Hebreërs 13:7-17

Die Engels vir outentiek is authentic of genuine. ’n Mens kan van outentieke Nike tekkies praat. Dit verwys na die regte produk eerder as na die Chinese namaaksel. Dit werk ook so met Christenskap. Baie mense nóém hulleself Christene: mense in kultusse, liberale gemeentes, en die Katoliekekerk. Maar is hulle Christene in die Bybelse sin van die woord? Is hulle outentieke Christene?

1. Wie leer ons dit? (v.7-8, 17)

[a] Ons leiers wat gesterf het (v.7)

Ek het al dikwels gesê dat wyle Martin Holdt my geweldig beïnvloed het. Ek het baie geleer uit sy prediking, maar nog meer uit sy lewe. Volgens v.7 behoort elke Christen by sy of haar voorgangers te leer. Die vers impliseer dat die voorgangers dood is. Die teks sê immers dat ons hulle moet gedenk. Dit sê ook dat hulle die Woord aan ons verkondig het, en praat van die uiteinde van hulle geloof.

Dink aan hierdie mense se prediking en lewenswandel, en leer daaruit (v.7, 6:12, hfst. 11). Op ’n praktiese vlak kan jy hierdie mense se biografieë en preke lees. Laat my asseblief toe om ’n paar van hulle aan te beveel:

  • John G. Paton: Missionary to the Cannibals of the South Seas deur Paul Schehlein.
  • The Man in the Gap: The Life and Minisry of Martin Petersen Holdt deur Rex Jefferies.
  • John Piper audio-biografieë, gratis beskikbaar by desiringgod.org
  • Martyn Lloyd-Jones se preke (byvoorbeeld The Sermon on the Mount).

Dit is een manier om outentieke, of egte Christenskap te leer: deur die voorbeeld van godsmanne en -vroue in die geskiedenis. Let veral op hoe jou leiers tot die einde toe volhard het (v.7). Hulle was nie verskietende sterre nie, maar ’n son wat aanhoudend geskyn het. Die outeur praat van hierdie mense se ‘lewenswandel’ (v.7). Volg hulle na soos wat hulle Jesus gevolg het (v.7, 1Kor. 4:16, 11:1, Fil. 3:17, 1Tim. 4:12).

[b] Jesus wat nie verander nie (v.8)

Daar is sommige mense wat niks met Jesus te doen wil hê as ’n geestelike leier hulle teleurstel nie. Maar miskien verwag hulle te veel van hulle leiers en vergeet hulle dat geestelike leiers veranderlike mense en sondaars is. Fokus dus liewer op die onveranderlike Jesus wat nie teleurstel nie (v.8, 5-6). Hy is vandag dieselfde as gister: goed, liefdevol, wys, alwetend, almagtig, getrou (v.8). Hy is EK IS (Joh. 8:58), sodat jy Hom kan vertrou. Hy is so onveranderlik soos die Vader en is dus self God (v.8, Num. 23:19, Mal. 3:6, Heb. 1:12, Jak. 1:17).

Eintlik rus die Christelike lewe op sy onveranderlike natuur. Hoe sou dit wees as Hy moes verander: gister sterk, vandag swak; gister goed, vandag sleg; gister betroubaar, vandag ’n leuenaar; gister wys, vandag dwaas? Prys die Here dat Hy nie verander nie. Leiers kom en gaan (v.7, 17), maar Jesus is gister, vandag, en tot in ewigheid dieselfde (v.8). Vertrou daarom op Hom eerder as op veranderlike mense (Ps. 146:3-4).

[c] Ons leiers wat nog lewe (v.17)

Wanneer ’n groot geestelik leier sterf, raak sommige Christene bang. ‘Ons sal nooit weer so ’n leier hê nie,’ sê hulle vir hulleself. As daar ’n nuwe leier kom, sukkel hulle om hom te aanvaar, omdat hy nie dieselfde is as die ou een nie. Maar om so te reageer, is ’n uitdrukking van ongeloof. So asof Jesus nie dieselfde is as gister om nuwe leiers op te wek nie (v.7-8,17, Jos. 1:1-9).

So, ja; onthou asseblief vir prediker so-en-so wat nou in die hemel is (v.7). Maar aanvaar ook die leiers wat die Here jou nóú gee (v.17). Om dit effektief te doen, moet jy nie elke paar maande van gemeente verskuif nie. Anker eerder jou wortels by een gemeente, sodat jy jou leiers se voorbeeld kan volg, asook die lering wat hulle uit die Skrif gee. Onderwerp jou aan hulle leiding, respekteer hulle, en wees lief vir hulle (v.17, 7, 1Tess. 5:12-13).

