Coram Deo Cover Image

Coming soon...

14 September 2023

Hosanna in die hoogste!

Lukas 19:28-40

Kinders weet nie altyd wat hulle sing nie. In plaas van: ‘By die kruis, by die kruis wil ek bly; tot die stryd hier benee is volstry,’ het Luke gesing: ‘Tot die stryd hier benee is volstruis.’

‘As die lewensstorme woedend om jou slaan’ het Josua gesing as: ‘As die leeu jou storm moet jy woedend slaan.’

Tammy se ouer suster is Timine (spelling?). Tammy wou graag soos sy wees. As in die kerk ‘Love lifted me’ sing, het Tammy uit volle bors ‘Long live Timine!’ gesing.

Volwassenes is net so en weet nie altyd wat hulle sing nie. Baie van hulle weet nie wat hallelujah, amen of hosanna beteken nie.

Vandag sal ons sien dat hosanna ‘red nou!’ beteken, en dat die Jode nie regtig geweet het wat hulle sing nie (al het hulle geweet wat die woord beteken).

 

1. Jesus se nederigheid (v.28-35)

Die Jode in Jerigo het gedink Jesus gaan Jerusalem toe om op die troon van Dawid te sit en die Romeine te verslaan (v.11). Jesus het hierdie idee weerlê deur te sê Hy moet eers gekruisig word en daarna opvaar hemel toe om die koninkryk te ontvang (v.12, 18:31-33). Vasberade het Hy vooruit geloop om sy taak te voltooi (v.28, vgl. 9:51, Mark. 10:32). Hy moes deur Betanië en Betfage reis om daar te kom. Hierdie twee dorpies lê anderkant die Olyfberg wat oos van Jerusalem geleë is (v.29, Joh. 11:18). Lasarus, Maria en Marta het in Betanië gebly (Joh. 11:1). Die week voor sy lyding het Jesus ten minste eenkeer by hulle oornag (Matt. 21:17). Simon die melaatse se huis was in Betanië. Daar het Maria Jesus se kop en voete met duur reukolie gesalf (Matt. 26:6-7, Joh. 12:1-3). Veertig dae na die opstanding het Jesus aan Betanië se kant van die Olyfberg opgevaar hemel toe (24:50-51, Hand. 1:12).

Nou het Jesus twee van sy dissipels Betanië toe gestuur om ’n donkie vir Hom te bring: “Gaan na die dorpie daar oorkant. By die ingang sal julle ’n vasgemaakte donkievul vind waarop niemand nog ooit gesit het nie. Maak hom los en bring hom hierheen.” (v.30). Gen. 49:10-11 voorspel dat die Messias uit Juda-stam se donkie vasgemaak is: “Die septer sal nie van Juda wyk nie, ook nie die heerserstaf tussen sy voete nie, totdat hy aan wie dit behoort, kom, en volke aan hom gehoorsaam is. Aan ’n wingerdstok maak hy sy donkiehings vas...”

Volgens Jesus was die donkievul nog nie ingebreek nie; Hy sou die eerste een wees wat daarop ry (v.30). Die dier was vir nog geen ander doeleindes gebruik nie, daarom was dit heilig vir die Here (vgl. Num. 19:2). Die dier was nie halsstarrig nie, maar het hom aan sy Skepper onderwerp (vgl. Num. 22:28, Job 39:8-9). Selfs die dier se eienaars het vir die Here geluister en die donkie vir sy gebruik gegee (v.31).

Die dissipels het alles gevind soos Jesus gesê het: “Die twee wat gestuur is, het daarheen gegaan en dit aangetref net soos Hy vir hulle gesê het. Toe hulle die donkievul losmaak, vra sy eienaars vir hulle: ‘Waarom maak julle die donkievul los?’ Hulle het geantwoord: ‘Die Here het hom nodig.’ Hulle het toe die donkievul na Jesus geneem. Hulle het hulle boklere oor die donkievul gegooi en Jesus laat opklim.” (v.32-34, vgl. 22:8-13).

Matteus laat dit klink of Jesus op albei donkies gery het: “They brought the donkey and the colt and put on them their cloaks, and he sat on them.” (Matt. 21:7, ESV). Eintlik verwys die tweede ‘them’ na die klere en nie na die donkies nie. Jesus het op die vul gery, terwyl die donkiemerrie saam loop.

Hoekom het Jesus op ’n donkie gery? Die hare van ’n nubiese donkie vorm ’n dorsale kruis op die dier se skof. Hoe moes Jesus voel toe Hy dit sien? Hy het tog die profesieë geken en geweet Hy gaan gekruisig word (Matt. 20:17-19).

