Coram Deo Cover Image

Coming soon...

25 October 2013

Ons verdiende loon: seksuele sonde

Mud on wedding dress

24 Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer 25 hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid.  Amen.” (Romeine 1).

 

Wellustige harte

Onthou jy tye in jou kinderdae toe jy geneul en geneul en geneul het, sodat jou ouers uiteindelik gesê het:  ‘Doen wat jy wil’?  Sestien-jarige Frans se pa sê hy moet ophou TV kyk en vir sy eksamen leer.  Na hordes waarskuwings wil hy nogsteeds nie luister nie.  Uiteindelik gee sy pa hom oor aan sy eie wil, en toe die eksamen kom, toe druip hy.

 

Die mens ontken, verdraai en verruil die waarheid van God (v.18-21, 25).  Hy verkoop homself aan sonde:  “in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het” (Efesiërs 2:3).  In Efesiërs 4:19 praat Paulus van mense “wat ongevoelig geword het en hulle oorgegee het aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedrywe.”  Met ander woorde, hulle doen wat hulle wíl doen.  En omdat hulle hulself aan sonde oorgegee het, gee God hulle oor aan hulle luste, die gevolge en die verdiende straf:  “Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer...Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte...En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ‘n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie” (v.24, 26, 28).  Toe Joas die volk in afgodery inlei, het Sagaria vir hom gesê:  “Omdat julle die HERE verlaat het, het Hy julle verlaat.” (2 Kronieke 24:20).  Salomo het gesê:  “Die mond van die vreemde vroue [vroue wat losbandig lewe] is ‘n diep kuil; hy op wie die HERE vertoornd is, sal daarin val.” (Spreuke 22:14).  Oor sy eie volk het die Here gesê:  “Efraim is gekoppel aan die afgode:  laat hom staan!” (Hosea 4:17).  C.S. Lewis skryf in The Magician’s Nephew:  ‘All get what they want; they do not always like it.’ (p.100).

 

Daar is mense (soos C.H. Dodd en William P. Young van The Shack) wat glo dat God nie direk straf nie, maar Homself net onttrek, sodat sy oordeel die sondaar outomaties soos 'n donderwolk oorskadu.  Genesis 19:24 wys anders:  “En die HERE het swawel en vuur oor Sodom en Gomorra laat reën van die HERE uit die hemel”.  Duidelik tree God aktief op wanneer Hy sondaars straf.

 

Satan gebruik steeds die leuen wat hy vir Eva vertel het:  ‘Het God regtig gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?’  Die waarheid was, dat God gesê het hulle mag van al die bome in die tuin eet, behalwe een.  Satan wou hê hulle moes dink God wil hulle vreugde steel.  Oor seks sê hy:  ‘God beperk seks tot die huwelik, omdat Hy jou vreugde wil beperk’.  Moenie vir sy leuen val nie.  Die waarheid is dat seks buite die huwelik gevaarlik is en hartseer bring:

 

  • God se frons is oor jou.
  • God sal jou tug.
  • Die kerk sal jou onder tug plaas.
  • Jesus se Naam word beskadig.
  • Die kerk ly skade.
  • Jou reputasie is op die spel.
  • Jy sal die trauma van egskeiding ervaar.
  • Jou kinders sal respek vir jou verloor.
  • Jy staan die kans om 'n seksueel oordraagbare siekte te kry (dalk VIGS).
  • Jou gewete sal jou ry.
  • Jy mag dalk doodgemaak word (deur God se direkte ingrype, VIGS of die vrou met wie jy geslaap het se man).
  • Jy sal hel toe gaan (Hebreërs 13:4, Openbaring 21:8).

 

Iemand wat die heerlikheid van sy Skepper vir die skepping (seks) verruil, is soos 'n man wat sout water drink en nie verstaan hoekom hy dors bly nie.  Jy is nie gemaak vir die klein vreugdes van seksuele sonde nie, maar om versadig te word in 'n oseaan van vreugde in God (v.25).  Jesus se woorde aan 'n seksuele immorele vrou was:  “elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” (Johannes 4:14).

 

Wellustige dade

Die Rome van Paulus se tyd was bekend vir verskriklike losbandigheid.  Buiten vir tempel prostitusie, was seksuele sonde van elke soort en kleur volop.  Alvin Schmidt skryf:  ‘Emperor Caligula (A.D. 37-41)...lived a licentious sex life and was given to habitual incest [‘bloedskande’] with all of his sisters...He loved to engage in sex while he ate, and he often had people tortured during his many sexual escapades’ (How Christianity Changed the World, pp.81-82).  Grafiese prente kon in baie huise gesien word (Ibid, p.82, dit laat my baie dink aan TV’s, tydskrifte en internet in ons huise!).