Hulle waak oor jou siel teen sonde, die duiwel, die wêreld, en vals lering (v.17, 9, Eseg. 3:17, Hand. 20:28-30). Dit doen hulle deur goeie lering uit die Skrif, pastorale sorg, en gereelde voorbidding vir jou geestelike welstand. Op die oordeelsdag sal die groot Herder rekenskap eis om te kyk of hulle dit getrou gedoen het, of nie (v.17, Eseg. 34:10, 1Pet. 5:1-4).

Maak asseblief hulle werk makliker dat hulle met blydskap kan dien (v.17). Doen dit deur ’n goeie gesindheid te openbaar, gehoorsaam te wees, nie gedurig in sonde te val, of ontrou te wees nie (v.17). As jy nalaat om dit te doen, sal hulle sug, treur, en met ’n swaarmoedige hart dien. En hoe sal dit jou help as hulle só dien (v.17). Jy sal verseker nie groei soos jy moet nie.

2. Hoe lyk dit? (v.9-16)

[a] Dit is innerlik (v.9)

Die Hervormers het teen die valshede van die Katoliekekerk opgestaan en probeer om die kerk daarvan te suiwer. Sedertdien het meer as een Pous al vir die Prostestante gesê om na die ‘moederkerk’ toe terug te keer. Maar ons kan nie terugkeer nie, omdat Katolisisme ’n vals weergawe van Christenskap is. Dit bestaan uit allerhande uiterlike rituele, klere, belydenisse, verpligte vasdae, ‘geestelike’ plekke, kerse, altare, offers, prente, beelde, klokkies, rympies, ensovoorts.

Outentieke Christenskap gaan oor die werk van God se genade in die hart (v.9). Natuurlik raak dit sigbaar in ons dade (Jak. 2:14-26). Geen hoeveelheid dade kan jou egter aanneemlik maak voor God nie (Rom. 3:20). Moet dan nie vir iets val wat op uiterlike rituele, of reëls fokus en nie op God se genade in die hart nie (v.9, Joh. 4:24, Ef. 4:14). Bly by die evangelie van Jesus wat altyd dieselfde bly; die evangelie wat Christene nog altyd geglo het; die evangelie wat jy by jou leiers geleer het (v.7-9, 17, Jer. 6:16, Rom. 1:1-2, 3:21). Bly by die lering van redding uit genade alleen deur geloof alleen in Christus alleen (v.9, Ef. 1:7, 2:5, 8-9, 2Tim. 1:9, Tit. 2:5). Die evangelie van redding deur goeie werke en rituele is geen evangelie nie (v.9). Dit is nie outentieke Christenskap nie.

Dit is ook nie outentiek as dit sê: ‘God red jou deur sy genade plus jou eie pogings’ nie. Sodra jy werke byvoeg, is dit nie meer genade nie (Rom. 11:6). Die outentieke evangelie is genade van begin tot einde (v.9, Joh. 1:16, Hand. 13:43). Selfs jou goeie werke en diens in die Koninkryk is die produk van God se genade (1Kor. 15:10, Ef. 3:7, Fil. 2:12-13, 1Pet. 4:10). Hierdie genade ontvang ons deur geloof in Jesus (Rom. 5:2). Ons groei deur die genade wat Hy ons gee deur sy Woord, gebed, die gemeenskap van die gelowiges, en die nagmaal (v.9, Hand. 2:42, 20:32, Heb. 4:16).

Geen hoeveelheid uiterlike reëls, of rituele kan jou innerlik verander en nader aan God bring nie. Dit geld ook vir kos (v.9, Mark. 7:14-19, Hand. 10, 1Tim. 4:3-5, Kol. 2:16, 20-23). Moet dan nie skuldig voel, minderwaardig voel, dink dat die Here ontevrede is met jou, of dink ander mense is meer geestelik as jy, omdat hulle maer is, of omdat jy oorgewig is; omdat hulle reg eet en jy nie. Waar sê die Nuwe Testament jy moet sekere kosse inneem om ‘reg’ te eet? Waar sê dit dat soveel kilogram die ideale gewig vir jou lengte is? Waar sê dit dat die Here kwaad, of tevrede is met jou as jy soveel weeg? Kos sal jou nie geestelik bevoordeel nie (v.9). “Maar die voedsel bring ons nie nader by God nie” (1Kor. 8:8).

