Coram Deo Cover Image

Coming soon...

3 August 2023

Verstaan jy wat jy lees?

Lukas 18:31-34

Herken jy my tema as ’n program op Radio Kansel? Eintlik kom dit uit Hand. 8:30: “Filippus het nader gehardloop, hom die profeet Jesaja hoor lees, en gevra: ‘Verstaan u wat u lees?’ ”1

Voel jy soms so: jy lees die Bybel, maar verstaan dit nie? Die dissipels was so. Hulle het die Ou Testament gelees, maar nie verstaan nie. Toe Jesus dit aan hulle verduidelik, was hulle nog steeds onseker. Hoe kon hulle die Bybel verstaan en hoe kan ons dit verstaan?

 

1. Blote herhaling is onvoldoende (v.31a)

Na Jesus sy kruisdood drie keer voorspel het, het die dissipels nog nie verstaan nie (v.31, 34, 9:22, 44-45). Eers as die Here iemand se oë open, is herhaling goed. Ons moet die boodskap van sy kruisdood gereeld hoor, anders vergeet ons. Byvoorbeeld: jy sondig vandag en die Here tugtig jou. Jy het berou en bely jou sonde. Die Here tel jou op en maak jou voorspoedig. Weer verhef jy jouself en herhaal jou sonde. Om dié rede moet ons die boodskap van Jesus se kruisdood gereeld hoor.

Kom ons verander die senario. Jy sondig vandag en die Here tugtig jou. Jy is spyt oor jou sonde en probeer God se guns deur ure van belydenis of stiltetyd terugwen. Verstaan jy hoekom ons Rom. 5:8 voortdurend in die prediking, samesang en nagmaal moet hoor: die kruis eerder as ons verdienste bring ons terug na God toe?

Is jy moeg om van die kruis te hoor? Is jy ’n prediker wat moeg geraak het om Christus as die gekruisigde te verkondig (1Kor. 2:2)? Daar is geestelik fout. Bid vir ’n nuwe perspektief op die kruis. Moet dit nie altyd op dieselfde manier preek nie, maar wys nuwe fasette daarvan.

 

2. Die Bybel op sigself is onvoldoende (v.31b-33)

Stuart Olyott is ’n Engelse prediker wat al vir jare in Wallis bedien. Hy het eenkeer vir ’n groep jongmense in die suidelike VSA gaan preek. Ek verbeel my dit was vir ’n groep Amish kinders, maar ek kan verkeerd wees. Deur sy interaksie met hulle het hy besef hulle ken die Bybel, maar nie die evangelie nie.

Dit is moontlik om weekliks die Bybel te lees, terwyl jy die evangelie mis. Paulus sê dit van die Jode: “Maar hulle denke was verhard. Want tot vandag toe lê dieselfde sluier oor die Ou Testament wanneer dit gelees word; en dit word nie weggeneem nie, want dit word slegs in Christus verwyder. Maar tot vandag toe, elke keer wanneer Moses gelees word, lê daar ’n sluier oor hulle harte.” (2Kor. 3:14-15).

Die dissipels het Jesus se kruisdood en opstanding in die Ou Testament gemis. Jesus het vir hulle uitgespel Hy sou in Jerusalem sterf (v.31). Dit vervul die Skrif wat sê die volk moes hulle offers in Jerusalem bring (Deut. 12:13-14). Jerusalem is ook die plek waar die profete vermoor is, daarom moes Jesus daar sterf (13:34).

Jesus se dood en opstanding vervul die profete (v.31). Die feit dat hulle dit honderde jare vooraf voorspel het, moet jou oortuig Hy is die Messias en die Seun van God. Dit is wat Stuart Olyott oortuig het. As 15-jarige was hy verstom dat Jesaja 53 Jesus se dood 700 jaar vooraf in detail verduidelik. My Ou Testament dosente was te blind om dit te raak te sien.

Iemand sal sê Jesus het die profesieë geken en dit met opset vervul. Sag. 9:9 sê byvoorbeeld die Messias sal op ’n donkie in Jerusalem inry. Jesus het dit geweet en op ’n donkie in die stad ingery. Maar dit beteken nie Hy is die Messias nie.

Vir iemand om 50, 100 of meer profesieë in Homself te vervul, is onmoontlik. Hoe kies ’n mens om Miga 5:1 te vervul en in Betlehem gebore te word? Hoe kies jy om Jes. 7:14 te vervul en uit ’n maagd gebore te word? Hoe kies jy om Daniël 9 te vervul en op die regte tyd gebore te word? Ek ken niemand wat die tyd en omstandighede rondom sy geboorte gekies het nie. Iemand wat dit kan regkry, moet die Messias wees!

