Coram Deo Cover Image

Coming soon...

6 April 2018

God se wiskunde in Daniël 9

Mathematics

Ek het onlangs ‘n dokumentêr oor die piramides gekyk.  Dit is verstommend hoe wiskundige verhoudings, getalle en formules gebruik is om die piramides te bou.

Maar dit vergelyk nie met God se wiskunde in Dan. 9:24-27 nie.  In hierdie verse het God die tydsberekening van sy Seun se kruisdood en die inhuldiging van die nuwe verbond of testament tot op die letter bepaal en vervul.

 

  1. 70 sewetalle (v.24)

Oor die afgelope paar jaar het Christelike boekwinkels Jer. 29:11 op penne, koffie bekers, yskas magnete, dagboeke, ens. laat druk: “Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.”

Maar wat beteken die vers?  Dit gaan oor God wat sy volk vir 70 jaar Babilon toe gestuur het (Jer. 29:10).  In sy goedheid het Hy beplan om hulle weer na hulle land toe terug te bring (Jer. 29:11).  Maar dan moes hulle Hom soek en tot Hom bid (Jer. 29:12-13).

Dit is presies wat Daniël in Dan. 9 gedoen het.  Hy het Jer. 29 in sy stiltetyd gelees, die voorspelling gesien, sy wiskunde gedoen en besef dat Juda al vir 70 jaar in Babilon is.  ‘Dit is die jaar wat ons bevry sal word!’ het hy gedink.  Hy het die Here gesoek, Juda se sonde bely en gevra dat Jer. 29:10-13 vervul sal word.

God sou inderdaad die verwoeste stad en tempel herstel, maar dit in die toekoms weer vernietig.  Dit is wat die engel Gabriël vir Daniël kom sê het.  Maar voordat God die ou verbond of testament finaal tot ‘n einde gebring het, moes Hy ‘n nuwe een inhuldig.  Dit is waaroor v.24 gaan.

Die vervulling hiervan sou oor ‘n tydperk van 70 sewetalle of 490 jaar plaasvind (v.24).  Die profesie het spesifiek betrekking gehad op Daniël se volk Israel en die heilige stad Jerusalem (v.24).  Wat het God bepaal?

[a] Hy sou sy volk se goddeloosheid voleindig.  Die vorige verse wys hoe hulle teen Hom oortree het.  Maar deur sy kruisdood sou Jesus hulle daarvan verlos en met God versoen (Matt. 1:21).

[b] Israel moes die maat van hulle sondes vol maak.  Dit het gebeur toe hulle die Messias kruisig.  Dit was die kersie op die koek en die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het.  Hiervoor het God die meeste van hulle in 67-70 n.C. deur die Romeine geoordeel.

[c] God sou ‘n ewige geregtigheid tot stand bring.  Israel kon dit nie deur die wet regkry nie (Rom. 9:31, 10:3), maar Jesus het dit deur sy wetsgehoorsame lewe en kruisdood bewerk (2Kor. 5:21, Gal. 4:4).  God gee sy geregtigheid gratis aan elkeen wat hom van sy self-regverdige lewe en sonde bekeer om in Jesus te glo (Rom. 1:17).

[d] God sou die visioen en profeet beseël.  Dan. 9 en ander profetiese visioene is in Jesus vervul (Luk. 18:31).  God het Hom as die Messias en Profeet van Deut. 18:15, 18 beseël: “Hom het God, die Vader, verseël.” (Joh. 6:27).

[e] God sou dit wat hoogheilig is salf.  Beteken dit dat God die tempel gesalf het?  Ek dink nie so nie, maar glo dat dit na die Messias of Gesalfde verwys.  Hy is die hoogheilige (Mark. 1:24, Luk. 1:35, Hand. 2:27, 1Joh. 2:20, Op. 3:7) wat by sy doop met die Heilige Gees gesalf is (Matt. 3:16, Luk. 4:18, Hand. 4:27-28, 10:38, Heb. 1:9).

Die toepassing van v.24 is interessant.  Onthou asb. dat hierdie vers ‘n profesie oor God se uitverkore volk is.  Die les is dat godsdienstige mense God se verlossing net so nodig het soos onopgevoede heidene.

