Wat is die Nuwe Eksodus? Dit klink soos ‘n kultus of Hollywood se verdraaiing van die geskiedenis van Moses en die Israeliete. Toemaar, dit is nie; jy kan maar ontspan. Dit is heeltemal Bybels. Toe Jesus op die berg van verheerliking was, het Hy met Moses en Elia gepraat oor die uitgang wat Hy in Jerusalem sou volbring (Lk.9:31). Die Griekse woord vir ‘uitgang’ is exodos.
Soos wat die Here vir Moses gebruik het om die Israeliete uit Egipte en deur die Rooi See te lei, het Jesus ons deur sy kruisdood uit die mag van sonde en die duiwel bevry, en sal Hy ons veilig deur die wêreld lei. Dit is o.a. die les wat Johannes in Op.15:1-8 vir ons leer.
Die plae (v.1)
Ek het in die Metodistekerk groot geword. Toe ek in gr.3 of 4 was, het die groter klas ‘n toneel oor die tien plae opgevoer. Dit was vol van kinderhumor. Met die negende plaag het Farao bv. na sy flits in die donker gesoek.
Maar ek wonder hoe dit moes wees om hierdie plae deur te maak? Enigiemand wat die gewig van God se toorn in sulke plae voel, sal verseker nie dink dat dit ‘n grap is nie.
En vir Johannes was die groot en wonderlike teken van die sewe engele met sewe plae ook baie ernstig (v.1). Die plae is veronderstel om ons aan Eks.7-12 te herinner, toe die Here plae gestuur om sy volk uit Egipte te verlos. ‘Maar hoekom praat Johannes van sewe plae en nie van tien plae soos in Egipte nie?’ wonder iemand.
Sewe is die volmaakte getal, en dui dus op die volmaakte toorn van God. Reeds in Moses se tyd het die Here gesê dat Hy sy volk sewevoudig met die plae van Egipte sou straf, indien hulle nie opgehou het met hulle sonde nie (Lv.27:18, 21, 24, 28, Dt.28:27, 60).
Jerusalem het die nuwe Egipte geword (11:8), sodat die Here haar sewevoudig met sy plae gestraf het (6:1-17, 8:1-9:21, 10:3-4, 11:15-19, 15:1-16:21). Dit het Hy in 70 n.C. gedoen toe Hy die ou verbond, die tempel, die priesters en die offers finaal tot ‘n einde gebring het (v.1, Mt.24:1-3, 34, Heb.7:12, 8:13, 10:9, 19-21).
Vir die Jode was dit slegte nuus. Maar vir die res van die wêreld was dit goeie nuus, omdat die verwerping van Israel die redding van die wêreld beteken het (Mt.21:43, Hd.13:45-48, 18:5-6, 28:28, Rm.11:11). Dié wat in Jesus glo is die ware volk van God, die ware Israel (Rm.2:28-29, 9:4-6, Gal.3:7, 14, 16, 29, 4:28, 6:16, Ef.2:12, 19, 3:6, Tit.2:14, 1 Pt.2:9).
Jy is nie deel van God se volk omdat jy ‘n sekere taal praat, in ‘n sekere land bly, aan ‘n sekere kerk behoort, en ‘n sekere velkleur het nie. Ons glo nie in die ou Afrikaner-sakralisme, waarin jy ‘n gedoopte lid van die NG-Kerk (of een van die susterskerke) moet wees en vir die Nasionele Party moet stem om hemel toe te gaan nie.
Om deel te wees van die Nuwe Eksodus van die ware Israel, moet jy vertrou dat Jesus die slawe-kettings van jou sonde deur sy kruisdood kan breek (1 Jh.3:8). Jy moet ook glo dat die bloed van God se Paaslam jou teen die plae van sy oordeel kan beskerm. En as jy hierdie waarheid van Jesus en sy evangelie glo, sal jy waarlik vry wees (Jh.8:32, 34, 36).