Wat van Jesus se vyande? Sonder om dit te bedoel, het hulle dinge gedoen wat die profesieë aangaande Jesus vervul: “Want die inwoners van Jerusalem en hulle leiers het Hom nie herken nie; en deur Hom te veroordeel, het hulle die uitsprake van die profete, wat elke Sabbatdag gelees word, in vervulling laat gaan. Alhoewel hulle geen grond vir die doodstraf kon vind nie, het hulle tog by Pilatus daarop aangedring dat Hy tereggestel word. Toe hulle alles uitgevoer het wat oor Hom geskryf staan, het hulle Hom van die kruishout afgehaal en in ’n graf neergelê.” (Hand. 13:27-29).

Die profetiese detail van die Ou Testament wys Jesus is die Goddelike Seun van die Mens van wie ons in Dan. 7:13 lees (v.31). Die profete het voorspel die Jode sou Jesus aan die heidene uitlewer (v.32, 23:1). Ons lees in Ps. 2:1-2 dat die nasies teen God en sy Messias saamspan. Volgens Hand. 4:27-28 is dit vervul toe Herodes, Pilatus, die Jode en die Romeine Jesus gekruisig het.

Die profete het voorspel dat Jesus bespot sou word (v.32). So het dit gebeur. Die Jode het Hom geblinddoek, geklap en gesê: ‘Profeteer vir ons! Wie het jou geklap?’ (22:63-65). Herodes se soldate het koninklike klere vir Hom aangetrek en Hom gespot (23:11). Met ’n mantel, doringkroon en rietsepter het die Romeinse soldate Hom uitgerus. Spottenderwys het hulle in aanbidding voor Hom neergebuig (Matt. 27:27-29). Daarna het hulle Hom tussen misdadigers gekruisig, asof Hy die hoofmisdadiger is. As ’n aanklag teen Jesus het Pilatus ’n bordjie bo sy kop gehang: ‘Jesus van Nasaret, Koning van die Jode’. Die misdadigers, verbygangers, soldate en Joodse leiers het Hom gespot: ‘As jy die Seun van God is, kom van die kruis af... Red jouself en ons... Hy wat die tempel sou afbreek en binne drie dae opbou kan Homself nie eers red nie!’ (vgl. Matt. 27:37-44). Ps. 22:7-9, 69:20-21, 109:25 het hierdie spottery voorspel.

Die profete het verder voorspel Jesus se vyande sal Hom skandelik behandel (v.32). Hulle het sy klere verdeel en vir sy mantel lootjies getrek (23:34b, Joh. 19:23-24, Ps. 22:19). Anders as in die Kinderbybel het Hy geen doek om sy middel gehad nie. Naak en skaam—soos jy in jou drome—het Jesus sonder klere gesterf.

Voel jy skaam oor wat iemand jou aangedoen het? Het jy iets skandeliks aan iemand gedoen? Jesus ken jou skande. Hy het naak gesterf om jou sonde en skande te bedek. Voor die sondeval was Adam en Eva naak en nie skaam nie (Gen. 2:25). Na die sondeval, het hulle hulle naaktheid vir mekaar en die Here bedek. Hulle het klere van vyeblare gemaak en tussen die bome van die tuin weggekruip (Gen. 3:7-11). God het diere in hulle plek geoffer en vir hulle klere van vel gemaak (Gen. 3:21). Die Here kan ook jou sonde en skande bedek. Gee dit vir Hom.

Jes. 50:6 het voorspel Jesus se vyande sal op Hom spoeg (v.32). Die Jode en Romeine het dit vervul (Matt. 26:67, 27:30). Mense spoeg nog steeds op Jesus se Naam as hulle dit vir ’n vloekwoord gebruik: ‘O my God! O Lord! Here (Jirre)! Jesus (J#s*s)! God! Christ!’ Praat jy so as jy geskok is, seerkry of skrik? Kyk jy films waar hulle Jesus se Naam laster? Het Hy nie genoeg gely dat jy verder op sy Naam moet spoeg nie?

Die profete het gesê die heidene sal Jesus slaan (v.33). Dit is in Matt. 27:26 vervul. Die Romeine het Jesus aan ’n paal vasgemaak en met ’n kort sweep vol ysterpunte bygekom. Ps. 129:3 het gesê hulle sal sy rug soos ’n land omploeg. Jes. 50:6 het gesê Hy sal sy rug nie van slae terughou nie. Jes. 53:5 sê Hy is vir ons geslaan en deur die houe (Eng. stripes) het daar vir ons genesing gekom.

