Coram Deo Cover Image

Coming soon...

19 August 2023

Die vrug van die Gees: Selfbeheersing

Galasiërs 5:23

In die laat 1990’s was Sprite se slagspreuk: Trust your instinct, obey your thirst. Dit is presies wat jy nié moet doen nie. Die Bybel sê jy moet jouself en jou aptyte beheer eerder as wat dit jou beheer. Wat beteken dit?

Toe ons kinders klein was, het ons vir hulle karaktertrekke geleer. Selfbeheersing se definisie was: moenie dat selfsug jou beheer nie. Daarna moes hulle Spr. 16:32b memoriseer: “wie sy gees beheers, is beter as iemand wat ’n stad inneem.”1

Hoe leer ’n mens selfbeheersing?

 

1. Ongelowiges en selfbeheersing

Die Griekse woord is egkrateia en beteken jy hou jouself in toom of bemeester jouself. Boeddhiste- en Katolieke monnike handhaaf streng dissipline oor hulle aptyte. Taakmagte en professionele atlete is super gedissiplineerd om fiks te wees en ’n streng dieet te volg. ’n Kung Fu meester is gefokus en beheer sy liggaam. Boere en top sakemanne dissiplineer hulleself om vroeg op te staan en hard te werk. Hoe is selfbeheersing dan ’n vrug van die Gees as baie ongelowiges dit beter as Christene doen?

Selfbeheersing is nie uitspattigheid nie. Om sewe ure per dag oefen, soos ’n voëltjie te eet, agttien ure per dag te werk, is nie selfbeheersing nie. Iemand wat deur die Gees beheer word, beheer sy dissipline. Hy leef matig en verafgod nie oefening, kos, werk of iets anders nie. Geen ongelowige doen dit nie, maar is “sonder selfbeheersing” (2Tim. 3:3). Om fanaties te oefen lyk gedissiplineerd, maar dit is nie. Dit is verslawing. So iemand beheer homself nie, maar word beheer. Die fiksheid fanatikus kan nie sê: ‘Ek gaan my skedule aanpas en van nou af net ’n halfuur per dag oefen en niks oor naweke nie.’ Die werkverslaafde kan nie agt ure per dag slaap en vir agt ure werk, sy werk by die kantoor los, vir drie weke met vakansie gaan en sy skootrekenaar by die huis los nie. Ongelowiges lewe vir hulleself en kan nie met ’n eerlike hart sê:

“Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.” (Matt. 6:10).

“Nogtans, nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” (Matt. 26:39).

Maar ek heg geen waarde aan my eie lewe nie, solank ek my lewenstaak en die bedieningsopdrag wat ek van die Here Jesus ontvang het, kan voltooi: om kragtig te getuig van die evangelie van die genade van God.” (Hand. 20:24).

“Ons wat sterk is in die geloof, is verplig om...nie onsself te behaag nie. Laat elkeen van ons sy medemens behaag met die oog op wat vir hom goed is en hom kan opbou. Christus het tog ook nie Homself behaag nie...” (Rom. 15:1-3).

“Daarom...streef ons daarna om vir Hom welgevallig te wees... en Hy het ter wille van almal gesterf, sodat dié wat leef, nie meer vir hulleself sal leef nie, maar vir Hom wat ter wille van hulle gesterf het en opgewek is.” (2Kor. 5:9, 15).

“Want vir my is om te leef Christus, en om te sterf wins” (Fil. 1:21).

“Selfs in die aangesig van die dood het hulle nie hulle eie lewens liefgehad nie.” (Op. 12:11).

Ongelowiges word deur hulle sintuie, aptyte, drange, sonde en die duiwel beheer (Ef. 2:1-3, 4:19, 1Joh. 5:19). Hulle sê, doen, kyk, luister en voel wat hulle wil. Alles gaan oor hulleself eerder as oor God, daarom wag sy oordeel op hulle (Matt. 5:29-30, Hand. 24:25).

 

2. Gelowiges en selfbeheersing

Vals godsdienste dink selfbeheersing red: “Moenie daaraan vat of proe of raak nie” (Kol. 2:21). “Hulle verhinder mense om te trou, en laat hulle sekere kossoorte vermy, terwyl God dit geskep het vir gelowiges, diegene wat die waarheid insien, om dit met dankbaarheid te geniet.” (1Tim. 4:3).

