Die Assiriese koning Sanherib en sy weermag het Jerusalem omsingel. Hy het gespog omdat hy baie ander nasies en hulle gode vernietig het. ‘Wat laat julle dink júlle God sal my keer?’ het hy vir Hiskia, die koning van Juda, gesê. ‘Ek sal Jerusalem verwoes soos ek baie ander stede verwoes het.’ Hiskia was bang en het tot die Here gebid. God het sy gebed beantwoord. Die volgende oggend het 185 000 Assiriese soldate se lyke om Jerusalem gelê: 'n engel het in die nag gekom en hulle doodgemaak. Sanherib het stert-tussen-die-bene teruggekeer na sy land toe. Terwyl hy besig was om in die tempel van sy god te aanbid, het sy eie seuns hom vermoor.
Dit is waarskynlik met hierdie agtergrond in gedagte wat ons Psalm 46-48 moet lees. Luister wat skryf die Koragiete in Psalm 46:
“1 Vir die musiekleier. Van die kinders van Korag. Met sopraanstemme. ‘n Lied. 2 God is vir ons ‘n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef. 3 Daarom sal ons nie vrees nie, al waggel die aarde en al wankel die berge weg in die hart van die see. 4 Laat sy waters bruis, laat hulle skuim; laat die berge bewe deur sy onstuimigheid! Sela. 5 Die stroompies van ‘n rivier maak die Godstad bly, die heiligste van die woninge van die Allerhoogste. 6 God is daar binne-in, dit sal nie wankel nie; God sal dit help as die dag aanbreek. 7 Nasies het gebruis, koninkryke het gewankel; Hy het sy stem verhef; die aarde bewe. 8 Die HERE van die leërskare is met ons; die God van Jakob is ‘n rotsvesting vir ons. Sela. 9 Kom, aanskou die dade van die HERE, wat verskriklike dinge oor die aarde bring, 10 wat die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde, die boog verbreek en die spies stukkend slaan, die strydwaens met vuur verbrand. 11 Laat staan en weet dat Ek God is; Ek sal hoog wees onder die nasies, hoog op die aarde. 12 Die HERE van die leërskare is met ons; die God van Jakob is ‘n rotsvesting vir ons. Sela.” (Psalm 46).
God is rondom ons (v.2-4)
In die ou dae sou soldate skuiling vind agter 'n rots of in 'n kliptoring. 'n Eeu of wat gelede het soldate forte gebou. Vandag gebruik party mense sandsakke. Die Psalmis sê dat sy volk nie hulle vertroue in torings, stadsmure of ander vestings moet stel nie. God is hulle beskutting. Hý is hulle toevlug en sterkte (v.2). Dawid sê: “So is die HERE dan ‘n rotsvesting vir die verdrukte, ‘n rotsvesting in tye van benoudheid.” (9:10). En Salomo: “as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.” (127:1). “Die Naam van die HERE is ‘n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.” (Spreuke 18:10).
Ek het op 'n TV program gesien hoe mense 'n staal en papier borsharnas toets. Die papier (wat deur Chinese soldate gebruik is) het net so effektief gewerk die soos staal harnas. Ons kan ook sê dat die Here (soos die harnas) getoets is (v.2). Daarom weet ons Hy is betroubaar en kán ons help. Hy wíl ons ook help; Hy is naby en beskikbaar om ons te help (v.2, ESV). Moenie op jou eie krag staatmaak wanneer die vyand jou omsingel nie. Die Hére is jou sterkte (v.2). Wees sterk in die Hére en die heerlikheid van sý sterkte; beklee jou met die volle wapenrusting van Gód (Efesiërs 6:10, 13).
