Coram Deo Cover Image

Coming soon...

17 February 2024

Satan se slagpale

Lukas 20:45-47

“Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende.” (1Sam. 18:7). Net so het vals godsdiens meer mense verslaan as wêreldsgesindheid; die slang het meer mense gedood as die leeu. Die ou slang skuil op die internet, radio, TV, Christelike boekwinkels en die kerk. Die duiwel gebruik vals leraars as ’n Judas-bok om mense na die slagpale te lei.

Hoe weet jy of iemand ’n vals leraar is? Satan doen hom immers voor as ’n engel van die lig: “Want sulke mense is vals apostels, slinkse werkers, terwyl hulle hulleself vermom as apostels van Christus. En geen wonder nie; want selfs Satan vermom hom as ’n engel van die lig! Daarom is dit ook nie vreemd as sy dienaars hulle ook vermom as dienaars van geregtigheid nie. Hulle einde sal volgens hulle werke wees.” (2Kor. 11:13-15).

 

1. Hulle minag die Woord (v.45-46)

Voor die skare het Jesus sy dissipels teen die Skrifgeleerdes gewaarsku (v.45-46). Judas het nie geluister nie en het in hulle nes beland (22:3-6).

Daar is nog steeds sulke mense: hulle verpes dit as enige prediker mense teen dwaling waarsku. Toe ek op ’n keer teen dwaling gepraat het, toe sê ’n ouer leraar ek is liefdeloos. Maar die Bybel sê ouderlinge moet hulle mense teen die wolwe waarsku; hulle moet die ketters skerp, sagmoedig en met liefde bestraf (1Tim. 1:3-5, 2Tim. 2:24-26, Tit. 1:9-14). Partykeer is dit nodig dat ons hulle in die openbaar uitwys (1Tim. 1:20, 2Tim. 2:17, 3Joh. 9-10).

Die Skrifgeleerdes was in hierdie klas. Hulle het die wet noukeurig bestudeer, kommentare geskryf, die volk onderrig en die wet in regsake toegepas.1 Die probleem is nie dat hulle die wet in diepte bestudeer het nie (Esra 7:10), maar dat hulle hulle eie interpretasies bygelas het. Op die einde het die byvoegsels hoogty gevier, terwyl God se Woord aan die agterspeen moes suig (Mark. 7:1-5). Elke vals godsdiens voeg by die Skrif, vat daaruit weg, aanvaar buite-Bybelse bronne as gesaghebbend, of verdraai God se onfeilbare en volmaakte Woord.

Hoe weet ons wie die Bybel verdraai, aangesien baie vals leraars sê: ‘Ons glo net die Bybel’?

Let op hoe hulle die Bybel interpreteer. Interpreteer hulle die Bybelteks in sy historiese konteks? Ontleed hulle die woorde en sinne; hoe die verse aanmekaar steek? Ondersteun hulle hulle interpretasie deur ander verse? Bevestig die Kerkvaders, Hervormers, Puriteine en ander Christene deur die kerkgeskiedenis hulle uitleg? Kan die gemiddelde kerklidmaat hulle interpretasies in die Bybel raaksien? Die Jode in Berea het Paulus se “boodskap baie geesdriftig ontvang en die Skrifte daagliks bestudeer om vas te stel of dit so is.” (Hand. 17:11).

Hoe lyk die vrugte aan hulle boom; hulle lewe en hulle bekeerlinge s’n? “Aan hulle vrugte sal julle hulle dus uitken.” (Matt. 7:20).

 

2. Hulle is selfbelangrik (v.46)

[a] Kleredrag

Vals godsdiens is uiterlik met die intensie dat mense hulle moet raak sien. Kleredrag is ’n voorbeeld hiervan: “Hulle hou daarvan om met lang stolas rond te loop…” (v.46).

