Lukas 20:9-18
Tydens die Springbokke se wêreldbeker wedstryd teen Frankryk, was daar ’n oomblik van stilte vir die Israeli’s wat in die oorlog gesterf het. ’n Paar Suid-Afrikaners het met opset ’n geraas gemaak. Dat die Suid-Afrikaanse regering teen Israel is, is geen geheim nie.
Konserwatiewe Amerikaners, daarenteen, is sterk pro-Israel. My Amerikaanse vriend het op ’n sosiale media gesê dat hy Israel ten volle ondersteun.
Hoe beskou die Bybel die situasie?
1. Israel en die profete (v.9-12)
Toe Jesus die volk in v.1 onderrig, wou die leiers weet wie Hom die gesag gegee het om dit te doen (v.2). Jesus het Hom nie laat afskrik nie, maar die mense verder onderrig en gesê: “Daar was ’n man wat ’n wingerd aangeplant het. Toe het hy dit aan landbouers verhuur, en vir ’n lang tyd op reis gegaan.” (v.9).
Wat beteken die gelykenis? Die Eienaar is God. Die wingerd is Israel. Die huurders is die Joodse leiers. Volgens Matt. 21:33, Ps. 80:9-10 en Jes. 5:1-2 het die Eienaar al die nodige stappe geneem vir die wingerd om vrug te dra: Hy het dit in vrugbare grond geplant, ’n muur rondom gebou om dit teen wilde diere te beskut, ’n parskuip uitgekap en ’n wagtoring gebou om dit teen diewe te beskerm.
Ongelukkig het die huurders hulle plig versaak om wingerd namens die Eienaar op te pas—Israel se leiers het versuim om haar in die Woord te onderrig en die regte voorbeeld te stel (Esegiël 34, Mal. 2:7, Matteus 23).
Toe die druiweseisoen aanbreek, toe stuur die Eienaar sy dienaars na die huurders toe om vrugte in te vorder (v.10-12). “Die Here, die God van hulle voorouers, het telkens weer aan hulle boodskappe gestuur by monde van sy boodskappers, want Hy het omgegee vir sy volk en sy woonplek.” (2Kron. 36:15). God se profete moes vrug van bekering van sy volk verhaal (v.10, 2Kon. 17:13, Jes. 1:16-20, Eseg. 18:30-32, Joël 2:12-14, Matt. 3:8). Die huurders het seker gemaak dit gebeur nie. Deur Israel se geskiedenis het haar leiers die profete teengestaan, vervolg en doodgemaak (v.10-12, 2Kron. 36:16, 24:20-22, Jer. 22:21, 26:20-23, 44:16, 37:15, Eseg. 33:31, Amos 7:12-13, Mark. 6:27-28, Hand. 7:52).
Baie predikante beleef dieselfde: na vele pastorale gesprekke, evangelisasie en boodskappe dra sekere mense geen vrug nie. Hulle volg hulle eie kop en gaan voort met hulle sonde. Hieroor treur en sug elke getroue leraar; hy voel angstig en by tye selfs kwaad (Ps. 119:136, Eseg. 9:4, 2Kor. 11:28-29).
2. Israel en die Messias (v.13-15a)
As Hy wou, kon die Eienaar die huurders summier uitwis. Hy het nie, maar het besluit om sy eniggebore Seun na hulle toe te stuur (v.13, Joh. 3:16). Dalk sou hulle sy Seun respekteer (v.13). Dit beteken nie God het nie geweet die Jode sou sy Seun vermoor nie. Hy het geweet, daarom het Hy Hom aarde toe gestuur, naamlik om vir ons sondes te sterf (Hand. 2:23, 4:27-28).
Jesus bedoel eenvoudig God sou uiterste maatreëls neem om sondaars tot bekering te roep (v.13). Hy is meer gewillig om jou te red al het jy jou lewe lank teen Hom gesondig (23:42-43).
Jesus wys ook daar bestaan iets soos ’n laaste kans. God se geduld is soos diesel: dit steek moeilik aan die brand, maar as dit eers vlam vat, verteer dit alles: “Die Here is geduldig, maar geweldig sterk. Die Here laat beslis niks ongestraf nie... Wie kan staande bly voor sy verontwaardiging, wie kan sy brandende toorn weerstaan? Wanneer sy woede uitbars soos vuur, spat rotse voor Hom uiteen.” (Nah. 1:3, 6).
