Lukas 13:10-17
Volgens die Hebrew Roots Dwaling moet ons na die Sewendedag Sabbat toe terugkeer. Die Nuwe Testament sê anders: “Moet dus nie dat iemand julle oordeel oor...’n Sabbat nie. Hierdie dinge is net ’n voorafskaduwing van dit wat aan die kom was, maar die werklikheid is Christus.” (Kol. 2:16-17). Party mense dink Paulus verwys nie na die weeklikse Sabbat nie, maar na die Ou Testament feeste se sabbat. Eintlik verwys hy na albei. Levitikus 23 se feeste begin met die weeklikse Sabbat.
“Ons wat tot geloof gekom het, gaan immers wel die rus in—soos Hy gesê het, ‘So het Ek in my toorn gesweer, “Hulle sal beslis nie in my rus ingaan nie!” ’ al was God se werke reeds vanaf die grondlegging van die wêreld afgehandel... As Josua hulle dan tot rus gebring het, sou Hy nie gepraat het van ’n ander dag daarna nie. Daar bly dus steeds ’n sabbatsrus oor vir die volk van God. Want wie in sy rus ingegaan het, het self ook gerus van sy werke—soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand dalk in dieselfde patroon van ongehoorsaamheid verval nie.” (Heb. 4:3, 8-10). Onder die leiding van Josua het Israel die Beloofde Land binnegegaan. Hy kon hulle nie rus gee nie, omdat hulle van die Here af weggedraai het. God het toegelaat dat die omliggende nasies hulle verdruk. Wanneer hulle hul tot die Here bekeer het, het Hy ’n rigter of leier gestuur om hulle te red. Daarna het hulle vir ’n paar jaar gerus tot hulle weer afgode aanbid het en onderdruk is. Toe Jesus aarde toe kom, het Hy die vyand finaal oorwin om aan ons rus te gee. Hierdie rus vier ons op die dag van Jesus se opstanding, naamlik op die Sondag.
Die Messiaanse profesie was: “Die klip wat die bouers afgekeur het, het die hoeksteen geword. Van die Here het dit gekom; dit is ’n wonder in ons oë. Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons juig en ons in Hom verheug.” (Ps. 118:22-24). Wanneer het die bouers die klip finaal afgekeur en verwerp? Toe hulle Jesus gekruisig het. Wanneer het Hy die hoeksteen geword? Toe Hy op die Sondag opgestaan het (vgl. Hand. 4:10-11). Dít is die dag wat die Here gemaak het; die dag waarin ons bly is.
Mense sê soms: ‘Die Sabbat is ’n skeppingsinstelling, daarom kan jy dit nie verander nie.’ Toe Adam en Eva sondig, het die skepping saam geval (vgl. Rom. 8:19-22). Deur Jesus se opstanding op ’n Sondag het Hy die nuwe skepping ingelei. Sodra iemand weergebore word, deel hy in hierdie nuwe skepping: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepping...” (2Kor. 5:17). Om die nuwe skepping en Christus se opstanding te herdenk, vergader ons op die eerste dag van die week.
Christene het dit van die begin af so gedoen: “Toe ons op die eerste dag van die week byeengekom het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag wou vertrek, en sy rede uitgerek tot om middernag.” (Hand. 20:7). “Elkeen van julle afsonderlik moet op die eerste dag van die week ’n bedrag opsy sit, en volgens sy verdienste spaar, sodat die insamelings nie eers plaasvind wanneer ek kom nie.” (1Kor. 16:2). “Op die dag van die Here het die Gees van my besit geneem” (Op. 1:10).
