Unstopable wave

Handelinge 5:17-42

Die kerk is soos ‘n plant wat méér groei as jy dit snoei.  Handelinge 5 illustreer dit.

Kettings (v.17-26)

Jaloesie het gemaak dat die Joodse Raad vir Jesus laat kruisig het (Markus 15:10).  In Handelinge 5 gebeur dit weer.  Die Sadduseërs het nie in die opstanding geglo nie (4:2, 23:8) en uit jaloesie die apostels gearresteer (v.17).  Hierdie keer het hulle nie iemand gestuur nie.  Saam met die hoëpriester het hulle self gekom om die kerkleiers in hegtenis te neem (v.17-18).  In die nag het ‘n engel die twaalf apostels kom vrylaat (v.19).  Hy’t seker die wagte se oë blind gemaak, sodat hulle nie kon sien hoe die tronkdeure oop en toe maak nie (cf. hoofstuk 12).  Die engel het vir hulle gesê:  “Gaan heen, staan en vertel in die tempel aan die volk al die woorde van hierdie lewe.” (v.20).

Wat was ‘die woorde van hierdie lewe’wat hulle moes verkondig?  Dit was Jesus self – die Weg, die Waarheid, en die Lewe (Johannes 14:6).  Dit was die ewige lewe (Johannes 17:3).  Dit was die waarheid dat Jesus opgestaan het uit die dood (juis dít waarvoor hulle in 4:2 gearresteer is).  Toe hulle vrygelaat is het hulle nie gevlug nie, maar gepreek (v.21a).  Die Raad kon nie uitwerk hoe die apostels ontsnap het nie – die tronkdeure was dan gesluit en die soldate het waggestaan (v.21b-24).  Wat ‘n tragedie dat die Raad nie die wonderwerk erken het nie.  Al wat saakgemaak het was dat die apostels die wet oortree het en die evangelie gepreek het.  Die Raad het hulle laat haal.  Hierdie keer was hulle nie hardhandig nie.  Hulle het saggies gewerk, omdat hulle (soos nog altyd) mense gevrees het (v.25-26, cf. Lukas 22:2).  Maar kettings kon nie die apostels se prediking stuit nie.

Regering (v.27-32)

Die hoëpriester wou weet hoekom hulle die Raad se opdrag geminag het; waarom die apostels húlle van Jesus se dood beskuldig het (v.27-28).  Die apostels was reg:  die Joodse leiers wás die voorbokke.  Jesus se bloed was op húlle hande; sy spykers in húlle sakke.  “Maar die owerpriesters en die ouderlinge het die skare oorgehaal dat hulle Barábbas moes begeer en Jesus ombring…En die hele volk antwoord en sê:  Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!” (Matteus 27:20, 25).  Petrus en die ander apostels kón nie anders as om Jesus te verkondig nie.  Toe die keuse voor hulle gestel is, het hulle geantwoord:  “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.” (v.29, cf. 4:19).

Die Joodse Raad het geweet dat iemand wat aan ‘n boom hang vervloek is (v.30, Deuteronomium 21:22-23).  Maar hulle moes leer dat God sy Seun tot Leidsman en Verlosser verhoog het (v.31).  Sy Naam – Jesus – beteken immers Verlosser (Matteus 1:21).  Van Hom sê Dawid:  “Die HERE het tot my Here gespreek:  Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ‘n voetbank vir u voete.” (Psalm 110:1).  Elke gelowige weet dis Hý wat vergifnis bied (v.31).  Maar hoeveel weet dat Hy ook die vereiste bekering skenk (v.31, cf. 11:18, 2 Timoteus 2:25)?  Die twaalf apostels was ooggetuies van sy opstanding (v.32).  Die Heilige Gees het saam getuig deur wonders en tekens (v.32, 15-16, 1:8).  Die Gees kom maak sy woning in almal wat in geloof gehoorsaam is aan die evangelie (v.32, 29, Romeine 1:5).  Die Joodse leiers wóú nie hoor nie.  Maar selfs húlle (of enige ander regering) kan nie God se werk stuit nie.

Dood (v.33-39)

Die Raad was briesend oor die apostels se klag, asook oor die getuienis dat Jesus die Messias is.  Hulle wou die apostels vermoor (v.33).  Maar het hulle dan nie die les geleer nie?  Hulle het Jesus vermoor en Hy het opgestaan.  Het hulle regtig gedink dat hulle beter sukses sou hê met die apostels?

Gamaliël was die kleinseun van die beroemde Rabbi Hillel, en ook die leermeester van Paulus (22:3).  Die hele Israel het hom gerespekteer.  Sonder sy wete het God hóm gebruik om die apostels te beskerm.  Sy beskermende raad was dalk ‘n poging teen die Sadduseërs, omdat hý (‘n Fariseër) skerp oor die opstanding van dooie mense verskil het (cf. 23:7-9).  Hoe dit ookal sy, hy het verwys na Theudas (nie dieselfde Theudas as die een van wie Josefus skryf nie) wat met 400 volgelinge teen Rome opgestaan het.  Toe hy ‘uitgehaal’ is, het sy volgelinge uitmekaar gespat (v.35-36).

