Lukas 17:20-37
Ek het ’n tydbom aan my vas. Vandag gee ek dit vir jou. My probleem het joune geword. Jy moet dit met die Here uitklaar. Na vandag se boodskap was ek my hande in onskuld. My hande is skoon van jou bloed (Hand. 20:26). As jy verlore gaan, is jou bloed op jou eie hoof (Eseg. 3:16-21).
1. Jou Koning is hier (v.20-21)
Die Romeine het die antieke wêreld oorheers. Hulle het onder andere oor Israel regeer en dié moes aan hulle belasting betaal. Die Jode het ’n Messias verwag om hulle van die keiser se onderdrukking te red. Sy koninkryk sou sigbaar en tasbaar wees. ‘As Jesus die Messias is, waar is sy koninkryk?’ wou hulle weet. ‘Wanneer sal dit aanbreek?’ (v.20).
Christ se koninkryk kom nie deur menslike wapens nie. Voor Hy gesterf het, het Jesus vir Pilatus gesê: “My koningskap is nie van hierdie wêreld nie. As my koningskap van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer word nie. Maar nou is my koningskap nie van hierdie wêreld nie.” (Joh. 18:36).
Tussen 1096 en 1204 n.C. het die Katoliekekerk se onkunde die kruistogte tot gevolg gehad. Hulle het ’n weermag versamel om in Jerusalem teen die Moslems te veg. Soos Islam wou die Katoliekekerk Jerusalem en die heilige land vir hulleself wen.1 Hulle het vergeet Christus se koninkryk is geestelik. Die koninkryk versprei nie deur menslike wapens, politiek, petisies en optogte nie. Ons wapens is geestelik (2Kor. 10:3-5, Ef. 6:10-20).
Verder kan ons die koninkryk nie tot ’n plek beperk nie. Die koninkryk is waar die Koning is (v.21). Dit is oral waar mense die Koning se gesag aanvaar, hulle voor Hom verneder en in Hom glo (18:16-17, Jes. 52:7). By sy eerste koms het Jesus gesê die koninkryk is naby: “Maak die siekes wat daar is, gesond en sê vir hulle, ‘Vir julle is die koninkryk van God op hande.’... ‘Selfs die stof van julle dorp wat aan ons voete kleef, vee ons af as aanklag teen julle. Maar dit moet julle weet: Die koninkryk van God is op hande!’ ” (10:9, 11). “Maar as Ek deur die vinger van God demone uitdryf, dan het die koninkryk van God julle bereik.” (11:20). “Van toe af het Jesus met sy verkondiging begin en gesê: ‘Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele is op hande.’ ” (Matt. 4:17).
Na die opstanding en met sy hemelvaart, het Jesus as Koning aan die Vader se regterhand gaan sit en die koninkryk in besit geneem (19:12, Dan. 7:13-14, Ps. 110:1, Matt. 28:18). Tot by die wederkoms sal sy koninkryk oor die aarde versprei (13:18-19, 29, Matt. 24:14, 31). Daarna sal Hy die koninkryk aan die Vader oorhandig, waarna ons in ’n perfekte wêreld sonder siekte, sonde, hartseer, pyn en dood sal lewe (1Kor. 15:24, Openbaring 21-22).
Om in die koninkryk te deel, moet jy weergebore word: “Jesus het hom geantwoord: ‘Amen, amen, Ek sê vir jou: As iemand nie van bo gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie... As iemand nie uit water én Gees gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie binnegaan nie.” (Joh. 3:3, 5). “God het ons uit die mag van die duisternis gered, en verplaas na die koninkryk van sy geliefde Seun—deur wie ons bevryding, die vergifnis van sondes ontvang het.” (Kol. 1:13-14).
2. Jou oë sal Hom sien (v.22-25)
In Matteus 24 het Jesus die Joodse oorlog en verwoesting van die tempel tussen 67 en 70 n.C. voorspel. Sowat 1.1 miljoen Jode sou sterf en die Romeine sou 97 000 gevange neem. Gedurende hierdie tyd sou die dissipels vir die wederkoms wens, maar dit sou nie gebeur nie (v.22). Jesus sou nie in hulle tyd terugkeer nie. In 19:11-12 lees ons: “Terwyl die mense hierna luister, het Jesus nog ’n gelykenis vertel, omdat Hy naby Jerusalem was en die mense gedink het dat die koninkryk van God nou skielik sou aanbreek. Hy het gesê: ‘’n Man van hoë afkoms het na ’n ver land gereis om vir homself ’n koningskap te bekom en weer terug te keer.”