Hoe weet jy as dit jou laaste kans is? Jy weet nie. Daarom sê die Bybel: “Soek die Here terwyl Hy Hom laat vind, roep Hom aan terwyl Hy naby is. Die goddelose moet van sy pad afsien, en die boosdoener van sy planne. Hy moet na die Here terugkeer, sodat Hy hom genadig kan wees, en na sy God, want Hy vergeef oorvloediglik.” (Jes. 55:6-7).
Die huurders het God nie gesoek nie, maar het besluit om sy Seun buite die wingerd te gooi en Hom te vermoor. Hulle het gehoop om die wingerd vir hulleself te verkry (v.14-15). “Gevolglik het die leierpriesters en die Fariseërs die Sanhedrin byeengeroep en gesê: ‘Wat gaan ons maak? Want hierdie man doen baie tekens. As ons hom so laat aangaan, sal almal in hom glo, en sal die Romeine kom en ons plek en ons volk vernietig.’ En een van hulle, Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was, het vir hulle gesê: ‘Julle verstaan niks nie. Julle besef nie dat dit tot julle voordeel is dat een man vir die volk sterf en die hele volk nie ondergaan nie.’ ” (Joh. 11:47-50).
Mense wil nog steeds van Jesus ontslae raak. In Wes-Australië en ander dele van die wêreld het die regering die kerk vervang. Niemand hoef meer die Here se dag te eer nie; dit is onnodig dat jy op ’n Sondag kerk toe gaan. Die regering sal toesien dat sportvelde, winkelsentrums en ander plekke van vermaaklikheid op ’n Sondag oop is. Het jy ’n gemeenskap van vriende nodig om jou by te staan? Die sportklub sal dit doen. Het jy emosionele- en verhoudingsprobleme by die huis? Die regering sal pastorale werkers in die werkplek aanstel. Wêreldregerings het goed gesorg dat hulle van God ontslae raak en dat niemand Hom nodig het nie.
Soos v.14 se huurders wil hulle Jesus van sy erfdeel beroof. Hulle sal dit nie regkry nie. Jesus is die erfgenaam van alle dinge (Heb. 1:2). Hy besit alle mag in die hemel en op aarde (Matt. 28:18). Die wêreld is syne: “Die heerskappy van ons Here en sy Christus oor die wêreld het aangebreek, en Hy sal as koning heers, vir ewig en ewig.” (Op. 11:15). Die nasies behoort aan Hom: “Vra dit van My en Ek sal volke gee as jou erfdeel, die uithoeke van die aarde as jou eiendom.” (Ps. 2:8). Eendag sal die nasies voor Hom neerbuig: “Al die nasies wat U gemaak het, sal kom en voor U, my Heer, in aanbidding buig” (Ps. 86:9). Die wat nie wil buig nie, sal ’n voetbank vir sy voete word (Ps. 110:1).
3. Israel en God (v.15b-18)
Weens Israel se verwerping van Jesus het God Hom voorgeneem om haar te verwoes: “Wat sal die eienaar van die wingerd met hulle doen? Hy sal kom en die landbouers doodmaak” (v.15b-16a). Dit het Hy in 67-70 n.C. deur die Romeine gedoen. God het sy wingerd by die huurders weggevat en vir die heidene gegee: “Hy sal...die wingerd aan ander gee.” (v.16b):
“Maar Paulus en Barnabas het prontuit vir hulle [die Jode] gesê: ‘Die woord van God moes eerste aan júlle verkondig word. Maar aangesien julle dit verwerp en julleself nie die ewige lewe werd ag nie, kyk, nou wend ons ons tot die heidennasies.” (Hand. 13:46).
“Maar omdat hulle [die Jode] aangehou het om hom [Paulus] teen te staan en om lasterlike dinge te sê, het hy die stof van sy klere afgeskud en vir hulle gesê: ‘Julle bloed is op julle eie kop—sonder skuld daaraan sal ek van nou af na die heidene gaan.’ ” (Hand. 18:6).
“Ek [Paulus] het Hom [Jesus] gesien wat vir my sê, ‘Maak gou en gee haastig pad uit Jerusalem, want hulle sal jou getuienis oor My nie aanvaar nie!’...En Hy het vir my gesê, ‘Gaan, want Ek wil jou ver weg stuur na die heidene.’ ” (Hand. 22:18, 21).
“Julle [Jode] moet dan weet dat hierdie verlossing van God aan die heidene gestuur is, en hulle sal luister.” (Hand. 28:28).
