Coram Deo Cover Image

Coming soon...

12 September 2023

Oor God se koninkryk en die oordeelsdag

Lukas 19:11-27

Jare gelede het ’n konferensiespreker gesê God gaan sy kinders se sondes op die oordeelsdag ophaal. Toe wyle Martin Holdt dit hoor, het hy die spreker berispe: ‘Dit is nie wat die Bybel sê nie; jy maak God se kinders bang.’

’n Paar jaar later het ’n lidmaat by Martin Holdt se gemeente hom oor die einste kwessie kom sien. Die persoon het gevra:

‘Gaan die Here al my sondes op die oordeelsdag ophaal?’

‘Nee.’

‘Maar prediker en outeur so-en-so het gesê God gaan al my sondes voor die wêreld noem.’

‘Ek gee nie om wat so-en-so sê nie; die Bybel leer anders.’

Was Martin Holdt reg? Hoe moet ons oor God se koninkryk en die oordeelsdag dink?

 

1. God se koninkryk (v.11-15)

Volgens v.9-10 het die Seun van die Mens aarde toe gekom om verlorenes te red. Soos Ben Shapiro het die meeste Jode in Jesus se tyd ’n politieke en militêre Messias verwag; nie een wat ons van ons sondes verlos nie. Hulle het Jes. 53:5-6 mis gelees: “Hy is egter deurboor oor ons oortredings, verbrysel oor ons sondeskuld. Die straf wat ons vrede bewerk, was op hom, en deur sy wonde is daar vir ons genesing. Ons almal het soos kleinvee gedwaal, elkeen van ons het sy eie koers ingeslaan; maar die Here het ons almal se sondeskuld op hom laat neerkom.”

Om hulle verkeerde idee reg te stel, het Jesus ’n gelykenis vertel. Hulle het dit nie gesnap nie, maar Hom ’n paar dae later as Koning toegejuig toe Hy op ’n donkie in Jerusalem inkom (v.28-40). Dit is asof hulle gedink het: ‘Nou gaan Jesus op die troon van Dawid sit en die Romeine verslaan.’ Eers na die opstanding het die dissipels die intog in Jerusalem verstaan, naamlik dat Jesus se koninkryk geestelik is (Joh. 12:16, 18:36). Aan die kruis het Jesus meer as die Romeine oorwin. Hy het ons sonde, demoniese magte, die dood en die wêreld oorwin (Joh. 16:33, Kol. 2:14-15, Heb. 2:14-15, 1Joh. 3:8). Vir die eerste keer het die dissipels verstaan wat die doringkroon en die bordjie bo Jesus se kruis beteken: Hy was werklik die Koning van die Jode.

Toe Hy drie dae later uit die dood opstaan het Hy ’n nuwe tempel gebou en die weg na die hemelse Jerusalem geopen (Joh. 2:19-22, Ef. 2:20-22, Gal. 4:25-26, Heb. 12:22, Op. 21:2, 10, 22). Baie mense verstaan dit nie. Soos die Jode begeer hulle ’n aardse koninkryk sonder ’n kruis (v.11). Hulle begeer dat Jesus vir hulle voorspoed, geld en gesondheid gee. Hy moet hulle nie roep om hulleself te verloën en ’n kruis op te neem nie (9:23). Maar ’n koninkryk sonder die kruis is die duiwel se idee: “en die Duiwel sê vir Hom: ‘Ek sal u al hierdie mag gee en hulle prag, want dit is aan my gegee, en ek gee dit aan wie ek wil. As u my aanbid, sal dit alles u s’n wees.’ ” (4:6-7). Sonder die kruis is daar geen kroon nie: “As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom leef” (2Tim. 2:11).

Aan die kruis het Jesus die koninkryk vir Homself en vir ons gewen. Dit het as volg gebeur: “’n Man van hoë afkoms het na ’n ver land gereis om vir homself ’n koningskap te bekom en weer terug te keer.” (v.12). Jesus is die edelman van hoë afkoms (v.12). Alhoewel Hy in onbelangrike Betlehem in ’n krip gebore is, was dit as die Messiaanse koning uit die stam van Dawid (1:32). Veertig dae na die opstanding het Jesus na ’n ver land toe vertrek (v.12). By sy hemelvaart het Jesus die koninkryk in besit geneem (v.12, Ps. 110:1, Dan. 7:13-14).

