Coram Deo Cover Image

Coming soon...

18 December 2021

Om God te ken

Johannes 1:18

Watter vrae word die meeste op Google gevra? Dinge soos:

What is my IP (internet protocol)?

What time is it?

How to tie a tie

How to lose weight

When is mothers day?

God is nie in die top tien van mense se vrae nie. Die Bybel sê: “daar is niemand wat God soek nie.” (Rom. 3:11).1 Soos Adam, Eva en die Israeliete, wil ons vir Hom wegkruip (Gen. 3:8, Eks. 20:18). Selfs Christene voel ongemaklik as ons by iemand staan wat baie heilig is. Ons nooi hom nie na die braai toe nie.

As die Here deur sy Woord, in gebed of tydens ’n erediens naby ons kom, trek ons terug in die skadus. Ons wil van Hom af wegkom. ’n Mens sien dit byvoorbeeld as mense week na week dadelik na die erediens in hulle karre klim en huistoe ry, omdat die Woord hulle gesny het. Hulle wil so gou as moontlik wegkom.

As ons maar net wil besef dat God ’n verhouding met ons wil hê en naby ons wil wees. Dit is hoekom Hy sy tent of tabernakel in die midde van sy volk wou hê. Ongelukkig kon hulle nie naby kom nie, omdat Hy heilig is. Hoe kon Hy dan ’n verhouding met hulle hê? Om te verhoed dat Hy sy onheilige volk vir hulle sondes tref, moes offerdiere in hulle plek sterf. Dit was maar net ’n voorskou van Jesus. Hy is die tabernakel wat by ons kom woon het (1:14, Gk.). Hy is ook die offer wat gekom het om in ons plek te sterf (1:29). Deur Hom kan ons die Vader ken:

“Niemand het God nog ooit gesien nie; die unieke Seun, self God, wat teen die bors van die Vader is, Hy het Hom bekend kom maak.” (Joh. 1:18).

 

1. Wie is Hy?

Heaven is for Real vertel die verhaal van ’n seuntjie wat gesterf het, hemel toe is en teruggekom het aarde toe. Volgens die seuntjie (wat vandag 22 is) is die Heilige Gees blou. Die Vader is groot en onbeskryflik. Jesus is ’n wit Europese man met blou oë. ’n Gelowige wat sterf, kry ’n stralekrans (Eng. halo) en vlerkies.

Gelukkig is hierdie kind se verbeelding nie die standaard van alle waarheid nie. Daarvoor het ons die Bybel. Geeneen van die dinge wat hy hierbo sê, staan in die Bybel nie. Die Heilige Gees is verseker nie blou nie en God die Vader is onsienlik—niemand het Hom gesien of kan Hom sien nie (v.18, 4:24, 6:46, 1Joh. 4:12, 1Tim. 1:17, 6:16).

Volgens Paulus is die hemel te wonderbaar om te beskryf (2Kor. 12:4). In Johannes se visioen van die hemel beskryf hy God se glans, maar nie vir God nie (Op. 4). Indien hierdie seuntjie dan vir God gesien het, kan hy ’n prentjie van Hom teken en word die tweede gebod onsin. God is onsigbaar en daarom mag ons nie ’n afbeelding van Hom maak nie (Deut. 4:12, 15). Om ’n afbeelding van God te maak, bring Hom tot op die vlak van ’n skepsel (Eks. 32, Hand. 17:29). Dit is een van die probleme met William P. Young se uitbeelding van God die Vader as ’n neger vrou in sy boek, The Shack. Dit is ook die probleem met Michelangelo en sommige Kinderbybels se uitbeelding van God as ’n ou man met ’n wit baard.

‘Maar wat van Dan. 7:9?’ wil iemand weet. “Ek het gekyk totdat trone opgestel is, en ’n Oue van Dae plaasgeneem het. Sy kleed was wit soos sneeu, die hare van sy hoof soos suiwer wol.” Daniël gebruik ’n antropomorfisme. Dit beteken eenvoudig dat God Homself in mensevorm uitbeeld, sodat ons Hom kan verstaan. God is nie regtig ’n ou man met wit hare nie. Daniël gebruik simboliese taal om iets van God se heiligheid en reinheid oor te dra.

Voor sy menswording het God soms in menslike vorm verskyn (vgl. Gen. 18, Rigt. 6, 13). Maar hier was dit die Seun wat die Vader bekend gemaak het (v.1, 18). As sulks is God onsienlik. Heidene en ateïste lag hiervoor. ‘Hoe kan julle in ’n onsigbare God glo wat ons nie met ons sintuie kan ervaar nie?’ (Ps. 115:2). My teenvraag sou wees: hoe aanbid jy ’n beeld wat jy met jou eie hande gemaak het en dan noem jy dit god? Hoekom glo jy in evolusie en die Big Bang as niemand dit gesien gebeur het nie?