Die feit dat jy elke Sondag in die kerk sit, jou Bybel lees en bid, beteken nie jy is gered nie.  Jy is nie outomaties deel van God se ‘volk’ omdat jy Afrikaans praat of omdat jy as baba gedoop is nie.  Om deel van God se volk te wees moet jou sonde vergewe wees; jy moet op die gekruisigde Christus vertrou om jou daarvan te red (Joh. 11:51-52, Tit. 2:14, 1Pet. 2:9-10).

Moet asb. nie tevrede voel omdat jy ‘okay’ lewe nie.  Kom eerder tot die besef dat jou sg. geregtigheid vir die Here soos ‘n ashoop ruik, en maak seker dat jy Christus se geregtigheid deur die geloof ontvang (Fil. 3:4-9).

As jy nie jou nood vir Jesus se perfekte lewe en kruisdood sien nie, beteken dit dat jy dit nog nie verstaan nie.  Jy is nog in jou sonde, al dink almal rondom jou dat jy ‘n goeie mens is.

Nog ‘n woord van toepassing is dat God die geskiedenis van volke, mense, stede, ens. tot in die fynste besonderhede bepaal (Jes. 46:9-10, Hand. 17:26, Ef. 1:11).

Prakties beteken dit dat ons nie soos ongelowiges in rep en roer moet wees oor wat in ons land aangaan nie.  Ons moet eerder rustig wees en die wanorde in gebed na die Here toe bring.  Dit spyt my dat Christene soos die res van die samelewing angstig is en nie oor hierdie dinge bid nie.

 

  1. 69 sewetalle (v.25)

Toe ek ‘n student was het ek saam met ‘n vriend gaan fliek.  Ek wou weet hoeveel stoele daar in die teater is.  Ek het getel hoeveel stoele in die lengte is, en dit met die hoeveelheid stoele in die breedte gemaal.

Omdat die getalle groot was, het ek ‘n sekere formule gebruik.  Toe my formule nie werk nie het my vriend gelag en geïmpliseer dat ek wiskunde vir die professionele mense moet los.

My wiskunde is nie goed nie, maar darem weet ek dat v.25 se 7 sewetalle (49 jaar) + 62 sewetalle (434 jaar) op 69 sewetalle of 483 jaar uitkom.  Hierdie getalle is belangrik as jy v.25 wil verstaan.  Maar daar is nog iets anders wat belangrik is.

Die 7 + 62 sewetalle (483 jaar) begin vandat die opdrag uitgaan om Jerusalem te herstel, en strek totdat die Gesalfde Prins kom.  Wat beteken dit?

Jerusalem is in 586 v.C. deur die Babiloniërs verwoes (v.2, 17-18).  In 538 v.C. het koning Kores van Persië gesê dat die tempel herbou moet word (2Kron. 36:22-23, Esra 1:1-4).  Die stad is egter nie herstel nie.

Vir baie jare was Jerusalem sonder mure, pleine, strate en slote om dit teen die vyand te beskerm (Neh. 1:3).  Die stad met sy pleine of strate [Heb. rechôb] en slote [Heb. chârûts] is eers ‘n paar dekades later herbou.  Dit is waarvan Daniël in v.25 praat.

In 455 v.C. het koning Artasasta I van Persië beveel dat Jerusalem onder Nehemia herbou moet word (Neh. 2).[1]  Sommige reken dat die proses 49 jaar of 7 sewetalle geneem het.  Volgens Daniël se voorspelling sou die stad in tye van benoudheid herbou word, soos wat Neh. 4, 6 wys.

434 jaar of 62 sewetalle nadat Jerusalem herstel is, het die Gesalfde Prins in 27 n.C. gekom (v.25, 24, Jes. 9:5).[2]  Hierdie vers praat nie van sy geboorte nie, maar van sy doop toe Hy met die Gees gesalf en openlik as die Messias aangekondig is (v.24-25).

Om v.25 toe te pas wil ek drie dinge uitlig.  Eerstens moet ons besef dat die Bybel baie akkuraat en betroubaar is.  Dit voorspel Jesus se koms tot op die presiese tyd van sy bediening.  Moet daarom nie wonder of die Bybel waar is nie.

Tweedens moet jy nie hierdie verse met die wederkoms verwar nie.  God het die tyd van sy Seun se eerste koms voorspel, maar nie die tyd van sy tweede koms nie: “Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.” (Matt. 24:36).  Moet dan nie val vir mense wat sê dat Jesus op so-en-so ‘n datum gaan terugkeer nie.

