Lukas 12:49-59
Ek het ’n prent gesien waarin ’n seuntjie sy pa vir iets vra. ‘What’s the magic word?’ het die pa gevra. ‘I’m offended!’ ‘Good boy!’ Hiermee het die pa die seuntjie beloon.
Vandag is dit die ‘magic word’. Jy kan byna enigiets doen, solank jy nie aanstoot gee nie. As iemand selfs in die minste aanstoot neem, vat hulle jou hof toe en kla jou aan vir haatspraak (soos onder die voorgestelde PEPUDA Amendment Bill). Jesus se geslag was nie anders nie en het aanstoot aan Hom geneem.
1. Jesus se vuurdoop (v.49-50)
Die HAT defineer vuurdoop as volg: ‘Eerste veldslag deur ’n soldaat meegemaak... By uitbr.: Moeilike toets, proef: Jou vuurdoop in die nuwe werkkring goed deurstaan. Die eerste dag in die nuwe skool was ’n ware vuurdoop.’1
Dit is nie hoe ek vuurdoop gebruik nie. Ek bedoel liewer dat Jesus gekom het om mense met vuur te doop en hulle te oordeel: “Ek het gekom om ’n vuur op die aarde aan te steek, en hoe wens Ek dat dit al aan die brand was!” (v.49). “Johannes het hulle egter geantwoord: ‘Ek doop julle wel met water, maar daar kom iemand wat sterker as ek is, en ek is nie eers werd om die riempies van sy sandale los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. Hy het sy hooivurk in sy hand om sy dorsvloer deeglik skoon te maak en om die koring in sy skuur te versamel, maar die kaf sal Hy met ’n onblusbare vuur verbrand.” (3:16-17, eie beklemtoning). Wanneer Jesus weer kom, sal Hy die aarde met vuur verbrand (2Pet. 3:10, 12). Daarna sal Hy die goddelose met vuur in die hel brand soos Hy Sodom en Gomorra met vuur uit die hemel verdelg het (Gen. 19:24, Jud. 7, 2Tess. 1:7-8, Op. 14:10-11, Op. 21:8).
Vir gelowiges is God se vuur nie ’n oordeel nie, maar ’n toets om hulle geloof soos goud te suiwer (1Pet. 1:6-7, 4:12). Ons sal die vuur oorleef (Jes. 43:2). Op die oordeelsdag sal Christus ons werke met vuur toets (1Kor. 3:13). Sy vuur sal ons nie verteer nie (Heb. 12:29), omdat Hy die vuurdoop in ons plek verduur het: “Ek het ’n doop waarmee Ek gedoop moet word, en hoe swaar lê dit nie op My totdat dit afgehandel is nie!” (v.50). Jesus verwys nie hier na sy waterdoop nie, maar na sy dood (vgl. Mark. 10:38). Hy het geweet dat God se oordeel Hom soos ’n vloed sou verswelg en dus was Hy angstig om die taak af te handel (v.50). God se toorn is iets om te vrees (Ps. 90:11). Daarom het Jesus in Getsemane bloed gesweet en sy Godverlatenheid aan die kruis bekla (22:44, Matt. 27:46). Die Vader het Hom vir ons sonde verbrysel, vervloek en Hom sonde vir ons laat word (Jes. 53:10, 2Kor. 5:21, Gal. 3:13).
Die liberales neem aanstoot hieraan. John Dominic Crossan van die Jesus Seminar het sy minagting vir die lering van Jesus se plaasvervangende soendood uitgespreek: ‘It is cosmic child abuse. We should love a Son like that but we should hate a Father like that.’ Crossan kon eenvoudig nie aanvaar dat die Vader sy Seun vir ons sonde gestraf het nie. C.H. Dodd (1884-1973) het dié lering net so gehaat. Volgens Hom het Jesus gesterf om ons sonde te vergewe (Eng. expiation) eerder as om die straf daarvoor te dra (Eng. propitiation). So het Dodd Rom. 3:25 in die Revised Standard Version, asook in die New English Bible vertaal: “[Christ Jesus] whom God put forward as an expiation by his blood... For God designed him to be the means of expiating sin by his sacrificial death...” (eie beklemtoning).