Die see (v.2)
Wanneer ons ‘n boek soos Openbaring lees en bestudeer, moet ons seker maak dat ons dit reg interpreteer. Om dit reg te kry moet ons onthou dat Johannes baie beeldspraak gebruik het.
Ons kan dus nie sê dat daar in die toekoms regte diere met sewe koppe en tien horings op die toneel gaan verskyn nie. Dn.7 leer immers vir ons dat die diere met hulle koppe en horings ‘n simboliese uitbeelding van spesifieke konings en nasies is.
En tog moet ons versigtig wees dat ons nie die simboliek te ver voer nie. ‘n Man het eenkeer vir my gesê dat die 666 eintlik ‘n verwysing na die televisie is. Hoe kan ons dan weet of ons interpretasie van Openbaring korrek is of nie? Om seker te maak, moet ons dit met die res van die Skrif vergelyk.
Johannes het iets gesien soos ‘n see van glas wat met vuur gemeng is (v.2). Dit was in die hemelse heiligdom voor die troon van God (v.2, 5, 4:6, Eks.24:10). Volgens 1 Kon.7:23-26 en 1 Kron.4:6 was daar ‘n gietyster see in die tempel. Die priesters wat aan diens gekom het, het hulleself daarin gereinig. Die punt van die see in v.2 is dan dat dié wat deur Jesus gereinig is, voor God se troon in sy hemelse tempel mag kom.
Die see was gemeng met vuur en was dus rooi (v.2). Dit is veronderstel om ons aan die Rooi See te herinner, waar die Israeliete langs die see gestaan het om die Here vir sy verlossing te prys (v.2-3, vgl. Eks.14-15). Die vuur is simbolies van God se oordeel (v.2, Dn.7:10-11), terwyl die rooi kleur ons aan die bloedbad van 14:19-20 herinner. God se kinders het nie in die ‘see’ verdrink nie, maar het veilig op die hemelse strand gestaan (v.2). Hulle het die dier, sy beeld, en die nommer van sy naam oorwin (v.2, vgl. hfst.13).[1] Wat beteken dit?
Hulle het nie aan die versoeking toegegee om in hulle denke en dade soos die wêreld te wees nie (13:16). Hulle het geweier om ‘n inkarnasie of beeld van die dier te wees, en is daarom ekonomies benadeel (13:14, 17). Maar ten spyte daarvan het die dier nie daarin geslaag om hulle van die Here af weg te draai nie (v.2, 12:11, Mt.24:13).
Dit is dan duidelik dat die dier nie die gelowiges oorwin het nie (13:7), maar dat hulle hom oorwin het (v.2, Rm.8:36-37). Die dood self kon nie hulle redding wegvat nie, maar het hulle dadelik hemel toe gevat. Daar het God vir hulle harpe gegee, en het hulle Hom vir sy groot verlossing geprys (v.2-3, 5:8, 14:2).
Is jy seker dat jy eendag saam met hulle daar sal wees? Is jy deel van die Nuwe Eksodus wat uit die slawehuis van die wêreld verlos is (v.2)? Of sal die wêreld jou uit die hemel uithou, omdat jy net soos hulle lewe (v.2)? Dink en doen jy soos die meeste mense by jou skool, werk en die res van die samelewing (Ef.2:2)?
Luister jy na dieselfde immorele musiek as hulle? Is jy ‘okay’ met hulle TV programme en films wat sonde goedpraat, solank hulle nie die Here se Naam ydelik gebruik en sekstonele wys nie? Verskoon jy die immorele romanne wat jy lees deur te sê dat dit darem nie visuele pornografie is nie?
Het jy gemaklik geraak met die gay agenda wat in die media gedryf word? Fokus jy meer op die uiterlike as op die innerlike; wy jy jouself daaraan om goed te lyk deur diëte, oefening en gesond eet, terwyl jy nie baie daaraan werk om ‘n goeie karakter en ‘n sterk verhouding met die Here te hê nie?
