Coram Deo Cover Image

Coming soon...

17 November 2023

Ek is die Here s’n!

Lukas 20:19-26

Toe ek ’n jeugleraar in Nelspruit was, het ek eenkeer ’n preek van Robert Murray McCheyne (1813-43) gelees. In die preek het hy na Jes. 44:5 verwys: “Nog een sal op sy hand skryf, ‘Die Here s’n...’ ”1 Nadat ek dit gelees het, het ek dit op my hand geskryf. Natuurlik gaan dit oor meer as ’n inskripsie met pen en ink. Die Heilige Gees het dit op my hart geskryf. Dit is wat Jesus in v.19-26 wil tuisbring.

 

1. Die leiers se strik (v.19-22)

In v.9-18 het Jesus ’n storie vertel. ’n Boer het ’n wingerd geplant en dit uitverhuur. Toe die druiweseisoen aanbreek, stuur hy sy diensknegte om die vrugte af te haal. Een na die ander het die huurders die diensknegte weggejaag, aangerand of doodgemaak. Uiteindelik het die boer sy seun gestuur. Die huurders het nie die gewenste respek betoon nie, maar hom buite die wingerd gegooi en hom vermoor.

Die Joodse leiers het geweet Jesus vertel die gelykenis teen hulle (v.19). Hoe ironies dat hulle presies volgens die storie opgetree het en beplan het hoe hulle die Seun kan doodmaak (v.19)! Vrees vir mense het hulle planne in die wiele gery (v.19). Dit was ook nog nie God se bepaalde uur nie (Joh. 7:30, 8:20).

Om Jesus te probeer uitvang, het die leiers opregtheid geveins (v.20). Hulle het gemaak of hulle Jesus respekteer, maar eintlik het hulle Hom gehaat. Al kon hulle niks teen Hom vind nie het hulle reeds besluit Hy moet dood (v.20, 19:47-48, Joh. 8:46, Mark. 14:55, vgl. Dan. 6:4-5). Soos roofdiere het hulle Hom ingewag en met ’n valkoog dopgehou (v.20). Volgens v.21 het hulle Hom ondervra of ‘interrogate’ (Gk. eperōtaō).

“Meester,” het hulle gesê, “ons weet dat wat u sê en leer, reg is. U neem nie die aansien van persone in aanmerking nie, maar leer die weg van God waarheidsgetrou.” (v.21). Die leiers het geweet Jesus is onpartydig en ontvang niemand se gesig nie (Gk. lambaneis prosōpon). Die Griekse idoom beteken eenvoudig Jesus verander nie die waarheid vir mense se glimlag of fronse nie. Hy spreek God se waarheid reguit en getrou (v.21).

Die Joodse leiers het dit geweet. Hoekom het hulle Hom dan nie gehoorsaam nie? Duidelik was die fout by hulle eerder as by Jesus. Op die oordeelsdag sal Rom. 2:11 bevestig Hy “beoordeel niemand volgens sy uiterlike nie.” Elkeen kry presies wat hy of sy verdien.

Op daardie dag sal die Herodiane saam met die Fariseërs beskaamd staan, omdat hulle saamgewerk het om Jesus te probeer uitvang (Matt. 22:15-16). Soos hulle naam aandui, was die Herodiane ondersteuners van koning Herodes. Herodes was koning oor ’n gedeelte van Israel. Dwarsdeur die Romeinse ryk het die keiser konings oor verskillende streke aangestel. Al die konings was onder die keiser en moes hulle aan hom verantwoord. Mens kan verstaan dat die Herodiane pro-Rome was. Die Joodse leiers was anti-Rome, omdat hulle hulleself nie kon regeer nie, en omdat die keiser hulle swaar belas het. Jy kan jou voorstel hoe die Jode en Herodiane mekaar verpes het. Tog kon hulle teen Jesus saamwerk, omdat albei groepe Hom gehaat het (Matt. 22:15-16, Mark. 3:6).