Let op dat die finale koninkryk nie dadelik sou aanbreek nie. Jesus sou na ’n ver land toe reis om sy koningskap te bekom. Hy sou eers later terugkeer. Volgens Matt. 25:14, 19 sou dit lank vat: “Want dit is net soos ’n man wat op reis gaan en sy slawe roep en sy besittings aan hulle toevertrou... Ná ’n lang tyd kom die eienaar van daardie slawe terug en eis rekenskap van hulle.”
Vals profete en christusse sal God se kinders probeer mislei deur te sê die Messias het hier of daar gekom (Matt. 24:23-24). Hulle wil Jesus se koms lokaliseer. Volgens ’n dwaling genaamd vol preterisme het in 70 n.C. gekom. Soos Himeneus en Filetus glo hulle die opstanding van die dooies en die oordeelsdag het reeds plaasgevind (2Tim. 2:17-18). Armsalig en mislei!
Ander dink die wederkoms het in die geheim plaasgevind. Die Jehovas Getuies is berug vir hulle vals profesieë oor die eindtyd.2 Toe hulle voorspellings oor die wederkoms nie vervul is nie, toe sê hulle Hy het onsigbaar gekom. Jesus se dissipels moenie vir sulke profesieë val nie (v.23).
Jesus se wederkoms sal nie sigbaar of onduidelik wees nie. Sy koms sal soos weerlig wees wat die hele hemel ophelder (v.24). Almal in die noorde, die suide, die ooste en die weste sal weet Jesus het weer gekom. Niemand sal wonder nie. Soos die dissipels Jesus met ’n wolk sien opvaar het, sal hulle Hom sien terugkeer (Hand. 1:9-11).
Maar eers sou die Jode Hom as hulle Koning verwerp en Hom kruisig (v.25, Joh. 19:14-15). By die wederkoms sal niemand sy koningskap ontken of dit verwerp nie: “sodat in die Naam van Jesus elke knie sal buig—van diegene in die hemel en op die aarde en onder die aarde—en elke tong sal bely, ‘Jesus Christus is die Here!’ tot eer van God die Vader.” (Fil. 2:10-11).
Bely jy Hom as jou Koning? Sê jy dit net met jou lippe of onderwerp jy jou huwelik, ouerskap, werk, geldsake, liggaam, vermaak, alles aan Koning Jesus? ‘If Christ is not Lord of all, He is not Lord at all.’
3. Hy kom onverwags (v.26-30)
Het jy ooit as kind lekkers uit die kas of kondensmelk uit die yskas gesteel? Onthou jy toe jou ma skielik agter jou staan en sy jou op heterdaad betrap? So sal die wederkoms wees: dit sal mense onverhoeds betrap:
“Net soos in die dae van Noag gebeur het, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die Mens. Hulle het geëet, gedrink, in die huwelik getree en in die huwelik uitgegee, tot op die dag dat Noag die ark binnegegaan en die vloed gekom en almal vernietig het. Net so het dit ook in die dae van Lot gegaan—hulle het geëet, gedrink, gekoop, verkoop, geplant en gebou; maar op die dag dat Lot uit Sodom weggetrek het, het daar vuur en swael uit die hemel gereën en almal vernietig. Dit sal net so wees op die dag wanneer die Seun van die Mens geopenbaar word.” (v.26-30).
Volgens dié wat die Left Behind reeks glo, gaan alles ‘doom and gloom’ wees voor die wederkoms. Dit beteken almal sal weet die tyd is naby. Dit is nie wat Jesus hier sê nie. Voor die wederkoms sal dit ’n normale dag of nag wees. Jesus sal ewe skielik in vuur en vlam met die heerlikheid van sy Vader en al sy heilige engele kom (Matt. 25:31, 2Tess. 1:7-8). Niemand ken die tyd nie. “Bly daarom waaksaam, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie—teen die aand, om middernag, teen hanekraai of vroegoggend nie.” (Mark. 13:35).