Is jy van sonop tot sononder by die werk, sodat jy, jou huweliksmaat en jou kinders in dieselfde huis bly, maar verby mekaar lewe? Werk jy langer as wat jy moet, omdat jy soos die res van jou mal kollegas vir geld en besittings lewe: jy het meer as genoeg, maar soek nog?
Is jy van dié wat soveel ure by die werk deurbring, dat dit jou gesondheid affekteer? In daardie geval het werk vir jou ‘n afgod geword. Of dalk is jy van dié wat weet dat jou lyn van werk nooit vir jou die gewenste miljoene gaan gee nie. Om hierdie rede het jy skuld gemaak wat jy nie kan bekostig nie – jy wil dinge hê wat die Here nie vir jou gegee het nie.
Dalk het jy vir die strategie geval wat sê dat jy soveel as moontlik geld kan maak met so min as moontlik moeite. Of miskien is jy uitgevang, omdat die wêreld ‘n Christelike baadjie hiervoor aangetrek het: hulle het vir jou gesê om genoeg geloof te hê en die rykdom oor jouself uit te spreek.
Moenie soos die wêreld wees nie (Rm.12:2). Moet jou ook nie steur aan dié wat luuks lewe, terwyl jy moet sukkel om kop bo water te hou nie (Ps.73). Kry ‘n langtermyn visie; dink aan die hemelse rykdom wat vir jou voorlê. Onthou dat die besittings en plesiere van hierdie wêreld agterbly wanneer jy doodgaan (Lk.12:20, 1 Tm.6:17-19, 1 Jh.2:15-17). Hoekom lewe jy dan asof daar niks meer is as hierdie wêreld nie (Mt.6:19-20, 2 Tm.4:10)?
Die lied (v.3-4)
Sommige kerke glo dat ‘n mens net die Psalms en ander skrifberymings moet sing. Ons is nie een van hulle nie. Maar ons het in ‘n ander strik getrap en tot ‘n groot mate vergeet om Kol.3:16 te gehoorsaam en die Psalms te sing.
En as gevolg daarvan prys ons die Here vir sy karakter, vir sy skepping, vir sy verlossing en vir sy voorsienigheid. Maar ons laat na om Hom volgens die Psalms vir sy oordele te prys. Selfs in die hemel vergeet hulle nie om dit te doen nie (vgl. 19:1-2).
Die gelowiges het langs die see gestaan ‘n lied gesing (v.2-3). Dit was die lied van Moses en die lied van die Lam (v.3). In Eks.14-15 het die Israeliete langs die Rooi See gestaan. Moses het hulle in sang gelei om die Here te prys dat Hy hulle vyande in die Rooi See verdrink het. In Dt.32 het Moses weer vir hulle ‘n lied geleer en gesê dat die Here hulle gaan straf, omdat hulle Hom versaak het.
In Op.15 het dié wat in die hemel was ook ‘n lied gesing, omdat hulle deel was van die Nuwe Eksodus. Aan die kruis het die Lam sy bruid verlos deur haar vyande in die see van sy oordeel te verdrink. Dit was vir hierdie groot en wonderlike verlossing wat die Almagtige Here God se kinders Hom geprys het (v.3). Op grond van sy regverdige en waaragtige karakter het Hy sy vyande geoordeel, omdat hulle sy kinders doodgemaak het (v.3, 6:9-10, 16:6-7, Dt.32:4). Dit is duidelik dat hulle nie mooi gedink het toe hulle aan die soewereine Koning se bruid gevat het nie (v.3, Sg.2:8).