Hoekom verag die liberales God se toorn in die kruis? Want as Jesus in ons plek gesterf het, beteken dit hulle verdien God se toorn. In hulle gedagtes is hulle nie so sleg nie. Daarom haat hulle God se toorn in die kruis en in die hel. Selfs al sou hulle toegee dat daar ’n hel is, vrees hulle dit nie. Jesus se angs wys hulle weet nie waarvan hulle praat nie.
Moenie vir die hel wens nie. Jesaja het God se toorn oor die volk begeer, maar toe dit kom, was hy spyt: “My heart staggers; horror has appalled me; the twilight I longed for has been turned for me into trembling.” (Jes. 21:4, ESV). Amos het gesê ons moenie vir die dag van God se toorn wens nie: “Wee dié wat uitsien na die dag van die Here. Wat hou dit vir julle in? Die dag van die Here is duisternis, nie lig nie, soos wanneer iemand vlug vir ’n leeu, maar ’n beer val hom aan. As hy wel in die huis kom en met sy hand teen die muur leun, dan pik ’n slang hom. Die dag van die Here, is dit nie duisternis, en nie lig nie, donker met geen ligglans nie?” (Amos 5:18-20). As die profete God se toorn deur Israel se vyande gevrees het, moet ons sekerlik sy toorn in die hel vrees!
2. Jesus se swaard (v.51-53)
Toe ’n bejaarde gelowige lees dat Jesus ’n swaard en verdeeldheid bring, was sy ontsteld. Sy het nie geweet wat dit beteken nie. Wat bedoel Jesus met v.51 en Matt. 10:34: “Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring? Nee, sê Ek vir julle, eerder verdeeldheid... Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.”?
In ’n sekere sin het Jesus vrede gebring (2:14). Maar dit is net as jy Hom deur geloof aanvaar: “Omdat ons dan nou op grond van geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur ons Here Jesus Christus.” (Rom. 5:1). Hoe verder die evangelie versprei en mense gered word, hoe meer vrede is daar: “Vir die uitbreiding van heerskappy en vir vrede sonder einde, sal Hy op die troon van Dawid en oor sy koninkryk wees...” (Jes. 9:6). Uiteindelik sal sy vrede oor die hele aarde wees: “’n Wolf sal by ’n lam vertoef, en ’n luiperd sal by ’n boklam gaan lê, ’n kalf, ’n jong leeu en vetgemaakte vee bymekaar—’n klein seuntjie sal hulle lei. ’n Koei en ’n beerwyfie sal saam wei, en hulle kleintjies sal saam gaan lê. ’n Leeu sal soos ’n bees gras eet. ’n Suigeling sal speel by die gat van ’n horingslang, en ’n kleuter sal sy hand uitsteek na die nes van ’n kobra. Mense sal nie kwaad doen of hulle wangedra nie—nêrens op my hele heilige berg nie; want die land sal vol wees van die kennis van die Here, soos water die see bedek.” (Jes. 11:6-9).
Sonder Jesus kan ons nie vrede hê nie, al dink die Verenigde Nasies so. Omdat ons vrede in Christus lê, kan ons nie een wees met dié wat Hom verwerp nie. Spurgeon het dit verstaan toe hy die Baptist Union in sy tyd verlaat het. Hy kon nie met die liberales saamgaan nie.2 Hy kon nie hande vat met dié wat Jesus se Godheid, maagdelike geboorte, wonderwerke, plaasvervangende soendood, liggaamlike opstanding ontken en verwerp nie. Hy kon nie maak of hulle sy broers is nie. Martyn Lloyd-Jones ook nie. Hy het sy misnoeë uitgespreek toe J.I. Packer, John Stott en Billy Graham met die liberales saamwerk.3 Meer as twintig jaar later het predikers soos R.C. Sproul en John MacArthur hulle evangeliese broers se ondersteuning van Evangelicals & Catholics Together teëgestaan.4 Kan ons ons arms oophou vir dié wat regverdigmaking deur geloof alleen verwerp; vir dié wat Maria as ’n middellaar tussen ons en Christus beskou? Kan ons saam met ’n Afrikaanse teoloog sê: ‘Ons moet dié wat Jesus se liggaamlike opstanding verwerp, as broers beskou—die kerk is oop vir almal’? Sekerlik nie!