Net voor dit het Hy “tien van sy slawe geroep en aan hulle tien mina gegee en vir hulle gesê, ‘Gaan woeker daarmee, totdat ek terugkeer.’ ” (v.13). ’n Mina is drie maande se dagloon. Soos Jesus sy slawe met geld toevertrou het, gee Hy vir ons lewe, gawes, ’n huweliksmaat, kinders, werk, vriende, geld, besittings en meer. Hierdie dinge behoort nie aan ons nie, maar dit is syne. Ons moet dit namens Hom bestuur, daarmee woeker en sy koninkryk bevorder.

Vir baie mense is God se koninkryk nie in hulle verwysingsraamwerk nie. Hulle dink nie daaraan nie, maar lewe vir die tydelike. Hulle haat die Here en wil nie hê Hy moet oor hulle regeer nie: “Sy burgers het hom egter gehaat, en het ’n afvaardiging agter hom aangestuur om te sê, ‘Ons wil nie hê dat hierdie man oor ons heers nie.’ ” (v.14). “Toe sê Pilatus vir die Jode: ‘Kyk, daar is julle koning!’ Hulle het egter geskreeu: ‘Weg, weg met hom! Kruisig hom!’ Pilatus sê vir hulle: ‘Moet ek julle koning kruisig?’ Die leierpriesters het geantwoord: ‘Ons het nie ’n koning nie, slegs die keiser.’ ” (Joh. 19:14-15).

Mense kan maar hulle petisies optrek. Hulle klagtes teen Jesus kon nie keer dat Hy die koninkryk ontvang nie. Eendag sal Hy as Koning na die aarde toe terugkeer en dit oordeel (v.15, Joh. 5:22, 27). Elke man en vrou, seun en dogter, engel en demoon sal voor moet Hom staan en rekenskap gee (1Kor. 6:3, 1Pet. 4:5, Op. 20:12).

 

2. Die oordeelsdag (v.16-27)

Met die Koning se terugkeer het die slawe Hom as Here erken (v.16, 18, 20, Gk. kurios). Dit vervul Paulus se woorde in Fil. 2:11: “en elke tong sal bely, ‘Jesus Christus is die Here!’ tot eer van God die Vader.”

Toe die slawe aan hulle Here rekenskap gee, het hulle erken die geld is syne en nie hulle s’n nie (v.16, 18, 20). Die eerste slaaf het sy mina met tien vermeerder en die tweede slaaf met vyf (v.16, 18). Hiervoor het die Here hulle onderskeidelik oor tien en vyf stede aangestel (v.17, 19). In 16:10-12 staan daar: “Wie in die geringste betroubaar is, is ook betroubaar waar dit om baie gaan, en wie in die geringste oneerlik is, is ook oneerlik waar dit om baie gaan. As julle dan nie betroubaar was wat die oneerlike Mammon betref nie, wie sal julle met die ware rykdom vertrou? En as julle nie betroubaar was met ’n ander se goed nie, wie sal vir julle gee wat julle toekom?”

Onthou dit as dit vir jou voel of jou werk vir die Here tevergeefs is: “Ek het egter gedink: Tevergeefs het ek my moeg gemaak. Verniet, vrugteloos het ek my kragte ingespan. En tog, die beslissing oor my lê by die Here, my beloning is by my God.” (Jes. 49:4). Jy kry baie meer uit as wat jy insit. Twee van die slawe het met een mina begin en onderskeidelik met vyf en tien stede geeïndig (v.17, 19).

Nie almal glo dit nie. Lank gelede het een van my dosente gesê: ‘Ek glo nie in hemelse belonings nie. Dit is nie asof een Christen nader aan die troon gaan wees as ’n ander nie.’ Maar v.16-19 praat van belonings. Verder lees ons in Matt. 5:11-12: “Gelukkig is julle wanneer die mense julle om My ontwil beledig en vervolg en vals beskuldig van alles wat sleg is. Wees bly en jubel, omdat julle beloning groot is in die hemele. Hulle het immers die profete vóór julle net so vervolg.” Hoe is dit ’n troos vir vervolgde Christene as almal buitendien dieselfde beloning gaan ontvang?

Matt. 10:41-42 praat van verskillende belonings: “Wie ’n profeet ontvang omdat hy ’n profeet is, sal die beloning van ’n profeet kry, en wie ’n regverdige ontvang omdat hy ’n regverdige is, sal die beloning van ’n regverdige kry. En wie aan een van hierdie geringes ’n beker koue water gee om te drink, bloot omdat hy ’n dissipel is—Amen, Ek sê vir julle: Hy sal beslis sy beloning nie kwyt wees nie.”