Volgens party mense verwys die Here se dag in Op. 1:10 na die sewendedag Sabbat eerder as na die Sondag. Hulle is verkeerd. Ignatius van Antiochië (c.35-107 n.C.) sê: ‘If, therefore, those who were brought up in the ancient order of things have come to the possession of a new hope, no longer observing the Sabbath, but living in the observance of the Lord’s Day, on which also our life has sprung up again by Him and by His death...’1
Gelowiges in Justinus die Martelaar se tyd (100-165 n.C.), het op Sondae bymekaar gekom: ‘And on the day called Sunday, all who live in cities or in the country gather together to one place, and the memoirs of the apostles or the writings of the prophets are read, as long as time permits; then, when the reader has ceased, the president verbally instructs, and exhorts to the imitation of these good things. Then we all rise together and pray, and, as we before said, when our prayer is ended, bread and wine and water are brought, and the president in like manner offers prayers and thanksgivings, according to his ability, and the people assent, saying Amen; and there is a distribution to each, and a participation of that over which thanks have been given, and to those who are absent a portion is sent by the deacons... But Sunday is the day on which we all hold our common assembly, because it is the first day on which God, having wrought a change in the darkness and matter, made the world; and Jesus Christ our Saviour on the same day rose from the dead. For He was crucified on the day before that of Saturn (Saturday); and on the day after that of Saturn, which is the day of the Sun, having appeared to His apostles and disciples, He taught them these things, which we have submitted to you also for your consideration.’ (eie beklemtoning).2
Tertullianus (160-220 n.C.) het dit beaam. In reaksie op ’n aantyging dat Christene die son aanbid, het hy gesê: ‘Others, with greater regard to good manners, it must be confessed, suppose that the sun is the god of the Christians, because it is a well-known fact that we...make Sunday a day of festivity.’3 En weer: ‘...we devote Sunday to rejoicing, from a far different reason than Sun-worship...’4
Al glo jy nie Sondag vervang die Sabbat nie, moet jy die Here ten minste op Sondae saam met ander gelowiges aanbid. Hoe doen ’n mens dit?
1. Kom onder die Woord (v.10)
Martyn Lloyd-Jones het in 1927 gesê: ‘People complain about the dwindling congregations and how the churches are going down. Why are people ceasing to attend places of worship? Why is it, that last Sunday night I noticed that, while the places of worship in Cardiff were only sparsely attended, the trains coming from Porthcawl and other sea-side places were packed out? Why did these people spend their day at the seaside and in other places rather than in the House of God worshipping? Well, the answer is perfectly plain. They obviously prefer to be at the sea-side and feel that they get more benefit there than they do in the chapels and the churches. Now it is no use arguing with people like that, it is no use our telling them that they really do not get greater benefit there, because they honestly believe that they do… What I feel like saying to these trippers is this: If you honestly believe (and remember it is your responsibility) that you derive greater benefit by spending your day in the country than you do by attending a place of worship, well then, go to the country. Don’t come here if you honestly feel that you could do better elsewhere. Unless you feel that something is being offered or equal, well then, in the name of Heaven, go out into the country or to the sea-side. The church of Christ is a church of believers, an association of people banded together by a common belief and a common love. You don’t believe? Well, above all, do not pretend that you do, go to the country and the sea-side. All I ask of you is, be consistent. When someone dies in your family, do not come to ask the church in which you do not believe to come to bury him. Go to the sea-side for consolation…’5
Ek het vraagtekens oor iemand se redding as hy Hand. 2:42 nalaat: “Hulle het bly volhard in die leer van die apostels, die verbondenheid met mekaar, die breek van die brood, en gebede.” Ek bedoel nie die toepassing hiervan red jou nie, maar dit is ’n bewys van redding en lei tot goeie vrug (v.10, 6, 4:16). Daar is ’n duidelike verskil tussen Christene wat die Woord gereeld saam met ander aanhoor en dit toepas, en dié wat gereeld wegbly. Die Psalmdigter sê: “’n Psalm. ‘n Lied vir die Sabbatdag... Regverdiges—soos palmbome skiet hulle op, soos seders op die Libanon groei hulle hoog. Hulle is geplant in die huis van die Here; in die voorhowe van ons God blom hulle. In die gryse ouderdom gedy hulle nog steeds; hulle is weelderig en blaarryk” (Ps. 92:1, 13-15).