In die populêre kultuur is mense hulle eie afgod. Hulle ‘dress to impress’ (sien Jes. 3:16-24). Vals godsdiens het sy eie weergawe hiervan: lang bakkebaarde (Eng. sideburns) met swart hoedjies; wit rokke; godsdienstige balkies; rooi en wit uniforms; wit pakke; ‘hip’ predikers met snaakse t-hemde, denims en tekkies— enigiets om aandag te trek.

              Wat van ou predikante met hulle togas? Die idee was dat die leraarsamp ’n verhewe roeping is; dat die man van God met gesag moet praat (1Tim. 3:1, Tit. 2:15). Ongelukkig het dit ’n tradisie geword en in ’n reël verander (v.46).

Hoe moet ons aantrek as ons die Here aanbid? Moenie ’n skouponie wees wat oor jouself spog nie. Moenie onbeskeie (Eng. immodest) aantrek, sodat jy die aandag op jouself vestig nie. ’n Paar jaar gelede het ’n vrou ons gemeente besoek. Sy het ’n chiffon bloes gedra, sodat almal haar onderklere kon sien. Een van ons lidmate het die situasie goed hanteer. Sy het vir die vrou ’n serp gegee en gesê: ‘Sit hierdie om jou. Jy weet moes hoe mans is: hulle raak simpel as hulle ’n mooi vrou sien.’

As dit by beskeidenheid kom, is die reël: ‘If you can see up it, down it, through it, chuck it.’ Paulus sê: “So ook moet die vroue hulleself versier met behoorlike kleredrag, beskeie en sober, nie met haarvlegsels en goud of pêrels of duur klere nie, maar—soos dit vroue pas wat bely dat hulle God aanbid—met goeie werke.” (1Tim. 2:9-10).

Dit geld vir enige drag wat jou die middelpunt van mense se aandag maak. Toe ek eenkeer ’n groep jongmense op ’n kerkkamp vat, het iemand ’n t-hemp met vieslike woorde op gedra. Ek het gevra dat sy iets anders aantrek.

Verder moet mans soos mans aantrek, en vroue soos vroue: “Mansklere mag nie deur ’n vrou gedra word nie, en ’n man mag nie ’n vrou se oorkleed aantrek nie, want almal wat dit doen, is afstootlik vir die Here jou God.” (Deut. 22:5).

Ons moet so aantrek dat ons God verheerlik en nie onsself nie. Dan sal ryk mense se klere ons nie beïndruk, of arm mense se klere ons nie afsit nie: “As daar ’n man met goue ringe en pragtige klere by julle samekoms aankom, en daar kom ook ’n arm man met vuil klere aan, en julle kyk na die een met die pragtige klere en sê, ‘Sit u hier op ’n goeie plek,’ en vir die arm man sê julle, ‘Staan jy daar!’ of, ‘Sit jy hier onder by my voetbank!’  het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak, en regters met slegte oorwegings geword nie?” (Jak. 2:2-4).

Vir die Here maak duur of goedkoop klere nie saak nie. Wat saakmaak is of jy die geestelike klere van Christus se geregtigheid en goeie werke aan het; het Hy jou in die fontein van sy bloed gereinig (Op. 7:13-14, 19:8)?

 

[b] Titels

Vals godsdienste hou van titels: “[hulle] is lief daarvoor om op die markpleine begroet te word… en om deur die mense as ‘rabbi’ aangespreek te word.” (v.46, Matt. 23:7). Ek het al gesien hoe ’n groep liberales ’n man wat sy PhD verwerf het met groot eerbied begroet. Ek het ook gesien hoe iemand met twee PhD’s onder die radar beweeg. Niemand weet hy het ’n graad nie en hy verpes dit as mense van ‘doktor so-en-so’ praat.

              Dalk sê jy: ‘Maar hy het daarvoor studeer!’ Wat daarvan? Noem jy iemand wat sy M.A. verwerf het ‘meester’? Jesus sê: “Maar julle, julle moet julle nie as ‘rabbi’ laat aanspreek nie; want net Een is julle Leermeester, en julle is almal broers. En moet niemand op aarde as julle ‘vader’ aanspreek nie; want julle het net een Vader, Hy wat in die hemel is. Julle moet julle ook nie as leraars laat aanspreek nie, omdat net Een julle Leraar is, naamlik die Christus.” (Matt. 23:8-10).