Outentieke Christenskap gaan oor die hart (v.9). As die hart reg is, sal jy eet, drink, en alles doen om God te verheerlik (1Kor. 10:31).

[b] Dit is kruis-gesentreerd (v.10-13)

Die einste Martin Holdt van wie ek net-nou gepraat het, het my iets baie waardevol oor die kruis geleer. Hy het vertel hoe Paulus skaars oor ’n praktiese onderwerp kon praat, sonder om by die kruis uit te kom. As hy van geld gepraat het, het hy gesê dat Jesus arm geword het, sodat ons geestelik ryk kan word (2Kor. 8:9). As hy vir mans gesê het om hulle vroue lief te hê, het hy Jesus se kruisdood as voorbeeld gebruik (Ef. 5:25). Vals Christenskap gaan oor dit wat ek (’n goeie mens) vir Jesus doen. Outentieke Christenskap gaan oor dit wat Jesus vir my (’n sondaar) gedoen het toe Hy op die ‘altaar’ van die kruis geoffer is (v.10). Niemand verkry die voordele van hierdie verlossing, bloot omdat hy ’n godsdienstige posisie beklee en heilige offers eet nie (v.9, Lev. 6:26, 1Kor. 9:13, 10:18). Net so is jy nie outomaties gered omdat jy ’n predikant, ’n ouderling, of ’n diaken is nie. Jy moet eerder deur geloof die ware offer op die ‘altaar’ van die kruis eet (v.10). Jy moet met ander woorde geestelik van Jesus eet om in sy verlossing te deel (Joh. 6:35, 48-58).

Jesus vervul ook die offers wat nié deur die priesters geëet is nie; die offers waarvan die bloed in die Allerheiligste geneem is, maar waarvan die liggame buite die kamp verbrand is (v.11, Lev. 16:27). Hoe het Jesus hierdie offer vervul? Hy het buite die ‘kamp’, of stad gely, om ons uit die wêreld uit af te sonder vir God (v.12, 10:10, 14, Matt. 21:39, Joh. 17:19, 19:17, 20). Sy dood buite die stad wys dat die Jode Hom verwerp het (v.12, Lev. 24:14, Num. 15:35, 1Kon. 21:13, Luk. 4:29). Daarom moes die Hebreërs nie terugkeer na ’n godsdiens wat vir Jesus gekruisig het nie. Hulle moes die rug op Judaïsme draai en buite die ‘kamp’ na Jesus toe gaan (v.13, Hand. 7:58). Hulle moes vervolging kies, voordat hulle hulleself met ’n godsdiens vereenselwig wat vir Jesus verwerp het (Luk. 9:23).

Dit geld ook vir ons. Ons moet bereid wees om saam met Jesus te sterf (v.13), voordat ons saamwerk met groepe vir wie die kruis nie genoeg is nie; groepe wat sê dat ons werke moet byvoeg om gered te word. Dus kan ons nie ’n Kerssangdiens, of erediens saam met die Katolieke hou nie. Ons kan nie deel wees van ’n groep soos Evangelicals and Catholics Together nie. Hoe beskou ’n mens enige groep as Christelik as Jesus en sy kruisdood vir hulle nie alles is nie (1Kor. 2:2, Gal. 6:14)?

[c] Dit is toekomsgerig (v.14)

Vir die Prosperity Gospel gaan alles oor die hier-en-nou. Dit gaan oor Your Best Life Now soos wat die titel van Joel Osteen se boek duidelik maak. Outentieke Christenskap lewe nie vir die wêreld wat sal vergaan nie, maar dit soek die hemelse stad wat blywend is (v.14, 11:10, 13-16, 12:22, Fil. 3:20, Gal. 4:26, Op. 21:2, 10). Wat van jou: wat oorheers jou gedagtes, begeertes, en gebede—’n lekker lewe in hierdie wêreld, of ’n lewe by Jesus in die hemel?

[d] Dit is konstant (v.15)

Vals Christenskap is beperk tot seisoene en tye: Kersfees, Paasfees, Lent, en Sondae. Outentieke Christenskap is ’n leefstyl: 24 uur per dag, 7 dae ’n week, 365 dae per jaar. Dit raak jou lewe op die aarde en in die hemel. Dit is ’n lewe wat vir ewig sal aanhou. Volgens v.15 bestaan outentieke Christenskap uit mense wat gedurig die Here prys.