Die waarheid is eerder: ‘Peace if possible; truth at any cost.’ Al kos die waarheid jou kosbare vriendskappe, moet jy daarby staan. Ons eenheid lê in die Bybelse Jesus en sy evangelie. Die eenheid van Ef. 4:4-6 volg op die evangelie van Efesiërs 1-3. Ons is nie een met enigiemand wat die naam van Jesus bely nie (2Kor. 11:4), maar met dié wat die ware Jesus bely en Hom gehoorsaam (1Joh. 4:1-6). As ons nie hieroor ooreenstem nie, is ons verdeeld. Dit is wat Jesus in v.51 bedoel: “Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring? Nee, sê Ek vir julle, eerder verdeeldheid.” Dit het Simeon vir Maria gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem vir die val en die opstaan van baie mense in Israel, as ’n teken wat betwis word” (2:34). Joh. 7:43 sê: “Daar het toe oor Hom verdeeldheid onder die skare gekom.”
Christus en sy Woord is ’n swaard wat verdeeldheid bring (Heb. 4:12). Niemand bly neutraal teenoor Jesus nie. Wie nie vir Hom is nie, is teen Hom en andersom (9:50, 11:23). Wat is jou reaksie teenoor Hom? Gehoorsaam jy sy woorde; aanvaar jy Hom as jou Verlosser en Here (6:47, Joh. 1:12, Jak. 1:22)? Of draai jy jou rug op Hom en bly ongehoorsaam (6:49, Joh. 1:11, 6:60)?
Sowat vyftien jaar gelede het ’n gesin uit ons gemeente bedank. Toe ek hulle daaroor besoek, toe sê die vrou: ‘Die preke laat ons skuldig voel.’ Die regte reaksie sou wees om jou te bekeer eerder as om te bedank.
Mense se aanstoot aan Jesus maak dat gesinne onder hulleself verdeeld is: “want van nou af sal vyf mense in een huis verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie. Daar sal verdeeldheid wees: vader teen seun en seun teen vader, moeder teen dogter en dogter teen moeder, skoonmoeder teen haar skoondogter en skoondogter teen skoonmoeder.” (v.52-53, vgl. Miga 7:6). Ons weet dat hierdie verse onder Moslems gebeur. As een van hulle tot bekering kom, skop die res hom uit. Daar is party gevalle waar die persoon sy lewe verloor.
Dit gebeur nie in ons konteks nie. Tog is die verdeeldheid bitter. Ek weet van ’n geval waar ’n man sy gelowige broer aangeval het. Hy het gesê: ‘Moenie weer met my oor die Bybel praat nie.’ Sy suster het gesê: ‘Kan jy oor niks anders as oor godsdiens praat nie? Moet dit asseblief nie weer voor my noem nie.’ C.S. Lewis verduidelik hoekom dit so is:
‘A brother and sister, or two brothers...grow to a certain age sharing everything. They have read the same comics, climbed the same trees, been pirates or spacemen together, taken up and abandoned stamp-collecting at the same moment. Then a dreadful thing happens. One of them flashes ahead discovers poetry or science or serious music or perhaps undergoes a religious conversion. His life is flooded with the new interest. The other cannot share it; he is left behind. I doubt whether even the infidelity of a wife or husband raises a more miserable sense of desertion or a fiercer jealousy than this can sometimes do. It is not yet jealousy of the new friends whom the deserter will soon be making. That will come; at first it is jealousy of the thing itself—of this science, this music, of God (always called “religion” or “all this religion” in such contexts). The jealousy will probably be expressed by ridicule. The new interest is “all silly nonsense,” contemptibly childish (or contemptibly grown-up), or else the deserter is not really interested in it at all he’s showing off, swanking; it’s all affectation. Presently the books will be hidden, the scientific specimens destroyed, the radio forcibly switched off the classical programmes. For Affection is the most instinctive, in that sense the most animal, of the loves; its jealousy is proportionately fierce. It snarls and bares its teeth like a dog whose food has been snatched away. And why would it not? Something or someone has snatched away from the child I am picturing his life-long food, his second self. His world is in ruins.