Koning Herodes wou van Jesus doodmaak en die Joodse leiers ook (13:31, 19:47). Wat was hulle motief? Die Joodse leiers was jaloers (Mark. 15:10). Jesus het meer volgelinge as hulle gehad, daarom wou hulle Hom doodmaak (19:48, Joh. 12:9-11). Die Herodiane het geweet Jesus is kop in een mus met Johannes die Doper wat deur Herodes onthoof is (3:19). Herodes het gedink Jesus is Johannes die Doper wat uit die dood opgewek is (Mark. 6:14-16). Soos sy pa voor hom (vgl. Matt. 2:1-3, 13) wou Herodes van die koning van die Jode niks weet nie. Daarom het hy beplan om van Jesus ontslae te raak. Jesus het sy lering teengestaan en hom ’n jakkals genoem—Hy moes dood (13:32, Mark. 8:15).

Om Jesus uit te vang, het die Joodse leiers en Herodiane ’n plan beraam. Hulle het na Hom toe gekom en gesê: “Is dit toelaatbaar dat ons belasting aan die keiser betaal, of nie?” (v.22). As Jesus ‘nee’ gesê het, sou die Herodiane Hom vir belastingontduiking aangee en sê Hy staan op teen die keiser. As Hy ‘ja’ gesê het, sou Hy sy gevolg verloor. Die Jode het geweet hulle mag geen afbeelding maak en dit aanbid nie (Eks. 20:4). Die Romeine het hulle keiser en sy afbeelding as ’n god beskou. As Jesus ten gunste van die keiser gepraat het, sou die skare teen Hom draai. Dan kon die Joodse leiers Hom makliker arresteer (v.19, 19:48).

 

2. Jesus se antwoord (v.23-26)

Jesus se opponente was listig, slinks en uitgeslape soos die slang in die tuin van Eden (v.23, 2Kor. 11:3, Gk. panourgia). Daarom het Hy hulle kinders van die slang of die duiwel genoem (Matt. 23:33, Joh. 8:44). Om hulle slinksheid te ontbloot, het Hy gesê: “Wys vir My ’n denarius. Wie word daarop afgebeeld, en wie se inskripsie staan daarop?” (v.24).

’n Denarius is ’n arbeider se dagloon (Matt. 20:2). Op die munt is ’n afbeelding van die keiser se kop met die inskripsie: Tiberius Caesar Divi Augusti Filius Augustus (keiser Tiberius, Augustus, seun van die goddelike Augustus). Agterop is die keiser se ma, Livia Drusilla. In haar hand het sy ’n septer en ’n olyftak. Die Romeine het haar as die inkarnasie van Pax, die godin van vrede beskou. Die inskripsie lees: Pontifex maximus (opperste hoëpriester).2

Jesus se opponente het geweet dit is die keiser se afbeelding en inskripsie (v.24). “Toe sê Hy vir hulle: ‘Gee daarom aan die keiser wat hom toekom, en aan God wat Hom toekom.’ ” (v.25). Jesus het bedoel ons moet die keiser eer en belasting betaal. “Daarom betaal julle ook belastings; want hulle [die regering] is dienaars van God wat hulle juis hiermee bemoei. Betaal aan almal wat hulle toekom: belasting aan wie belasting, tolgeld aan wie tolgeld, ontsag aan wie ontsag, eer aan wie eer toekom.” (Rom. 13:6-7). “Julle moet...die keiser respekteer.” (1Pet. 2:17).

Hoekom doen ons dit? Want “[God] sit konings af en stel konings aan.” (Dan. 2:21). Daarom, “Laat elke mens onderdanig wees aan die gesaghebbers wat oor hom gestel is, want daar is geen gesag wat nie van God afkomstig is nie; en dié wat daar wel is, is deur God ingestel.” (Rom. 13:1).

