Waar het die idee van Kersvader ontstaan? In die vierde eeu was daar ‘n biskop van Mira genaamd Nicholas. Toe hy jonk was het hy groot rykdom geërf toe sy ouers dood is. Hy het met vrygewigheid aan die armes uitgedeel. Op 6 Desember 326 n.C. is hy dood.[1] ‘n Ander teorie sê dat daar in die sesde eeu, in die tyd van keiser Justinian, ‘n Nicholas van Sion gelewe het. As ‘n huldeblyk aan die vrygewige Nicholas van Mira, het Nicholas van Sion op 6 Desember geskenke aan kinders uitgedeel.[2] In Nederland het hulle hom Sante of Sinter Klaas genoem. Vandaar die naam Santa Claus. Ongelukkig het ons hom verafgod, sodat Kersfees oor hóm gaan en nie oor Jesus nie. Die punt is eenvoudig dít: soos Nicholas van Mira moet ons vrygewigheid nie tot een dag in die jaar beperk wees nie. Om ons aan te spoor om deurgaans te gee gebruik Paulus in 2 Korintiërs 8:9 twee motiverings.
Ons ervaring
Hou jou kinders daarvan om by SPUR te eet? Die meeste van hulle weet nie wat die naam beteken nie. Die Afrikaanse woord is ‘spoor’ en verwys na ‘n klein metaal wieletjie agter op die hak van cowboys se stewels. Dit is die ‘chink chink chink’ geluid wat jy op films hoor wanneer ‘n cowboy in ‘n kroeg instap. Hulle het die punte van die wieletjie teen die perd se sy gedruk om hom te laat hardloop of om hom in ‘n sekere rigting te lei.
Die arm Christene in Jerusalem het hulp nodig gehad. Die gemeentes in die noordelike en suidelike provinsies[3] van Griekeland het ingestem om ‘n bydrae te maak. Paulus het die gemeentes (onder andere Korinte in die suide) besoek om die geld te ontvang en Jerusalem toe te neem. Om die Korintiërs aan te spoor (‘spur’!) om te gee het hy die voorbeeld van die brandarm Macedoniërs gebruik, “dat onder baie beproewing deur verdrukking hulle oorvloedige blydskap by hulle diepe armoede oorvloedig was in hulle ryke milddadigheid.
Want hulle was na vermoë—ek betuig dit—ja, bo vermoë gewillig, en het ons met groot aandrang gesmeek dat ons hulle gawe en hulle deel in die diensbetoning aan die heiliges moet ontvang; en het nie alleen gedoen soos ons verwag het nie, maar het hulself eers aan die Here gegee, en toe aan ons deur die wil van God” (v.2-5).
Dit was ‘n goeie spoor, maar was dit sy mees effektiewe spoor? Hoe kon hy die Korintiërs aanspoor om vir die armes te gee? Sou hy die wet gebruik en sê dat hulle, soos die Jode in die Ou Testament, ‘n tiende moet gee? Blykbaar nie: “Ek sê dit nie as ‘n bevel nie” (v.8). Genade is ‘n beter spoor: “Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus” (v.9). Die Korintiërs het ‘n intieme kennis en ervaring van God se genade gehad. Hulle het teen God gerebelleer, gelewe asof Hy nie bestaan nie. En tog het Hy sy Seun gestuur om die straf te kry wat hulle verdien het. Jesus het ewige lewe en vrede vir hulle gegee – verniet. Nou was Hy húlle Here Jesus Christus (v.9). Die Griekse werkwoord ‘ken’ staan in ‘n voortdurende tydsvorm en dui aan dat hulle aanhoudend sy genade ervaar het. Kan enigiemand dié genade ervaar en nié aan ander genade bewys nie? Selfs meer as dit: dié genade het hulle harte verander en instaat gestel om ander lief te hê en te gee (v.9, 1).
Laat God se genade jou aanspoor om genadig met ander te wees, sodat jy met ‘n oop hand gee. Kan jy genadig wees as jy self nog nie God se genade ervaar het nie? Om sy genade te smaak moet jy eers besef dat jy ‘n groot sondaar en Hy ‘n groot Verlosser is. Besef dat God jou sonde haat en dat Jesus jou enigste hoop is. As jy jou bekeer sal jy sy genade ontvang en vergewe word. Hoe moet jy op sy genade reageer?
[1] Laat sy genade, nie die tiende-wet nie, jou dryf wanneer jy vir sy werk gee.
[2] Deel die genade wat jy ontvang het, met ander. Deel dit onder andere deur die evangelie vir ander te vertel.
[3] Jy het teen God gesondig en tog was Hy genadig om jou te vergewe. Wees só genadig met die wat teen jóú sondig: “vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.” (Efesiërs 4:32).
[4] Gee uit die bloute vir iemand ‘n geskenk, al het sy of hy dit nie verdien nie. Kersgeskenke is ‘n goeie voorbeeld.