‘But it is not only children who react thus. Few things in the ordinary peacetime life of a civilised country are more nearly fiendish than the rancour with which a whole unbelieving family will turn on the one member of it who has become a Christian, or a whole lowbrow family on the one who shows signs of becoming an intellectual. This is not, as I once thought, simply the innate and, as it were, disinterested hatred of darkness for light. A church-going family in which one has gone atheist will not always behave any better. It is the reaction to a desertion, even to robbery. Someone or something has stolen “our” boy (or girl). He who was one of Us has become one of Them. What right had anybody to do it? He is ours. But once change has thus begun, who knows where it will end? (And we all so happy and comfortable before and doing no harm to no one!)’5
Wat moet jy in so ’n situasie doen? Moenie die Bybel in jou familie se kele afdruk nie. Leef eerder ’n stil, sagmoedige en opregte lewe, sodat hulle Jesus in jou kan sien. So kan jy hulle sonder ’n woord vir Christus wen (1Pet. 3:1-2). Ongelukkig sal party mense vyandig bly selfs as jy sagmoedig is. Die lig van jou lewe skyn in die donker hoeke van hulle hart en laat hulle skuldig voel, sodat hulle aggressief reageer. Toe ’n sekere vrou tot bekering kom en nie meer saam met haar man drink nie, toe word hy kwaad. Haar heilige lewe het sy gewete aangekla.
Kies Jesus bo jou familie (9:61-62, 14:26). Sê vir hulle: ‘Come to heaven with me, I beg you. But if not, I will certainly not go to hell with you.’ (Maurice Roberts).6 Wees “altyd gereed om julle te verantwoord teenoor elkeen wat van julle rekenskap eis oor die hoop wat in julle leef. Doen dit egter met beskeidenheid en respek, met ’n goeie gewete, sodat, wanneer julle beswadder word, dié wat smalend is oor julle goeie leefwyse in Christus, beskaamd kan staan.” (1Pet. 3:15-16).
Met bogenoemde waarhede in gedagte, wil ek die jong mense aanmoedig: moenie met ’n ongelowige uitgaan of trou nie (1Kor. 7:39, 2Kor. 6:14-15). Die kanse is goed dat julle gedurig oor Jesus, die Bybel en die kerk sal baklei en dat dit verdeeldheid veroorsaak (v.52-53). Indien jy reeds in so situasie is, moet jy Paulus se lering in 1Kor. 7:12-16 ter harte neem: “...As ’n broer ’n ongelowige vrou het wat instem om by hom te bly, moet hy nie van haar skei nie, en ’n vrou met ’n ongelowige man wat instem om by haar te bly, moet nie van hom skei nie. Die ongelowige man is immers deur sy gelowige vrou geheilig, en die ongelowige vrou is deur haar gelowige man geheilig; anders sou hulle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig. As die ongelowige egter wil skei, laat hy skei; in sulke gevalle is die broer of suster nie gebonde nie. God het julle egter geroep om in vrede te leef. Want hoe weet jy, vrou, of jy nie jou man sal red nie? Of hoe weet jy, man, of jy nie jou vrou sal red nie?”
3. Jesus se wondertekens (v.54-56)
‘Red sky at night, a shepherd’s delight. Red sky in the morning, a shepherd’s warning.’ So het mense in Jesus se tyd die weer voorspel (Matt. 16:2-3). Wolke in die weste dui aan dat daar reën op pad is (v.54). Die Middellandse See lê in die weste; almal in Israel weet hulle reën kom van daar af. In die suide lê die Negev woestyn. ’n Warm woestyn wind of sirocco bring skroeiende weer (v.55).