Sy donkierit het ook Sag. 9:9 vervul: “Juig, dogter van Sion! Jubel, dogter van Jerusalem! Kyk, jou koning kom na jou toe: hy is regverdig en die oorwinnaar; hy is nederig en ry op ’n donkie, op die hingsvul van ’n donkiemerrie.” Soos jy kan aflei, is Jesus die nederige koning op die donkie. Sy hele lewe op aarde spreek van nederigheid. Hy wat die ewige God is, het mens geword; Maria se Skepper het haar kind geword (Fil. 2:6)! Hy het ’n onbelangrike vrou as sy ma gekies (1:27). Hy is nie in ’n metropolis gebore nie, maar in ’n klein dorpie met die naam van Bethlehem (Miga 5:1). Hy is nie in ’n paleis gebore nie, maar in ’n krippie neergelê, omdat daar vir Hom geen plek in herberg was nie (2:7). ’n Paar arm skaapwagters was sy eerste besoekers (2:8, 15-16). Sy ouers was arm (2:24. vgl. Lev. 12:8). Hy self was arm (2Kor. 8:9). Hy het nie ’n huis gehad nie (Matt. 8:20). Hy moes alles leen: ’n boot, ’n muntstuk, ’n donkie, ’n bovertrek en ’n graf (5:3, Matt. 21:2-3, 17:27, 22:19, 26:18, 27:60). Gedurende sy kinderjare het Hy in Nasaret groot geword: ’n dorp met ’n reputasie (Matt. 2:23, Joh. 1:46). Sy eerste dissipels was eenvoudige vissermanne (Matt. 4:18-22). Hy was onaantreklik (Jes. 53:2). Soos ’n lae slaaf het Hy sy dissipels se voete gewas (Johannes 13). Op die einde het sy eie mense Hom belieg, gespot, uitgelag, geslaan en soos ’n misdadiger naak aan ’n kruis gehang (Matt. 20:28, 26:47-27:50, Fil. 2:8).

Hiervoor het God sy nederige Seun bo alles en almal verhef (Ef. 1:20-22, Fil. 2:9). Deur sy bloed het Jesus redding en vrede gebring, en die nasies vir Homself gewen. So sê die res van Sagaria se profesie: “Ek sal die strydwaens uit Efraim verdelg en die perde uit Jerusalem; ook die strydboog sal verwoes word. Hy sal vrede aan die nasies verkondig. Sy ryk sal van see tot see strek, en van die Rivier tot aan

die uithoeke van die aarde. En verder, Sion, op grond van die bloed van jou verbond met My sal Ek jou gevangenes uit ’n waterlose opgaarput vrylaat.” (Sag. 9:10-11).

Wie hom voor Jesus verneder en soos Hy nederig is, sal verhoog word: “Nader tot God, dan sal Hy tot julle nader. Reinig julle hande, sondaars, en suiwer julle harte, dubbelhartiges! Weeklaag en treur en huil! Laat julle lag in droefheid verander, en julle blydskap in somberheid. Verneder julle voor die Here, dan sal Hy julle verhoog.” (Jak. 4:8-10). Wie homself verhoog, sal verneder word: “God staan die hoogmoediges teen” (Jak. 4:6).

Hoe verhoog mense hulleself? Hulle roem in hulle rykdom, geleerdheid en krag eerder as in Jesus (Jer. 9:23-24, 1Kor. 1:31). Party mense doen dit direk soos die Jehovas Getuie wat in sy godsdiens, toewyding en goeie werke geroem het. Omdat hy in homself geroem het, het hy hom nie voor Jesus verneder nie:

“Thomas het vir Hom gesê: ‘My Here en my God!’ ” (Joh. 20:28).

“Christus...wat God bo alles is, lofwaardig vir ewig! Amen.” (Rom. 9:5).

“En laat al die engele van God Hom aanbid.” (Heb. 1:6).

“Waardig is die Lam wat geslag is, om die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof te ontvang... Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die sterkte, vir ewig en ewig.” (Op. 5:12-13).

Toe iemand in Nelspruit vir ’n Jehovas Getuie sê hy moet eendag voor Jesus buig, toe sê hy: ‘Ek sal nooit buig nie.’ Fil. 2:10-11 sê hy sal: “sodat in die Naam van Jesus elke knie sal buig—van diegene in die hemel en op die aarde en onder die aarde—en elke tong sal bely, ‘Jesus Christus is die Here!’ tot eer van God die Vader.”

Party bely dat hulle voor Jesus buig, maar stel hulle eie plesiere bo die aanbidding van Christus (Heb. 10:25). John Owen sê: ‘he that forsakes the assemblies, forsakes the worship of Christ’.1 Wat sal gebeur as ’n engel sy eie plesiere eerste stel en nalaat om Jesus te aanbid? Jy hoef nie te wonder nie: vra die duiwel en sy gevalle engele.

En sal die Here jou ligter straf? Heb. 10:25-27 sien dit as geen ligte saak om die gesamentlike aanbidding van Christus te versuim nie: “sonder om ons eie samekoms te verwaarloos, soos sommige se gewoonte is; laat ons eerder mekaar aanmoedig, soveel te meer nog namate julle dié dag sien nader kom! Want as ons willens en wetens aanhou sonde doen, nadat ons kennis van die waarheid ontvang het, bly daar nie meer ’n offer vir ons sondes oor nie, maar wel ’n verskriklike verwagting van oordeel en intense vuur, wat God se teenstanders gaan verteer.”

Jesus bied amnestie as jy jou voor Hom verneder. Indien jy rebels bly, sal Hy nie nederig op ’n donkie kom nie, maar op ’n wit perd om jou te slag (Op. 19:11-21, vgl. Ps. 2:9-12).