As jy 'n ongelowige is het hierdie teks ook iets vir jóú te sê. God is nie jou toevlug nie, en daarom is jy onbeskut. Jy is veral onbeskut van die grootste gevaar wat jou bedreig, naamlik God self. Jy moet jou toevlug in God vind deur Jesus Christus. Dit werk amper so iets: in Skotland hou hulle kompetisies om te kyk wie kan 'n swaar klip die verste kan gooi. Dit het eenkeer gebeur dat 'n klein dogtertjie op die speelveld geloop het net toe ‘n deelnemer ie klip gegooi het. Die klip was reguit oppad na die dogtertjie toe. 'n Yslike man het gehardloop en sy rug en arms bo-oor die dogtertjie gesit om haar te skerm. Die klip het op sy rug en skouers geval. Hy het baie seergekry, maar die dogtertjie was onbeskadig. Dít is wat Jesus gedoen het. Ons het teen God gesondig en verdien dat sy oordeel en straf op ons moet val. Uit liefde vir ons het God sy Seun gestuur om ons straf op Homself te neem. Ons liefdevolle Here Jesus het ingestem om dit te doen. Hy wóú dit graag doen om óns te red en sy Vader tevrede te stel. Hy het die volle straf gedra vir die sondes van almal wat in Hom sou glo. God sê jy moet jou sonde haat, regtig jammer wees daaroor en ophou daarmee. Jy moet met jou hele hart vertrou dat Jesus God is en 'n mens geword het; dat Hy volmaak gehoorsaam was aan sy Vader, namens ons die straf vir sonde gedra het aan die kruis, begrawe is en opgestaan het uit die dood. As jy dít doen, dan sal jy gered word. Vra met erns dat Hy jou sal red. Hy sal jou nie weier nie. “Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” (Romeine 10:13). “Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” (Johannes 6:37).
Jy hoef nie bang te wees nie Christen; al slaan die golwe om jou en al skud die aarde (v.3-4, cf. Markus 4:40). Jesaja sê: “Want berge mag wyk en heuwels wankel, maar my goedertierenheid sal van jou nie wyk en my vredeverbond nie wankel nie, sê die HERE, jou Ontfermer.” (Jesaja 54:10). Die vyand kan niks aan jou doen nie, maar is soos 'n golf wat in die verte raas en skuim. Jy hoef nie te vrees nie: al tref natuurrampe jou, al gee jou gesondheid in, al lyk die toekoms onseker, al pla jou verlede jou, al lyk die ekonomie bleek, al val Satan jou aan; al is die dood op jou hakke, al begrawe jy 'n geliefde; al tref beproewing jou familie (werkloosheid, finansiële probleme, rebelse kinders, huweliksprobleme), al is jy 'n slagoffer van onreg, al dreig mense jou, ja, selfs al staan jy voor die Hemelse Regter. Jy is verenig met Jesus, en daarom is jy veilig. God is jou Beskermer wat soos 'n muur rondom jou is: “Die Engel van die HERE trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit.” (34:8).
God is met ons (v.5-8)
In die tuin van Eden was daar riviere wat lewe en verfrissing gebring het (Genesis 2:10), en in die stad van God is daar koel waterstrome wat dieselfde doen: “Die stroompies van ‘n rivier maak die Godstad bly, die heiligste van die woninge van die Allerhoogste” (v.5). “En hy het my getoon ‘n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam. In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies.” (Openbaring 22:1-2).
In Jerusalem het die watertoevoer van buite die stad gekom (2 Konings 18:17). Vyande sou partykeer die watertoevoer afsny om die mense binne die stad uit te lok. Die hemelse Jerusalem het duidelik nie daardie probleem nie, want in die eersteplek is daar nie vyande nie, en tweedens loop die rivier deur die stad.
Ten spyte van die see wat om ons woel (v.4), gee God 'n rivier van lewe en vrede vir die inwoners van sy stad (v.5). Ons kan dus lewe en vrede hê in die midde van die vyand wat ons omsingel. Só beskryf die Bybel hierdie dinge:
“Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.” (23:2).
“Hulle verkwik hul aan die vettigheid van u huis, en U laat hulle drink uit die stroom van u genietinge. Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig.” (36:9-10).
“maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” (Johannes 4:14).
“Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.” (Filippense 4:4-7). Paulus sit in die tronk wanneer hy hierdie brief skryf. Let op hoe hy rustig drink uit die rivier van God se vrede wanneer die storms rondom hom woed.
Hoe kan jy hierdie vrede in die midde van storms kry?
- Sing van God se beskerming en verlossing (v.1, 'n Lied).
- Onthou hierdie Psalm – veral v.2, 6, 8.
- Glo die beloftes van die Bybel.