Laat ons asseblief titels soos dominee en pastoor begrawe. Ek adresseer jou nie volgens jou beroep nie: ‘Goeie naand huisvrou Lisa! Middag ingenieur Johan! Dagsê skolier Cobus! Goed om weer te sien, onderwyseres Lara!’

Ek het iemand by ’n konferensie hoor sê: ‘The people in my congregation can call me pastor if they want you, but you cannot call me pastor, because I am not your pastor.’ Ek hou daarvan.

Sê jy: ‘Maar ek het so groot geword’? God se Woord troef tradisie. Party sal sê hulle wys respek. Ek verstaan en gaan nie verder met jou stry nie.

 

[c] Die kollig

In die sinagoge het die Skrifgeleerdes op ’n stel trappe agter die bemah of kansel gesit, sodat almal hulle kon raaksien (v.46, 11:43).2 Soms wonder ek of die professors met hulle togas by ’n gradeplegtigheid dieselfde doen. En wat van TBN se prosperity predikers op hulle trone? Ek sal my hoed eet as hulle dit nie doen om aandag te trek nie.

              In party kerke sit die ouderlinge en diakens in die voorste banke. Die oorspronlike doel was om te keer dat die leraar dwaling verkondig. Ongelukkig het idee nie sy doel gedien nie, daarom is kerkraadsbanke oorbodig. In baie gevalle soek hierdie mense eenvoudig die beste sitplekke.

Wat van ’n verhewe kansel soos in Kaapstad se Grootte Kerk—is dit nie om die beste plek te soek nie? Een van my vriende dink so, maar die doel is dat die Woord verhewe en sentraal moet wees: “Esra, die skrifgeleerde, het gestaan op ’n houtverhoog wat hulle vir dié doel gemaak het… Esra het die boekrol voor die oë van die hele volk oopgemaak, want hy het hoër as die hele volk gestaan. Toe hy dit oopmaak, het die hele volk opgestaan.” (Neh. 8:5-6, eie beklemtoning).

Voor die hervorming het die Katolieke se altaar sentraal gestaan. Om te wys dat die Woord sentraal staan, het die hervormers’n groot kansel in die middel van die gebou gesit. Duidelik is die kwessie nie die kansel nie, maar mense se hoogmoed wat enigiets in ’n troon sal verander (v.46). By ons gemeente se kids klub baklei die kinders oor wie op die groot stoel—die koning se troon, volgens hulle—in die gebedskamer sit.

Jare gelede het ’n bekende musiek kunstenaar in my tuisdorp kom optree. ’n Sekere predikant het heel voor in die gehoor gaan sit. Toe die kunstenaar hom uiteindelik raaksien, toe sê hy: ‘My jinne! Ek en jy het saam studeer.’ Die predikant was baie in sy skik en het breed geglimlag.

Party lidmate voel omgeroer as iemand op hulle plek sit. Vir hulle is dit die spesiale troon waar hulle gemaklik voel. As iemand dit waag om daar te sit, kry hulle ’n skewe kyk of word hulle weggejaag.

Dit gebeur nie net in die kerk nie, maar by partytjies en etes. Die Skrifgeleerdes het dit geniet om “die ereplekke by die feesmaaltye in te neem” (v.46). Soos kinders by ’n partytjie of volwassenes by ’n werksfunksie wou hulle langs die eregas sit.

Gestel jy word genooi om by ’n konferensie te preek. Tydens die breek nooi ’n paar groot name jou om saam met hulle te eet. Terwyl jy jou goed bymekaar maak, vra ’n arm leraar van Ghana of hy met jou kan praat. Dit gaan moeilik in sy bediening en hy het hulp nodig. Sê jy: ‘Ek kan nie nou met jou praat nie’? Wil jy saam met die belangrike predikers eet en daardeur ’n naam vir jouself maak? Of help en bemoedig jy die arm leraar in sy dilemma?

