Coram Deo Cover Image

Coming soon...

6 May 2023

Ketters in die kerk

1Timoteus 1:18-20

In 1923 het prof. J. du Plessis van Stellenbosch die verbale inspirasie van die Bybel bevraagteken, die historisiteit van Jona ontken, Christus se Goddelike attribute betwyfel, en ander kritiek teen die Bybel gelewer.1 Hiervoor het die NG Kerk hom uitgeskop.

Meer as 80 jaar later is Ferdi Mulder deur Tukkies se teologiese fakulteit geskors toe hy verskeie professors van soortgelyke en erger dwaallering beskuldig.2 Vandag aanvaar die NG Kerk hierdie dwaling, alhoewel ’n klein persentasie van die gemeentes hulle openlik daarteen uitspreek.

Hoe hou ons dwaling uit ons midde, veral as dit 20 jaar gelede in die vorm van teologiese liberalisme by die Afrikaanse Baptiste Seminarium ingesluip het?

 

1. Onthou jou roeping (v.18)

Om die ketters teen te staan, moes Timoteus sy roeping onthou. Wie was Timoteus? Sy pa was ’n ongelowige Griek en sy ma ’n bekeerde Jood (Hand. 16:1). Sy ma en ouma het hom van Jesus geleer (Hand. 16:1, 2Tim. 1:5, 3:14-15). Hy het onder Paulus se bediening tot bekering gekom (v.2, 18, vgl. 1Kor. 4:15, 17, Philem. 10).

Timoteus was ’n opregte gelowige (Hand. 16:2, 2Tim. 1:5). Wat sy persoonlikheid betref was hy teruggetrokke, skugter, skaam en vreesagtig—’n bietjie soos Piglet in Winnie-the-Pooh (1Kor. 16:10-11, 2Tim. 1:4, 7-8). Mettertyd het Timoteus die leraar van Efese of moderne Selçuk in Wes-Turkye geword. Gedurende sy bediening het vals leraars in die kerk ingesluip. Hulle oor die wet getwis en gesê ’n mens moet daardeur gered word (v.4, 7). Uit die aard van sy persoonlikheid wou Timoteus konfrontasie vermy en vlug. Paulus het gesê hy moenie. Hy moes vasstaan en die ketters se monde snoer (v.3-4). Hy moes hulle die korrekte gebruik van die wet leer, naamlik dat dit ons sonde uitwys, sodat ons na die evangelie sal vlug (v.8-11). Hy moes die ketters volgens v.5 se doel en motief bestraf: “Die doel van die opdrag is liefde uit ’n rein hart, ’n skoon gewete en ’n ongeveinsde geloof.”

Om vals leraars te bestraf is nie maklik nie. Tog moes Timoteus Paulus se opdrag uitvoer en God se eer, die evangelie en die gemeente beskerm (v.18). Om vas te staan, moes Timoteus sy roeping deur die profesieë onthou (v.18). Deur Paulus, die ouderlinge en ’n paar gemeentes het die Here Timoteus se roeping bevestig (4:14, 2Tim. 1:6, Hand. 16:2, vgl. 13:1-2). Deur sy roeping te onthou, kon Timoteus die wolwe met dapperheid, durf en waagmoed konfronteer, en nie vlug nie. Huurlinge vlug: “Die huurarbeider, wat nie ’n herder is nie, en aan wie die skape nie behoort nie, sien die wolf kom, los die skape en vlug—en die wolf vang en verjaag hulle—omdat die man ’n huurarbeider is en nie vir die skape omgee nie.” (Joh. 10:12-13). Een wat waarlik geroep is, jaag die wolwe weg (v.3, 18, Tit. 1:9).

Die bediening is nie ’n piekniek nie. As die Here jou roep, meld jy aan as ’n soldaat vir die oorlog (v18, 6:12, 2Tim. 2:3-4, Jos. 5:13-15). Moet asseblief nie aanmeld as die Here jou nie roep nie. Maar as Hy jou roep, moet jy nie soos Jona vlug nie. Jy moet God se Woord spreek. “’n Leeu het gebrul—wie sal nie bang wees nie? My Heer, die Here, het gepraat—wie sal nie profeteer nie?” (Amos 3:8).

Hoe sal jy weet of die Here jou roep, of nie? Om bloot te voel die Here roep jou is onvoldoende. Jy benodig ’n objektiewe anker as die onstuimige see van vals lering en teenkanting jou bootjie wil kantel. Ek praat uit ervaring. Op hoërskool het ek ’n subjektiewe ervaring gehad. Die woorde van Jes. 6:8 het aanhoudend by my opgekom—in my stiltetyd, agter op ’n spyskaart, in ’n lied se woorde: “‘Wie sal Ek stuur en wie sal vir ons gaan?’ Ek sê toe: ‘Hier is ek, stuur my!’ ” Ek kon dit nie afskud nie.