God is so onsigbaar soos die wind. Tog sien ons die effek van sy werke. God is soos voetspore. Al het ons nie gesien wie die voetspore maak nie weet ons iemand het daar geloop. Net so is daar duidelike bewyse vir die bestaan van ’n onsigbare God. Die skepping getuig van sy intelligente ontwerp (Rom. 1:19-21). Vir alles is daar ’n oorsaak en ’n gevolg. ’n Boom ontstaan uit ’n saad wat van ’n boom af kom en so aan. Êrens moes dit begin het (Gen. 1).

Die feit dat daar iets soos reg en verkeerd is, getuig dat daar ’n Wetgewer is. Ons gewete getuig ook daarvan. Ons weet wat reg en verkeerd is (Rom. 2:14-15).

Bowenal openbaar die onsigbare God Homself in sy Seun. Jesus was ’n historiese Persoon. Daar is honderde getuies wat sy wonderwerke, lering, kruisdood en liggaamlike opstanding bevestig. Wie sê dat hulle die feite nie gefabriseer het nie? Ons weet, omdat Jesus hulle lewens omgekeer het (bv. Paulus in Handelinge 9). Hulle was so oortuig van die waarheid van Jesus dat baie van hulle daarvoor gesterf het (bv. Hand. 7:54-60, 12:2, Op. 2:13). Jesus het nie net gesê dat Hy die onsienlike God is nie, maar Hy het dit deur sy opstanding bevestig. Is jy ’n ongelowige wat dit betwyfel? Lees Matteus tot Johannes. Moenie bevooroordeeld wees op grond van wat ander vir jou gesê het nie. Lees die Bybel vir jouself. Is jy ’n gelowige wat by tye wonder of Jesus en die Bybel regtig waar is? Lees Matteus tot Johannes. Jy sal sien dat dit histories, logies en die reine waarheid is.

Jesus is wie Hy sê Hy is, naamlik die onsienlike God wat mens geword het. Indien die selfverklaring van Jesus vals is, is Hy ’n narsis of ’n mal mens. Om te sê jy is die Seun van God, terwyl jy dit nie is nie, beteken dat jy ’n obsessie met jouself het. Wat my betref is daar meer as genoeg bewyse dat Jesus die waarheid praat. Volgens die Bybel is Hy die onsienlike God wat mens geword het (v.1, 14, 5:17-29, 10:30, 33, 36, 17:5, 20:28, 8:58, Eks. 3:14, Fil. 2:6-7, Kol. 2:9). Hy is die enigste ware God net soos die Vader die enigste ware God is (v.18, 17:3, 1Joh. 5:20). Duidelik is Hy en die Vader (en die Gees) een en dieselfde God (v.1, 18, Deut. 6:4, Jes. 45:5, Matt. 28:19). Tog is hulle verskillende Persone (v.1, 18, Matt. 3:16-17).

Die Griekse woord vir ‘enigste God’ (monogenēs) kom van twee woorde wat een (monos) en soort (genos) beteken. Jesus is die een of enigste van sy soort (v.18, 14, 3:16, 1Joh. 4:9). Daar is niemand soos Hy nie. Net die Seun is van ewig af deur die Vader verwek (Ps. 2:7) en het ’n mens geword (v.14). Ons kan dit nie eers van die Vader of die Heilige Gees sê nie. Gevolglik moet ons nie bid: ‘Vader, dankie dat U aarde toe gekom het om vir ons te sterf’ nie. Om so te bid is vals lering.

***

Johannes sê verder dat Jesus teen die Vader se bors is (v.18, Gk. kolpos). Wat beteken dit? Toe Jesus die nagmaal ingestel het, het Johannes teen sy bors gelê (13:23, 21:20, 24). Dit getuig van ’n besondere liefde en vriendskap. Net so is daar ’n besondere band en vriendskap tussen die Vader en die Seun (v.18). Hulle het mekaar lief. Hulle geniet volmaakte gemeenskap met mekaar. Hulle deel alles en weet alles van mekaar. Die Gees dra die Vader en die Seun se liefde, vriendskap en gemeenskap aan mekaar oor net soos wat Hy dit met ons doen (vgl. Rom. 5:5, 2Kor. 13:13, 1Joh. 1:3).