God se nuwe volk bestaan uit Jode en heidene wat in Jesus glo. Hulle is die ware Israel van God en kinders van Abraham:
“Want om ’n Jood te wees, is nie iets uiterliks nie, en besnydenis is nie iets wat uiterlik aan die liggaam geskied nie; inteendeel, iemand is innerlik ’n Jood en besnydenis is iets van die hart, geestelik, nie letterlik nie. Só iemand ontvang lof, nie van mense nie, maar van God.” (Rom. 2:28-29).
“Dit is nie asof die woord van God nou gefaal het nie. Want nie almal wat uit Israel afkomstig is, is die ware Israel nie. Ook is nie almal wat nageslag van Abraham is, sy kinders nie. Inteendeel, daar staan: ‘Dit is deur Isak dat jou nageslag benoem sal word.’ Dit wil sê: Dit is nie die kinders na die liggaam wat kinders van God is nie, maar die kinders na die belofte, word as nageslag beskou.” (Rom. 9:6-8).
“Besef dan: Die mense wat uit die geloof is, dié is kinders van Abraham. En omdat die Skrif dit vooruit gesien het dat God die heidene op grond van geloof regverdig sou verklaar, het die Skrif die evangelie reeds vooraf aan Abraham verkondig: ‘In jou sal al die nasies geseën word.’ Daarom word die mense wat glo, saam met die gelowige Abraham geseën... Die doel was dat die seën wat Abraham ontvang het in Christus Jesus, na die nasies sou gaan... En die beloftes is aan Abraham en sy Saad toegesê. Daar staan nie ‘en aan die sade’ soos wat ’n mens na baie sou verwys nie, maar soos wat 'n mens na een verwys: ‘en aan jou Saad’—dit is Christus... En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en, ooreenkomstig die belofte, erfgename... En julle, broers, is, net soos Isak, kinders van die belofte... Want nóg besnedenheid, nóg onbesnedenheid beteken hoegenaamd iets, maar wel ’n nuwe skepping. Vir hulle wat volgens hierdie beginsel leef: vrede en ontferming—en vir die Israel van God!” (Gal. 3:7-9, 14, 16, 29, 4:28, 6:16).
“Onthou dat julle [heidene] in daardie tyd sonder Christus was, uitgesluit van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten opsigte van die verbondsbeloftes, sonder hoop en sonder God in die wêreld... So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar julle is medeburgers van die heiliges, en lede van die huisgesin van God... Die geheimenis is...dat die heidene deur die evangelie mede-erfgename, medelede van die liggaam en deelgenote aan die belofte in Christus Jesus is.” (Ef. 2:12, 19, 3:5-6).
“Julle, egter, is ‘’n uitverkore geslag’, ‘’n koninklike priesterdom’, ‘’n heilige nasie’, ‘’n volk wat aan God behoort’, ‘sodat julle die deugde kan verkondig’ van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderlike lig—julle wat eers nie ’n volk was nie, maar nou volk van God is; wat eers nie ontferming ontvang het nie, maar nou ontferming ontvang het.” (1Pet. 2:9-10).
Sonder Jesus geld 1Joh. 2:22-23 soveel vir die Jode as vir Hamas: “Wie is die leuenaar anders as hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Hy is die antichris, wat die Vader en die Seun ontken. Elkeen wat die Seun ontken, het nie die Vader nie; wie die Seun bely, het ook die Vader.”
Bid vir Israel en Hamas se bekering. Die Bybel voorspel die bekering van die Jode wat op sy beurt weer tot ’n herlewing onder die nasies lei:
“As hulle [die Jode se] val ’n verryking van die wêreld meegebring het, en hulle tekort ’n verryking van die nie-Jode, hoeveel te meer hulle volle getal!... As hulle verwerping vir die wêreld versoening meegebring het, wat sal hulle aanneming nie beteken nie! Niks anders nie as lewe uit die dood!... Om te voorkom dat julle eiewys sal wees, broers, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees oor hierdie misterie nie: Daar het gedeeltelik ’n verharding oor Israel gekom, totdat die volle getal van die heidene ingekom het. Op hierdie manier sal die hele Israel verlos word. Soos daar geskryf staan: ‘Die Redder sal uit Sion kom, en Hy sal die goddeloosheid uit Jakob verwyder. En dit sal my verbond met hulle wees wanneer Ek hulle sondes wegneem.’ Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande om julle ontwil, maar wat die uitverkiesing betref, is hulle geliefdes om die voorvaders se ontwil. Die gawes en roeping van God is immers onherroeplik.” (Rom. 11:12, 15, 25-29).