Laastens moet jy nie ingewikkelde tekste soos Dan. 9:24-27 en die boek Openbaring vermy nie.  Volgens v.25 wil die Here hê jy moet hierdie dinge verstaan.  As dit nie so was nie sou dit nie in die Bybel wees nie (Deut. 29:29).

Die feit dat dit in die Woord is, beteken dat jy dit nodig het om geestelik te groei (2Tim. 3:16).  Mense wat sekere dele van die Bybel vermy en hulle nie daaraan steur nie, bedroef die Heilige Gees wat dit geïnspireer het.

 

  1. Die 70ste sewetal (v.26)

As ek vir jou sê dat my vriend Jannie Vosloo 1999 teologie begin studeer het, bedoel ek nie dat hy ín 1999 begin het nie.  Ek bedoel dat hy in die jaar 2000 begin het.

Dit is ook wat Daniël bedoel as hy sê dat die Gesalfde of Messias se lewe die 69ste sewetal afgesny is (v.26, Jes. 53:8).  Dit beteken nie dat Jesus ín die 69ste sewetal afgesny is nie, maar daarná, naamlik in die 70ste sewetal.

Dit is belangrik, omdat party mense ‘n gaping van ten minste 2000 jaar tussen die 69ste en 70ste sewetal probeer indruk.  Maar dit is onnodig, omdat Daniël se getalle heeltemal uitwerk as Jesus in die middel van die 70ste week in omtrent 30 n.C. gekruisig is.[3]  Indien die 70ste week wel uitgestel is soos party mense sê, dan het die Messias nog nie gesterf nie en is ons nog in ons sonde.

Nee, maar Hy is afgesny.  Toe Hy dood is het Hy niks gehad nie, nie eers die klere aan sy lyf nie (v.26).  Hy het Homself leeg gemaak, sodat ons deur sy armoede ryk kan word (2Kor. 8:9, Fil. 2:7).

Omdat die Jode hulle Koning gekruisig het, sou Hy die Romeine as sy volk of weermag stuur om hulle stad en tempel te verwoes (v.26, Matt. 22:7).  Die Vors of Prins van v.26 is dieselfde Prins as in v.25.  Daniël praat van Jesus en nie van die Antichris wat sy weermag teen die Jode opsweep nie.

Die verwoesting van Jerusalem en die tempel (v.26b) is die direkte gevolg van Jesus se kruisdood (v.26a).  Omdat Jesus ‘n nuwe tempel tot stand gebring het, was dit nie meer nodig vir die ou een nie (Joh. 2:19-22, Ef. 2:19-22).

Daniël het verder gesê dat Jerusalem en die tempel deur ‘n oorstroming tot ‘n einde sou kom (v.26).  Dit het gebeur toe die Romeine die stad en tempel soos ‘n vloed oorweldig en vernietig het (vgl. 11:10, Jes. 8:7-8).

Volgens die profeet se voorspelling het die Romeine se oorlog teen die Jode aangehou totdat hulle Jerusalem en die tempel vernietig het: “tot die einde toe sal dit oorlog wees” (v.26).  Soos God die verwoesting van Jerusalem in 586 v.C. deur die Babiloniërs bepaal het, het Hy die stad se verwoesting in 70 n.C. deur die Romeine bepaal.  Dit is wat Hy met ‘vasbeslote verwoestings’ bedoel (v.26).

‘Maar die verwoesting van Jerusalem en die tempel het nie tydens Jesus se bediening in die 70ste sewetal (28-35 n.C.) plaasgevind nie.’  Ek weet.  Maar Hy het dit tydens sy bediening vas besluit en aangekondig.  Dit is tog waaroor Matt. 23:38 en ‘n groot gedeelte van Matt. 24 gaan.

Wat het Dan. 9:26 dan met ons te doen as dit in die eerste eeu vervul is?  Ek wil op een les fokus.  God se nuwe tempel, die kerk, sal nie vernietig word soos die Ou Testamentiese tempel nie.