Moenie die datum probeer uitwerk nie. Een van my studente het dit gedoen. In 2010 toe gee hy my ’n DVD om te kyk. Volgens die aanbieder se berekening sou ons in 2013 in die middel van die groot verdrukking wees. In 2017 sou Jesus weer kom.
Moenie na sulke voorspellings luister nie. Die Bybel sê: “Van daardie dag en uur dra niemand kennis nie, selfs nie die engele in die hemel nie, en ook nie die Seun nie—net die Vader.” (Mark. 13:32). “Dit is nie vir julle om die tye en spesifieke geleenthede te ken wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie.” (Hand. 1:7).
Twyfel jy soms of die wederkoms waar is? Ek is seker jy wil nie wag en uitvind nie! Glo wat Jesus sê is waar. In v.26-30 vergelyk Hy die wederkoms met Noag se vloed en die verwoesting van Sodom. Oral in die wêreld is daar bewyse van die vloed. Rotslae, fossiele en reusagtige canyons lewer genoegsame bewyse van ’n globale verwoesting of kataklisme. Gefossileerde seediere op berg Everest onderstreep die waarheid van ’n wêreldwye vloed.
Sedert die verwoesting van Sodom groei niks daar nie. Niks kan in die Dooie See lewe nie. Selfs sekulêre wetenskaplikes erken die bestaan van Sodom, en sê dat dit in ’n oomblik verwoes is.
So seker as Noag se vloed en die verwoesting van Sodom, so seker sal Jesus kom om die wêreld te oordeel. Moet dit nie vir ’n oomblik betwyfel nie, maar kry jouself gereed (Matt. 25:13). Verduur lyding, omdat jy weet Jesus kom weer en sal alles regmaak (Rom. 8:23-25). Gee jou beste in sy diens, omdat jy ’n beloning verwag (1Kor. 3:12-15). Moenie moedeloos word nie, maar werk getrou tot Hy weer kom (1Kor. 15:58). Verkondig die Woord met die wete Hy is op pad (2Tim. 4:1-2). Vrees God en lewe wees, omdat jy weet Hy kom weer (Tit. 2:12-13, 2Pet. 3:11). Bekeer jou; jy weet nie wanneer die wederkoms is nie (2Pet. 3:9, 15). Herstel gebroeke verhoudings voor Jesus op die wolke verskyn (2Pet. 3:14). Bly in Hom en hou jouself rein. As jy die wederkoms vooroë hou, sal jy (1Joh. 2:28, 3:2-3).
4. Jy kan niks saamvat nie (v.31-33)
Die spreekwoord lui: ‘He who has the most toys wins.’ Dit is onwaar. Wie die meeste speelgoed het, verloor die meeste wanneer hy sterf. Daarom sê Jesus in v.31: “Wie op daardie dag op sy dakstoep sal wees, met sy besittings nog in die huis, moenie ondertoe gaan om dit te gaan haal nie. Net so moet die een op die landerye nie terugdraai na wat agter is nie.”
By die wederkoms gaan Jesus alles met vuur vernietig (2Pet. 3:10, 12). Jy gaan alles verloor. Moenie soos Lot se vrou wees nie. Toe die Here Sodom vernietig het, het die engele gesê Lot en sy gesin moenie terugkyk nie (Gen. 19:17). Toe Lot se vrou terugverlang en omkyk het sy in ’n soutpilaar verander (Gen. 19:26).
Onthou Lot se vrou (v.32)! As jy die wêreld liefhet, maak jy jouself ’n vyand van God en is sy liefde nie in jou nie (Jak. 4:4, 1Joh. 2:15-17). Wie die wêreld begeer, sal saam met die wêreld geoordeel word. Op. 18:4 sê: “Gaan weg van haar, my volk, sodat julle nie ook deelneem aan haar sonde nie, en julle haar plae nie oor julle bring nie.”