Jesus se geslag kon die weer lees, maar nie die teenwoordige tyd nie (v.56). Hoe kon hulle nie uit Jesus se wondertekens sien dat Hy die Messias van Jes. 35:5-6, 61:1 is nie (vgl. 4:18-19, 7:20-22)? Jesus noem hulle skynheilig (v.56): uiterlik was hulle God se volk, maar toe Hy voor hulle verskyn, het hulle Hom nie herken nie. Die volk se verwerping van hulle wonderwerkende Messias moes aandui iets is fout en dat God se oordeel voorlê. Ongelukkig kon hulle dit nie sien nie (v.56, vgl. 1Kron. 12:32). Die kerk in die Weste so. Ten spyte van LGBT en ander sondes in die kerk, besef ons nie dat Jesus se swaard teen ons is nie (Op. 2:16). Kerke beskou hulle aanvaarding van LGBT as inklusiewe liefde en mis die waarskuwingstekens dat ’n storm op pad is (Rom. 1:18, 26-27). Mense voel veilig in die kerk en dink God sal hulle nie oordeel nie (Amos 6:1). Hulle vergeet dat sy oordeel in die tempel en die kerk begin (Eseg. 9:6, Luk. 19:45-46, Hand. 5:1-11, 1Pet. 4:17). Openbaring 2-3 gebeur voor Openbaring 6-19.
Die algemene afvalligheid in die Westerse kerk beteken dat Jesus se swaard uit sy skede is. Moenie dink Hy sal by ons verbygaan nie. As ons verkeerde lering glo, sasal ons saam met die res val (Op. 2:15-16, 2:20-22). Selfs ’n gemeente wat suiwer leer verkondig maar ongehoorsaam is, sal tot ’n einde kom (Op. 2:4-5). Om veilig te bly, moet ons Christus as die gekruisigde verkondig, ’n suiwer lewe en leer handhaaf, geestelik groei en opreg voor die Here wandel (1Kor. 2:2, 1Tim. 4:16, 2Pet. 3:18, Op. 3:4-5).
4. Jesus se aanklag (v.57-59)
As die wind gedurende ’n rugbywedstryd waai, gooi die losskakel gras in die lug op om die wind se rigting te bepaal. Soms lek hy sy wysvinger nat. Die kant wat eerste droog word, wys watter rigting die wind waai. Die Israeliete in Jesus se tyd was so: met hulle vinger in die wind het hulle die Bybel uitgelê. Hulle wou weet wat die massas of geleerde Sanhedrin oor Jesus sê. Daarvolgens het hulle bepaal hoe hulle oor die Messias dink. Jesus het vir hulle gesê om nie soos ’n dooie vis saam met die stroom te gaan nie: “Hoekom kan julle nie self oordeel oor wat reg is nie?” (v.57). Wat het Jesus se wonderwerke aangedui: is Hy die Messias of nie (Joh. 3:2, 5:36, 39, 46, 7:24, 9:32-33, 10:21). Israel moes sy werke en bediening aan die Skrif meet (vgl. Hand. 17:11). Die opinie van die meerderheid is dikwels verkeerd. “Jy mag nie die meerderheid volg in verkeerde dade nie. Jy mag nie in ’n saak getuig en die reg verdraai deur jou by die meerderheid te skaar nie.” (Eks. 23:2). “Gaan deur die nou poort in. Want breed is die pad en wyd die poort wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur binnegaan.” (Matt. 7:13).
By tye het Athanasius alleen teen die wêreld gestaan (Athanasius contra mundum).7 Maar hy was reg in sy strewe om te bewys dat Jesus die ware God is. Toe mense vir hom sê: ‘Athanasius, die hele wêreld is teen jou,’ toe antwoord hy: ‘Dan is Athanasius teen die hele wêreld.’
Die geleerdes se opinie is ook nie die maatstaf nie. Toe sekere mense in Jesus glo, toe sê die Fariseërs: “Nie een van die leierpriesters of van die Fariseërs het tog in hom geglo nie?” (Joh. 7:48). Asof die geleerdes se opinie altyd reg is. Die wêreld se slimste mense is feilbaar en kan verkeerd wees. God en sy Woord kan nie. Die Bybel is ’n antieke, akkurate en betroubare rekord van wat Jesus gesê en gedoen het. Geen eerlike mens kan dit ontken nie. Nie eers Jesus se vyande kon sy wonderwerke of die leë graf ontken nie (Joh. 11:47, Matt. 28:11-15, Hand. 4:10, 16). Nog nooit het iemand Jesus se liggaam gevind nie. Ook kan hulle nie verduidelik hoe ’n God-hater soos Paulus oornag verander het nie (Hand. 9:21, Gal. 1:23).
