Coram Deo Cover Image

Coming soon...

30 December 2023

Sy Naam is wonderbaar

Matteus 1:23b

Die verhaal van Jesus se geboorte is vol verwondering. Die wyse manne, engele en herders het hulle oor die baba verwonder en Hom aanbid (2:11, Luk. 2:13-14, 20). Josef en Maria het hulle oor Simeon en die herders se woorde oor Jesus verwonder (Luk. 2:18-19, 33). Simeon en Anna het hulle oor Jesus verwonder (Luk. 2:28-32, 38).

Jesus het hierdie effek op almal wat Hom ken. Soos ’n nuwe bekeerling onlangs vir my gesê het: ‘Oom vra wat ek van Christus dink. Hy is all-consuming; ek kan nie ophou om aan Hom te dink nie.’ Matt. 1:23 sê hoekom.

 

1. Hy is persoonlik

Sonder seksuele omgang met ’n man het Maria deur ’n wonderwerk van die Heilige Gees swanger geraak. Toe Josef uitvind sy is swanger, het hy gedink sy het rondgeslaap. Om vernedering te voorkom, het hy besluit om die verlowing in die geheim te beeïndig. Daarop het ’n engel in ’n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef, seun van Dawid, moenie bang wees om Maria as jou vrou by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees. Sy sal geboorte gee aan ’n seun, en jy moet Hom Jesus noem, want Hy sal sy volk van hulle sondes verlos.” (v.20-21).

Die teks gaan verder: “Dit het alles gebeur sodat wat die Here deur die profeet gesê het, vervul kon word: ‘Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem’—wat, as dit vertaal word, beteken ‘God is met ons.’ Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het en haar as sy vrou by hom geneem. Hy het nie met haar gemeenskap gehad totdat sy aan ’n seun geboorte gegee het nie. En hy het Hom Jesus genoem.” (v.23-25).

Die baba se noemnaam was Jesus (v.21, 25, Luk. 2:21). Hoekom sê v.23 dan hulle sal Hom Immanuel noem? Weet jy van enige plek in die Bybel waar iemand Jesus Immanuel noem? Nogtans sê v.23 en Jes. 7:14 sy ma en ander mense sal Hom Immanuel noem. Wat beteken dit en wie is die ‘hulle’ wat Hom Immanuel noem? Volgens v.21 sal Jesus sy volk van hulle sondes verlos. Vers 23 sê hulle sal Hom Immanuel noem.

Waar en wanneer gebeur dit? Deur die eeue het gelowiges bely Jesus is God wat mens geword het; Immanuel, God met ons (sien Jes. 9:5, Joh. 1:1, 14, Fil. 2:6-7, Kol. 2:9). Nie almal bely dit nie. Moslems, Jode, Jehova se Getuies, liberales en ander ontken God het mens geword. Johannes noem sulke mense die antichris:

“Wie is die leuenaar anders as hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Hy is die antichris, wat die Vader en die Seun ontken... Hieraan ken julle die Gees van God: Elke gees wat bely dat Jesus Christus vlees geword het, is uit God, 3en elke gees wat dit nie van Jesus bely nie, is nie uit God nie, maar is die gees van die Antichris... Want baie verleiers het in die wêreld na vore gekom—dié wat nie bely dat Jesus Christus as mens gekom het nie. So iemand is die verleier en die Antichris.” (1Joh. 2:22, 4:2-3, 2Joh. 7).

Waar staan jy? Ken en erken jy Hom as Immanuel, jou God? Indien nie eindig Desember se feestelikheid vir jou op 26 Desember, of as jou werk en die skole weer begin. Die realiteit van ’n skuldige gewete, finansiële stres, gebroke verhoudings, ’n onvervulde lewe en die dood sal jou blydskap steel.

Kom hernu jou blydskap in Jesus Christus. Ontvang en aanvaar Hom as jou Verlosser; Immanuel, God met ons (v.21, 23). Vind vergifnis en die ewige lewe deur geloof in sy Naam (1Joh. 1:7, 9, 5:11, Joh. 10:10).

 

2. Hy is onbegryplik

Om ’n stamboom te volg, het ons voorouers vir hulle kinders familiename gegee. Party ouers gee ’n naam waarvan die betekenis mooi is. Ander gee ’n naam, omdat dit mooi klink. In die Bybel se tyd het ’n naam se betekenis swaar geweeg. Die Messias se Naam spreek van sy karakter. Hy is Jesus wat Verlosser beteken; Immanuel, God met ons (v.21, 23).

Buiten vir hierdie twee Name, noem die Bybel Hom Wonderbare Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors (Jes. 9:5).

Hy is God se Kneg, sy Gesalfde en sy Uitverkorene (Jes. 42:10).

