sonbrand, terwyl die ander vissermanne werk en sê dat hulle jou hulp benodig nie (v.7). Moenie soos Jona vlug nie (Jona 1), maar reageer op die Here se roepstem (Jes. 6:8, Hand. 16:9). Rol jou moue op en help.

Deur dit alles moet jy op Jesus staatmaak om visse te stuur—om sondaars te red—en nie op jou tegnieke nie (v.6, Joh. 3:8, 6:44, 15:5). Waar Jesus werk, sal die bote so vol raak dat hulle sink (v.7) en sal ons nie weet hoe om almal te dissipeleer nie (v.7). Maar die Here wat die bekerings stuur, sal ons ook met wysheid en krag toerus om hulle te dissipeleer.

 

3. Word verander (v.8-10)

Net soos wat ’n visserman sy nette skoonmaak en regmaak voor hy weer uitgaan, moet die Here ons reinig, herstel, en verander voor Hy ons in sy diens kan gebruik. Dit is wat Hy met Petrus gedoen het. Toe Petrus die vangs sien, het hy in die boot voor Jesus se knieë neergeval en gesê: “Gaan weg van my, Here, want ek is ’n sondige mens.” (v.8).6 ’n Mens sou dink Petrus sou opgewonde wees en vir Jesus vra of hulle saam in besigheid kan gaan. Hy het egter besef dat Jesus nie net sy Meester is nie (v.5), maar die Here wat die visse van die see beheer (v.8, Ps. 135:6). Die ander dissipels was ook uit die veld geslaan (v.9-10). As gevolg van hierdie besef, het Petrus soos Israel en Jesaja met vrees gereageer (sien Eks. 20:19, Jes. 6:5). ‘Hoe kan ek wat ’n sondaar is in die teenwoordigheid van hierdie heilige God staan?’ het hy gewonder. Hy was skaam soos iemand wat nie klere aan het nie, of soos iemand wat vuil klere dra en skielik in die lig kom. Daarom het hy Jesus gevra om eerder weg te gaan (v.8).

             Maar hierdie sonde oortuiging was nodig voordat Jesus die dissipels kon gebruik. Hulle moes besef wie Jesus is en wie hulle is. Totdat hulle nie hulle nood vir Jesus besef het nie, kon hulle nie vir ander sondaars sê: ‘Julle het Jesus nodig’ nie. Dit is wat almal van ons nodig het: nie om ons volle potensiaal te ontdek nie, maar om ’n groot visie van Jesus en sy soewereine almag te hê. Ons moet verstaan wie Hy is en dat ons Hom nodig het.

        Sien jy dit? Nee? Dan benodig jy ’n goeie dosis van die Tien Gebooie om te sien dat jy verlore is, sodat jy Jesus sal aanroep om jou te red. Jy moet verstaan dat jy ander dinge bo God gestel het. Jy het selfs vir jou ’n god geskep het met wie jy gemaklik is. Baie mense doen dit wanneer hulle sê: ‘Hoe kan ’n God van liefde mense hel toe stuur?’ Jy het die Here se Naam ydellik gebruik. Het jy al ooit sy Naam ’n vloekwoord te gebruik, beloftes in sy Naam gemaak en dit gebreek, of jouself ’n Christen genoem, maar nie soos een gelewe nie? Jy het Hom nie aanbid soos Hy sê nie, maar soos jý wil. Jy was disrespekvol en ongehoorsaam aan jou ouers. Jy het hulle afgeskeep. Jy het ander mense gehaat en wou hulle uit jou lewe hê. Jy was wellustig en dalk selfs seksueel losbandig. Jy het gevat wat nie joune is nie, selfs al was dit jou werkgewer se tyd. Jy het leuens vertel en was oneerlik. Jy het die Here nie gedank vir wat jy het nie, maar was jaloers op wat ander het.

            Kan jy sien dat jy verlore is en dat jy ’n Verlosser nodig het? Wil jy nie hoor dat Jesus vir sondaars gesterf het; dat Hy die straf vir ons sonde gedra het, en dat God jou sal vergewe as jy in sy Seun glo nie? Om te keer dat die haaie van sonde en die hel jou vang, moet jy na die Groot Visserman toe swem. Hy sal jou gerusstel soos Hy met Petrus gedoen het: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” (v.10). Dit is asof Hy wou sê: ‘Ek weet jy vrees die Heilige. Ek het egter nie gekom om te vernietig nie, maar om te red. Omdat jy in My glo en My gehoorsaam, sal Ek jou gebruik om mense te vang.’

            Die Griekse woord vir ‘vang’ [zōrgeō] beteken letterlik ‘om lewendig te vang’. Die evangelie is nie ’n lokval (vgl. Jer. 16:16, Amos 4:2) om mense vir ons gemeente te wen, of om soos die Jehova’s Getuies punte vir die ewige lewe te probeer kry nie. Dit is nie ’n lokval om vir onsself ’n naam te maak, of om soos die Prosperity Gospel mense se geld te kry nie. Die doel is eerder dat mense uit die gevaarsone na die net van die Koninkryk sal kom, sodat hulle vir ewig by Jesus kan wees. Die getroue evangelis is soos iemand wat seediere uit ’n olie-besoedelde kol van die see red om hulle in skoon water vry te laat.