2. Beleef God se krag (v.11-13)
’n Man in ons gemeente het gesê: ‘Ek wil nie ’n erediens mis nie. Ek is bang die Here besoek ons met ’n herlewing, dan is ek nie daar nie.’ Hy wou nie soos Tomas wees nie. Toe Jesus na sy opstanding aan die dissipels verskyn het, was Tomas afwesig (Joh. 20:24). Jesus het nie moeite gedoen om hom in die week op te soek nie. Hy moes tot die volgende Sondagaand wag (Joh. 20:26). Wie sonder rede van die samekomste af wegbly, is dwaas. Jy mis God se antwoord op jou krisis (Ps. 73:16-17). Jy mis die openbaring van sy besondere teenwoordigheid, skoonheid, heerlikheid en krag (v.11-13, Ps. 27:4, Ef. 3:21, Op. 1:13, 20, 2:1).
Hier was ’n vrou wat vir 18 jaar onder die duiwel se mag gebuk gegaan het. ’n Bose gees het haar liggaam gestrem (v.11, 16). Sy was ’n gelowige; ’n dogter van Abraham (v.16, Gal. 3:7-9). Tog het ’n bose gees haar beetgehad (v.11, 16). Beteken dit Christene kan soms demoonbesete wees? Nee. Die teks sê nie Jesus het demoon uitgedryf nie, maar vermeld eenvoudig dat sy genees is (v.12-13). God se Gees en demone woon nie in dieselfde persoon nie (11:24-26, 1Kor. 6:19, 2Kor. 6:14-15).
Maar sê Rigt. 16:20 nie die Here het Simson verlaat nie? Volgens 1Sam. 16:14 het ’n bose gees vir Saul geteister toe die Heilige Gees hom verlaat het. Dawid het gebid dat die Heilige Gees hom nie moet verlaat nie (Ps. 51:13). In die Ou Testament het die Heilige Gees op profete, priesters, konings en rigters gekom en hulle vir hulle taak bekragtig. Die feit dat die Here vir Simson en Saul verlaat het, beteken dat Hy hulle nie meer vir hulle taak sou toerus nie. Hy het hulle uit hulle amp onthef. Die Here het Saul as koning verwerp en Dawid in sy plek aangestel. Gevolglik het die Heilige Gees Saul verlaat en op Dawid gekom. Dawid se sonde met Batseba het hom laat vrees die Here gaan hom ook verwerp. Daarom het hy by God gepleit om nie die Heilige Gees van hom te onttrek nie. Hier is geen sprake van ’n gelowige wat die Heilige Gees of sy redding verloor nie (vgl. Joh. 14:16-17, Rom. 8:9).
Die Bybel sê ook nie ’n gelowige kan ’n demoon hê nie. Tog kan demone ons treiter of siekte en pyn veroorsaak (v.11, 16, Job 1-2, 2Kor. 12:7). Soms gebeur dit, omdat ons met sonde speel of die duiwel ligtelik opneem. William Duma was ’n Baptiste leraar in Durban. Sy blanke vriend het die Afrika-godsdiens nagevors en wou ’n foto van ’n Zoeloe toordokter of sangoma hê. Duma het hom na een toe gevat, maar nagelaat om ernstig te bid voor hy gegaan het. Hy het dit ligtelik opgeneem dat die sangoma demoonbesete was. Daardie nag het Duma baie sleg gevoel. In die middel van die aand het twee mans hom wakker gemaak en strand toe gelei. Hulle wou hom tot in die see lei toe ’n ander man hom by hulle weggevat het. Duma het besef dat hy met demone en ’n engel te doen gehad het.6
Die demoon in Lukas 13 het die vrou se rug krom getrek. Sy was heeltemal vooroor gebuk en kon nie regop kom nie (v.11, Gk. sugkuptō). Toe Jesus haar nood raaksien, het Hy haar nader geroep, ’n woord gespreek, sy hand op haar gelê en haar genees (v.12-13). Hy het nie gewag dat sy vra nie. Die feit dat Hy haar siekte van 18 jaar deur ’n woord genees het, wys sy krag (v.12, vgl. Ps. 33:6, Joh. 1:1, 3). Deur haar die hande op te lê, het Hy sy deernis gewys (v.13, Heb. 4:15).