Kol. 2:16, 23 waarsku hierteen: “Moet dus nie dat iemand julle oordeel oor wat julle eet of drink, of oor ’n fees, ’n nuwemaansfees of ’n Sabbat nie... Hoewel hierdie voorskrifte met hulle selfopgelegde godsdienspligte, geveinsde nederigheid en liggaamlike kastyding, die skyn van wysheid het, is dit heeltemal nutteloos, maar dien tot bevrediging van die sondige aard.”

Ef. 2:8-9 sê God red ons uit genade deur geloof in Christus. Geloof lei tot die goeie vrug van selfbeheersing wat wys dat iemand gered is: “Lê juis daarom alle ywer aan die dag om by julle geloof deug te voeg, by deug, insig, by insig, selfbeheersing, by selfbeheersing, volharding, by volharding, godvresendheid, by godvresendheid, broederliefde, en by broederliefde, liefde vir alle mense. Immers, wanneer julle oor hierdie eienskappe beskik, en daarin toeneem, sal dit daartoe lei dat julle nie nutteloos en sonder vrug is, wat julle kennis van ons Here Jesus Christus betref nie. Want die een by wie hierdie dinge ontbreek, is blind en kortsigtig, en het vergeet dat hy van sy vorige sondes gereinig is. Daarom, broers, lê julle soveel te meer daarop toe om julle roeping en verkiesing stewig te vestig. Want as julle hierdie dinge doen, sal julle vir seker nooit struikel nie. Ja, so sal toegang tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus, ryklik aan julle voorsien word.” (2Pet. 1:5-11).

Deur die Heilige Gees is selfbeheersing moontlik vir almal wat glo: “Maar die vrug van die Gees is...selfbeheersing.” (v.22-23). “Want die verlossende genade van God het verskyn vir alle mense, en voed ons op, sodat ons in hierdie bedeling verstandig en regverdig en godvresend kan leef, deur goddeloosheid en wêreldse begeertes te verwerp” (Tit. 2:11-12).

Jy kán nee sê vir laat slaap en ja vir gebed (1Pet. 4:7); nee vir sosiale media en ja vir die Bybel; nee vir geestelike luiheid en ja vir kerkbywoning; nee vir woede en geskreeu, ja vir vriendelikheid en vergifnis; nee vir angs, ja vir selfbeheersing: “God het ons tog nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” (2Tim. 1:7).

Jy kán nee sê vir ooreet en ja vir Jesus wat jou versadig; nee vir oorhaastig praat (Jak. 1:19); nee vir verslawing, ja vir ’n Geesvervulde lewe (Ef. 5:18); nee vir slegte gedagtes, ja vir goeie gedagtes (Fil. 4:8); nee vir wanorde, ja vir orde (1Kor. 14:33a, 40); nee vir seksuele sonde, ja vir reinheid en die huwelik (1Tess. 4:3-4, 1Kor. 7:9); nie vir onbeskeie kleredrag wat die aandag op jouself vestig, ja vir selfbeheersing in wat jy aantrek (1Tim. 2:9); nee vir kleptomanie en materialisme, ja vir mededeelsaamheid.

Sonder selfbeheersing lei die duiwel jou aan die neus rond: “...sodat Satan julle nie verlei as gevolg van julle gebrek aan selfbeheersing nie.” (1Kor. 7:5). “’n Stad wat deurbreek is, sonder ’n stadsmuur, so is iemand sonder selfbeheersing.” (Spr. 25:28). Leer om nee te sê vir sonde en ja vir geregtigheid. Hoe meer jy dit doen, hoe swakker word sonde en hoe sterker word selfbeheersing.

Val jy dikwels en voel moedeloos? Moet jouself nie bejammer nie, maar staan op, wees kwaad vir jouself, kyk na Jesus, bely jou sonde en bekeer jou daarvan (Spr. 24:16, 2Kor. 7:11, Heb. 12:1-2, 1Joh. 1:9). Oefen jou in die Woord en gebed. Dissiplineer jouself hiervoor (1Kor. 9:25, 27, 1Tim. 4:6-7, Heb. 5:14, 2Tim. 3:16). Doen dit saam met ander gelowiges (2Tim. 2:22). Vra jou geestelike leiers om hulp, aangesien hulle gedissiplineerd is (Tit. 1:8).