Kort ná hom het Judas die Galileër teen die Keiser gerebelleer.  Tydens die tweede sensus onder Sirenius (6 n.C.) het hy mense opgesweep om nie belasting te betaal nie.  ‘Eer God alleen,’ het hy gesê.  Die Romeine het hom doodgemaak, en die Selote (sy party) het teruggetrek (v.37).  As die kerk ‘n mensgemaakte instansie was, sou ook dít ‘n natuurlike dood sou sterf (v.38).  Maar indien God in die saak was, sou niks en niemand daarteen kon staan nie (v.39).  Gamaliël was reg, want selfs toe die apostels en ander Christene gemartel is, het die kerk nie doodgeloop nie.  Inteendeel:  ‘The blood of the martyrs is the seed of the church.’ (Gregorius).

Stokke (v.40-42)

Die apostels is gedreig en het 39 houe gekry (v.40, cf. Deuteronomium 25:2-3, 2 Korintiërs 11:24).  Ná die pakslae het hulle gejuig en aangehou om Jesus in die tempel en in kleiner huisgroepe te preek (v.41-42).  Hulle het geweet wat hulle lyding vir die evangelie beteken het:  “Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg” (1 Petrus 2:21).  “gemeenskap aan sy lyde” (Filippense 3:10).  Stokke kon hulle nie stuit nie.

In 1662 is twee duisend Engelse Puriteine uit hulle kerke uit verban (‘The Great Ejection’).  Hulle het in huise en velde begin preek, maar in 1664 het wetgewing hulle verbied.  In 1665 is hulle onder die Five Mile Act verbied om binne ‘n radius van 5 km van hulle gemeentes of enige stad of dorp te kom.  Baie van hulle (soos John Bunyan) is tronk toe gestuur.  Dank die Here hiervoor, want anders sou ons geestelik armer gewees het.  Honderde boeke is in hierdie jare geskryf (soos Bunyan se Pilgrim’s Progress).  Was dit nie dieselfde met Paulus nie?  Sekere boeke in ons Nuwe Testament bestaan omdat Paulus in die tronk was!  Die les is duidelik:  jy kan mense se monde toestop, maar jy kan nooit die evangelie stilmaak nie.  Paulus sê:  “ek [ly] verdrukking tot die boeie toe soos ‘n kwaaddoener; maar die woord van God is nie gebonde nie.” (2 Timoteus 2:9).

In Suid-Afrika is daar mense wat die evangelie wil stilmaak:

  • In die afgelope dekade was daar ten minste drie pogings om Radio Kansel se uitsaailisensie op te skort. ‘n Paar jaar gelede is hulle gedwing om op AM uit te saai.
  • RSG se opdrag aan hulle predikers is: ‘Jy mág nie sê Jesus is die enigste Weg nie.’
  • Die meeste uitgewers en koerante sal nie boeke druk of artikels plaas wat ‘n sterk standpunt vir die waarheid inneem nie.
  • ‘n Prediker in die Kaap het in die sop beland toe hy lyfstraf voorgestaan het. Moreletapark NG-Kerk is gedagvaar oor hulle standpunt teen homoseksualiteit.
  • Ek het gehoor hoe ‘n vrou van Loslip afgesny word toe sy oor die vrug van die Gees gepraat het. Ek het eenkeer ingebel toe hulle oor ‘pakslae’ gepraat het. My ‘Bybelse’ bydra was nie baie welkom nie.
  • ‘n Man het die evangelie by UCT (University of Cape Town) gepreek en is deur die sekuriteit verwyder. By Menlyn winkelsentrum word mense wat traktaatjies uitdeel deur die sekuriteit verwyder.
  • Moslems mag op Vrydae af kry om te bid, maar Christene wat weier om op ‘n Sondag te werk staan ‘n kans om hulle werk te verloor.
  • Dis aanvaarbaar om Jesus se Naam in films te laster. Maar probeer om teen Mohammed te laster en kyk wat gebeur!
  • Baie skole en besighede het regulasies téén die Bybel en gebed.

Die wêreld hou daarvan om Christene te spot, te dreig, uit te lag, en aan te val.  Ongelukkig kom die aanval dikwels van godsdienstige mense af (soos in Handelinge 5).  Maar die Here sal jou help.  Hy sal by jou wees.  Kyk na Jesus en na die beloning wat kom:

“Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.  Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil.  Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.” (Matteus 5:10-12).

“die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.” (Hebreërs 12:2).

Moenie stilbly omdat jy die vrede wil bewaar nie.  Moenie bang wees nie.  Jesus sal sy kerk bou, en die poorte van die hel sal dit nie oorweldig nie (Matteus 16:18).  Hy is onstuitbaar.

Een man het gesê dat nie eers Gód die Titanic kon sink nie.  Hoe verkeerd was hy nie.  Maar van die skip van die Kerk kan ons met vrymoedigheid sê:  ‘Dit sal nooit sink nie, want as God vir ons is, wie kan teen ons wees?’

Category Handelinge 5:17-42, Kerk
Write a comment:

You must be logged in to post a comment.