Hy is die Son van geregtigheid (Mal. 4:2), Seun van Dawid (Matt. 1:1), Bruidegom (Matt. 25:1), Woord van God (Joh. 1:1), Skepper (Joh. 1:3), Lam van God (Joh. 1:29), Seun van God, Seun van die Mens, Rabbi, Koning van Israel (Joh. 1:49, 51), Profeet (Joh. 6:14), Brood van die lewe (Joh. 6:35), Lig van die wêreld (Joh. 8:12), ek is (Joh. 8:58), die Goeie Herder (Joh. 10:11), die Weg, die Waarheid en die Lewe (Joh. 14:6), die Ware Wingerd (Joh. 15:1).

Hy is die Regverdige en Heilige van God (Hand. 3:14), die Here van heerlikheid (1Kor. 2:8), die Rots (1Kor. 10:4), die laaste Adam (1Kor. 15:45), ons Middelaar (1Tim. 2:5), ons Hoëpriester (Heb. 4:14), die Begin en Voleinder van ons geloof (Heb. 12:2), ons Advokaat (1Joh. 2:1), die Leeu van Juda (Op. 5:5), die Getroue en Waaragtige (Op. 19:11), die Koning van die konings en Here van die here (Op. 19:16).

Hy is die Blink Môrester, die Wortel en Spruit van Dawid (Op. 22:16), die Alfa en Omega, Begin en die Einde, Eerste en die Laaste (Op. 22:13).

Sy Naam is wonderbaar en bo alles en almal verhewe (Rigt. 13:18, Ef. 1:21)! Soos die bruidegom in Hoogl. 1:3 is Jesus se Naam soos geurige parfuum. Al sy Name saamgetel kan Hom nie omskryf. Al die preke in die geskiedenis is nie genoeg om sy Naam te verduidelik nie. Daarom sê Op. 19:12 “Hy dra ’n geskrewe Naam, wat niemand ken nie, behalwe net Hy self.” 

Join all the glorious names
Of wisdom, love, and power,
That ever mortals knew,
That angels ever bore;
All are too poor to speak His worth,
Too poor to set my Saviour forth.1

Jesus se Naam en sy karakter is ryker as die goudmyne van miljarde wêrelde. Miljoene eeue in sy teenwoordigheid kan Hom nie uitput nie, daarom kan die hemel nie vervelig raak nie.

 

3. Hy is hoogverhewe

Jesus is God, een met die Vader en aan Hom gelyk (Joh. 1:1, 5:23, 10:30, 20:28). Dit het nie verander toe Hy in die krip, aan die kruis en in die graf gelê het nie. Selfs daar was Hy Immanuel, God met ons (v.23). Johannes Calvyn (1509-64) sê: ‘The Son of God descended miraculously from heaven, yet without abandoning heaven; was pleased to be conceived miraculously in the Virgin’s womb, to live on the earth, and hang upon the cross, and yet always filled the world as from the beginning.’2

Jou enigste opsie is om Jesus Christus saam met die wyse manne en engele te aanbid (2:11, Heb. 1:6). As dit jou verhouding met Jesus nie oorheers nie, ken jy Hom sleg of glad nie. Dit mag miskien wees dat jy ’n ander Jesus aanbid; die Jesus van TBN wat bestaan om jou ryk en gesond te maak; die Jesus van moderne jeugkultuur wat radical en cool is; die hulpelose Jesus van party kerke wat niks kan doen tensy jy Hom toelaat nie.

 

4. Hy is naby

Was God eensaam voor Hy die wêreld gemaak het? Het Hy mense en engele gemaak, omdat Hy ons nodig gehad het om Hom te dien? Nee. Hand. 17:25 sê: “Hy word ook nie deur menslike hande bedien, asof Hy aan iets behoefte het nie—dit is Hy wat aan almal lewe en asem, ja alles, gee.”

God is onafhanklik, selfstandig en in Homself vervul. Vuur het hout of iets anders nodig om te brand. Toe God in die brandende bos aan Moses verskyn, het die vuur nie die bos nodig gehad om te brand nie (Eks. 3:2). Net so is God in die midde van sy volk, maar het hulle nie nodig om te bestaan nie. Voor die skepping het die Vader en die Seun hulle in mekaar verbly (Spr. 8:30). Die Heilige Gees is die blydskap tussen die Vader en die Seun (Gal. 5:22).

God is liefde (1Joh. 4:8). Maar wie het Hy liefgehad voor Hy die wêreld gemaak het? Die Vader het die Seun liefgehad (Joh. 17:24). Die Heilige Gees is die liefde tussen die Vader en die Seun. Ons weet dit, want vir God, sy Gees en sy liefde om in ons te bly, is een en dieselfde ding (1Joh. 4:12-16).

As God dan in Homself vervul is, hoekom het Hy alles gemaak? Want Hy wou: “U is waardig, ons Here en God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, omdat U alle dinge geskep het; deur u wil het alles ontstaan, is dit geskep.” (Op. 4:11, eie beklemtoning).