Die volgende verse praat ook van belonings: 

“Dit is een wat plant, en dit is een wat natgooi, en elkeen sal sy loon volgens sy eie arbeid ontvang.” (1Kor. 3:8).

“Of iemand nou op die fondament bou met goud, silwer, kosbare stene, hout, gras of strooi—elkeen se werk sal duidelik word, want dié dag sal dit aan die lig bring. Deur vuur sal dit geopenbaar word, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk op die proef stel. As iemand se bouwerk behoue bly, sal hy sy loon ontvang. As iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly—hoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.” (1Kor. 3:12-15).

“Want julle weet dat elkeen, indien hy iets goeds doen, dit van die Here as loon sal terug ontvang, of hy ’n slaaf is of ’n vryman.” (Ef. 6:8).

“Nou wag die oorwinningskrans van geregtigheid op my, wat die Here, die regverdige Regter, op daardie dag vir my sal gee—en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat sy koms liefhet.” (2Tim. 4:8).

“En wanneer die Groot Herder verskyn, sal julle die erekrans van heerlikheid ontvang, wat nooit sal verwelk nie.” (1Pet. 5:4).

“Let daarop dat julle nie verloor wat ons deur harde werk verkry het nie, maar eerder ’n volle loon ontvang.” (2Joh. 8).

Is dit nie ’n resep vir jaloesie as een gelowige ’n groter beloning ontvang as ’n ander nie? Nee. Is jy jaloers as iemand by ’n partytjie meer as jy eet, maar albei van julle versadig is?

Laat die vooruitsig van hemelse belonings jou in die Here se diens aanspoor: “Daarom, my geliefde broers, wees standvastig en onwrikbaar, en wy julle ten volle aan die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie vergeefs is nie.” (1Kor. 15:58). Doen jou beste vir die Here en dien Hom met die regte motiewe. Vir leraars beteken dit ons moet ons aan die studie van die Woord wy en nie ander predikante se preke steel nie (Jer. 23:30, Esra 7:10, 2Tim. 2:15). Vir ouers beteken dit ons moet ons kinders in God se Woord en dissipline opvoed, en nie toelaat dat hulle hulle eie wil volg nie ((1Sam. 3:13, Ef. 6:4). Vir geestelike leiers beteken dit ons moet God se kudde versorg en hulle nie afskeep nie (Eseg. 34:4, Hand. 20:28). Vir armsorg beteken dit ons moet uitdeel om God te behaag en nie om mense te beïndruk nie (Matt. 6:2, 3-4).

Party mense sal sê Jesus is veeleisend, rigied, ongenaakbaar en hard: “Toe het die derde een gekom en gesê, ‘Meneer, kyk, hier is u mina, wat ek in ’n sweetdoek weggebêre het. Ek was bang vir u, omdat u ’n streng man is; u vorder in wat u nie belê het nie, en u oes wat u nie gesaai het nie.’” (v.20-21). Die slaaf se skewe Godsbeeld het gemaak dat hy sy geld in ’n sakdoek wegsteek. Hy het gedink dit is nie reg dat hy al die moeite insit en Jesus die wins gryp nie. Sy teologie was verdraaid, aangesien Jesus buitendien alles besit en niks van ons benodig nie (Ps. 24:1, 50:10-12, Hand. 17:25). Hy hoef niks te gryp nie, maar gee vrylik van wat syne is (v.17, 19, 1Kor. 4:7, Jak. 1:17). Wat jy vir Hom gee, kom in die eerste plek van Hom af (1Kron. 29:14, 16). Wie dit verstaan, dien die here oorvloedig uit ’n dankbare hart. Hy soek meer as net ’n beloning en jaag na Christus self (Fil. 3:14). Enige beloning werp hy voor die Here se voete (Op. 4:10) en erken Hom as die gewer van alle dinge: “Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom kom die heerlikheid vir ewig toe! Amen.” (Rom. 11:36).

         Nie almal doen dit nie. Party erken God as die Gewer van elke goeie gawe, maar dien Hom nie daarmee nie. Hulle laat God se gawes roes en skeep dit af, sodat Hy by sy koms sal sê: “Waarom het jy nie my geld by die bank belê nie? Dan sou ek wanneer ek terugkom, dit met rente kon kry.” (v.23). Ek het so iemand geken. Hy het sy baie besittings gestoor en soos ’n arm man gelewe.