 

4. Volg die Meester (v.11)

Die Christelike vis-simbool is eintlik ’n geloofsbelydenis: ‘Jesus Christus, God se Seun is die Redder.’ In Grieks lees dit: ‘Iēsus Xristos Theou Uios Sōtēr.’ As mens die eerste letter van elke woord vat, spel dit IXTHUS wat vis beteken. Mense wat in die vroeë kerk geleef het en vervolg is, het ’n halfmaan in die sand geteken om ander Christene op te spoor. As die persoon die halfmaan voltooi het, dan was daar ’n in die sand. So het die gelowige geweet dat die persoon wat hy ontmoet het ’n broer, of suster is.7

            In die begin van die Christelike TV-reeks, The Chosen sien mens ook visse teen die stroom op swem om Jesus te volg. Is jy een van hulle? Dan moet jy soos die dissipels bereid wees om alles te los om Jesus te volg (v.11, 5:28, 9:23, 14:26, 33). Jy moet besef dat Jesus baie meer waardevol is as jou florerende besigheid (v.11), of enigiets anders wat die wêreld jou kan bied.

       Het die Here jou dalk geroep om die evangelie voltyds te verkondig? Wanneer sal jy dit doen? Voddie Baucham sê:

‘[If] you are saying that God is calling you, what are you waiting for? Men are fighting and dying while you twiddle your thumbs to figure out whether or not you are ready to take up a weapon and man a post. Enough already! Are you in or are you not, because the stakes are too high to wait for you? “I solemnly charge you in the presence of God and of Christ Jesus, who is to judge the living and the dead, and by His appearing and His kingdom” (2Tim. 4:1). He’s coming! Don’t let Him find you navel-gazing to figure out whether or not you’re gonna respond to his call!’8

Hoe sal jy weet of die Here jou geroep het? Vir die eerste tien jaar van my bediening het ek getwyfel. Hoe weet ek ek is geroep?’ het ek gewonder. ‘Hoe weet ek dit was nie maar net ’n subjektiewe emosie nie?’ Toe ek in 2010 by ’n konferensie was, toe gee een van die sprekers vier objektiewe toetse om te wys of iemand geroep is, of nie.

[a] Begeer jy om in die bediening te wees (1Tim. 3:1)?

[b] Het jy die gawe van lering (1Tim. 3:2)?

[c] Voldoen jy aan die morele kwaliteite van ’n ouderling (1Tim. 3:2-7)?

[d] Bevestig ander getroue ouderlinge dat God jou vir die bediening geroep het (1Tim. 4:14)?

Ek probeer nie die subjektiewe weggooi nie, maar meet jouself eers aan die objektiewe vereistes. Indien die Here jou wel geroep het, moet jy in die bediening wees. Volg die Here Jesus: eers as ’n Christen en dan as ’n prediker, of visser van mense. Wy jou hele lewe daaraan om verlore mense vir Jesus te vang. Wees soos John Harper wat in die 1800’s in Skotland gelewe het. Hy het tot bekering gekom toe hy 14 was. Op 17 het hy in die strate begin preek. In 1896 het hy ’n kerk geplant wat oor die bestek van 13 jaar van 25 na meer 500 lidmate gegroei het. Later in sy lewe het hy by Moody Church in Chicago gaan preek. ’n Paar jaar later het hulle hom gevra om weer daar te preek. Hy en sy 6-jarige dogter het op die Titanic geklim. Soos jy weet het die Titanic gesink. Sy dogter het oorleef. Maar daar was nog ’n oorlewende wat van John Harper se laaste preek getuig het. Terwyl Harper in die ysige water aan ’n stuk dryfhout vasgeklou het, het hy naby ’n man gekom en gevra:

‘Man, are you saved?’

‘No, I am not,’ het die man geantwoord.

‘Believe on the Lord Jesus Christ, and thou shalt be saved!’ het Harper geroep.

Toe die golwe Harper weer nader gebring het, toe vra hy:

‘Are you saved now?’

‘No,’ het die man weer gesê.

‘Believe on the Lord Jesus Christ, and thou shalt be saved!’

Harper het onder die water verdwyn. Die oorlewende het Jesus as sy Verlosser vertrou en tot bekering gekom. ’n Paar maande later het hy by ’n biduur in Kanada opgestaan en hierdie getuienis gedeel. ‘I am John Harper’s last convert,’ het hy gesê.9

Mag baie mense op die laaste dag sê: ‘Ek het tot bekering gekom deur ’n getroue gelowige in Kemptonpark wat die evangelie met my gedeel het... Ek is vandag hier, omdat daar ’n gemeente in Kemptonpark was wat week na week die goeie nuus van Jesus verkondig het.’


1  https://www.livingwaters.com/the-mistake-we-made-with-ravi/

2  https://www.youtube.com/watch?v=o_JHjL-ZSdE

3  Martyn Lloyd-Jones, Revival (Wheaton, Illinois: Crossway, 1987), 124

4  Ibid., 122

5  Iain Murray, Pentecost—Today? (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1998), 178

6   Aanhalings uit die 2020-Vertaling van die Bybel.

7  Hennie Stander, Simbole: Veilig of Gevaarlik? (Kaapstad: Struik Christelike Boeke, 2000), 34-7

8  http://rezolution.co.za/sermons/preserve-proclaim-and-endure-part-3/ 20:23 - 22:50 minutes

9  Mark Dever, The Gospel & Personal Evangelism (Wheaton, Illinois: Crossway, 2007), 13-5

Kategorieë