Wie SARS ontduik of ’n skuiwergat (Eng. loophole) soek om meer geld vir homself te kry, verset hom teen God: “Wie die gesag teenstaan, verset hulle dus teen die instelling van God, en diegene wat hulle verset, sal ’n oordeel oor hulleself bring.” (Rom. 13:2). Ja, ons is vryburgers van die hemel en daarom ook vry van belasting. Hoekom betaal ons dit dan? Jesus het dit as volg verduidelik:

Toe hulle in Kapernaum aankom, het diegene wat die dubbeldragme invorder, na Petrus gekom en gevra: “Betaal julle leermeester nie die dubbeldragme nie?” Hy antwoord: “Ja, wel.” Toe Petrus in die huis kom, spring Jesus hom voor, en vra: “Wat dink jy, Simon? Van wie vorder die aardse konings hulle tolgeld of belasting in? Van hulle seuns of van vreemdelinge?” Toe hy antwoord, “van vreemdelinge”, het Jesus vir hom gesê: “Dan is die seuns mos vrygestel. Maar sodat ons hulle nie aanstoot gee nie, gaan see toe en gooi die hoek in. Vat die eerste vis wat jy uittrek, en as jy sy bek oopmaak, sal jy 'n stater vind. Neem dit en betaal dit aan hulle namens My en jou.” (Matt. 17:24-27).

Daar het jy dit weer: respekteer die keiser en betaal belasting. Maar daar stop dit. Jy skuld die keiser niks meer nie. Jy en jou kinders behoort nie aan hom nie. Dit is verkeerd as ’n regering mense met boetes of tronkstraf dreig, net omdat hulle hulle kinders wil tuiskool. Die regering kan niemand verplig om die staat se kurrikulum aan te bied nie. Geen keiser of president mag homself tot ’n god verhef en mense se aanbidding vereis nie (so het hulle in Rome gedoen en so doen die presidente van Noord-Korea). Die regering besit niemand nie. God het jou na sy beeld geskep en sy inskripsie is op jou:

Gee daarom aan die keiser wat hom toekom, en aan God wat Hom toekom (v.25).

God het gesê: ‘Laat Ons mense maak na ons beeld, as ons afbeelding, sodat hulle kan heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel, die diere en oor die hele aarde, en oor al die kruipende diere wat op die aarde rondbeweeg.’ God het die mens geskep na sy beeld, na die beeld van God het Hy hom geskep, manlik en vroulik het Hy hulle geskep.” (Gen. 1:26-27).

Jou lewe is nie jou eie nie, maar Christus s’n. Hy is die Koning van die konings en die Here van die heersers (Op. 19:16). Die keiser is onder Hom, nie bo hom nie. Jesus, nie Livia nie, is die inkarnasie van die God van vrede en die opperste Hoëpriester. Gee Hom jou lojaliteit: “Soen die Seun, sodat Hy nie toornig word en julle op pad omkom nie, want sy toorn vlam maklik op. Gelukkig is almal wat by Hom skuil.” (Ps. 2:12). Wy jou lewe aan Hom (sien 14:26, 33, Matt. 22:37, Rom. 6:13, 12:1).

Take my life and let it be
consecrated, Lord, to Thee.
Take my moments and my days;
let them flow in endless praise.

Take my will and make it Thine;
it shall be no longer mine.
Take my heart it is Thine own;
it shall be thy royal throne.3

Ongelowiges wil vir hulleself lewe eerder as vir Jesus. Om vir Jesus te lewe, moet Hy jou van sonde vrymaak en jou ’n nuwe hart vol van die Heilige Gees gee (Rom. 8:2-4, Eseg. 36:26-27). Eers as jy Hom ken, sal jy weet wie jy is en hoekom Hy jou gemaak het. C.S. Lewis verduidelik dit as volg:

To become new men means losing what we now call ‘ourselves’. Out of our selves, into Christ, we must go. His will is to become ours and we are to think His thoughts, to ‘have the mind of Christ’ as the Bible says. And if Christ is one, and if He is thus to be ‘in’ us all, shall we not be exactly the same? It certainly sounds like it; but in fact it is not so.