Jesus se liggaam op aarde—die kerk—voel nog steeds die pyn (Hand. 9:1-5, Kol. 1:24). In baie lande op aarde word Christene vervolg. Laat ons hulle nie vergeet nie: “Dink aan die gevangenes asof julle medegevangenes is, aan hulle wat mishandel word asof julle dit self aan julle liggaam beleef.” (Heb. 13:3). In ons gemeente bid ons gereeld vir die vervolgde kerk. Ek gee onder andere opleiding vir predikante in ’n vervolgde land. Die land het ’n bevolking van 55 miljoen waarvan slegs 4400 Christene is. Ons gemeente bid vir hierdie land en ondersteun die Christene finansieel.

Die profete het Jesus se dood deur die heidene voorspel (v.32-33). Dit dui op kruisiging eerder as op die Jode se doodstraf van steniging (23:33, Matt. 20:19, Joh. 12:32, 19:31-32). Deut. 21:22-23 sê iemand wat aan ’n hout hang, is deur God vervloek. Deur aan ’n houtkruis te sterf, is Jesus in ons plek vervloek (Gal. 3:13). Volgens Jes. 53:5 sou Jesus se vyande Hom deurboor. Ps. 22:17 sê spesifiek hulle sou sy hande en voete deurboor.

Maar kruisiging alleen is nie genoeg. Die Moslems sê Jesus is gekruisig, maar het nie gesterf nie. Sy vriende het Hom afgehaal en Judas in sy plek gekruisig. Die feite wys anders. Die loon van die sonde is die dood (Rom. 6:23a). Om ons van ons sonde te red, moes Jesus die profete vervul en aan die kruis sterf (v.33). Joh. 19:30 sê Hy het sy laaste asem uitgeblaas. Toe ’n Romeinse soldaat ’n spies in sy sy steek, het daar water en bloed uitgekom (Joh 19:33-34). Sag. 12:10 het dit voorspel en wys dat Hy regtig dood was.

Na sy dood het Hy vir drie dae in ’n graf gelê (Joh 19:37-42). Dit vervul Jes. 53:8-9: “...hy is afgesny van die land van die lewendes... Hulle het vir hom sy graf by goddeloses gegee, en by ’n ryke was hy in sy dood...”

Sonder Jesus se dood is daar vir ons geen hoop nie. Nou kan ons die dood sonder vrees in die gesig staar: “Aangesien die kinders dan aan vlees en bloed deel het, het ook Hy net so aan dieselfde dinge deel gekry, sodat Hy deur sy dood die een wat oor die dood mag het, dit is die Duiwel, kragteloos kon maak, en sodat Hy hulle wat uit vrees vir die dood hulle lewe lank in slawerny verkeer het, kon bevry.” (Heb. 2:14-15).

’n Gelowige in Frankryk was besig om aan tuberkulose te sterf en het vir Spurgeon gesê sy vrees die dood. Spurgeon het haar gevra:

‘Sal jy daarvan hou om soos Elia met ’n strydwa van vuur hemel toe te gaan?’

‘Ja, baie!’ het sy gesê.

‘Sou jy op die strydwa klim as dit nou om die hoek gestaan en wag het?’

‘Nee, ek sal te bang wees.’

‘Ek ook. Ek is nie daaraan gewoond om op vlammende perde te klim nie. God ken die beste manier om ons hemel toe te vat. Jy sal waarskynlik een aand gaan slaap en in die hemel wakker word.’

So het dit gebeur. Haar man sê na haar gesprek met Spurgeon het sy nie weer die dood gevrees nie. Sy het een aand in die bed geklim en later by die Here wakker geword.2

Weens Jesus se dood en opstanding hoef ons nie te vrees nie. Die dood kan ons niks maak nie. Op. 1:18 sê: “Ek was dood, maar kyk, Ek leef vir ewig en ewig; ook hou Ek die sleutels van die dood, en van Hades.”

Die profete het Jesus se opstanding voorspel (v.33). Die leë graf en Jesus se verskyning aan individue en groepe wys die opstanding is geen mite nie (Lukas 24). Ps. 16:10-11 het gesê sy liggaam sal nie ontbind nie, maar Hy sal weer opstaan. Jes. 53:10 het gesê God sal sy dae verleng, sodat Hy sy nageslag sien.

