“Bid sonder ophou.” (1 Tessalonisense 5:17).
'n Man wat eenkeer saam met die Spurgeon in die veld gestap het vertel hoe hy gemaklik kon gesels en dadelik oorskakel in gebed. “Vir hom was gebed so natuurlik soos asemhaling”, het die man gesê. George Müller was bekend as 'n man van gebed en het letterlik oor alles gebid. Soos sy pa, was John Welch se seun 'n man van gebed. Hy was besig om te bid toe hy op sy knieë dood gevind is op 'n rots in die see. Een bekende prediker het gesê dat hy nooit vir langer as 5 minute bid nie, maar dat hy nooit vir meer as 5 minute sonder gebed is nie.
In v.17 sê Paulus: “Bid sonder ophou.” Dit beteken nie dat jy nooit iets anders mag doen as bid nie. Dit beteken eerder:
- Volhard in gebed (Lukas 18:1, Efesiërs 6:18, Kolossense 4:2).
- Jy moet aanhou bid totdat Jesus kom (Lukas 18:7-8).
- Bid konstant (Rom.12:12). Moenie vir twee maande ernstig bid en dan vir drie maande glad nie bid nie.
- Bid oor alles – selfs oor jou sleutels wat weg is (Filippense 4:6).
- Vul die leë oomblikke in jou dag op met gebed (Nehemia 2:4). Bid wanneer jy in die verkeer sit, wanneer jy vir 'n uur by binnelandse sake sit, en wanneer jy moet aanhou op die telefoon.
- Soos Jesus moet jy 'n lewe van gebed lei (Hebreërs 5:7).
- Moenie die gebedstye in jou kerk laat doodloop nie (Paulus sê in v.17 vir 'n kerk dat hulle moet bid sonder ophou). Soos die vroeë kerk moet gemeentes vandag hulself toewy aan gesamentlike gebed (Handelinge 1:14, 2:42).
Paulus het nie net vir ander gesê om te bid sonder ophou nie; hy het dit self gedoen. In hierdie eindste brief lees ons: “Ons dank God altyd oor julle almal as ons aan julle dink in ons gebede” (1:2). “Daarom dank ons God ook sonder ophou...” (2:13). “terwyl ons nag en dag baie ernstig bid om julle aangesig te sien en te voltooi wat aan julle geloof ontbreek” (3:10). Vir die Romeine sê hy: “Want God wat ek in my gees dien in die evangelie van sy Seun, is my getuie hoe ek onophoudelik aan julle dink” (Romeine 1:9). In al sy briewe en in Handelinge sien ons hoe hy aanhoudend bid.
Ek kon aan ten minste veertien omstandighede dink wat ons kan versoek om op te hou bid: [1] As jy vir lank gebid het en geen antwoord gekry het nie. [2] As jy twyfel in jou geloof, God, sy beloftes, en sy Woord. [3] As jy seergemaak of verlaat is deur 'n Christen vriend. [4] As jy baie intense lyding of vervolging ervaar. Jy wonder: “Hoekom laat God dit toe? Hoekom het Hy dit nie verhoed nie? Hoekom het hy my nie uitgehelp nie?” [5] As jou beproewing uitgerek word, sodat jy vir maande of selfs jare swaarkry. [6] As dit baie goed gaan. Jy bid nie omdat jy dink: “...Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie...” (Openbaring 3:17). [7] As jy bid maar geen sigbare of onmiddellike beloning sien nie. [8] As jy aanhoudend misluk. [9] As jy God se nee-antwoord jou teleurstel. [10] As jy depressief is. [11] As jy moeg en uitgeput is. [12] As jy te besig is en dink jy het nie tyd om te bid nie. [13] As jy leeglê. Luiheid is gif. [14] As jy angstig is. Die beste manier om teen biddeloosheid te veg is om jou sonde te bely, vir hulp te bid, te lees wat die Bybel oor gebed sê, en om teen jou vyand te veg met die geestelike wapenrusting (Efesiërs 6:10-18). Pasop vir die bogenoemde strikke en gehoorsaam v.17: Bid sonder ophou.