 

3. Hulle is geldgierig (v.47)

In ons tyd verdien baie vroue meer as hulle mans. As so iemand se man sterf, kan sy redelik normaal aangaan. In die Bybel se tyd was dit nie so nie. Vroue het nie buite die huis gewerk nie. ’n Weduwee was waarlik weerloos. Haar kinders moes vir haar sorg. Miskien kon sy op haar man se erfgeld leef, maar baie weduwees het nie hierdie voorreg gehad nie. Daarom het God wette ingestel om te verseker dat Israel vir die weduwees sorg (bv. Deut. 14:28-29, 24:19-21). Ongelukkig het die volk se korrupte leiers die armes onderdruk: “Hulle verslind die huise van die weduwees...” (v.47).

Vals godsdienste doen dit nog steeds. TV evangeliste belowe mildelike seën as die armes tot hulle bediening bydra. Dink maar aan Bushiri wat sy landgenote in Malawi (een van die armste lande in Afrika) rot en kaal besteel.

Sien rooi ligte as ’n prediker gedurig oor geld praat; as hy mense wat nie tot sy bediening bydra nie, laat skuldig voel; as hy mense stuur om geld by jou huis te kollekteer. So iemand is ’n vals leraar. Petrus waarsku: “Deur hebsug gedrewe, sal hulle julle met versinde argumente uitbuit.” (2Pet. 2:3)

 

4. Hulle is skynheilig (v.47)

Joh. 2:24-25 sê Jesus ken die harte van alle mense. Hy het geweet die leiers gee voor as hulle voor mense bid: “...vir die skyn bid hulle lang gebede.” (v.47).

Hoe weet ons as iemand voorgee? As hulle in die kollig wil wees en geldgierig is (v.46-47a), kan jy vir seker weet hulle soek aandag as hulle lank bid (v.47b). Vals leraars bid nie lank op hulle eie nie (6:12). Die kanse is goed hulle bid glad nie (Matt. 6:6). As hulle in die openbaar van Kaapstad tot in Musina bid, doen hulle dit om gesien te word: “En wanneer julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie, want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid, sodat hulle deur die mense gesien kan word.” (Matt. 6:5).

Vals godsdiens draai die aandag van God af na hulleself toe. Elke keer as ’n sekere Prosperity prediker op die verhoog verskyn, sing die koor ‘How great Thou art!’ Ware godsdiens fokus nie op self nie, maar is nederig:

“Hy moet meer word, en ek minder.” (Joh. 3:30).

“Probeer ek nou mense tevrede stel, of God? Of soek ek die guns van mense? As ek nog steeds mense se guns sou probeer wen, sou ek nie meer ’n dienskneg van Christus wees nie!” (Gal. 1:10).

“maar, soos ons deur God goedgekeur is, sodat die evangelie aan ons toevertrou kon word, so praat ons ook nie om mense tevrede te stel nie, maar God, Hy wat ons harte toets.” (1Tess. 2:4).

Ware godsdiens onthou geestelike leiers sal “sal ’n swaarder oordeel ontvang.” (v.47). “Moenie almal leermeesters wil wees nie, my broers, omdat julle weet dat ons strenger geoordeel sal word.” (Jak. 3:1). “Wees gehoorsaam en onderdanig aan julle leiers, want hulle waak oor julle siele, as diegene wat rekenskap sal moet gee” (Heb. 13:17).

“Daardie slaaf wat weet wat sy eienaar wil hê, en nie gereed is of gedoen het wat sy eienaar van hom verwag nie, sal swaar gestraf word. Maar die een wat dit nie weet nie, en dinge gedoen het wat straf verdien, sal net lig gestraf word. Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word, en aan wie baie toevertrou is, van hom sal meer gevra word.” (12:47-48).