Hoekom sê die Bybel dat God se genade jou moet motiveer om te gee? God sê so omdat net genade jou hart kan verander. Die wet kan dit nie regkry nie. Daarom weet nét gelowiges hoe om vir hulle vyande te gee. Jesus het gesê:
“En as julle dié liefhet wat vir julle liefhet, watter dank het julle? Want die sondaars het ook dié lief wat vir hulle liefhet. En as julle goed doen aan die wat aan julle goed doen, watter dank het julle? Want die sondaars doen ook dieselfde. En as julle leen aan dié van wie julle hoop om terug te ontvang, watter dank het julle? Want die sondaars leen ook aan die sondaars, om net soveel terug te ontvang. Maar julle moet jul vyande liefhê en goed doen en leen sonder om iets terug te verwag, en julle loon sal groot wees; en julle sal kinders van die Allerhoogste wees; want Hy self is goedertieren oor die ondankbares en slegtes. Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is.” (Lukas 6:32-36).
Sy voorbeeld
Chris was die eerste boer wat ‘n biljoenêr geword het. Sy bankrekening is $15 biljoen sterk. Op ‘n dag het hy besluit om sy boerdery, geld, en rykdom te los om Indië toe te trek. Hy het tussen die armstes gaan woon en soos hulle geleef. Dít het hy gedoen om hulle te leer om te boer, sodat hulle ryk kon word.
Hierdie kort gelykenis gee vir ons ‘n idee van wat Jesus vir ons gedoen het. Jesus is die Seun van God. Hy is die Here. Hy het die ewige skatte van die hemel gehad. Sy woorde was: “Alles wat die Vader het, is myne” (Johannes 16:15). “En nou, Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was.” (Johannes 17:5). God het Hom “as erfgenaam van alles aangestel” (Hebreërs 1:2). Uit liefde vir ons het Hy sy hemelse heerlikheid verlaat. Beteken dit dat Hy vir 33 jaar opgehou het om God te wees? Het Jesus tydens sy aardse lewe opgehou om alomteenwoordig, almagtig, en alwetend te wees? Hoe het Hy die storm stilgemaak as Hy nie almagtig was nie (Matteus 8:27)? Hoe het Hy die Fariseërs se gedagtes geken as Hy nie alwetend was nie (Matteus 9:4)? Hoe kon Hy sê: “waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde... Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Matteus 18:20, 28:20), as Hy nie alomteenwoordig was nie? Ja, in sy menslike natuur kon Hy nie hierdie dinge doen nie. Maar in sy Godheid het en kon Hy dit altyd doen. Jesus het nooit opgehou om God te wees nie. Maar Hy het sy hemelse heerlikheid verlaat en aarde toe gekom om ons te red.
Jesus het soos ons geword: arm. Dít is wat die mens in sy sondige toestand is. Jesus het ons sondige vlees op Homself geneem (Romeine 8:3). Dit beteken nie Hy het gesondig nie, maar dat Hy die gevolge van die sondeval in sy liggaam gevoel het. Hy het moeg geword, pyn ervaar, hartseer geword, honger gehad, en gesterf. Die wêreld het Hom nie verwelkom nie. As baba is Hy in ‘n krip neergelê. Hy was arm en het soos ‘n misdadiger gesterf. “Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.” (Filippense 2:6-8).
Omdat Hy ons ‘armoede’ op Homself geneem het, kan ons die heerlikheid en rykdom van die hemel erf:
- “en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.” (Romeine 8:17).
- “Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle; of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge—alles behoort aan julle; maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.” (1 Korintiërs 3:21-23).
- “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus” (Efesiërs 1:3).
- “die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus” (Efesiërs 3:8).
- “Luister, my geliefde broeders—het God nie die armes van hierdie wêreld uitverkies as rykes in die geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie?” (Jakobus 2:5).
- “sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons” (1 Petrus 1:4).
Gee soos Jesus. Hoe is dit? Moenie net oor kerstyd gee, slegs vir geliefdes gee, net gee as jy dit kan bekostig, of mededeelsaamheid tot geld beperk nie. Gee jouself vir die Here en vir ander. Gee geskenke. Kan jy jou vaardighede, tyd, energie, en gebede gee om ander te help? Dalk kan jy jou oor gee om na iemand se hartseer of probleme te luister. Laat Jesus se krip en kruis jou dryf om met opoffering te gee, sodat verlore sondaars ewige rykdom mag beërwe (6:10). Vir party sal dit prakties beteken hulle moet alle aardse rykdom los, en die evangelie Indonisië toe vat, sodat verlore sondaars ryk kan word.
Hoekom moet jy Jesus se voorbeeld hierin volg? Laat die Skrif antwoord:
“Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het... Hieraan het ons die liefde leer ken, dat Hy sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê. Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom? My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid.” (1 Johannes 2:6, 3:16-18).
R.G. LeTourneau het in graad 6 skool verlaat. Later in sy lewe het hy skatryk geword. Hy het die wêreld se nommer 1 grondverskuiwings besigheid gehad. Hy het 90% van sy inkomste vir die verspreiding van die evangelie gegee, en op 10% gelewe. Hy het in sy Here se voetspore gevolg en gegee, sodat ander die rykdom van die hemel kon geniet. Is dit nie waaroor Kersfees, nee Christenskap, gaan nie: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun GEGEE het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Johannes 3:16)?
[1] http://calledconvictedconverted.com/tag/santa-claus/
[2] Alvin Schmidt, How Christianity Changed the World, p.393
[3] Macedonië en Agaje