Ek het gaan studeer en my eerste bediening betree. Na ’n kort rukkie toe kom die eerste storm. Ek wou weghardloop. ‘Hoe weet ek ek is geroep? Wie sê Jes. 6:8 het nie toevallig na my toe gekom nie? Die Here het dit vir Jesaja gesê; nie vir my nie. Was ek reg om dit op myself toe te pas.’ Vir tien jaar het ek my roeping betwyfel. Hoe weet ek ek is regtig geroep? Wie sê dit was nie net my eie gevoel nie?

Toe ek in 2010 ’n konferensie bywoon, toe vra iemand ’n vraag oor roeping. Deur een van die sprekers het die Here my twyfel opgeklaar. Die spreker het basies 1Timoteus 3-4 gebruik om roeping te verduidelik. Begeer jy om ’n geestelike leier te wees—wil jy die evangelie preek (3:1)? Het jy ’n Godvresende karakter (3:2-7)? Het jy die gawe van prediking (3:2)? Dink ander geestelike leiers en die gemeente jy is vir die bediening geskik (4:14-15)?

Hoekom het ek dit nie voorheen gesien nie? Hier het ek ’n objektiewe maatstaf gehad waaraan ek myself kon meet. My twyfel het iets van die verlede geword.

Hoe help hierdie dinge jou, veral omdat 99% van my lesers nie sendelinge of predikant is wat op die voorste linies baklei nie. Elke Christen is ’n soldaat in die Here se weermag (2Tim. 4:7). Party soldate bid by die basis. Ander stuur voorraad na slagveld, verbind die gewondes deur bemoediging, of lei die volgende geslag op om soldate te wees. Elkeen doen sy deel in die stryd om siele uit die duiwel se mag te red (Hand. 26:18). Niemand kan in eie krag teen die vyand stry nie. Ons stry met die Here se krag en gebruik sy wapenrusting (Ef. 6:10-20).

Soldiers of Christ, arise,

And put your armour on,

Strong in the strength which God supplies,

Through His eternal Son;

Strong in the Lord of Hosts,

And in His mighty power,

Who in the strength of Jesus trusts

Is more than conqueror.

 

Stand then in His great might,

With all His strength endued;
And take, to arm you for the fight,
The weapons of our God,

That, having all things done,

And in your conflicts past,
You may o’ercome through Christ alone,

And stand complete at last.

 

From strength to strength go on;
Wrestle, and fight, and pray;
Tread all the powers of darkness down,
And win the well-fought day:
Still let the Spirit cry
In all His soldiers, “Come!”
Till Christ the Lord shall come from high,
And take the conquerors home.

                                —Charles Wesley

Paulus noem dit ’n goeie stryd (v.18). Dit beteken ons val nie ongelowiges aan nie. Ons stryd is nie hoofsaaklik teen mense nie, maar teen die magte van duisternis (Ef. 6:12). Ons moet ongelowiges met sagmoedigheid reghelp en vir hulle bekering bid: “’n Dienskneg van die Here moenie rusie maak nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig, geduldig, iemand wat teenstanders met sagtheid teregwys. Miskien mag God hulle tot bekering bring, sodat hulle die waarheid kan ken, en hulle tot hulle sinne laat kom—vry van die strik van die Duiwel, deur wie hulle gevange gehou word om te doen wat hy wil hê.” (2Tim. 2:24-26).

Die goeie stryd beteken ook ons baklei nie met mekaar nie (Gal. 5:15). Ons stry teen ons eie sonde (1Pet. 2:11). Met die wapens van geregtigheid, die Woord en gebed stry ons teen vals lering (2Kor. 6:7, 10:3-5).

 

2. Glo die waarheid (v.19)

Vir Timoteus om die stryd vol te hou, moes hy met ’n goeie gewete aan die Christelike geloof vashou (v.19a). Hoe preek ’n mens teen dwaling as jou gewete soos ’n blaar in die wind rondwaai en jy twyfel of die Bybel waar is? Hoe staan ’n mens in die kansel as jy sonde in jou gedagtes, gesin of privaatlewe koester? Jy kan nie. Jy mag nie. Jy sal jou gewete besoedel.