Jesus is nog steeds dieselfde: kragtig en vol deernis (Heb. 13:8). Toe Charles Simeon in die bediening was, wou hy op 60 aftree en dit rustig vat. Op 47 het hy skielik siek geraak. By tye moes hy sy preke fluister. Toe hy 60 word, het sy siekte in ’n oomblik verdwyn. Dit is asof die Here vir hom gesê het: ‘Jy wou rus, maar Ek wil jou gebruik. Ek het jou nuwe krag gegee om nog baie jare in my koninkryk te arbei.’7
As jongmens het William Duma kronies pyn gehad; hy kon nie sonder pyn loop nie. Hy het besluit om oor die saak te vas en te bid. Na sewe dae het die Here sy gebed verhoor en hom volkome genees.8
Een van my kollegas het met asma gesukkel. Toe hy en sy vrou eendag op die hoofpad ry, toe kry hy ’n aanval. Hy het in die gras langs die pad gaan lê, terwyl sy vrou die pompie in die kattebak gesoek het. Hy was byna dood, maar die Here het hom gespaar. ’n Ruk later was hy by ’n kerkdiens in die Kaap. Die prediker het vir die siekes gebid, onder andere vir dié wat met asma sukkel. Die Here het my kollega genees. Hy het nooit weer met asma gesukkel nie.
Toe ’n vrou in ons gemeente haar eerste kind verwag, het die senuwees in haar stuitjie vasgeknyp. Sy was vooroor gebuk en kon nie regop kom nie. Toe sy ’n erediens bywoon, het iemand gesê: ‘Ek moet vir ’n persoon bid wie se senuwees by die stuitjie vasknyp.’ Die man het nie van haar probleem geweet nie. Tog wou sy nie uitkom vir gebed nie. Die man het vir ’n paar ander siekes gebid en toe weer gesê: ‘Ek moet vir iemand bid wie se senuwees by die stuitjie vasknyp.’ Sy het uitgekom. Die man het vir haar gebid en die probleem het verdwyn. Dit is nou sestien jaar later en sy het nooit weer probleme gehad nie.
Sowat vyf jaar gelede het een van ons lidmate ernstig siek geword. Sy was swak en kon nie kerk toe kom nie. In haar toestand van moedeloosheid het sy Jak. 5:14-15 toegepas en die ouderlinge laat roep om vir haar te bid. Twee dae nadat ons vir haar gebid het, het sy opgestaan en niks makeer nie. Die Here het haar genees.
Ons sien ook sy krag as Hy verlorenes red en gelowiges laat groei (Ef. 2:1, 5, Hand. 20:32). Dieselfde krag waarmee Hy sy Seun uit die dood opgewek het, werk in ons (Ef. 1:19-20). Hy verkwik ons ook emosioneel. Een Sondag het my vrou ’n ou tannie in die gemeente ’n drukkie gegee. Die tannie se reaksie was: ‘Dankie, ek het dit nodig gehad.’
’n Oom in Kemptonpark het my vriend se prediking as volg beskryf: ‘Dit voel of hy jou saggies aan die skouer vat en sê: “Kom ek loop saam met jou.” ’ Hierdie deernis en krag kom nie uit onsself nie. Deur gebed werk die Heilige Gees kragtig deur ons (Joh. 14:13-14). Hy bekragtig ons ook met geestelike gawes om mekaar te dien (1Korintiërs 12). Hoe sal jy vandag deur die Woord, gebed en bediening ’n kanaal van die Here se krag en bemoediging vir iemand wees?
3. Moenie wetties wees nie (v.14)
’n Man met ernstige huweliksprobleme het vir my gesê: ‘Ek wil die Tien Gebooie teen my muur plak, sodat ek dit elke dag kan sien en gehoorsaam.’ Dit is ’n slegte idee. Die Tien Gebooie kan jou nie heilig maak nie. Dit is gegee om jou sonde uit te wys, sodat jy na Christus toe vlug (Gal. 3:24). Die Jode in Jesus se tyd het dit nie verstaan nie. Hulle het gedink hulle kan God deur die navolging van ’n stel reëls behaag. Gevolglik was die leier van die sinagoge kwaad toe Jesus hulle reëls oor die Sabbat oortree en iemand genees (v.14). Tragies het die man die Messias en ’n genesing voor sy oë gemis. Hy kon nie in die vrou se blydskap deel nie (v.13).
