Coram Deo Cover Image

Coming soon...

10 October 2021

Kruislose Christene

Lukas 9:43b-50

Sowat ’n eeu gelede het William Booth (1829-1912) gesê: ‘I consider that the chief dangers which confront the coming century will be religion without the Holy Ghost, Christianity without Christ, forgiveness without repentance, salvation without regeneration, politics without God and heaven without hell.’1

Luk. 9:43b-50 wys vir ons wat gebeur as mense ’n vorm van Christenskap aanhang waar die kruis misverstaan word of afwesig is.

 

1. Kruisloos (v.43b-45)

Mense kan maklik vir ’n uur na iemand se getuienis luister: hoe die Here in sy lewe ingegryp het. As jy egter vir langer as 45 minute oor die kruis preek, kyk hulle na hulle horlosies. Ons vind dieselfde gesindheid in v.43-45: mense se monde het oopgehang toe hulle Jesus se wonderwerke sien (v.43a). Toe Hy egter oor die kruis praat toe kyk hulle met wasige oë na Hom (v.43b-45). Jesus wou hê die dissipels moet die kruis verstaan, sodat hulle nie ’n wanbegrip van sy Messiaskap en Christenkap sou hê nie. Hy het hulle in v.22 van die kruis geleer, maar hulle het nie verstaan wat dit beteken nie. Daarom moes hulle dit weer hoor, sodat die realiteit van die kruis by hulle kon insink (v.44). Hulle moes hoor dat die Seun van die Mens in die hande van mense oorgelewer gaan word (v.44); in die hande van Judas, die tempelpolisie, die Joodse leiers, Pilatus, Herodes, die skare en uiteindelik die Romeinse soldate. Die duiwel was agter dit alles (22:3-6), maar uiteindelik was Jesus en die Vader die eerste oorsaak. Jesus het self besluit Hy wil Jerusalem toe gaan om te sterf (v.51, Joh. 10:18). Hy en die Vader het dit voor die skepping beplan (Joh. 3:16, Hand. 2:23, 4:27-28, 2Tim. 1:9-10, Heb. 10:5-7, 1Pet. 1:20).

Almal van ons weet van Jesus se kruisdood vir sondaars. Hoekom moet ons dit dan weer hoor? Want ons vergeet (v.22, 44) of verstaan nie mooi wat dit beteken nie (v.45). Verstaan jy wat die kruis beteken? Het jy dit jou eie gemaak? Is die voordele daarvan joune deur die geloof? Dalk antwoord jy ja op al die vrae, maar het jy fokus verloor? Is die kruis nog sentraal in jou gedagtes en lewe (Gal. 6:14)? Versuim jy om gereeld die nagmaal te gebruik? Gebruik jy dit, maar jy dink nie oor wat dit beteken nie? In daardie geval het jy die middelpunt van die Christelike geloof vergeet. Dit sal langtermyn gevolge hê, sodat die kruis vir jou kinders ’n bysaak is. Jou kleinkinders sal wetties en verlore wees.

Om die kruis die senter van jou lewe te maak, moet jy dit gereeld besoek. Dank die Here daagliks vir jou redding deur die kruis. Bely elke dag jou sonde aan die voet van die kruis. Vind vir jou ’n gemeente waar die leiers en lidmate hulle voorneem om niks anders te ken nie, behalwe Jesus Christus en Hom as die gekruisigde (1Kor. 2:2): in die preke, by die nagmaal, deur sending en evangelisasie, in die lofgesange.

Leer jou kinders van die kruis. Moet hulle nie net morele lesse oor Adam en Eva, Noag en die ark, Dawid en Goliat leer nie. Vertel hulle hierdie stories met die oog op die kruis: Toe Adam en Eva in sonde val, het dood in die wêreld gekom. Jesus het mens geword om deur sy dood die sonde weg te neem. Toe God die wêreld met ’n groot vloed straf, was Noag, sy gesin en twee van elke soort dier veilig in die ark. Net so sal ons die storm van die finale oordeel oorleef as ons deur geloof in Jesus skuil. Dawid het ’n reus doodgemaak. Deur sy kruisdood het die Seun van Dawid (Jesus) Satan, sonde, die dood en die hel oorwin.

Daar is kerke wat van die kruis sing en preek, maar hulle fokus op die mens eerder as op Jesus. ‘Jesus het vir jou gesterf, omdat jy kosbaar en spesiaal is,’ sê hulle. Volgens die Bybel het Jesus vir ons gesterf toe ons nog sondaars was (Rom. 5:8). Hy het gesterf ten spyte van wie jy is; nie as gevolg van wie jy is nie (Rom. 5:8). Jesus het gesterf om slegte mense goed te maak; nie om goeie mense beter te maak nie. Dit antwoord die teorie van mense wat sê: ‘Al was ek die enigste mens op aarde sou Jesus nog steeds vir my gesterf het.’ Waarskynlik is dit waar. Dit wys egter nie hoe waardevol jy is nie, maar hoe groot jou sonde is dat dit so ’n groot prys sou kos.