Daarom moes Timoteus sy gewete skoon hou en die waarheid van God se Woord sonder twyfel glo (v.19a, 3:9). Hy moes dit openlik en skaamteloos bely; dit suiwer bewaar en daarvoor stry (6:12-14, 2Tim. 1:13, Rom. 1:16, Judas 3).

Wil jy dieselfde doen? Dan moet jy die waarheid gereeld in die kansel hoor dat jy dit in jou hart kan vasmaak. Oordink die Woord in jou stiltetyd, sodat jy dit persoonlik kan toepas. Sing daarvan, sodat dit jou hart warm maak. Leef wat jy glo, sodat jy nie skynheilig is nie. Deel dit met ander dat dit nie soos stagnante water in jou hart vasgekeer raak nie. Leer dit saam met ander dat jy kan weet jy glo nie alleen nie (Fil. 1:27, Heb. 10:23). Meet jou oortuigings aan die geloofsbelydenisse van die geskiedenis dat jy oortuig kan wees jy glo wat Christene altyd geglo het: “So sê die Here: ‘Gaan staan langs die paaie en kyk; vra na die weë uit die voortyd. Vra waar die pad na die goeie is, en volg dit! Vind so sielerus!’ ” (Jer. 6:16).

Dit is nodig dat predikante bogenoemde doen, omdat hulle ander onderrig (4:13). ’n Predikant wat die Bybel afskeep, raak die pad byster (v.19). Hy skroei sy gewete (4:2). Wat soek hy in die kansel? As hy aanhou teen sy gewete preek, sal hy uiteindelik openlik dwaal en sê die Bybel is nie waar nie. Of hy sal die Bybel suiwer verkondig, maar nie uitvoer nie (Matt. 23:3, Rom. 2:21-22). Dan is hy skynheilig.

Of hy sal sy ongeloof aan die gemeente bely en die bediening verlaat. Of hy sal sy sonde erken, God en die gemeente om vergifnis vra en ’n rein gewete verkry.

 

3. Bestraf die ketters (v.20)

Paulus het Himeneus en Aleksander bestraf (v.20). Duidelik was albei van hulle vals leraars. Himeneus het gesê die opstanding van die dooies het reeds plaasgevind (2Tim. 2:17-18). Ons is onseker wie Aleksander was. Is hy die Jood van Hand. 19:33 wat in Efese teen Paulus opgestaan het? Is dit dieselfde man teen wie Paulus vir Timoteus in 2Tim. 4:14-15 waarsku: “Aleksander, die kopersmid, het my baie kwaad aangedoen. Die Here sal hom volgens sy dade vergeld. Wees ook jy op jou hoede vir hom, want hy het ons woorde heftig teengestaan.”?

Ons weet nie. Dit is wel duidelik dat ons nie dwaling moet duld nie (Rom. 16:17, 2Joh. 10-11). Ons moet die ketters voor almal en by naam bestraf (v.20, 5:20, Matt. 18:17, 3Joh. 9-10). Hierin moes Timoteus Paulus se voorbeeld volg en nie vir die ketters terugstaan nie (v.20, 3). Wie dwaling los, veroorsaak probleme. Die ketters sal baie mense meesleur (6:20-21). Die suurdeeg sal versprei (Gal. 5:9). Daarom moes Timoteus die ketters bestraf en hulle leer kerkdissipline is ernstig (v.20). Wie van die gemeente afgesny word, beland in Satan se hande en val onder sy domein (v.20, 1Kor. 5:5, 2Kor. 4:4, 1Joh. 5:19). Satan het toestemming om so iemand te karnuffel. Hy kan die ketter se huwelik, gesin, gesondheid, besittings en meer aanval.

Klink dit vir jou te erg? Vra jy soos iemand my eenkeer gevra het: ‘Wie gee julle die reg om iemand van die gemeente af te sny?’ Jesus gee ons die reg. Ons doen dit in sy Naam en met sy gesag (Matt. 18:18-20, 1Kor. 5:4-5). Soms moet ons ’n drasties stap soos v.20 neem om iemand wakker te skud (v.20). Baie gemeentes versuim om dit te doen. Hulle vee sonde onder die mat in en sê ons mag nie oordeel nie: ‘Laat hy wat sonder sonde is die eerste klip gooi.’ Dit het in die NG Kerk gebeur. Toe evolusie en historiese kritiek insluip, het baie van die kerkleiers anderpad gekyk. Nou sit hulle turf.

Dit kan met ons ook gebeur. Baie Christene speel met dwaling. Hulle glo TBN se prosperity predikers, naamlik dat materiële voorspoed en gesondheid ’n bewys van die Here se seën is, terwyl siekte en teëspoed simptome van ongeloof is.