En moet ons nie hierdie groot God vrees en sy Naam verheerlik as Hy selfs die Jode gestraf het toe hulle sy kinders doodgemaak het nie (v.4, 14:7, Jer.10:7)? Hy alleen is heilig, afgesonder, gans anders, verhewe bo alles en almal, uniek, een-van-‘n-soort, in ‘n klas van sy eie (v.4, 4:8, Eks.15:11, Jes.6:3). Die nasies sal Hom aanbid, omdat Hy sy regverdige oordele geopenbaar het (v.4, 5:9, 7:9, 21:24, 26, Ps.22:28-29, 67:4-6, 68:32-33, 72:11, 86:9, Lk.13:29). Sy oordeel oor die Jode het verlossing vir die heidene beteken (sien punt nr.1 hierbo).
Ek wonder hoeveel van ons bitterheid sal verdwyn as ons meer aan die Here se oordele dink? As ons aan die ongelowiges dink wat ons beskadig het, en onthou dat hulle vir ewig onder God se verskriklike en almagtige toorn in die hel gaan ly, sal ons hulle jammer kry en vir hulle bekering bid.
As ons aan Jesus se kruisdood dink en onthou hoe Hy ‘n grudood vir sy kinders se sondes gesterf het, sal ons nie so haastig wees om vir maande en jare die sonde van ander gelowiges teen hulle te hou nie. Ons sal nie hoogmoedig wees en dink dat ons sonde teen die Here baie kleiner is as die sonde wat ander mense teen ons gedoen het nie. Ons sal eerder onthou dat ons baie lelike dinge gedoen het, en dat dít die rede vir Jesus kruisdood was. Ons sal dan die mense wat teen ons gesondig het vergewe, soos wat die Here ons vergewe het (Ef.4:32).
Voortaan sal ons besluit om nie meer ander mense te oordeel nie. Ons sal dit vir die Here los, omdat Hy nooit te swaar of te lig oordeel nie (Rm.12:19). Ons sal nie opstandig raak teen die Here, sodat ons in ons harte sê:
‘Het U nie geweet dat hierdie persoon gestraf moet word nie? Hoekom is U so geduldig en onbekwaam om regverdig te oordeel? As ek die regter was, sou ek ‘n baie beter werk gedoen het!’ (Jk.4:11-12).
Soos Jesus, sal ons die sonde wat ander mense teen ons gedoen het in gebed opdra aan Hom wat regverdig oordeel (1 Pt.2:23). Ons sal ons daarby berus dat Hy sal doen wat reg is.
Die tabernakel (v.5-8)
Ek het eenkeer ‘n spotprent gesien van God wat op ‘n gemakstoel sit, ‘n bak ‘popcorn’ in sy hand het, en met plesier ‘n film kyk van hoe mense op die aarde swaarkry.
Maar dit is ‘n verdraaide beeld van God, omdat dit impliseer dat Hy die oorsaak van ons lyding is, terwyl ons eie sonde eintlik die oorsaak is. Dit impliseer ook dat Hy nie goeie dinge vir ons gee nie. En laastens impliseer dit dat ons goeie mense is, en dat God slegte dinge met ons laat gebeur wat ons nie verdien nie.
Op.15 wys egter vir ons dat God groot en heilig is, en dat Hy nie sy humeur verloor wanneer Hy sy vyande straf nie. Die straf wat dus in v.5-8 beskryf word is heeltemal regverdig, omdat dit voortspruit uit ‘n begeerte vir wat reg is.
Toe die Israeliete in die woestyn was, het God vir Moses gesê om ‘n tabernakel te bou. Dit was ‘n skadubeeld van die hemelse tabernakel (Heb.8:5, 9:23-24). In v.5 het Johannes gesien hoe die tempel of allerheiligste van die tabernakel van die getuienis oopgemaak word (vgl. 11:19). Sewe engele het uitgekom (v.6). Hulle het die sewe plae gehad (v.6). Soos die priesters in die Ou Testament het elke engel ‘n rein en blink linne kleed met ‘n goue band om sy bors gehad (v.6, vgl. 1:13, Eks.28:39, Lv.16:4).