Ander dink weer dat Jesus gesterf het, sodat ons aardse voorspoed kan hê. ’n Plakaat in my vriend se village het Joh. 3:16 as volg aangehaal: ‘For God so loved the world that those who are poor may become rich.’ Buiten dat dit verkeerd aangehaal is, het die plakaat nie van geestelike rykdom gepraat nie, maar van finansiële voorspoed. Jesus het nie daarvoor gesterf nie. Hy het nie eers hoofsaaklik gesterf, sodat ons in die hemel kan wees nie. Die hoofdoel van Jesus se kruisdood was om te wys dat die Vader heilig is en nie sonde oorsien nie, asook dat Hy vol genade en liefde is om sondaars te red (Rom. 3:25, 1Joh. 4:10). Die dissipels het dit nie verstaan nie. Hulle het nie geweet wat die kruis beteken nie (v.45). Hoekom het hulle dit misverstaan?

a. Dit het nog nie gebeur nie (vgl. Joh. 12:16, 16:12-13). Ons is so as dit by die detail van die eindtyd kom: ons verstaan dit nie perfek nie en verskil van mekaar, omdat dit nog nie gebeur het nie.

b. Dit het nie in hulle teologiese raamwerk gepas nie. Hulle het nie ’n gekruisigde Messias verwag nie, maar Een wat die Romeine sou verslaan om in Jerusalem as Koning te regeer.

c. God het nog nie hulle oë geopen om die waarheid te verstaan nie (24:45). Mense se vermoë om die waarheid te begryp lê nie in hulleself nie, maar in God (1Kor. 2:10-16).

d. Hulle was ontsteld en bang om te vra (v.45, Matt. 17:23). As hulle gevra het, sou Jesus verduidelik het (vgl. 8:9-11).

e. Hulle was hoogmoedig (v.46). Hulle wou nie hê die ander moet dink hulle verstaan nie.

Sukkel jy om die kruis te verstaan? Vra die Here om vir jou te wys hoekom. Dalk sien jy die kruis as ’n noodsaaklikheid om tot bekering te kom, maar jy weet nie hoe dit verder ’n verskil in jou lewe maak nie. Dit maak ’n verskil as jy nog met skuld van die verlede rondloop (Rom. 8:33-34, Kol. 2:14). Dit maak ’n verskil as jy sonde doen en vergifnis benodig (1Joh. 1:7, 9). Dit maak ’n verskil as jy sukkel om sonde te oorwin (Joh. 8:34, 36, Rom. 6:14, 1Joh. 3:8). Dit maak ’n verskil as jy dankbaar wil lewe (Gal. 2:20). Daarom: onthou die kruis!

 

2. Hoogmoedig (v.46-48)

Daar is ’n streek in elkeen van ons om eerste te wil wees. Graad 1 seuntjies stry oor wie se pa die sterkste is. Hulle wil voor in die ry staan. Pouses hou hulle resies om te sien wie die vinnigste is. Volwassenes doen dieselfde. In elke sportsoort wil ons eerste wees. As jy in die kar ry, wil jy eerste by die robot wees. Jy wil die meeste likes op Facebook hê. By die werk kompeteer mense oor wie die mooiste aantrek of die duurste kar, grootste huis, hoogste kwalifikasie of grootste salaris het.

Dit gebeur ook op ’n geestelike vlak. As een predikant ’n ander een ontmoet, vra hulle mekaar binne die eerste paar minute: ‘Hoe groot is julle gemeente?’ Elke Christen doen dit en word versoek om geestelik hoogmoedig te wees. Ons wil beter as ander mense bid, sing, dien, sonde bely, bydra en preek. Ons is soos die Korintiërs: “Ek is van Paulus... Ek van Apollos... Ek van Sefas... Ek van Christus” (1Kor. 1:12). Ons wil in die wenspan wees.

Die dissipels was dieselfde en het gestry oor wie die belangrikste is (v.46). ‘Ek het ’n demoon uitgedryf... Ek het ’n dowe genees... Ek het ’n dooie opgewek!’ (v.1, 6). ‘Wel gedaan manne, maar net ons was op die berg van verheerliking!’ (v.28).

Die rede hoekom ons in onsself roem, is omdat ons die kruis vergeet (v.44-45). Ons vergeet dat almal van ons sondaars is en dat Jesus vir almal moes sterf (2Kor. 5:15, 1Tim. 2:6). Hoe ryk, slim en geestelik jy is, maak jou nie beter as iemand anders nie. Jy is ’n sondaar wat die kruis benodig.