Uit ’n geestelike oogpunt was ’n sekere leraar dieselfde. Hy was briljant, ’n uiters begaafde spreker en het die Bybel goed geken. Maar hy was lui. By tye het hy sy preekteks op pad kerk toe gekies. Nogtans het die mense aan sy lippe gehang. Watter impak sou hy nie hê as hy harder gewerk het nie?

         Die Engelse digter, filosoof en teoloog, Samuel Taylor Coleridge (1772-1834) was dieselfde. Hy was geniaal slim, maar lui. As dit nie die geval was nie, sou hy deur sy lewe meer kon bereik.

         Onthou: alles wat jy nie vir die koninkryk gebruik nie, verloor jy (v.24). Dalk red die Here jou, maar jy ontvang geen beloning nie. Paulus sê: “As iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly—hoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.” (1Kor. 3:15).

              Of dit mag wees jou luiheid en minagting van God se gawes wys jy is sleg en verdien die hel: “En gooi die nuttelose slaaf uit in die duisternis daarbuite. Daar sal ’n geween wees en ’n gekners van tande.” (Matt. 25:30). Klink dit te streng? As jy regtig so dink, hoekom doen jy nie iets met jou gawe nie (v.21-22)? Doen iets, anders vat die Here dit weg en gee dit vir iemand met ’n groter beloning (v.23-24)!

Klink dit onregverdig (v.25)? Dit maak heeltemal sin en is uiters wys. Wie nie R15 000 kan hanteer nie, sal skaars R150 000 of paar triljoen hanteer. Die teendeel is ook waar: wie ontrou is met R15 000, sal ontrou wees met baie. Daarom sê Jesus in v.26: “Ek sê vir julle, aan elkeen wat het, sal gegee word, en van dié wat nie het nie, sal ook dit wat hy het, weggeneem word.”

         Het jy jou gawes, geleenthede, huwelik, ouerskap of geld in die water gegooi? ‘Don’t cry over spilt milk.’ Bely die verlede en maak die beste van die nuwe geleentheid wat die Here jou gee. Is dit nie wat Paulus gedoen het nie? Voor sy bekering het hy die kerk vervolg. Hy het sy sonde bely en die beste van ’n nuwe geleentheid gemaak (1Kor. 15:9-10).

         Is jy nog in jou sonde? Weet dit: nadat Jesus sy getroue dienaars beloon het, sal Hy jou saam met die wêreld oordeel. Hy onthou wat jy teen Hom gedoen het en sal jou in die hel werp (v.14, 27, Matt. 13:41-42, Rom. 2:6-11). Dit is ’n kant van liewe Jesus waaraan die meeste mense nie dink nie. Die Bybel sê Jesus sal met sy vyande afreken. Op die oomblik lyk dit of misdadigers, korrupte individue en regerings, die vervolgers van die kerk, die aborsie industrie, seksuele en ander oortreders met moord wegkom. Jesus sien alles en hou rekord daarvan. Op die oordeelsdag sal Hy dit aan die lig bring (12:2-3, Rom. 2:16).

         As jy berou het, jou bekeer en jou op Jesus beroep, sal die Vader sy lewe en dood in jou plek aanvaar en jou vergewe (Kol. 2:14, 2Kor. 5:21). Jy sal nie geoordeel word nie. Die Bybel sê: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en vir hom is daar geen veroordeling nie, maar hy het uit die dood na die lewe oorgegaan.” (Joh. 5:24). “Daar is dan nou geen veroordeling vir diegene wat in Christus Jesus is nie... Wie sal die uitverkorenes van God aankla? God is die Een wat vryspreek!” (Rom. 8:1, 33). Hoekom sal God jou oordeel as Hy jou klaar deur Jesus vrygspreek en geregverdig het? Judas 24 sê: “Aan Hom wat die mag het om julle daarvan te bewaar dat julle struikel, en om julle onberispelik en jubelend voor sy heerlikheid te stel”.

         Dink jy dit is te laat; jy het reeds te erg gesondig? Ek hoop Luke Short se bekering bemoedig jou dat die Here jou nog kan red. Mnr. Short het in die 1600’s in Engeland gelewe. Toe hy 15 jaar oud was, het hy John Flavel gehoor preek. Daarna het hy Amerika toe geïmmigreer en begin boer. Op 100-jarige ouderdom was hy nog gesond met ’n helder verstand. Hy het in die veld gesit en oor sy lewe nagedink. Hy het Flavel se preek onthou en tot bekering gekom.1

Sekerlik is daar hoop vir jou ook. Ruil kante, terwyl jy die geleentheid het.


1  John Flavel, The Mystery of Providence (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1963 [1678]), 11.

Kategorieë