’n Leraar wat dit onthou vrees God meer as mense. Hy besef hy is niks en dat hy in God se teenwoordigheid bedien en preek (1Kor. 3:5-7, 2Tim. 4:1-2). Op die einde bevoordeel hy homself en sy gemeente: “Wees noulettend op jouself en die leer; volhard daarin; want sodoende sal jy jouself red en ook hulle wat na jou luister.” (1Tim. 4:16, eie beklemtoning).

Die mensebehaer wil mense beïndruk en doen 2Tim. 4:3-4: “Want daar kom ’n tyd wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar omdat hulle ore gestreel wil word deur wat hulle hoor, sal hulle vir hulleself leermeesters na eie begeerte uitsoek. Hulle sal hulle doof hou vir die waarheid, en hulle tot versinsels wend.”

So lei hy homself en sy hoorders hel toe: “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle deurkruis land en see om ’n enkele proseliet te werf, en wanneer dit gebeur, maak julle hom ’n kind van Gehenna, dubbel so erg as julleself.” (Matt. 23:15).

As Jesus weer kom, sal hierdie leraars Hom met ’n bleek gesig verstar aankyk as Hy hulle oordeel. Hulle sal God se woorde onthou:

“Jy, mensekind, as ’n wag het Ek jou aangestel oor die huis van Israel. Jy sal uit my mond die woorde hoor, en dan moet jy hulle van my kant af waarsku. Wanneer Ek vir ’n goddelose sê, ‘Goddelose mens, jy gaan beslis sterf,’ en jy praat nie om die goddelose teen sy pad te waarsku nie—hy, die goddelose, sal dan oor sy sondeskuld sterf; sy bloed sal Ek egter van jou hand eis.” (Eseg. 33:7-8).

“‘Teen die herders het my toorn ontbrand, die voorbokke gaan Ek straf.’ Ja, die Here, Heerser oor alle magte, versorg sy kudde... Van drie herders het ek in een maand ontslae geraak. Ek het ongeduldig geraak met hulle; ook hulle het ’n afkeer in my gekry.” (Sag. 10:3, 11:8).

“Baie sal op daardie dag vir My sê, ‘Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam demone uitgedryf en in u Naam baie kragtige dade verrig nie?’ Dan sal Ek openlik vir hulle sê, ‘Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat wetteloosheid bedryf!’ ” (Matt. 7:22-23).

Bid dringend vir jou geestelike leiers dat hulle nie deel van die statistiek word nie; dat hulle nie vir ander preek en self gediskwalifiseer word nie (1Kor. 9:27b). Bid dat hulle die Woord skaamteloos verkondig, getroue diensknegte wat God se kudde versorg en die kroon van geregtigheid ontvang (Ef. 6:19-20; Matt. 25:21, 1Pet. 5:4, 2Kor. 1:14, 1 Tess. 2:19-20).

Dit is geen klein saak na wie jy luister nie. Jou siel hang in die weegskaal; dit is ’n saak van lewe en dood: “Want ons is ’n aangename geur van Christus aan God, vir dié wat verlos word, én vir dié wat verlore gaan—vir laasgenoemde ’n reuk vanuit die dood tot die dood, vir eersgenoemde ’n geur vanuit die lewe tot die lewe. En wie is hiertoe bekwaam?” (2Kor. 2:15-16).

Engele en demone kyk toe as jou leraar die Woord verkondig (1Tim. 4:1, 5:21). Die engele begeer dat mense gered word (15:7), en deur vals leraars wag die demone soos honger leeus vir ’n vars slagting (v.45-47, 1Pet. 5:8).

Bid dat die Here jou nie aan hulle mag oorgee nie (Matt. 6:13), en dat “Satan nie die oorhand oor ons kry nie. Ons is immers nie onbekend met sy planne nie.” (2Kor. 2:11).


1  Toegang verkry op 12 Januarie 2024, https://www.internationalstandardbible.com/S/scribes.html en https://biblehub.com/greek/1122.htm

2  Toegang verkry op 13 Januarie 2024, https://www.internationalstandardbible.com/C/chief-seats.html; https://www.ancientsynagoguecoins.com/the-ancient-synagogue-and-its-components/

Kategorieë