Die dissipels het dit nie besef nie en daarom het hulle gestry oor wie die belangrikste is (v.44-46). Omdat Jesus almal se harte ken, het hy geweet waaroor die dissipels stry (v.46-47, Mark. 9:33-34, Joh. 2:24-25). Hy weet ook as jy oor jouself dagdroom; as jy dink jy is beter as ander, sodat jy op hulle neerkyk; as jy jaloers is op ander. Om hierdie het Jesus die dissipels geleer om soos ’n kind te wees (v.47-48). ’n Kind het nie belangrikheid of status nie. Hy kan niks tot die samelewing of die ekonomie bydra nie. In alles is hy van sy ouers afhanklik. Hulle moet hom van kos, klere en ’n huis voorsien. Hulle moet hom bad, help om die toilet te gebruik, sy tande borsel, sy hande was, sy mond afvee, hom beskerm en opvoed.

Geestelik werk dit dieselfde: ons dra niks by tot ons redding nie; ons het geen aandeel daarin nie. Jesus doen alles. Hy alleen maak ons aanneemlik voor God (Rom. 3:28, 1Kor. 1:26-30, Ef. 2:8-9). Moet dan nie in jouself roem nie, maar roem in Jesus (Joh. 3:30, 15:5, 1Kor. 1:31, 4:7). Moenie soos die dissipels dink jy is beter as ander nie. Aanvaar die geringste gelowige asof jy Jesus en die Vader ontvang (v.48). Moenie net met dié mense kuier by wie jy gemaklik voel nie. Verwelkom die armes, mense wat die gemeente vir die eerste keer besoek of ’n ander taal praat. Moenie dat mense eenkant staan nie (Jak. 2:2-4). Maak ook jou hart oop vir kinders en moenie geïrriteerd raak met hulle nie (v.47-48, 18:15-17).

As mense jou irriteer of jy hulle op grond van die uiterlike vermy, wys dit jy het die kruis vergeet. Jy het vergeet dat Jesus vir almal gesterf het: ryk en arm, klein en groot, ou lidmate en nuwe besoekers, Afrikaners en Engelse, swart en wit. Niemand van ons is beter as ander nie. Almal het Jesus nodig.

Hy wat die geringste in die koninkryk is, is groot (v.48). Wees daarom nederig en laat mense welkom voel; laat hulle voor in die ry staan en bedien hulle (22:26, Mark. 9:35, 10:42-45, Joh. 13:14, Fil. 2:3-8). Moenie soos ’n sekere kind wees nie. Toe ons kinders in die ry gestaan het vir lekkers, toe sê die kind vir my seun: ‘Wil jy eerste in die hemel wees? Staan dan agter in die ry.’

Hoor eerder wat Paul Washer vir ’n klomp predikers gesê het. ‘Iemand nooi jou om by ’n konferensie te preek. Tydens die konferensie kry jy die geleentheid om saam met ander bekende sprekers aan tafel te sit. Net voor die ete kom ’n arm predikant van Ghana na jou toe. Hy het ’n vraag en wil met jou gesels. Wat gaan jy doen? Gaan jy jouself verskoon, omdat jy saam met die groot manne gaan eet? Of gaan jy jou ete afspraak mis en hierdie broer help?’

’n Christen wat gereeld aan die kruis dink, sal Jesus se liefde met ander deel en hulle bedien. By die kruis besef hy dat hy nie belangrik of spesiaal is nie—hy is ’n sondaar wat uit genade gered is.

 

3. Onverdraagsaam (v.49-50)

’n Man van die Bahá’í godsdiens het vir my gesê: ‘My probleem met julle Christene is dat julle dink julle is die enigstes wat reg is.’ Ek het hom op Joh. 14:6 gewys: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”

In ’n DVD het ’n liberale predikant gesê dat ons nie mense wat Jesus se liggamlike opstanding ontken uit die kerk moet sluit nie.2 Almal wat deel wil wees, is welkom.

Sedert die Hervorming het baie pouse al vir die Protestante gesê om na die Katoliekekerk toe terug te keer.

My punt is om te sê dat verdraagsaamheid nie beteken ons moet almal as broers aanvaar nie (Matt. 18:17, Rom. 16:17, 1Joh. 2:22-23, 4:1-6, 2Joh. 10). Om verdraagsaam te wees beteken eerder ons erken as broers dié wat hulle tot Jesus bekeer en in Hom glo; dié wat die basiese Christelike waarhede en die vyf solas van die Hervorming aanvaar: ons is gered uit genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen, volgens die Bybel alleen, tot die eer van God alleen (Hand. 26:20, 1Kor. 15:3-5, Ef. 2:1-10, 4:1-6).