Wettiese mense is vreugdeloos. Om by die gemeente se samekomste te wees, is vir hulle sleurwerk (Eng. drudgery). Hulle kan nie saam met Dawid sê: “Ek was bly toe hulle vir my gesê het: ‘Kom ons gaan na die huis van die Here.’ ” (Ps. 122:1). Hoekom nie? Want hulle het nie ’n verhouding met God nie. Hulle kom kerk toe uit pligsbesef, skuldgevoelens, vrees of tradisie meer as uit liefde. Tradisie dryf hulle godsdiens, sodat hulle roem: ‘Ons kerk het ’n ryk geskiedenis! Ons doen dit al vir jare so!’ (v.14). Hulle dink hulle godsdiens is oud, maar die Bybel is die ou paaie waarheen ons moet terugkeer (Jer. 6:16).
Vir wettiese mense is hulle belydenis en konstitusie nie ’n riglyn nie, maar ’n wet. As jy hulle druk, verhef hulle dit tot bo die Bybel. Toe ’n ou man met ’n sekere professor oor die doop praat, toe sê die prof.: ‘Die Heidelbergse Kategismus sê...’ Die oom het gereageer: ‘Ja, maar die Heidelbergse Kategismus is nie die Bybel nie!’ Ek is ’n voorstaander van belydenisse en kategismus. Maar dit kan nie die plek van God se Woord inneem nie.
Sodra jy wettiese mense se tradisies uitdaag en vra waar dit in die Bybel staan, daag hulle jou voor die komitee: ‘Sê jammer of ons werk jou uit!’ Hulle gee nie om of die Here sopas ’n sieke genees het (v.12-13), of die gemeente God se Woord getrou verkondig, saam bid, evangelies, evangelisties, eensgesind, heilig en mededeelsaam is nie (Hand. 2:41-47)—jy het die goue kalf van hulle voorvaders se konstitusie en belydenis bevraagteken; jy moet uit.
Dit is tyd dat ons na die Bybel terugkeer. Menslike geskrifte, tradisies en die kultuur moet by die Bybel aanpas eerder as andersom: “Tevergeefs vereer hulle My,
want hulle onderrig as leerstellings die voorskrifte van mense. Julle versaak die gebod van God en klou vas aan die tradisie van mense.” (Mark. 7:7-8). Die leier van die sinagoge het dit gemis en gesê: “Daar is ses dae waarop ’n mens moet werk. Kom dan op daardie dae om genees te word, en nie op die Sabbat nie.” (v.14). Die samekoms van die gelowiges is juis die tyd en plek waar God sy groot werke wil wys, sodat mense Hom kan prys.
Kom met dieselfde verwagting wanneer jy ’n erediens bywoon. In ons gemeente bid ons 45 minute voor elke diens saam. Sluit by ons aan (al is dit aanlyn). Bid dat God sy krag sal openbaar; dat Hy sy wonders sal wys, gelowiges sal opbou en die swaard van sy Woord deur mense se harte sal sny (v.12-13, 1Tess. 2:13, Heb. 4:12). Waar dit gebeur, sal mense Hom prys (v.13, 17).
4. Word verkwik (v.15-16)
As ek in die oggend klaar gestort, aangetrek, gespuit, my tande geborsel en baardolie aangesit het, voel ek vars. Net so wil Jesus jou liggaam en gees op die Sabbat verfris. Jou liggaam moet rus en jou siel geestelik verkwik word in die samekoms van die gelowiges onder die geklank van die Woord (Mark. 2:27, Deut. 5:14, Ps. 23:1-3, Filem. 7). “’n Lied vir die Sabbatdag... Suiwer olie is oor my uitgegiet.” (Ps. 92:1, 11). Om hulle diere te verfris, sou die Jode hulle op die Sabbatdag losmaak en na vars water toe lei (v.15, Eks. 23:12, 31:17). Net so het Jesus ’n demoniese las op die Sabbatdag losgemaak toe Hy die vrou genees en haar verkwik (v.16, 12-13).