Moenie aardse rykdom, status en sukses najaag nie. Jy gaan alles verloor: “Wie probeer om sy lewe te beveilig, sal dit verloor” (v.33a). Wees liewer bereid om jou lewe vir Christus te verloor: “maar wie dit verloor, sal dit behou.” (v.33b). “As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën, en elke dag sy kruis opneem en My volg; want wie sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit red.” (9:23-24). “Maar alles wat vir my wins was, reken ek nou as verlies, ter wille van Christus. Inderdaad reken ek alles as verlies, ter wille van die uitnemendheid daarvan om Christus Jesus, my Here, te ken. Ter wille van Hom, het alles vir my ’n verlies geword, en beskou ek dit as vullis, sodat ek Christus as wins kan verkry, en in Hom bevind kan word—nie met my eie geregtigheid op grond van die wet nie, maar met die geregtigheid deur geloof in Christus, die regverdiging wat van God kom, deur die geloof” (Fil. 3:7-9).
Een toets is genoeg om te weet of jy regtig die Here soek, en of jy net sê jy doen dit: wens jy Jesus kom binnekort, of wil jy eers soos in v.31 dit doen, dat hê en die ander bereik?
5. Mense sal geskei word (v.34-36)
As Jesus weer aarde toe kom, sal dit letterlik en figuurlik aan die eenkant nag wees en aan die anderkant dag: Ek sê vir julle: “In daardie nag sal daar twee op een bed wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee vroue sal saam maal; die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee sal op die land wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word.” (v.34-36, Ou Vertaling, vgl. Matt. 24:40-41).
Party mense dink Jesus praat hier van ’n geheime wegraping, maar die konteks gaan oor ’n globale wederkoms (v.24, 26-33). Die teks sê Jesus sal een saamneem en die ander een agterlaat. Vat Hy die gelowige saam om Hom in die lug te ontmoet (1Tess. 4:17)? Of vat Hy soos in Jer. 6:11 (ESV) die ongelowige saam om geoordeel te word: “Pour it out upon the children in the street, and upon the gatherings of young en, also; both husband and wife shall be taken, the elderly and the very aged.” (eie beklemtoning)?
Ongeag watter interpretasie jy kies, die punt bly dieselfde: wanneer Jesus weer kom, sal huwelike, gesinne, families, vriende en kollegas geskei word. As gelowiges sal ons nie hieroor treur nie. Ons sal die Here prys dat Hy ons gered het en sy vyande regverdig oordeel (Op. 5:9-14, 19:1-3).
Vir die ongelowige sal hierdie skeiding nag wees en konsternasie veroorsaak. Ongelowiges sal angstig, histeries, versteen, verstar en benoud wees. Al is hulle geliefdes saam met hulle in die hel; hulle sal van mekaar en van God geskei wees (16:23-26, Matt. 25:30, 2Tess. 1:9).
Gee jou beste om jou geliefdes en ander verlorenes na die Here toe te lei en hulle saam met jou in die hemel te kry (vgl. Hand. 16:30-34).
6. Mense sal geoordeel word (v.37)
Waar sal die wederkoms plaasvind (v.37)? Oral waar mense se sonde hulle soos ’n karkas laat vrot, sal God se oordeel soos roofvoëls op hulle toesak (v.37, Deut. 28:49, Hos. 8:1, Hab. 1:8, Matt. 24:28).
Hoe ruik jou lewe? As mense jou hart, lewe en gedagtes kon ruik, wat sou hulle ruik?
Jesus se dood vir sondaars was ’n geurige offer vir God (Ef. 5:2). Vra Hom om dit in jou plek te aanvaar. Dan sal jy soos Christus ruik en sy geurige offer versprei (2Kor. 2:14-16). Die geurige aroma van Christus sal maak dat die roofvoël van God se oordeel verby vlieg en nie op jou neersak nie.
***
Een aand het ek van die wederkoms gedroom. Ek was oorkant die Poskantoor in die hoofstraat van my tuisdorp, Louis Trichardt. Ek het weg van die berg af gekyk en gesien hoe mense ewe skielik voor my begin hardloop en skreeu. Ek het omgedraai om te kyk wat gebeur. Tienduisende engele het nader gekom. In hulle midde was daar ’n helder lig. Dit het al hoe nader gekom. Onmiddellik het ek geweet dit is die wederkoms. Ek het van opgewondenheid gespring. Ek het geweet ek droom nie. Die oomblik het gekom!
Toe word ek wakker.
Dit was ’n droom.
Wat as dit nie was nie? Sou jy gereed wees?
1 N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 2 (London: Grace Publications Trust, 2000), 184-215.
2 https://carm.org/jehovahs-witnesses/jehovahs-witnesses-and-their-many-false-prophecies/