Die vraag bly dus: is Jesus wie Hy sê Hy is—die Messias, die Seun van God, die Here (Matt. 16:15-17, Joh. 8:58, 13:13)? Nee? Op watter gronde verwerp jy Hom? Op die basis van feilbare argeoloë wat in die verlede foute gemaak het en dit moes erken? Oordeel vir jouself of die Bybelse rekord van Jesus waar is (v.57). Indien nie, draai jou rug op Hom en geniet die plesiere van die wêreld, omdat daar niks anders is nie (Joh. 6:66, Jes. 22:13). Indien wel, verloën jouself, neem jou kruis op, gee alles prys om Jesus te ken en Hom volg (9:23, Fil. 3:7-8). Wat jy nie kan doen nie, is om besluitloos op die draad te sit. Kies wat jy met Jesus wil doen en doen dit terwyl jy die geleentheid het: “As jy saam met jou teenstander owerheid toe gaan, doen moeite om die saak onderweg met hom te skik, sodat hy jou nie voor die regter sleep, en die regter jou aan die hofbeampte oorgee, en die hofbeampte jou in die tronk gooi nie. Ek sê vir jou: Jy sal beslis nie daar uitkom voordat jy die laaste lepton betaal het nie.” (v.58-59).
Wat beteken hierdie verse? God se wet is die aanklaer (Joh. 5:45, Rom. 3:19-20). Die Heilige Gees en jou gewete getuig saam dat jy skuldig is (Joh. 16:8-11, Rom. 2:15). Wil jy dinge met die Here regmaak? Lê jou trots neer, bely jou sonde en beroep jou op Jesus Christus. Aan die kruis het Hy die skuldbrief wat teen ons gestaan het, afgeskryf (Kol. 2:14). Deur geloof kan jy sy sondelose en volmaakte rekord van geregtigheid ontvang (1Kor. 1:30, Fil. 3:9). Daar is geen veroordeling vir dié wat in Christus glo nie (Rom. 8:1).
As jy jouself verontskuldig, sal jy voor die Regter staan (v.58b-59). Hy het al jou woorde, gedagtes en dade op rekord (Rom. 2:16, Op. 20:12-13). Hy sal jou daarvolgens oordeel en in die helse tronk werp (Op. 20:15). Hoe sal jy jou skuld afbetaal? Jy sal nie (v.59). Jou geliefdes kan ook nie, omdat hulle self skuldig staan. Slegs die onskuldige Seun van God kan jou skuld betaal, maar jy het Hom van die hand gewys.
Verander jou mening oor Jesus en aanvaar die prys wat Hy vir miljoene sondaars betaal het. Dan sal Hy jou nie oordeel nie: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en vir hom is daar geen veroordeling nie, maar hy het uit die dood na die lewe oorgegaan.” (Joh. 5:24).
Hoekom sal jy jou rug op Hom keer? Sal jy aanstoot neem aan Iemand wat koue water in jou gesig gooi om jou wakker te maak wanneer jou huis afbrand?
1 F.F. Odendal & R.H. Gouws (Red.), HAT: Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (Midrand: Perskor, 2000), 1339, inskrywing onder ‘vuurdoop’.
2 Iain Murray, The Forgotten Spurgeon (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1966)
3 D.M. Lloyd-Jones, Knowing the Times (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1989). Iain H. Murray, Lloyd-Jones: Messenger of Grace (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2008), chs. 8-9, 13. Iain H. Murray, D. Martyn Lloyd-Jones: The Fight of Faith (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1990), chs. 15, 21-27, 31, Appendix 4.
4 Stephen J. Nichols, R.C. Sproul: A Life (Wheaton, Illinois: Crossway, 2021), 195-208
5 C.S. Lewis, The Four Loves (New York: Harcourt Brace & Company, 1960, 1988), 45-7
6 Maurice Roberts, The Thought of God (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1993), 217
7 https://www.desiringgod.org/messages/contending-for-our-all