Meer spesifiek het die profete Jesus se opstanding op die derde dag voorspel (v.33, 1Kor. 15:4). Soos Jona na drie dae en nagte uit die vis se maag gered is, sou Jesus na drie dae en nagte in die aarde opstaan (Jona 1:17, 2:10, Matt. 12:40). Israel se gebed is in Christus vervul: “Hy sal ons ná twee dae lewend maak,op die derde dagsal Hy ons laat opstaan, sodat ons voor Hom kan lewe.” (Hos. 6:2).

Hoekom het Jesus op die derde en nie op die tweede, vierde of vyfde dag opggestaan nie? Op die derde skeppingsdag het lewe in die vorm van bome en plante vir die eerste keer uit die aarde voortgekom. Die bome se vrugte het sade in gehad en kon herproduseer (Gen. 1:9-13). Soos ’n saad uit die grond het Jesus opgespruit en vir ons lewe verseker (Joh. 12:24, 1Kor. 15:20, 23, 37).

Wonder jy nog of Jesus die Messias is? Ek hoop van harte die profesieë het jou oortuig Hy is.

 

3. God moet die waarheid aan ons openbaar (v.34)

Soos jy seker weet, het die dissipels ’n politieke en militêre Messias verwag. Hy moes die Romeine verslaan. ’n Messias wat deur die Romeine gekruisig is, was buite die Jode se verwysingsraamwerk. Die kruis was ’n simbool van swakheid, daarom kon die dissipels nie verstaan toe Jesus sê Hy gaan gekruisig word nie (v.34, Matt. 16:21-22, 1Kor. 1:23).

Baie Suid-Afrikaners verstaan dit ook nie. Die meeste van hulle weet Jesus het aan die kruis gesterf en weer opgestaan. Maar hulle weet nie wat dit beteken nie. Niemand het hulle vertel om ons te red moes Jesus onder God se verskriklike toorn ly nie (Jes. 53:4-6, 10, Rom. 3:25). Hulle weet nie ons sonde verdien die dood nie. Maar Jesus is nie ’n sondaar nie. Daarom het God Hom uit die dood opgewek om te wys Hy is onskuldig. Hy het nie vir sy eie sonde gesterf nie, maar vir ons s’n. Deur Hom uit die dood op te wek, het die Vader gewys: ‘Ek aanvaar jou offer vir sondaars.’ Paulus sê: “Hy is ter wille van ons oortredings oorgelewer, en ter wille van ons regverdigmaking opgewek.” (Rom. 4:25).

*****

Is hierdie Jesus joune? Weet jy wat sy kruisdood vir jou huwelik beteken (Ef. 5:25)? Weet jy wat dit vir konflik met ander Christene beteken (Fil. 2:3-8)? Weet jy wat dit vir verslawings beteken (Rom. 6:3-4, 6)? Weet jy wat dit vir jou skuldige gewete beteken (Heb. 9:14)? Weet jy wat dit vir jou gedagtelewe beteken (Kol. 3:1-5)?

Die dissipels het nie geweet nie, maar het die profesieë rondom Jesus se kruisdood en opstanding misverstaan (v.34). Party mense sit vir jare in die kerk sonder om te verstaan. Dit sal so bly tot die Here hulle verstand open (10:21-22, 24:45). Dan sal hulle verstaan wat hulle lees.

My pa was so. Hy het in ’n Katolieke huis grootgeword. Op skool was hy voorbeeldig, maar op 19 het hy goddeloos begin lewe. In 1972 toe skeur hy sy ligamente op die sokkerveld. Terwyl hy op die bed sit, het hy oor sy lewe gedink. Maar hy het nie verander nie. In 1974 het hy op die tennisbaan die ligamente in sy ander enkel geskeur. Hierdie keer was die Here se boodskap duidelik: ‘Rex, do I have your attention now?’ ‘Yes Lord,’ het hy geantwoord.’

Maar hy het nie verander nie.

Vir die volgende tien jaar het die Here hom gewys hoe lelik, misrabel en sondig hy is. Toe hy op ’n dag in 1984 op die punt van sy bed sit, toe sê hy vir die Here: ‘Please get me out of this misery, Lord.’ Hy het die Bybel begin lees en verstaan hoe wonderlik Jesus is. So het die Here hom gered.

Kan jy soos hy sê: ‘Ek verstaan nou wat ek lees?’ Bid vir geopende oë, sodat jy die Here kan ken (Ps. 119:18, Ef. 1:17-18).


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

2  C.H. Spurgeon, Autobiography: Volume 2—The Full Harvest (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1973), 379-80.

Kategorieë