[e] Dit is persoonlik, maar nie privaat nie (v.15)

Batman verkies dit om alleen te werk. Party Christene is so. Hulle dink dat hulle alleen en sonder ander kan lewe. Ek betwyfel nie dat jy ’n persoonlike verhouding met die Here moet hê nie. Jesus praat immers van die smal poort (Matt. 7:14). Die idee is sekerlik dat jy op jou eie moet deurgaan.

En tog word ’n mens dadelik deel van die liggaam as jy na Jesus toe kom (1Kor. 12:27). Jy is nie op jou eie nie. Die Hebreërskrywer gebruik aanhoudend die frase: ‘Laat ons’ (v.15, 13, 10:22, 23, 24, 25). Eenkant-Christene wat nie met ander meng nie is nie outentiek nie, maar is deel van ’n vals weergawe van Christenskap.

[f] Dit is God-gerig (v.15-16)

Let op die frases ‘Lof aan Gód Naam bely… Hóm behaag’ (v.15-16). Outentieke Christene is God-gerig. Hulle bring nie vir die Here diereoffers nie (v.11), maar geestelike offers van lof, goeie werke, en mededeelsaamheid deur geloof in Jesus se perfekte offer (v.15-16, Ps. 50:23, Miga 6:8, Fil. 4:18). Hulle bring dit as goeie vrugte wat groei uit die gesonde wortels van ’n nuwe hart (v.15, 9). Dit lei tot lofprysing waar Gód sentraal is (v.15). Isaac Watts het dit verstaan:

The Lord Jehovah reigns,
his throne is built on high;
the garments that he wears

are light and majesty:
his glories shine with beams so bright
no mortal eye can bear the sight.

The thunders of his hand
keep the wide world in awe;
his wrath and justice stand
to guard his holy law;
and where his love resolves to bless
his truth confirms and seals his grace.

Through all his mighty works
amazing wisdom shines,
he stuns the powers of hell
and all their dark designs;
strong is his arm, and shall fulfil
his great decrees and sovereign will.

And will this mighty King
of Glory condescend?
And will he write his name
My Father and my Friend?
I love his name, I love his Word;
join all my powers to praise the Lord.

Dit staan in skrille kontras met baie Christelike liede waarin die méns sentraal is. Luister byvoorbeeld na ’n paar reëls uit Lauren Daigle se lied, You Say:

I keep fighting voices in my mind that say I’m not enough
Every single lie that tells me I will never measure up
Am I more than just the sum of every high and every low?
Remind me once again just who I am, because I need to know

You say I am loved when I can’t feel a thing
You say I am strong when I think I am weak
And You say I am held when I am falling short
And when I don’t belong, You say I am Yours
And I believe oh, I believe

Natuurlik is alles wat sing sê nie verkeerd nie, maar die fokus is op die mens eerder as op God.

[g] Dit is diensbaar (v.16)

R.C. Sproul het eenkeer gesê dat die meeste van sy studente hom gevra het hoe hulle meer geestelik kan wees. Bittermin van hulle het gevra hoe hulle meer regverdig kan wees. Maar die Fariseërs, die Katolieke en selfs Boeddhiste kan geestelik wees. Outentieke Christene is regverdig en nie net geestelik nie. Dit gaan nie net oor wat jy met jou lippe sê nie, maar oor wat jy dóén (1Joh. 3:17-18). Outentieke Christene dien, help graag, en deel met ander (v.16, Rom. 12:13).

Het jy ’n geleentheid om goed te doen aan iemand? Doen dit (v.16, Gal. 6:10). Het jy iets ekstra om te deel: kos, klere, ’n blyplek, vervoer, jou tyd, gawes, vaardighede, talente, of geld? Gebruik dit om met ander te deel (v.16, Luk. 3:11, Hand. 2:44-45, 4:32-37, Ef. 4:28). God is ’n Vader wat graag gee (Joh. 3:16). Laat ons sy voorbeeld volg (v.16). Dit is tog hoe outentieke Christenskap lyk: soos God. Dit lyk soos Jesus (1Joh. 2:6). Dit lyk nie soos ’n kind wat spéél dat sy ’n prinses is nie, maar eerder soos iemand wat uit die koninklike familie kom en so optree.