God het ons nie nodig nie, nogtans wil Hy nie sonder ons wees nie. Hy begeer sy bruid se skoonheid (Ps. 45:12). Hy wil hê ons moet by Hom wees om sy heerlikheid te sien (Joh. 17:24). Al het Hy ons nie nodig nie, kies Hy om nie sonder ons te wees nie net soos ’n man sonder sy vrou wil wees nie, of soos ’n hoof sonder ’n liggaam onvolledig is (Ef. 1:23, 5:31-32). Mark Jones sê:  

‘[Christ] remains unsatisfied if he cannot know, love, and ultimately be with his people... In his heavenly glory, Christ meditates upon his people...We must always remember that when he calls one of his loved ones home to himself, he has gained more than we have lost in the death of our loved one.’3

Van die begin af wou God by die mense wees. Gen. 3:8 praat van “die Here God wat in die tuin [van Eden] rondstap in die middagkoelte.” Dit verwys na die sondeval, maar reeds van die begin af het God Hom in die mense verbly (Spr. 8:31). Ongelukkig het sonde gemaak dat God die mens uit die tuin van Eden verban het (Gen. 3:24). Sonde het ons van God geskei. Nogtans wil God by ons wees.

In Eksodus 25-40 het God vir Moses opdrag gegee om ’n tent of tabernakel te bou. God se tent sou tussen die volk se tente staan. Weens God se heiligheid kon die volk nie in sy teenwoordig inkom nie. Soos die son is God goed, maar gevaarlik. Om die probleem te oorbrug, het God ’n offersisteem in plek gestel. Deur ’n onskuldige dier te offer, kon die sondaar voor God verskyn. Al die offerdiere en die tabernakel was ’n voorskou van Immanuel, God met ons. Jesus is die tabernakel wat onder ons kom woon het en die offerlam wat in ons plek sou sterf (Joh. 1:29, 14, Gk. skēnoō). Deur Hom kan ons vir ewig by God wees en Hy by ons.

Dit het nie verander toe Jesus opvaar hemel toe nie. Inteendeel, dit het beter geword. Deur die Gees is Jesus nie net God met ons nie, maar God in ons (Joh. 14:16-17, 23, 16:7, Ef. 3:16-19, Gal. 2:20, Kol. 1:27). In al ons geestelike werk, vrese, beproewings, moeilike gesprekke, dissipelskap, evangelisasie, finansiële besluite, benoudheid en die dood self, is God met ons (Jos. 1:5, 9, Jes. 41:10, 43:2, Hag. 2:4, Matt. 18:20, 28:20, Hand. 18:9-10, Heb. 13:5, 2Kor. 13:13, Ps. 118:6-7, 23:4). Selfs na die dood sal Hy vir ewig by ons wees: “Daarom is hulle voor die troon van God, waar hulle Hom dag en nag in sy tempel dien. En Hy wat op die troon sit, sal sy tent by hulle opslaan... Kyk, God se woonplek is by die mense. En Hy sal by hulle woon; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.” (Op. 7:15, 21:3).

Hoe kan Jesus by almal van ons gelyk wees: “God is met ons.” (v.23, eie beklemtoning)? Hy is alomteenwoordig (Jer. 23:23-24). Hy is jou omgewing soos wat water ’n vis se omgewing is: “Want deur Hom leef ons, beweeg ons en bestaan ons” (Hand. 17:28).

God is ten volle en nie gedeeltelik oral nie (Ps. 139:7-10). Hy verdeel Homself nie gelykop tussen sy kinders nie. Hy is volkome by elkeen van ons teenwoordig. Hy gee jou sy volle aandag en liefde asof jy al een is wat bestaan. Hy is Immanuel, God met jou. Sy Naam is wonderbaar in die ou Engelse sin van die woord: wunderfurle beteken jy is verstom, verbaas en vol verwondering.4

C.S. Lewis verduidelik dit mooi in sy storie van mnr. Bewer en die Pevensie kinders. Toe mnr. Bewer Aslan (die groot Leeu) se naam sê, het die kinders nie geweet wie hy is nie. Tog het verskeie emosies binne hulle gedans toe hulle Aslan se naam hoor:

‘Edmund felt a sensation of mysterious horror. Peter felt suddenly brave and adventurous. Susan felt as if some delicious smell or some delightful strain of music had just floated by her. And Lucy got the feeling you have when you wake up in the morning and realize that it is the beginng of the holidays or the beginning of summer.’5

Wat doen Jesus se Naam vir jou? Laat dit jou vol vrees en bewing (Jak. 2:19)? Wil jy hê mense moenie verder van Hom praat nie (Amos 6:10)? Of val jy vol verwondering voor Hom neer en sê: ’ Laat U Naam geheilig word’ (Matt. 6:10, vgl. Joh. 10:30)?


1  Isaac Watts (1674-1748).

2  John Calvin, Institutes of the Christian Religion, 2.13.4. Toegang verkry op 21 Desember 2023, https://www.ccel.org/ccel/calvin/institutes.iv.xiv.html

3  Mark Jones, Knowing Christ (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2015), 3-4.

4  Toegang verkry op 22 Desember 2023, https://www.oed.com/dictionary/wonderful_adj?tl=true

5  C.S. Lewis, The Chronicles of Narnia: The Lion, the Witch, and the Wardrobe (New York: Harper-Collins Publishers, 1950), 141.

Kategorieë