- Leer uit die lewens van ander gelowiges wat veilig deur moeilike tye is. Let veral op hoe Jesus 'n aaklige kruisdood kon verduur, omdat sy oog gevestig was op die hemelse heerlikheid wat kom (Hebreërs 12:1-2, Kolossense 3:1).
- Dank God eerder as om te kla.
- Glo dat God soewerein en heeltemal in beheer van die slegte omstandighede is.
- Bid. Stort jou hart voor die Here uit.
God is met jou (v.6, 8). Al gaan jy ook deur die dood self, kan jy sê: “Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.” (23:4). God se belofte in Jesaja 43:1-2 geld ook vir jou: “Maar nou, so sê die HERE, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere—hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.” Jesus is mos Immanuel, God met ons (Matteus 1:23). Hy het ons verseker: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” (Matteus 28:20).
Daarom hoef jy nie bang te wees nie. Soos God die Assiriese weermag in hulle slaap oorval het (2 Konings 19:35), sal Hy ons vyande onverwags platvee: “God sal dit help as die dag aanbreek” (v.6). Daar het jy dit: die dag sal weer aanbreek. Dit sal nie vir ewig 'n donker nag bly nie. Die son sal weer skyn: “saans vernag die geween, maar smôrens is daar gejuig.” (30:6). Die son het weer opgekom na die donker nag van Golgota (Matteus 27:46, 28:1). En na die donker nag van hierdie lewe op aarde, sal die Dag van Jesus se wederkoms aanbreek (2 Petrus 2:19). Al wankel die nasies en die aarde (v.3-4, 7, 2:1-2), ons sal nie (v.6). Moenie vrees as nasies en diktators raas nie. God se stem sal hulle soos pionne laat kantel:
“Nasies het gebruis, koninkryke het gewankel; Hy het sy stem verhef; die aarde bewe.” (v.7). ”En die HERE verhef sy stem voor sy leërmag uit; want geweldig groot is sy leër, ja, magtig die uitvoerder van sy woord. Want die dag van die HERE is groot en uitermate vreeslik, en wie kan dit verdra?...En die HERE brul uit Sion, en uit Jerusalem verhef Hy sy stem, sodat hemel en aarde bewe. Maar die HERE sal ‘n toevlug wees vir sy volk en ‘n skuilplek vir die kinders van Israel.” (Joel 2:11, 3:16). Die vyand smelt voor die Here soos ys in die son: “Die berge bewe voor Hom, en die heuwels smelt weg; en die aarde rys op voor sy aangesig, ja, die wêreld en almal wat daarin woon.” (Nahum 1:5). Waar is Malema? Waar is Gadafi? Die Here is die God van Jakob (v.8). Hy is óns God. Hy is die God van sy weermag en sal ons beskerm (v.8, cf. 1 Samuel 17:26, 45). Glo jy dat die beginsel in <st1:bcv_smarttag>2 Kronieke 20:17 vir jóú geld? “Julle hoef daarby nie te veg nie; staan gereed, bly staan en aanskou die redding van die HERE by julle, Juda en Jerusalem! Vrees nie en wees nie verskrik nie; trek môre teen hulle uit, en die HERE sal met julle wees.” Stop en dink 'n bietjie hieroor (v.8, dit is waarskynlik wat Sela beteken).
God is vir ons (v.9-12)
Uiteindelik sal daar vrede wees (v.10). Maar God sal hierdie vrede bereik deurdat Hy ons vyande oordeel (v.9). Moenie vergeet dat God vir ons veg nie:
“Kom, aanskou die dade van die HERE, wat verskriklike dinge oor die aarde bring, wat die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde, die boog verbreek en die spies stukkend slaan, die strydwaens met vuur verbrand.” (v.9-10). Aanskou die dade van die Here (66:5)! Ons vergeet te maklik wat die Here gedoen het. Om sy werke te onthou is dit belangrik om nie die Bybel-, en kerkgeskiedenis te verag nie. Lees van dit wat God gedoen het. Sien ook in die wêreld en in jou eie lewe wat die Here besig is om te doen.