 

2. Die skare se lofprysing (v.36-40)

Terwyl Jesus op die donkie was, het die skare hulle klere, asook palm- en ander groen takke in die pad gegooi (v.36, Matt. 21:8, Joh. 12:13). Hulle klere op die grond het gewys Hy is die Koning—die stof moes Hom nie vuil maak nie (vgl. 2Kon. 9:13). Die palm- en ander groen takke was simbolies van die huttefees.

Na die Israeliete uit Egipte verlos is, het hulle vir 40 jaar deur die woestyn getrek. Gedurende hierdie tyd het hulle in tente gebly. Daarna het hulle dit jaarliks tydens die huttefees herdenk deur weer in tente van palm- en ander takke te bly (Lev. 23:40). By die Messias se koms sal ons die huttefees vier (Sag. 14:4-5, 9, 16). Die skare het gedink dit is nou, daarom het hulle vir Jesus geprys (v.37). Maar Op. 7:9-10, 15 sê die huttefees is eers in die hemel.

Die groot menigte van dissipels het dit nie verstaan nie. Hulle was nie dissipels in hulle hart nie, maar volgens die definisie van die woord bloot leerlinge (vgl. Matt. 8:21-22, 10:1, 4, Joh. 6:66). Geen wonder hulle het die Here prys en vyf dae later vir sy bloed roep toe Hy nie aan hulle vereistes voldoen nie (23:21). Hulle het hulle idee van die Messias as ’n wonderwerker en politieke bevryder geprys eerder as die Messias self (v.37-38, 11, Joh. 6:14-15, 11:38-45, 12:9-11).

As deel van hulle lofprysing het hulle Ps. 118:25-26 aan Hom toegeskryf: “Ag, Here, verlos ons tog! Ag, Here, gee tog voorspoed! Geseënd is hy wat kom in die Naam van die Here. Ons seën julle uit die huis van die Here.” Die Hebreeus vir ‘verlos ons tog’ is yasha na met die Griekse transliterasie as hōsanna (Matt. 21:9, Mark. 11:9-10). Die skare het nie besef Jesus was daar om hulle deur sy kruisdood te verlos nie. Die klip moes deur die bouers verwerp word en die feesoffer met koorde gebind word: “Die steen wat die bouers verwerp het, het ’n hoeksteen geword... Bind die feesoffer met toue, tot by die horings van die altaar.” (Ps. 118:22, 27, Ou Vertaling).

Moenie jou idee van Jesus aanbid nie. Baie mense aanbid Hom as die een wat gekom het om vir ons rykdom, voorspoed en gesondheid te gee. Ander beskou Hom as ’n voorstaander van LGBT, sodat hulle hulleself gay Christene noem. Ander sien Hom as ’n wonderlike voorbeeld van opoffering, maar wat nie regtig uit die dood opgestaan het nie. Ander prys Hom as ’n revolusionêre figuur wat gekom het om minderheidsgroep van politieke onderdrukking te red. Ander bewonder Hom as ’n goeie profeet, maar nie as God nie.

Aanbid die ware Jesus. Ken Hom deur sy Woord, deur gehoorsaamheid en gebed, sodat jy Hom reg kan prys (Joh. 5:39, 46, 8:43, 7:17, 14:15, 21, 14, 2Pet. 3:18). Mark Jones se boek Knowing Christ en John Owen se Glory of Christ kan jou hiermee help. Om Jesus te prys, Hom te bewonder, te ken en ’n verhouding met Hom te hê, is ons hoogste roeping (Jes. 43:21, Joh. 17:24, Op. 21:3, 7, 22:3-4). Die oomblik wat jy Hom sien, sal jy dit weet (2Tess. 1:10).

Party mense voel tevrede met ’n hemel sonder Jesus, maar dit is so onrealisties soos ’n braaivleis sonder vuur, vleis, ’n aptyt en geselligheid. Die Fariseërs het Hom nie as die wonderlike Messias aanvaar nie en het gesê Hy moet sy dissipels stilmaak (v.39). Hiervoor het Jesus hulle bestraf: “Ek sê vir julle, as hulle stilbly, sal die klippe dit uitroep!” (v.40). God kan klippe in kinders van Abraham verander (3:8). Hy benodig niemand se lofprysing nie (Hand. 17:25) Jy benadeel jouself as jy Hom nie in week en op ’n Sondag prys nie. As jy Hom nie hier wil prys nie, sal jy dit beswaarlik in die hemel doen. Robert Murray McCheyne sê: ‘Heaven will be all praise. If you cannot praise God, you will never be there.’ (vgl. Openbaring 4-5, 7).2

Sien jou lofprysing op ’n Sondag en in die week as ’n kleedrepitisie vir die hemel. Moet asseblief nie die oefeninge misloop nie.


1  John Owen, Sermon XVII: The divine power of the gospel (19 May 1670). Verkry by https://ccel.org/ccel/owen/sermons/sermons.iv.xx.html

2  Robert Murray McCheyne, Sermons of M’Cheyne (London: The Banner of Truth Trust, 1961, 1972), 21.

Kategorieë