Ander mense glo Joseph Prince se hiper-genade leer wat sê jy hoef nie jou sonde te bely nie.

Hillsong en Bethel beïnvloed tienduisende mense met hulle hiper-charismatiese teologie.

LGBTQ+ het die kerk binnegedring. Baie mense sien nie dat Rom. 1:26-28 hierdie optrede as sondig verdoem nie.

Party gelowiges het die Hebrew Roots dwaling omhels. Hulle dink jy moet ’n Jood wees voor jy ’n Christen kan word. Om gered te wees, moet jy besny word, Joodse kosse eet, die Ou Testament Feeste en sewendedag Sabbat hou. Partykeer wonder ek of Galasiërs in hulle Bybel is.

Verskeie kerke word deur historiese kritiek mislei. Hulle ontken die bonatuurlike, betwyfel die historisiteit van Genesis 1-11, en bevraagteken basiese Christelike leerstellings soos die maagdelike geboorte en liggaamlike opstanding van Jesus.

Kyk, lees of jy luister jy na van hierdie leringe? Het jy vergeet demone werk saam met hierdie mense om jou te mislei (4:1)? As jy met dwaling speel, sal die Here jou daaraan uitlewer: “En daarom laat God die krag van dwaling oor hulle kom, sodat hulle die leuen sal glo, en sodat almal wat nie die waarheid glo nie, maar behae vind in die ongeregtigheid, veroordeel kan word.” (2Tess. 2:11-12).

Bely jou sonde en bly by die suiwer lering van die Woord. Hoe bepaal jy suiwer lering? Bly by wat die apostels geleer het (6:3). Gebruik die Bybel as jou maatstaf (Hand. 17:11). As jy dit noukeurig doen, sal jy sien R.C. Sproul, Alistair Begg, John MacArthur, Paul Washer en soortgelyke predikers verkondig die waarheid.

Waak net dat jy nie te ver gaan nie. Talle Christene wat goeie lering ontdek—veral jongmense—verdoem enigiemand wat nie 100% met hulle saamstem nie. As iemand anders as hulle oor die eindtyd, geestelike gawes, uitverkiesing of die doop glo, noem hulle hom ’n vals leraar. Dit laat my wonder in wie hulle roem: in Jesus of in hulle spesifieke groep (Luk. 9:49, 1Kor. 1:12)? Petrus sê: “as iemand egter ly omdat hy ’n Christen is, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik op grond van hierdie Naam.” (1Pet. 4:16). Praktiese beteken dit ek is nie trots om ’n Baptis te wees nie. Ek roem in die Naam van Jesus alleen en kan my met George Whitefield vereenselwig: ‘I wish all names among the saints of God were swallowed up in that one word Christian. I long for professors [people who profess Christ] to leave off placing religion in saying, “I am a church man,” “I am a dissenter.” [‘I am a Baptist... I am a Presbyterian... I am Reformed... I am a Methodist... I am Independent.’] My language to such is, “Are you of Christ? If so, I love you with all my heart.” ’3

Is jy ’n Christen? Glo jy Jesus Christus het aan die kruis vir ons sondes gesterf? Glo jy Hy is begrawe en het op die derde dag uit die dood opgestaan? Glo jy die graf is leeg? Het jy jou van jou sondes bekeer? Vertrou jy Jesus as jou Here en Verlosser? Het jy jouself en alles verloën om sy dissipel te wees? Glo jy Hy is die Seun van God; gelyk met die Vader en die Heilige Gees? Of glo jy ’n ander Jesus; ’n ander evangelie? Het jy ’n ander gees ontvang?

Indien wel, moet ons paaie skei. Ek en die kerk van Jesus Christus erken jou nie as ’n Christen nie. Wat Paulus vir die Galasiërs gesê het, geld vir jou: “Maar selfs al sou ons, of ’n engel uit die hemel, ’n evangelie aan julle verkondig in stryd met wat ons aan julle verkondig het, laat hom vervloek wees! Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou weer: As iemand aan julle ’n evangelie verkondig wat in stryd is met wat julle ontvang het, laat hom vervloek wees!” (Gal. 1:8-9).


1  V.E. d’Assonville, Dit is Totius (Pretoria: Marnix, 1993), 155-60.

2  Ferdi Mulder, Opgestaan (Cambridge, England: Opgestaan Publikasies, 2011).

3  Iain H. Murray, Heroes (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2009), 78.

Kategorieë