Raak ontslae van enigiets wat jou versoek om nie selfbeheersd te wees nie (Rom. 14:13). Sowat ’n jaar gelede het ’n 14-jarige seun dit gedoen. Sy pa het hom uitgevang toe hy na lelike dinge kyk. Hy het berou gehad en hom bekeer. Toe hulle ’n paar weke later by die see is, wou hy nie saam met die ander kinders strand toe gaan nie. Toe sy pa hom hieroor uitvra, toe sê hy: ‘Ek wil heilig wees. As ek strand toe gaan, sal ek versoek raak.’

Om jouself in toom te hou, moet jy soms vir wettige plesiere nee sê. Vas, sodat jy jou liggaam leer jy is in beheer. Selfbeheersing oor groot begeertes begin by selfbeheersing oor klein begeertes. Wie elke dag vroeg opstaan en sy bed opmaak oefen homself om later vir wellustig of vraatsug nee te sê. Thomas Watson sê: ‘A godly man will not go as far as he may, lest he go further than he should’.2 Ongelukkig leer ons dit nie in ’n dag nie. Selfbeheersing verg oefening en tyd. Begin as jou kinders klein is. Leer hulle die Bybel. Laat hulle selfdissipline oefen deur hulle voorkoms, kamer en skoolwerk netjies hou. Dissiplineer hulle as byvoorbeeld hulle humeur of tong nie in toom hou nie. As jy nalaat om hulle te dissiplineer, kweek ’n ongedissiplineerde grootmens (Spr. 23:13-14, 20-21, 29-35, 29:15).

Is jy ’n ongedissiplineerde grootmens? Wil jy graag verander? Die sleutel tot ’n gedissiplineerde lewe lê nie in die Tien Gebooie nie: “As julle egter deur die Gees gelei word, staan julle nie onder die wet nie.” Sodra jy volgens die reëls probeer lewe, sal jou sondige natuur dit breek (Rom. 7:7-8). Soek die oplossing in Jesus wat die wet namens ons onderhou het en vir ons wetsoortreding gesterf het (3:13, 2Kor. 5:21). Verkry die voordele daarvan deur geloof (Fil. 3:9). Die Heilige Gees sal jou in ’n nuwe mens verander en goeie vrugte in jou lewe kweek (v.22-23). Op jou eie kan jy nie volgens die wet lewe nie, maar die Heilige Gees kan dit in jou regkry: “Teen hierdie soort dinge is daar nie ’n wet nie... sodat die vereiste van die wet in ons vervul kon word, ons wat nie volgens ons sondige aard leef nie, maar volgens die Gees.” (v.23, Rom. 8:4).

Weerstaan jy die Gees van selfbeheersing? God sal jou dissiplineer, totdat jy leer om gedissiplineerd te lewe (v.23, Heb. 12:10-11). God is ernstig oor selfbeheersing. Wie sy dissipline minag, sal sterf: “Uiteindelik sal jy kreun, wanneer jou vlees en jou liggaam daarmee heen is. Jy sal sê: ‘Hoe het ek vermaning gehaat, hoe het my hart teregwysing versmaai!... Hy, hy sterf weens ’n gebrek aan vermaning, en deur die omvang van sy sotheid, verdwaal hy... ’n Ernstige vermaning is gepas vir hom wat die pad verlaat; wie teregwysing haat, sal sterf.” (Spr. 5:11-12, 23, 15:10).

Moenie op die harde manier leer nie. Eugene het. Hy het verkeerde vriende gehad. Saam met hulle het hy gereeld dronk geword. Sy pa was bekommerd en het vir sy redding gebid. Toe die seun weer een nag dronk was, toe daag sy vriende hom uit om op die kar se enjinkap te sit terwyl iemand bestuur. Hy het van die kap afgeval, voor die kar beland en byna sy lewe verloor. Die Here het besluit om sy lewe te spaar. Na ’n lang tyd in die hospitaal het hy tot bekering gekom. Hy het egter permanente skade opgedoen, sodat hy vandag swaar loop.

“Moet julle nie soos ’n perd, soos ’n muil sonder verstand, gedra nie: Met toom en stang moet sy krag beteuel word, anders bly hy nie by jou nie.” (Ps. 32:9). Hou jouself in toom. Deur die Heilige Gees is dit moontlik (v.23). Klink dit na selfpyniging, omdat jy dinge waarvan jy baie hou moet prysgee? Wie homself beheer wen baie meer as wat hy verloor, “want wie sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit red.” (Luk. 9:24).


1  Aanhalings uit die 2020 Vertaling.

2  Thomas Watson, The Godly Man’s Picture (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1992 [1666]), 33.

Kategorieë