Vers 9 sê ons moet sien watse verskriklike dinge die Here op die aarde gedoen het. Hy het die wêreld vernietig met 'n vloed. Hy het die Egiptenare met tien plae en in die Rooisee vernietig. Hy het die Babiloniese Ryk tot 'n einde gebring: “Sy stede het ‘n woesteny geword, ‘n dor land en ‘n wildernis; ‘n land waar niemand in woon nie, en waar geen mensekind deurtrek nie.” (Jeremia 51:43). In 70 n.C. het Hy Jerusalem verwoes (die tempel is nooit weer herbou nie). Hy het die Romeinse Ryk tot 'n einde gebring. Die Swart Dood het Europa soos 'n skaduwee bedek. Die aarde is geskud deur twee wêreld oorloë. Die depressie-jare het baie lande geknak. VIGS neem jaarliks die lewens van miljoene mense. God het in die afgelope paar jaar een natuurramp op die ander gestuur. 9/11 het minder as 5000 lewens geeïs, maar het die wêreld tot stilstand geruk. Daar sal nog baie rampe in die toekoms wees. En wanneer Jesus kom, sal ons sien hoe Hy nog éen keer “verskriklike dinge oor die aarde bring.” (v.9).
Dank God vir die vrede wat Jesus deur sy kruisdood gebring het (Romeine 5:1, Kolossense 1:20). Dank God ook vir die vrede wat oppad is wanneer Jesus sy Koninkryk op die aarde vestig. Hy sal oorloë laat ophou en alle wapens vernietig (v.10). Die Ou- en Nuwe Testament voorspel hierdie dinge:
“En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.” (Jesaja 2:4).
“Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.” (Jesaja 9:5-6).
“Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ‘n klein seuntjie sal hulle aanja. Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van ‘n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ‘n basilisk. Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” (Jesaja 11:6-9).
“Want kyk, Ek skep nuwe hemele en ‘n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie. Maar wees julle bly en juig vir ewig oor wat Ek skep; want kyk, Ek skep Jerusalem om te juig, en sy mense om bly te wees. En Ek sal juig oor Jerusalem en bly wees oor my volk; en daarin sal nie meer gehoor word die stem van geween of die stem van geskreeu nie. Daarvandaan sal nie meer kom ‘n suigling van ‘n paar dae of ‘n grysaard wat sy dae nie vol uitlewe nie; want ‘n seun sal sterwe honderd jaar oud, en wie sondig, sal, honderd jaar oud, deur die vloek getref word. En hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: hulle sal nie bou dat ‘n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ‘n ander dit eet nie; want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome, en my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet. Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei of baar vir skielike ondergang nie; want hulle is ‘n geslag van die wat deur die HERE geseën is, en hulle nakomelinge is by hulle. En voordat hulle roep, sal Ek antwoord; terwyl hulle nog spreek, verhoor Ek. Die wolf en die lam sal saam wei, en die leeu sal strooi eet soos ‘n bees, en stof sal die voedsel van die slang wees; hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie, sê die HERE.” (Jesaja 65:17-25).
Sien ook Openbaring 20-22.
Jesus het gesê ons moet hiervoor bid: “laat U Koninkryk kom” (Matteus 6:10).
Hoe sal God hierdie vrede inbring? Hy sal vir sy (en ons) vyande sê: “Laat staan en weet dat Ek God is; Ek sal hoog wees onder die nasies, hoog op die aarde.” (v.11). Soos wat Jesus vir die wind en die golwe gesê het: “Swyg, wees stil!” (Markus 4:39), sal Hy dit vir sy vyande sê. God sien wat Satan en ander vyande aan jou doen. Jy sal binnekort sy stem hoor wat vir jou vyande sê: ‘Stop! Dis genoeg!’ Die Here sal tot jou hulp snel. Hy sal oor jou vyande heers (v.11, 2:8, Jesaja 2:11).
Veg jy dalk teen God? Is jy kwaad vir Hom omdat dinge in jou lewe skeefloop? Is jy kwaad omdat jy nie hou van sekere dinge wat Hy in sy Woord sê nie? Wees stil! Stop! Dis genoeg! Verneder jouself onder die kragtige hand van God (1 Petrus 5:6). Bely dat Hy verhewe is en jy nie (131:1-3). As jy dít gedoen het kan jy v.12 jou eie maak: “Die HERE van die leërskare is met ons; die God van Jakob is ‘n rotsvesting vir ons. Sela.” Of in Nuwe Testamentiese terme: “Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?” (Romeine 8:31).