Wanneer Jesus sy kerk bou sal al die duiwels van die hel Hom nie keer nie; Hy sál suksesvol wees (Matt. 16:18).  Wat my betref is dit loutere onsin om te sê dat die kerk of nuwe tempel voor Jesus se wederkoms in die ‘ICU’ op asemhalingsmasjiene sal lê.  As dit so was is daar nie eintlik ‘n verskil tussen die ou klip tempel en die nuwe geestelike tempel van die kerk nie.  Ek is nie seker dat hierdie siening die Here verheerlik nie.  Dit moedig ons verseker nie aan om vir herlewing en die uitbreiding van God se werk op die sendingveld te bid nie.

 

  1. Die 31/2 jaar (v.27)

Ek het ‘n DVD gekyk waarin die prediker Dan. 9:27 soos volg verduidelik: ‘Sodra die Antichris die verbond met Israel onderteken, sal die Jode die tempel herbou.  Maar na 31/2 jaar sal hy sy verbond met hulle verbreek en hulle vervolg.’

Só het hy die 70ste sewetal verstaan.  Maar ek het reeds gewys dat die 70ste sewetal in die eerste eeu plaasvind.  As die 70ste sewetal vir 7 jaar duur is die helfte daarvan 31/2 jaar.

Daniël verwys hier na die 31/2 jaar van Jesus se bediening (vgl. Luk. 13:6-9).  In hierdie tyd het Hy - die Gesalfde Prins van v.26 - ‘n sterk verbond gesluit met baie (v.27).  Daniël praat nie hier van een of ander verbond tussen die Antichris en die Jode nie, maar van die Messias se verbond met sy uitverkorenes.  Dit is wat die verbond in die res van Daniël beteken (v.4, 11:22, 28, 30, 32).

Hy het die verbond gemaak toe Hy die 69ste sewetal ín die 70ste sewetal vir baie aan die kruis gesterf het (v.26a, 27a, Matt. 20:28, Heb. 7:22).  Daniël noem dit ‘n sterk verbond, omdat die nuwe verbond nie gebreek sal word soos die ou verbond nie (Heb. 8:7-13).

In die helfte van die 70ste sewetal of 31/2 jaar sou die Gesalfde Prins slagoffers en spysoffers laat ophou (v.27).  Dit het gebeur toe Jesus die finale offer van sy lewe bring.  Die tempel se voorhangsel het geskeur, sodat alle sondeoffers na Jesus se kruisdood oneffektief of onnodig is (Heb. 10).

Uiteindelik sou daar op die vleuel van gruwels ‘n verwoester wees (v.27).  Rome is die verwoester, terwyl die afgodsbeeld van hulle arend-embleem die vleuel van gruwels is (Matt. 24:15).[4]  Hierdie dinge het volgens God se bepaling gebeur (v.27).  Hy sou sy toorn oor die verwoeste stad en tempel uitstort (v.27).

Wat beteken v.27 vir ons lewens?  My studie van hierdie vers lei my nie om die Antichris te vrees nie, maar om met ‘n dankbare hart Jesus se dood in die nagmaal te herdenk.  Toe Hy die beker vir sy dissipels gee het Hy gesê: “Drink almal daaruit.  Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.” (Matt. 26:27-28).

Dít is die sterk verbond waarvan ons in v.27 lees.  Omdat dit sterk is staan jou redding vaster as die Himalayas - jy kan dit nie verloor nie.  Niemand kan jou uit God se hand ruk nie (Joh. 10:28-29).  Dalk voel dit partykeer vir jou of jou hand gly, maar God se verbond en greep is sterk; Hy sal jou nie los nie.

Laat dit jou vertroos as dit vir jou voel of die lewe teen jou is: God is vír jou.  ‘n Klein kind dink dat niemand teen hom kan wees as sy pa by hom is nie.  Ons weet egter dat dit nie so is nie.  Maar met God is dit anders: “As God vír ons is, wie kan teen ons wees?” (Rom. 8:31).  Net soos wat sy wiskunde Hom nie kan faal nie, sal Hy nooit die mense faal wat in sy Seun glo nie.

______________________________________

[1] Kenneth Gentry, Perilous Times, Covenant Media Press, Texarkana: AR, 1999, p. 16

[2] Daar is nie ‘n jaar 0 tussen 1 v.C. en 1 n.C. nie.

[3] Onthou dat Jesus nie in die jaar 0 gebore is nie, maar êrens voor April van die jaar 4 v.C. toe koning Herodes die Grote dood is (sien Matt. 2).

[4] https://baptistekerkkemptonpark.wordpress.com/2018/03/24/christene-en-die-groot-verdrukking/

Kategorieë