Is daar niks in jou wat sê: ‘Ek wil hierdie God waarlik ken—nie soos ek geskiedkundige datums vir ’n toets ken nie, maar soos ek my beste vriend ken’? Jy kan Hom ken en naby Hom leef. Deur sy Gees plant Hy sy lewe in jou en maak Hy jou deel van die gemeenskap wat daar in die Drie-Eenheid bestaan (17:21, 23, 26, 14:17, Gal. 2:20, Ef. 3:19, Kol. 3:3, 2Pet. 1:4).

Hoe kry ’n mens hierdie lewe en gemeenskap met die Vader, die Seun en die Heilige Gees?

 

2. Hoe kan ons Hom ken?

Toe ek ’n student was, het ons geleer om eksegese te doen. Eksegese verwys na die ontleding van ’n Bybelteks om uit te bring wat in die teks staan. Aanvanklik het ek ander se kommentare gebruik om ’n gegewe teks te verstaan. Toe ek in my vierde jaar kom, het ek vir die eerste begin om die teks vir myself te ontleed.

Jesus ontleed die Vader (v.18). Die Griekse woord (exēgeomai) beteken dat Hy die Vader deeglik of heeltemal uitbring, verduidelik, ontvou, verklaar of uitlê (v.18). Niemand kan ons hierdie kennis van God leer nie; net Jesus (v.18). Niemand ken die Vader beter as Hy nie, omdat Hy van ewig af een is met die Vader, ’n intieme verhouding met Hom het en teen sy bors is (v.18, 1-2). Hy alleen ken Vader ten volle deur sy Gees (Matt. 11:27, 1Kor. 2:10-11).

Deur die geskiedenis het Jesus die Vader bekend gemaak. Toe God die wêreld geskep het, was Jesus die Woord wat sy bevele uitgevoer het (v.1-3, Gen. 1:3, 14, 16, Heb. 11:3). Jesus is die Engel van Here van wie ons in die Ou Testament lees. Ek bedoel nie dat Hy ’n gewone engel is nie. Engel beteken boodskapper. Jesus is die boodskapper of Woord wat die Vader openbaar (v.1). Dit is Hy wat in Gen. 3:8 in die tuin van Eden gewandel het. Dit is Hy wat in die brandende bos aan Moses verskyn het. Dit is Hy wat van Sinaï af met die volk gespreek het. Dit is Hy wat met die profete gepraat het: ‘So spreek die Here...’ Dit is Hy wat in die tempel aan Jesaja verskyn het. Hoe weet ek dit? Ek weet dit, omdat Jesus die Woord is wat die Vader bekend maak (v.1, 18).

Omdat ons beperk is, wys Jesus ons nie alles van die Vader nie (Deut. 29:29, Ps. 145:3, Spr. 25:2, Rom. 11:33-34). Hy openbaar net wat die Vader vir Hom gesê het (12:49-50). In die Nuwe Testament openbaar Hy meer as in die Ou Testament (v.14, 18). In Jesus sien ons ’n spieëlbeeld van die Vader (v.18, Spr. 27:19, Kol. 1:15). Hy is die presiese afdruksel van die Vader (Heb. 1:3). Derhalwe kan ons nie sê dat almal dieselfde God aanbid nie. Sonder Jesus sien mense nie die Vader nie en is dit onmoontlik om Hom te ken (v.18, Joh. 14:6). Dit geld ook vir die Jode. Moet daarom nie die idee kry dat Jode die Vader aanbid, terwyl hulle die Seun verwerp nie. Wie die Seun verwerp, het ook nie die Vader nie (1Joh. 2:23). Selfs in die hemel kan ons die Vader net deur Jesus ken (v.18, 14:9-11, 1Tim. 2:5, Matt. 5:8, Op. 22:4).

Hoe het Jesus vir ons die Vader gewys toe Hy op aarde was?

 

[a] Jesus se lering

Jesus het ons van die Vader vertel. Die Vader is heerlik, liefdevol, volmaak, ’n beloner, alwetend, verhewe, goed en nog meer (Matt. 5:16, 45, 48, 6:4, 8-9, 26, 7:11, 21). Toe die Vader sy Seun aarde toe stuur, toe was dit asof Hy sê: ‘Gaan aarde toe en sê vir die mense wie Ek is.’ Elke gelowige benodig ’n akkurate beeld van God as ons Vader. Ons het dit nodig, omdat ons van nature ’n harde beeld van God het. Dit sal veral die geval wees as jou aardse pa sleg was en jy hierdie beeld op God projekteer. Vir ’n korrekte beeld van God benodig ons Jesus se lering deur God-gesentreerde prediking.