Ongelukkig kyk ons soms deur die bril van ons denominasie se belydenisskifte om te besluit of iemand ’n Christen is of nie. Johannes het dieselfde gedoen. Hy het iemand vasgestrek wat in Jesus se Naam demone uitdryf, omdat hy nie een van die twaalf was nie (v.49, 1). Was Johannes miskien jaloers, omdat die apostels onsuksesvol was toe hulle in v.40 ’n demoon wou uitdryf? Dit klink soos Josua wat vir Moses gesê het om vir Eldad en Medad te keer toe hulle geprofeteer het: ‘Hulle is nie een van die 70 ouderlinge nie!’ (Num. 11:26-29).

Doen ons nie dieselfde wanneer ons die koninkryk van God en sy seën tot ons groepering van kerke of teologiese uitkyk wil beperk nie? Hoe dikwels het ek en my broer nie al oor teologie gestry nie? Ek kon my nie indink dat die Here iemand met ’n verskillende teologiese uitkyk as ek kon seën nie. In reaksie op ’n middeljarige predikant se beskouing van die geestelike gawes, het ’n ouer leraar gesê: ‘He is reformed... almost.’ Toe ’n jong predikant hoor dat sy kollega die Baptistekerk vir ’n ander denominasie verlaat, was hy baie bekommerd. Ons voel baie trots as dit andersom gebeur; as iemand sy denominasie vir die Baptiste verlaat. ‘Uiteindelik sien hy die lig!’ sê ons vir onsself. ‘You don’t have to be a Baptist to go to heaven, but why take the chance?’ Ons tree op asof net Baptiste hemel toe gaan.

Mense doen dit nie net met die doop en gereformeerde teologie nie, maar met die eindtyd en geestelike gawes. Toe ek ’n leraar aanraai om ’n gemeente te besoek wat die Bybel verkondig, toe sê ’n ander leraar: ‘Ek sal hom sterk afraai om dit te doen. Daardie gemeente het ’n ander eindtydsiening as ons.’

Hoekom tree ons so op? Ons doen dit, omdat ons die kruis vergeet (v.44). Ons dink mense is aanneemlik voor God as hulle deel van ons groep uitmaak (v.49). Ons vergeet dat ons net aanneemlik is voor God, omdat Jesus vir ons gesterf het. Ek probeer nie sê dat jou siening van die doop en die geestelike gawes niks beteken of dat jy jou oortuigings vir die honde moet gooi nie. Ek bedoel net dat hierdie dinge nie die basis vir ons broederskap is nie (sien v.50). Jesus en die kruis is.

Jesus gebruik Baptiste, kinderdopers, Arminiane, Calviniste—gelowiges uit elke groepering. Spurgeon was reg: ‘I am never ashamed to avow myself a Calvinist; I do not hesitate to take the name of Baptist; but if I am asked what is my creed, I reply, “It is Jesus Christ.”’3 Almal wat in Jesus glo, Hom liefhet en sonde haat, is my broer en my suster. Saam met George Whitefield sê ek: ‘I love all that love the Lord Jesus Christ.’4 Dawid het gesê: “Maar aangaande die heiliges wat op die aarde is, sê ek: Hulle is die heerlikes in wie al my behae is.” (Ps. 16:3, Ou Vertaling).

Beteken dit almal moet een denominasie vorm? Dit is juis nié wat ons moet doen nie; om te begeer dat almal Baptiste, Presbiteriane of Doppers word (v.49). Los hierdie dinge vir die dag wat Jesus weer kom. Leef intussen as een onder die kruis van Jesus (v.44, Joh. 17:20-23). Werk in dieselfde koninryk en moenie jaloers wees omdat húlle gemeente groei en óns s’n nie. In God se koninkryk bestaan daar nie so iets soos hulle gemeente en ons s’n nie. Dit is Jesus se kerk wat groei; sý koninkryk is besig om uit te brei!

Ek sluit af met die woorde van George Whitefield. Terwyl hy op ’n keer besig was om te preek, het hy skielik gestop, na die hemel gekyk en gesê: ‘Father Abraham, whom have you in heaven? Any Episcopalians there? “No.” Any Presbyterians? “No.” Have you any Independents or Seceders? “No.” Have you any Methodists there? “No, no, no.” Whom have you there? “We don’t know those names here. All who are here are Christians—believers in Christ—men who have overcome by the blood of the Lamb and the word of his testimony.”’5

Ek stem met hom saam en neem sy woorde aan as my eie: ‘...do not tell me you are a Baptist, an Independent, a Presbyterian, a Dissenter, tell me you are a Christian: this is the religion of heaven and must be ours upon earth.’6

Mag die godsdiens van die kruis ons almal se godsdiens word.


1  Iain Murray, The Old Evangelicalism (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2005), stofomslag

2  https://www.glodiebybel.co.za/willem-nicol/

3  C.H. Spurgeon, Autobiography: Vol. 2 (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1973), 34

4  Iain H. Murray, Heroes (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2009), 48

5  Ibid., 80-1

6  Ibid., 70

Kategorieë