 

Die menslike liggaam is nie boos soos baie van die Grieke gedink het nie.  Dit is sonde wat veroorsaak dat mense “hulle liggame onder mekaar te onteer” (v.24).  Paulus sê:  “Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie.  En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.” (6:12-13).  En weer:  “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.” (12:1).  Niemand kan sê:  ‘Dit is my liggaam en ek kan daarmee doen wat ek wil’ nie.  Die Skrif sê:  “Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon” (Psalm 24:1).  Jou liggaam behoort aan God – veral as jy 'n gelowige is.  Paulus skryf:  “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?  Want julle is duur gekoop.  Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.” (1 Korintiërs 6:19-20).

 

'n Vrou het aan 'n bekende Christelike tydskrif geskryf:  ‘Ek het God bo alles lief en is siek en sat vir mense wat ander oordeel wat seksuele verhoudings voor die huwelik het.  Nêrens in die Bybel staan daar dat seks voor die huwelik 'n sonde is nie (in daardie presiese woorde nie).  Seksuele immoraliteit kan beteken net wat jy wil hê dit moet.  Op die ou einde maak dit nie saak wat ander, ewe sondige mense dink nie, dit maak net saak wat God dink.’ (JUIG! Mei 2013, p.64).  Die waarheid is dat die Bybel duidelik sê dat seks voor die huwelik sonde is.

 

“Jesus sê vir haar:  Gaan roep jou man en kom hier.  Die vrou antwoord en sê:  Ek het nie ‘n man nie.  Jesus sê vir haar:  Jy het reg gesê:  Ek het nie ‘n man nie; want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie.  Dit het jy met waarheid gesê.” (Johannes 4:16-18).  Sommige mense sê dat jy in Gód se oë getroud is as jy met iemand geslaap het.  Jesus ontken dit.  Volgens Hom is hierdie vrou nie met die sesde man getroud nie – al het sy met hom geslaap.  Die huwelik is nie maar net 'n seksuele eenheid nie, maar 'n vriendskapsverbond tussen twee mense en God (sien Spreuke 2:17, Maleagi 2:14).

 

“Maar vir die ongetroudes en die weduwees sê ek, dit is vir hulle goed as hulle bly soos ek; maar as hulle hul nie kan beheers nie, laat hulle trou; want dit is beter om te trou as om van begeerte te brand.” (1 Korintiërs 7:8-9).  Paulus sê vir ongetroude mense dat hulle moet trou eerder as om van begeerte te brand.  Hy sê nié:  ‘Spring saam in die bed as jy dit nie meer kan uithou nie’.

 

“Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.” (Hebreërs 13:4).  Hierdie vers tref ’n onderskeid tussen hoereerders en egbrekers.  Egbreuk vind plaas wanneer ’n getroude persoon met iemand anders slaap.  Hoerery [Gk. pornos] vind plaas wanneer ’n ongetroude persoon seksueel sondig.  Mense wat rondslaap maak seks én die huwelik goedkoop.

 

Die ongelowige Libanius het gesê:  ‘What women these Christians have!’ (Schmidt, Ibid, p.85).  In ons dag het die Kerk die wêreld se idees oor seks verwelkom.  Dit hoort nie so nie.  Jesus het gesê:  “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” (Matteus 5:16).  Die Bybel sê duidelik:  “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed” (Romeine 12:2).  Hoe kan die Kerk weer 'n sondige samelewing beïnvloed?  Só...

 

[1] Ons moet sorg dat ons eie harte deur die evangelie verander is (v.16).  Dit is immers uit 'n sondige hart wat seksuele sonde voortspruit (Matteus 15:19).

 

[2] As jy graag 'n huweliksmaat wil hê, trou – moenie rondslaap nie:  “Maar vanweë die hoererye moet elke man sy eie vrou hê, en elke vrou moet haar eie man hê.  Die man moet aan die vrou die verskuldigde welwillendheid bewys, en net so ook die vrou aan die man.  Die vrou het nie mag oor haar eie liggaam nie, maar die man; en net so ook het die man nie mag oor sy eie liggaam nie, maar die vrou.  Onttrek julle nie aan mekaar nie, behalwe met wedersydse ooreenstemming vir ‘n tyd lank om julle aan vas en gebed te kan wy; en kom weer bymekaar, sodat die Satan julle nie in versoeking bring deur julle gebrek aan selfbeheersing nie...  ...maar as hulle hul nie kan beheers nie, laat hulle trou; want dit is beter om te trou as om van begeerte te brand. (1 Korintiërs 7:2-5, 9).