Die Sabbat is God se geskenk om jou te verfris. Moet jouself nie benadeel, omdat jy tuis bly, teen jou sin kom, die erediens verby wens of Jesus se werke en Woord bevraagteken nie (v.14). Wie die Sabbat so deurbring, word nie verkwik nie, maar is soos iemand wat met vakansie gaan en sy werk saamvat.
Is jy rusteloos? Is jou gedagtes oral, behalwe by God en sy Woord? Moenie sê jy kan dit nie help nie. As jy ’n gelowige is, kan jy jou gedagtes beheer—die vrug van die Gees is selfbeheersing (Gal. 5:23). Bely jou sonde en rig jou gedagtes op God en sy Woord (Jes. 26:3).
Is jy ongered? Hou op rusteloos wees en vind vrede in Christus: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle, en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. Want my juk is draaglik en my las is lig.” (Matt. 11:28-30).
5. Prys die Here (v.13, 17)
Moslems sing nie. Hindoes en Boeddhiste ook nie. Wat maak Christenskap ’n singende godsdiens? Hoekom het ons ’n Psalmbundel vol lofliede? Ons het rede om te sing. God het ons sonde vergewe en doen sy groot werke in ons midde. Sy karakter, werke, Woord en verlossing vul ons met blydskap (Ps. 104, 107, 119, 145, Efesiërs 1-3). Om dieselfde rede het die vrou en die res van die mense in die sinagoge die Here geprys (v.13, 17).
Begin en eindig die Sabbat met lofgesange: “’n Psalm. ’n Lied vir die Sabbatdag. Dit is goed om die Here te dank, om u Naam te besing, Allerhoogste; om in die môre u troue liefde te verkondig, en u trou in die nagte” (Ps. 92:1-3). “Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God te sing.” (Kol. 3:16).
Aanbid God in gees en in waarheid (Joh. 4:24). In waarheid: volgens sy voorskrifte in die Nuwe Testament. In gees: deur die Heilige Gees wat jou gees beweeg om God te aanbid. Moet Hom nie met jou lippe prys, terwyl jou hart ver van Hom is nie (Matt. 15:8). Sorg dat jou hart reg is. Die regte ingesteldheid teenoor gesamentlike aanbidding op ’n Sondag red jou nie. Maar dit is ’n termometer van jou geestelike toestand. J.C. Ryle sê: ‘Let us never forget that our feelings about Sundays are sure tests of the state of our souls. The person who can find no pleasure in giving God one day in the week, is manifestly unfit for heaven. Heaven itself is nothing but an eternal Sabbath. If we cannot enjoy a few hours in God’s service once a week in this world, it is plain that we could not enjoy an eternity in His service in the world to come.’9
1 Ignatius of Antioch, Letter to the Magnesians, ch. 9. Verkry by https://www.newadvent.org/fathers/0105.htm
2 Justin Martyr, First Apology, ch. 67. Verkry by https://www.newadvent.org/fathers/0126.htm
3 Tertullian, Ad Nationes, 1:13. Verkry by https://www.newadvent.org/fathers/03061.htm
4 Tertullian, Apology, 16. Verkry by https://www.newadvent.org/fathers/0301.htm
5 Iain Murray, Martyn Lloyd-Jones: The First Forty Years (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1982), 138
6 Kevin Roy, The Story of the Church in South Africa (Carlisle, UK: Langham Global Library, 2017), 179-80
7 John Piper, 21 Servants of Sovereign Joy (Wheaton, Illinois: Crossway, 2018), 312
8 Roy, ibid., 175-6
9 J.C. Ryle, Luke: Vol. 2—Expository Thoughts on the Gospels (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 2012, 1986 [1858]), 90