 

[b] Jesus se Name

Jesus se Name som sy Persoon en verlossingswerk op. Calvyn het ’n drievoudige opsomming toe hy Jesus as ’n Priester, Profeet en ’n Koning beskryf.2 As Priester het Jesus Homself vir ons sondes geoffer en tree Hy vir ons in by die Vader (1:29, Heb. 5:5-6, 7:26, 9:26, 10:10, 14). As Profeet openbaar Hy die Vader se Persoon en sy wil (v.1, 18, 15:15). As Koning regeer Hy oor alles en beskerm Hy ons teen die vyand (Matt. 28:18, 1Kor. 15:25, Op. 19:16).

In sy drievoudige amp is Jesus ’n refleksie van die Vader. As Priester het die Vader sy Seun vir ons sondes geoffer (Rom. 8:32). As Profeet openbaar die Vader die Seun aan ons (Matt. 16:17, Gal. 1:16). As Koning regeer die Vader oor alle dinge (1Kor. 15:24, 28, Op. 4-5).

Deur ons verbondenheid met Jesus is elke gelowige ’n priester, profeet en ’n koning. As priesters bring ons geestelike offers vir die Vader (Rom. 12:2, Heb. 13:15-16, 1Pet. 2:5, Op. 8:3-4). As profete leer ons God se wil vir ander (Hand. 2:17-18, Matt. 28:19-20, Rom. 15:14). As konings regeer ons saam met Christus in die hemel en oor die nuwe aarde (Ef. 2:6, Op. 3:21, 5:10).

 

[c] Jesus se karakter

Een voorbeeld is genoeg. Jesus het ’n groot liefde vir kinders (Matt. 18:2, 19:13-15). Hierin is Hy soos die Vader wat kinders liefhet (Eseg. 16:20-21) en ons as sy kinders aanneem (Gal. 4:5-7, 1Joh. 3:1). Laat ons die Vaderhart van God weerspieël deurdat ons kinders liefhet en hulle nie laat struikel nie (Matt. 18:5-6). As Christene moet ons nie politieke partye ondersteun wat aborsie goedkeur nie. Moenie kinders mishandel of nalaat om hulle van God te leer, deurdat jy huisgodsdiens en kerkbywoning afskeep nie. Moenie meer van jou kinders se akademie, sport en toekoms maak as van hulle geestelike welstand nie. Anders gee jy hulle ’n hupstoot oor die afgrond. Hiervoor sal die Here jou aanspreeklik hou. Voed hulle eerder op in die Here se weë (Spr. 22:6, Ef. 6:4). Leer hulle van die Vader en die Seun se liefde vir hulle.

 

[d] Jesus se werke

Hier wil ek twee voorbeelde gee. Jesus het Lasarus uit die dood opgewek (Johannes 11). Aan die kruis het Jesus Homself vir ons sondes gegee. Soos Jesus lewe gee en sy lewe vir ons gegee het, gee die Vader lewe (5:26, 6:57). Moet asseblief nie dink dat die Vader dit geniet om mense te straf nie (Eseg. 18:32). Die waarheid is dat Hy dit geniet om vir hulle lewe te gee (3:16, 1Tim. 2:4). Dit behoort jou te help as jy dink dat God jou of jou verlore geliefdes nie wil red nie. Jesus se gewilligheid om te red, wys dat die Vader net so gewillig is. Ons weet dit omdat Jesus ’n replika van die Vader is en die Vader se hart aan ons bekend maak (v.18).

Wil jy hierdie God ken? Ken sy Seun deur die geloof, die Woord en gebed. “As julle My leer ken het, sal julle ook my Vader ken. En van nou af ken julle Hom, en het Hom reeds gesien.” (14:7). Die kennis van God is die basis vir ons kennis van self, ander mense, die oorsprong van alles, die doel van die lewe, die geskiedenis, wat in die wêreld aangaan en alle ander kennis. Sonder God is jou verstaan van ander dinge onvoldoende en verdraaid. Niks in hierdie lewe of die volgende is belangriker as om God te ken nie. En dit kan jy net deur Jesus doen (v.18, Fil. 3:8, 2Pet. 3:18). Maak Graham Kendrick se gebed jou eie:

Now my heart’s desire is to know You more
To be found in You and known as Yours
To possess by faith what I could not earn
All-surpassing gift of righteousness.

Knowing You, Jesus
Knowing You
There is no greater thing
You’re my all, I confess
You’re my joy, my righteousness
And I love You, Lord.


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

2  John Calvin, The Institutes of the Christian Religion, Book II, ch. 15 (verkry by https://www.ccel.org/ccel/calvin/institutes.iv.xvi.html). Sien ook https://www.monergism.com/thethreshold/sdg/threefold_sproul.html

Kategorieë