 

[3] Bid dat die Here jou help om teen seksuele sonde te veg (Efesiërs 6:18 staan in die konteks van geestelike oorlogvoering).

 

[4] Vlug vir seksuele sonde.  “En nadat sy met Josef dag ná dag gespreek het, en hy na haar nie wou luister om by haar te lê om met haar gemeenskap te hou nie, kom hy eendag in die huis om sy werk te doen terwyl niemand van die huisgenote binne was nie.  Toe gryp sy hom aan sy kleed en sê:  Kom hou gemeenskap met my.  Maar hy het sy kleed in haar hand laat agterbly en gevlug en na buite geloop.” (Genesis 39:10-12).  “Hou jou weg ver van haar af, en kom nie naby die deur van haar huis nie” (Spreuke 5:8).  “Vlug vir die hoerery.” (1 Korintiërs 6:18a).

 

[5] Hou jou tong in toom.  'n Mens kan maklik tot immoraliteit aangevuur word deur mense se vleiende en vuil woorde.  “Maar hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam; ook nie gemeenheid en dwase of lawwe praatjies wat nie pas nie, maar liewer danksegging.” (Efesiërs 5:3-4).

 

[6] Pasop vir die wêreld se versoekings deur musiek, films en ander vorme van vermaak (12:2).

 

[7] Vul jou gedagtes met goeie dinge (Filippense 4:8).  Onthou dat egbreuk in jou hart en gedagtes begin (Matteus 5:28).

 

[8] Raak ontslae van enigiets wat jou versoek om te sondig – selfs al vereis dit dat jy 'n groot opoffering moet maak:  “As jou regteroog jou dan laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie.” (Matteus 5:29).

 

[9] Dink aan die gevolge van seksuele sonde.  Die ergste gevolg is die hel (Hebreërs 13:4, Openbaring 21:8).

 

[10] Memoriseer die Skrif, want dit is jou swaard om teen versoeking te veg (Psalm 119:11, Efesiërs 6:17).

 

[11] Glo God se beloftes.  Jy kán hierdie sonde doodmaak:  “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.” (2 Korintiërs 7:1).  “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.” (2 Petrus 1:3-4).

 

[12] Onthou jou identiteit in Christus.  Jy is dood vir sonde en lewend vir God – jy hóéf nie te sondig nie (6:1-14).

 

[13] Die Heilige Gees is in jou, en daarom kan jy hierdie sonde doodmaak:  “as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe.” (8:13).

 

[14] God het genademiddele soos die nagmaal, geestelike gawes en kerktug gegee om ons te help om sonde te oorkom.

 

[15] Sorg dat jy die regte vriende het om jou aanspreeklik te hou:  “Maar vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit ‘n rein hart aanroep.” (2 Timoteus 2:22).

 

[16] Bly weg van mense en plekke wat jou sal laat struikel:  “Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.” (13:14).  “Onthou julle van elke vorm van kwaad.” (1 Tessalonisense 5:22).

 

[17] Lees goeie boeke oor die onderwerp.  Die beste boek tot my kennis is The Purity Principle van Randy Alcorn.

 

Omdat ons onsself liewer het as vir God, is seksuele sonde die verdiende loon waaraan God ons oorgee.  Tog is Hy baie barmhartig en het Hy self mens geword om ons verdiende straf op Homself te neem aan die kruis.  Dank Hom vir die verlossing wat joune geword het deur die geloof.  Bekeer jou van jou sonde en moenie verder teen Hom sondig nie.  Dink eerder daaraan dat jy een is met Christus.  Iemand wat met 'n prostituut slaap word een met haar, en probeer om vir Jesus een met haar te maak!  So stel Paulus dit in 1 Korintiërs 6:16-17:  “Of weet julle nie dat hy wat ‘n hoer aanhang, met haar een liggaam is nie?  Want die twee, sê Hy, sal een vlees wees.  Maar wie die Here aanhang, is een gees met Hom.”  Seksuele sonde is anders as ander sondes:  “Enige sonde wat ‘n mens doen, is buite die liggaam; maar wie hoerery bedryf sondig teen sy eie liggaam.” (1 Korintiërs 6:18b).  In Randy Alcorn se woorde:  “Sex is not just something you do; sex is someone you are.” (The Purity Principle, p.25).  Wat sê jou seksuele begeertes en gewoontes van wie jý is?

Kategorieë