“18 Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, 19 omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. 20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; 21 omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. 22 Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword 23 en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ‘n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere.” (Romeine 1).
Mense ontken die waarheid (v.18-20)
Vir die rekord moet ek begin deur te sê dat God se woede (toorn) nie soos mense s'n is nie. God verloor nie sy humeur nie. Syne is 'n heilige en regverdige toorn oor mense se sonde. Die sondeval, vloed en oordeel op Sodom en Gomorra is goeie voorbeelde van sy regverdige toorn. Hy het die mense gewaarsku, maar hulle wou nie hoor nie. Soos tóé, is God nóú kwaad vir Suid-Afrika en die wêreld: “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk” (v.18). Let op dat sy toorn nie net opgegaar word vir die toekoms nie, maar dit word nóú vanuit die hemel geopenbaar (cf. Efesiërs 5:6). Ons sien God se toorn in:
- Rampe soos aardbewings, vulkane, tsunami’s.
- Siektes soos VIGS, kanker, beroertes, hartaanvalle.
- Tragedies soos 9/11.
- Oorloë.
- Die saai en oes beginsel. Iemand wat dronk bestuur en onder 'n trok inry, pluk die vrugte van sy eie dwase optrede.
- Mense wat oorgegee word aan hulle sonde en nie kan stop nie (soos 'n trokdrywer wat teen 'n afdraende ry en sonder remme na sy dood toe jaag). “Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer...Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte...God [het] hulle oorgegee aan ‘n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie” (v.24, 26, 28). “Toe het Ek hulle oorgegee aan die verhardheid van hul hart, dat hulle in hul eie planne kon wandel.” (Psalm 81:13).
- Die gevolge van sonde. Sonde se gevolge is menig en erger as wat jy jou kan indink.
- Die dood.
Die feit dat God nóú reeds sy toorn uitstort op mense, behoort vir jou te sê dat daar 'n groter oordeel oppad is (cf. v.32). Wat jy nou sien is maar net 'n voorskou: “soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aangeloop het, as ‘n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan.” (Judas 7). Die finale oordeel kom nog: “Maar ooreenkomstig jou verhardheid en onbekeerlike hart vergader jy vir jou toorn as ‘n skat in die dag van die toorn en die openbaring van die regverdige oordeel van God” (2:5).
Nog nooit het God sy toorn so erg losgelaat, soos toe Jesus aan die kruis gehang het nie. Jesus het die ewige toorn van miljoene mense op Homself geneem. Daarom kan ons wat op Jesus vertrou van God se toorn ontsnap: “Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn.” (5:9). 1 Tessalonisense 1:10 praat van “Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos.”
Hoekom is God kwaad en straf Hy ons? Want Suid-Afrika (soos die res van die wêreld) is goddeloos (v.18). Ons regering roem daarin dat ons die mees liberale grondwet in die wêreld het (v.24-32). In Suid-Afrika kan mense in 'n seksuele verhouding saambly sonder om getroud te wees. Poligamie is heeltemal aanvaarbaar. Egbreuk is alledaags. Niemand is gepla deur prostitusie nie. Tiener seks is nou wettig. Pornografie is vrylik beskikbaar. Homoseksualiteit is wettig (‘Ons kan immers nie glo in 'n homofobiese God nie’ – Desmond Tutu). Moorde is algemeen. Aborsie is nie verkeerd nie. Selfmoord vind plaas in ons skole. Geldgierigheid word aangemoedig. Die regering vertel leuens en onderwysers ook as hulle evolusie leer in ons skole. Ons land is vrot van dwelms en drank. Diefstal en bedrog is niks nuut nie. Die media skinder alewig van dinge wat niks met hulle te doen het nie. God se Naam word aanhoudend op TV belaster. Daar is geen respek meer vir ouers en onderwysers nie. Lojaliteit bestaan byna nie meer nie. Mense dink gedurig nuwe maniere uit om kwaad te doen (byvoorbeeld nuwe metodes om motoriste te beroof of te kaap). Mense is harteloos en beskou dit as niks om 'n kind te verkrag of 'n ou mens te vermink nie.