It is difficult here to get a good illustration; because, of course, no other two things are related to each other just as the Creator is related to one of His creatures. But I will try two very imperfect illustrations which may give a hint of the truth. Imagine a lot of people who have always lived in the dark. You come and try to describe to them what light is like. You might tell them that if they come into the light that same light would fall on them all and they would all reflect it and thus become what we call visible. Is it not quite possible that they would imagine that, since they were all receiving the same light, and all reacting to it in the same way (i.e. all reflecting it), they would all look alike? Whereas you and I know that the light will in fact bring out, or show up, how different they are. Or again, suppose a person who knew nothing about salt. You give him a pinch to taste and he experiences a particular strong, sharp taste. You then tell him that in your country people use salt in all their cookery. Might he not reply ‘In that case I suppose all your dishes taste exactly the same: because the taste of that stuff you have just given me is so strong that it will kill the taste of everything else.’ But you and I know that the real effect of salt is exactly the opposite. So far from killing the taste of the egg and the tripe and the cabbage, it actually brings it out. They do not show their real taste till you have added the salt. (Of course, as I warned you, this is not really a very good illustration, because you can, after all, kill the other tastes by putting in too much salt, whereas you cannot kill the taste of a human personality by putting in too much Christ. I am doing the best I can.)

It is something like that with Christ and us. The more we get what we now call ‘ourselves’ out of the way and let Him take us over, the more truly ourselves we become... our real selves are all waiting for us in Him. It is no good trying to ‘be myself’ without Him.4

Wie homself in Christus vind, wonder nie: ‘Is ek ’n man of ’n vrou, ’n dit of ’n dat?’ Hy soek nie sy identiteit in seks, drank, geld, status of iets anders nie. Hy verloor homself nie in Nirvana nie. In Christus weet hy hoekom hy bestaan, naamlik om Jesus te ken en soos Hy te wees (v.25, Rom. 8:29, 2Kor. 3:18, Ef. 4:24, Kol. 3:10, 1Joh. 3:2). Anders as die wêreld is sy grootste doel nie om geld of mag te verkry nie, maar om God te verheerlik: “Elkeen wat na my Naam genoem is—tot my eer het Ek hom geskep, hom gevorm, ja, hom gemaak.” (Jes. 43:7).

Jesus se briljante antwoord het sy opponente stom gelaat (v.26). Nogtans het hulle die keiser bo Hom gekies! “Pilatus sê vir hulle: ‘Moet ek julle koning kruisig?’ Die leierpriesters het geantwoord: ‘Ons het nie ’n koning nie, slegs die keiser.’ ” (Joh. 19:15).

Jesus, nie die keiser nie, is my Here en God. My lewe behoort nie aan ’n land of sy regering nie. Ek stem saam met wat my Griekse professor vir ons gesê het. Met verwysing na ons vorige volkslied het hy gesê:

Ons sal antwoord op jou roepstem,

ons sal offer wat jy vra:

Ons sal lewe, ons sal sterwe—

ons vir jou, Suid-Afrika.

Hierdie deel kan ek nie met ’n opregte hart sing nie. Ek sal vir die Here sterf, maar nie vir ’n stuk grond nie.

My hart resoneer met syne: ek behoort aan die Here, nie aan ’n president of ’n stuk grond nie.


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

2  Darrell L. Bock, Baker Exegetical Commentary on the New Testament: Luke 9:51-24:53 (Grand Rapids, Michigan: Baker Books, 1996), 1612; https://www.cointalk.com/threads/which-tiberius-denarii-qualify-as-a-%E2%80%9Ctribute-penny-%E2%80%9D.373101/; https://www.worldhistory.org/Livia_Drusilla/ (toegang tot webtuistes verkry op 11 November 2023).

3  Toegang verkry op 11 November 2023, https://hymnary.org/text/take_my_life_and_let_it_be

4  C.S. Lewis, Mere Christianity (London: HarperCollinsPublishers, 1942), 224-5.

Kategorieë