Een van die vier lewende wesens of gerubs (4:6-8, Esg.1) het vir die sewe engele sewe goue bakke [Gk. phialē] vol van die ewige God se toorn gegee (v.7). Die gelowiges se gebede was in hierdie bakke; in antwoord hierop moes die sewe engele God se toorn oor die kerk se vervolgers gebring het (v.7, 8:3-5, 6:9-11).
Soos in die Ou Testament het die tempel vol van rook geword (v.8). Dit was die rook van God se heerlikheid en krag (v.8, 14:11, Eks.19:18, Jes.6:3-4). En soos in die Ou Testament, kon niemand in die tempel ingegaan het, terwyl die rook van God se heerlikheid dit gevul het nie (Eks.40:34-35, 1 Kon.8:10-11, Esg.10:2-4). Wat beteken dit? Niemand kon meer gebid het om God se toorn oor Israel te keer nie; sy besluit was finaal (Jer.7:16, 11:14, 14:11, 15:1).
Omdat dit so is, moet jy die geleentheid gebruik terwyl jy dit het. Moenie jouself oortuig dat die Here se geduld nie kan opraak nie. Moenie vir jouself sê dat jy later jou sonde kan los, en dat jy dit nog net een keer wil doen nie.
Moenie dink dat jy van volgende maand af erns sal maak met die Here, of dat jy na die vakansie jou sondige verhouding met verslawing, ‘n getrou man of vrou, ‘n verkeerde vriend, of watse sonde ookal sal los nie. Moenie langer uitstel om te doen wat die Here al weke, maande of jare gelede vir jou gesê het nie.
Die Here wil hê dat jy vandag dinge met Hom moet regmaak. “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.” (Jes.55:6). “Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil.” (2 Kor.6:2). “Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering nie.” (Heb.3:15).
As jy aanhou om jou ore vir die Here toe te druk, mag die hemelse tempel dalk vol van die rook van sy heerlikheid word, sodat Hy besluit om nie jou gebede te verhoor nie (1 Sm.28:6, Sp.1:28, Jes.1:15, Esg.8:18, Mt.25:10-12, 1 Jh.5:16). Maar as jy vandag tot Hom roep, sal Hy vir jou wys hoe groot sy genade is oor dié wat Hom met hulle hele hart soek, oor dié wat dinge met Hom wil regmaak.
Hy sal nie doen wat Exodus International in 2013 gedoen het nie. Exodus International was ‘n organisasie wat in 1976 begin is. Die doel was om homoseksuele mense uit die slawerny van hulle sonde te bevry.
Maar in Junie 2013 het die voorsitter van die organisasie, Alan Chambers, vergifnis gevra dat hulle vir byna 40 jaar die Gay en Lesbian gemeenskap seergemaak het. Hy het verskoning aangebied dat hulle vir soveel jare verkeerd was om te sê dat homoseksualiteit sonde is.[2]
Die waarheid is dat Chambers en Exodus International ná 2013 duisende mense gefaal het. Hulle het verby dié geloop wat in die tronkselle van hulle sonde sit, en vir hulle gesê: ‘Moenie bekommerd wees as dit vir julle voel of julle in boeie is nie, want eintlik is julle vry.’
Die Here is nie so nie. Hy sal baie duidelik vir jou sê dat jy vasgevang is in die vangnet van jou sonde. Maar dan sal Hy net so gou wees om vir jou te sê dat Hy aarde toe gekom het om die ystertralies van jou sonde oop te buig. Hy het gekom sodat jy deel kan wees van die Nuwe Eksodus.
[1] Om meer oor die dier te verstaan, kan jy die volgende twee preke opsoek: [1] Christene, keiser Nero, en die ANC. [2] Oor die vals profeet en die Antichris (of die berugte 666).
[2] Vir meer inligting oor homoseksualiteit kan jy die volgende preke op hierdie blog lees: [1] Sê die Bybel REGTIG homoseksualiteit is sonde? [2] ‘n Reaksie op gay huwelike in die NG-Kerk. [3] ‘n Oplossing vir homoseksualiteit.