Ons leef asof God nie bestaan nie (v.18): “Hulle bely dat hulle God ken, maar hulle verloën Hom deur die werke, omdat hulle gruwelik en ongehoorsaam is en ongeskik vir elke goeie werk.” (Titus 1:16). Ons bevraagteken God se wette: ‘Wie sê homoseksualiteit is sonde?’ (v.26, cf. Genesis 3:1). Ons ontken dat daar iets soos reg en verkeerd bestaan: ‘Wat is waarheid?’ (Johannes 18:38). Mense val die Bybel, Christenskap, Christene, Christus en die evangelie aan (cf. Genesis 3:4-5). Mense ontwerp hulle eie god en godsdiens waarin daar geen sonde is nie, en waarin sonde nie gestraf word nie. Mense ontken God se bestaan (ateïsme en evolusie). Mense ontken God se toorn oor sonde in die rampe wat ons tref, in Jesus gruwelike kruisdood vir sondaars, in die ewige hel. Mense sê: ‘God is liefde en sal nooit in toorn mense hel toe stuur nie!’ Hoe ironies dat mense kwaad word wanneer hulle God se toorn ontken.
Hoekom ontken (in woorde of dade) mense God se bestaan? Jy sien, om te ontken dat ‘aliens’, die Loch-Ness Monster of kersvader bestaan, sal geen verandering in jou lewe maak nie. Maar indien jy erken dat God bestaan moet jou lewe verander; moet jy jou sonde laat staan en onder Sy heerskappy leef. En dit wil mense nie hê. Selfs ateïste weet dat God bestaan (sien my artikel ‘Bewyse dat God bestaan’). Om iets wetenskaplik te bewys moet jy dit in 'n labratorium kan demonstreer, observeer en herhaal. Niemand kan wetenskaplik bewys dat evolusie of die Big Bang teorie waar is nie. Ateïste (en baie ander mense) glo in evolusie omdat hulle nie die alternatief in die gesig wil staar nie: God.
Mense verdraai die waarheid (v.21-22)
Die asemrowende dinge in die skepping moet jou op jou knieë bring voor God, daartoe lei dat jy Hom gehoorsaam en maak dat jy Hom dank vir sy wonderlike gawes. Maar as gevolg van die mens se sondigheid, sy verdraaide hart en verduisterde denke gebeur dit nie (v.21). “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie!” (Psalm 53:1). “Dit sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie—mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart” (Efesiërs 4:17-18, eie beklemtoning).
Dit is absoluut dwaas en verdraaid om te sê: Alles wat bestaan het ontstaan uit 'n spikkel. Daar is geen absolute waarhede nie (spring van 'n krans af en sê vir jouself dat gravitasie nie absoluut is nie!). Ons kom van 'n eensellige organisme af. Dit is goed om babas in die baarmoeder te vermoor. Dit is nie verkeerd om homoseksueel te wees nie (ek wonder hoe het jy hier gekom – verseker nie deur twee mense van dieselfde geslag nie). Die misdadiger (die ‘kleptomaan’) is die slagoffer en moenie gestraf word nie.
Hier is die drie groot bewyse dat ons samelewing se harte verduister en denke verdraaid is:
[1] Evolusie: ‘Die wêreld het homself gemaak’.
[2] Sielkunde: ‘Die pedofiel is eintlik die slagoffer en moenie verdoem word nie’ (soos wat een Rooms-Katolieke biskop onlangs in Durban gesê het).
[3] Prosperity predikers: ‘Jy is 'n god. Dring daarop aan dat God vir jou rykdom, gesondheid en voorspoed gee – name it and claim it’. (God bestaan dus eintlik om jóú te dien).
Dit is baie erg dat ons hierdie dinge probeer ‘verchristelik’: ons wil die Bybel en evolusie glo. Ons probeer om humanistiese sielkunde en die Bybel te meng, en noem dit ‘Pastorale of Christelike Sielkunde’. Ons praat van die Prosperity Gospel, terwyl dit glad nie 'n evangelie is nie.
Net God kan lig in die duisternis van die mens se hart in skyn. “Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.” (2 Korintiërs 4:6). Geestelike blindheid is tragies, want dis die blinde self wat laaste besef dat hy blind. Mense is so dwaas hulle dink hulle is wys (v.22, cf. Genesis 3:5-6). Een man wat in 'n Christen-huis grootgeword het, het 'n ateïs geword. Hy het vir sy pa gesê: ‘Nou kan ek sien, nou is my oogklappe af’. Mense is oortuig dat dit wys is om God en die Bybel te verwerp (v.22). Hulle sal dinge sê soos: ‘Die antieke mens het in God geglo. Ons moderne mense het nou wys geword deur die wetenskap; ons kén die waarheid’ (die eindste mense wat ontken dat daar iets soos waarheid is!). Mense se dwaasheid word daarin gesien dat hulle hul eie idees van God, die heelal en hulleself glo. Dit word gesien in die feit dat hulle rasionaliseer oor hulle sonde en dit probeer regverdig. Daar is geen hoop vir die mens totdat hy nie glo in die God van die Bybel nie.