“Nasies sal na jou [Israel se] lig trek, en konings na die helder lig van jou sonsopkoms. Kyk om jou rond en neem waar: Hulle almal kom byeen, hulle kom na jou toe. Jou seuns—van ver af kom hulle aan; en jou dogters—op die heup word hulle gedra. Dan sal jy dit sien en jy sal straal; jou hart sal vinniger klop, ruim word. Want die see se oorvloed sal by jou uitgestort word; die nasies se rykdom sal na jou toe kom. ’n Magdom kamele sal jou oordek, jong kamele uit Midian en Efa. Almal uit Skeba sal kom. Goud en wierook sal hulle dra; die goeie nuus van die Here se lofwaardige dade sal hulle verkondig. Al die kleinvee van Kedar word vir jou bymekaar gemaak; die ramme van Nebajot1 is tot jou beskikking. Hulle sal as aanvaarbare offers na my altaar opgaan. My roemryke huis sal Ek verheerlik.” (Jes. 60:3-7).
“Baie volke en magtige nasies sal kom om die Here, Heerser oor alle magte, in Jerusalem te raadpleeg en die Here se guns te soek. So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Dit sal in daardie dae wees dat tien mense uit al die tale van die nasies die kleed van ’n Jood gryp en vashou terwyl hulle sê: “Ons wil saam met julle gaan, want ons het gehoor God is by julle.” ’ ” (Sag. 8:22-23).
Israel verag die heidene en glo in hulle eksklusiewe reg op God, sy wet, sy verbond, sy beloftes en die aanbidding van God. Hulle oortuig hulleself dat God hulle nooit sal verwerp nie. Jesus het gesê Hy sal. Hierop het hulle gesê: “Nee, stellig nie!” (v.16b, Ou Vertaling). Jesus het hulle stip aangekyk en gesê: “Wat beteken dit dan wat geskryf staan: ‘Die klip wat die bouers afgekeur het, juis dit het die hoeksteen geword.’ ” (v.17).
Hoe moet ons Jesus se aanhaling in die konteks verstaan? Israel se leiers het op die bouperseël rondgestaan en ’n hoeksteen gesoek. Toe hulle Jesus sien, het hulle Hom as ’n substandaard klip met die bourommel uitgegooi (v.17). God het Hom uit die dood uit opgewek en Hom die hoeksteen van sy nuwe tempel gemaak (v.17, Ps. 118:22, Hand. 4:11, Ef. 2:20-22). Terwyl die Joodse leiers ’n beter klip gesoek het, het hulle oor die hoeksteen gestruikel en in die helse afgrond beland (v.18, Jes. 8:14, 1Pet. 2:7-8). Die klip het gevolg en hulle verbrysel (v.18, 2Tess. 1:7-8).
Verwerp jy God se hoeksteen, sodat jy op die fondasie van jou eie werke bou? Op jou sterfbed sal jou gewete jou aankla en sê jy is naby die hel. Jy het geen waarborg dat jy die Here dan sal aanroep nie. Moontlik sal jou gedagtes wasig wees soos iemand wat in digte mis op die berge verdwaal het. En wat sal jy dan vir jou ewige siel doen? Jy het op jou eie fondasie eerder as die Here s’n vertrou, en nou stort jou lewe in duie.
Roep die Here aan, terwyl jy sy Woord het. Bou op God se fondasie en nie op jou eie nie (Jes. 28:16, 1Pet. 2:6). Maak David Dickson (1583-1663) se belydenis jou eie. Toe hy op sterfbed was, toe sê hy: ‘I have taken all my good deeds, and all my bad deeds, and have cast them together in a heap before the Lord, and have fled from both to Jesus Christ, and in Him I have sweet peace.’2
Bid dieselfde vir verlore Israel en Hamas voor jy jou met Midde-Oosterse politiek en onvervulde profesieë ophou (Rom. 9:31-10:1). Wat help dit Israel het politieke vrede as hulle nie deur Jesus Christus vrede met God het nie (Rom. 5:1)?
1 Nebajot en Kedar is Ismael se oudste twee seuns (Gen. 25:13). Die Moslems glo dat hulle van Kedar of Nebajot afstam. Jesaja bedoel met ander woorde dat baie Moslems deur Israel se bekering na die ware God toe sal draai!
2 John Howie, The Scots Worthies (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1995 [1870]), 295.