Mense verruil die waarheid (v.23)
Voordat die mens gesondig het, wou Satan God onttroon. Nadat God hom uit die hemel geskop het, het hy die mens versoek met dié woorde: ‘Julle sal soos God wees’. Soos Satan wou die mens God onttroon en oor homself heers. Dit is nogsteeds so. Mense het die Lewende Fontein (God) verruil vir die riool water van afgode. Ons het die onsterflike God vir sterflike skepsels verruil (v.23). Die sondaar is nie tevrede met die feit dat die mens na God se beeld gemaak is nie (Genesis 1:26), maar wil graag 'n god hê wat na sy beeld gemaak is: “en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ‘n verganklike mens” (v.23). Die mens gaan so ver om God af te bring tot op die vlak van “voëls en viervoetige en kruipende diere.” (v.23). “En hulle het hul Heerlikheid verruil vir die afbeelding van ‘n bees wat gras eet.” (Psalm 106:20).
Die mens wil nie vir God en sy heilige wet hê nie, maar soek eerder 'n afgod wat sal doen wat hý wil hê: ‘Ek soek 'n afgod wat my dien’. Afgode is nog 'n werklikheid soos wat dit in die Rome van Paulus se dag was. In die ooste aanbid mense beelde. In die weste aanbid ons geld, besittings, geleerdheid, werk, seks, mooi en gesonde liggame, kos, drank, vermaak (musiek, TV, films), sport en meer. Die persoon wat afgode dien doen dit om homself te verryk, maar die tragedie is dat hy die een is wat vasgevang raak in 'n strik (drank word byvoorbeeld vir hom alles, maar uiteindelik word hy 'n slaaf daarvan).
Hoe kan jy afgodery oorkom? Hier is 'n paar stappe:
- Sien hoe dom dit is. Mense maak ‘n beeld van hout. Maar van dieselfde stuk hout maak hulle 'n stoel of braai hulle skaaptjops daarop (sien Jesaja 44). Net so kan ons sê van iemand wat 'n afgod maak van sy geld of sy liggaam. Jou liggaam gaan oud word en doodgaan. En wanneer jy sterf kan jy nie jou geld met jou saamneem nie.
- Dink aan die leë beloftes wat die afgod maak. Pornografie belowe plesier. Maar op die einde is jy 'n slaaf, lei dit tot hartseer (wanneer jou huwelik opbreek) en beland jy in die hel.
- Erken as iets in jou lewe vir jou 'n afgod geword het. Tensy jy nie erken dat iets vir jou 'n probleem is nie, kan jy dit nie oorwin nie.
- Verwoes die afgod. Raak ontslae van die dinge waaraan jy verslaaf is (al is dit ook jou TV of internet-konneksie).
- Dink Bybels oor wie God en die mens is. God is alles. Die mens is van stof. Dit is wanneer ons die twee verwar wat ons in afgodery verval.
- Wees 'n slaaf van Christus. As Hy jou vrygemaak het van slawerny aan die afgod, sal jy waarlik vry wees (Johannes 8:36, Romeine 6). Jy kan mos nie twee meesters dien nie.
- Verloën jouself. Afgodery gaan uiteindelik oor die aanbidding van jouself. Vergeet van jouself, verloën jouself en volg Jesus.
- Aanbid die ware God. Doen dit deur 'n gehoorsame lewe (Romeine 12:1), die bestudering van die Bybel, gebed en diensbaarheid in 'n gemeente.
- Onderwerp jou ‘afgod’ aan God. Gebruik byvoorbeeld jou geld, werk, krag, kennis om God se Koninkryk te bevorder en sy Naam te verheerlik.
Toe koning Josia die afgode vernietig het, het God se toorn bedaar en het Hy nie die volk vernietig nie. Onthou dat Jesus deur sy kruisdood God se toorn afgewend het. Vertrou op Christus en bekeer jou van jou afgodery, sodat God se verskriklike toorn jou nie sal tref nie.